Psalm 7 (3)

image_pdfimage_print

 

God didn’t send a program or a plan, he sent  himself. —Darrin Patrick

 

Psalm 7 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

 

7: 7 – 10: ʼn Dringende en uitgebreide pleidooi vir optrede. God moet as regter optree.

Hier kry ons ʼn pleidooi en ʼn aantal wense wat die psalmis graag vervul wil sien.

 

7:7a – b: Staan op, Here, in u woede, tree op teen die uitbarstings van my teenstanders.

Die psalmis probeer God tot optrede aanspoor. Dit gaan hier oor besondere omstandighede wat God se aandag vereis. In die eerste gedeelte word na God se woede verwys – die psalmis se hoop. Die tweede deel verwys na die aanvallers se aanslag/uitbarstings – ʼn bedreiging vir die psalmis. In die psalms kry ons dikwels hierdie siening dat die doel van gebed is om God tot optrede aan te spoor. Normaalweg laat God die beheer van die wêreld aan mense oor – dit is nie sy gewoonte om sommer in te gryp nie. Gebed probeer dus God van onaktiwiteit tot aktiwiteit aanspoor. Die psalmis weet dat God kwaad is oor wat aangaan en gebruik dit as motivering om God te laat tussenbeide tree. Die psalmis soek optrede nou – in vers 13 sal ons die rede vir uitstel kry. Hy is nie bereid om te wag tot die eindoordeel nie.

 

7c – 8a: Word wakker, my God, vel die oordeel. Laat nasies rondom U vergader

Hier kry ons ʼn verdere oproep en aanmoediging om op te tree. Ons het ook  ʼn geloofstelling: Dit is God wat die oordeel vel.

 

7:8b – 9a: Keer terug na u verhewe plek bo hulle. Die Here spreek reg oor volke

Om op te tree ten behoewe van ʼn individu moet God al die volke bymekaar roep. Hierdie is oënskynlik ‘n vergadering op aarde en nie in die hemel nie. Dit is veral toepaslik as die bidder ‘n koning is wat deur vreemde moondhede aangeval word.

 

7: 9b – c: Oordeel my op grond van my regverdige optrede, Here, op grond van my onbesprokenheid, Verhewene.

Hierdie deel vra dat die besluitnemingsmag op hierdie individu toegepas moet word. God moet terugkeer en die besluitnemingsraad lei. Die basis van die bidder se  pleidooi is ‘n lewe van geregtigheid en onbesprokenheid/vroomheid. Geregtigheid verwys na die bidder se verhouding met die gemeenskap. Vroomheid kan ook met integriteit vertaal word. Hierdie is aspekte van die bidder se wese wat ons sien in sy verhouding met God en die gemeenskap. Hulle is objektiewe werklikhede.

 

7:10: 10Beëindig tog die boosheid van goddelose mense, maar hou die regverdiges staande, ja, U wat hart en niere toets, o regverdige God.

[Harte en niere verwys na die plek van denke en emosie – gesindhede van die innerlike wese.]

Met hierdie vers word die pleidooi afgesluit. Ons gaan nou ʼn oorgang na lof en vertroue kry. Hierdie vorm ʼn skarnier in die psalm. Die vers pleit vir twee aspekte – een negatief en een positief – wat God moet doen. Die bidder bepleit weereens sy onskuld. Hy is gelukkig dat God die innerlike mens ondersoek om vas te stel of die innerlike planne en gesindhede ooreenstem met die uiterlike woorde. Dit is deel van integriteit. Die verklaring sê dat God in die innerlike mense kan kyk – of jy nou daarvan hou of nie. Op grond van menslike geregtigheid kan jy pleit vir Goddelike geregtigheid.

 

Nadat hy die eed afgelê het, vra hy dat God as regter moet ingryp en uitspraak lewer in sy guns. Die krag van sy hulpgeroep blyk uit die drie woorde in vs 7: staan op, tree op, word wakker. Hy mag dit vra, want God het bepaal dat reg sal geskied. Hy pleit dus op grond van wat God in sy openbaring bepaal, beveel en beloof het. Die verwysing na die woede van die Here verklaar dat God nie die optrede van die vyand goedkeur nie. Hy het bepaal dat reg sal en moet geskied, en die goddelose mense is besig om hierdie gelowige bidder te verontreg. In sy geestesoog sien die bidder God, die Wêreldregter, op die ark – sy troon. Al die volke kom daar bymekaar om te hoor dat God die gelowige vryspreek en die teëstanders as die skuldiges aanwys. Hy weet God sal dit doen, want God is ʼn regverdige regter. Deur in hierdie besondere geval so uitspraak te lewer, het God dit terselfdertyd ook vir en oor al die volke gedoen: hulle weet nou wat van hulle verwag word en wat vir hulle wag.

 

 

image_pdfimage_print