Redes vir lyding (2)

A child may be filthy, scabby, and infected with lice; yet he is an altogether precious thing – Martin Luther

Redes vir lyding (2)

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through Pain and Suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

Robert Emmons (sielkundige)  sorteer mense se lewensdoelwitte in vier basiese kategorieë:

 

Hy bevind dat mense wat meeste van hulle energie instort in dit wat hulle persoonlike bereik en geluk is baie kwesbaar vir negatiewe omstandighede. Die ander drie kategorieë word dikwels deur lyding en swaarkry versterk. Lyding en beproewing dwing my dikwels van een lewensagenda na ‘n ander. Ek moet weer die agenda wat gebreek is se stukke bymekaar sit. Dit doen ons dikwels deur na God te draai.

Maar ons moenie lyding verheerlik nie. God is hartseer as ons hartseer is. Dwarsdeur die Bybel kry ons uitroepe van “hoekom?”. Die Bybel vertel ook vir ons watter doelwit ons deur lyding kan bereik: Lyding lei my om God te verheerlik. Die uiteindelike doel van die lewe is om God te verheerlik. Daarom kry ons lyding/swaarkry en heerlikheid saam in baie verse. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid. Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie (Romeine 8:17 – 18); Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly (2 Korintiërs 4:17). Ons kry basies dieselfde in 1 Petrus 1:6 – 7.

Lyding wat reg hanteer word, verheerlik God. Dit is natuurlik direk teenstrydig met die voorspoedsteologie wat vandag in baie kerke verkondig word.. Ons moet darem nie vir iemand wat swaarkry sê dat hy besig is om God te verheerlik nie!

Ons moet altyd vir God as God behandel – Hy is alwys, almagtig en goed. Dan kan ons ontspan, want nou is dit nie meer nodig dat ons al ons omstandighede moet beheer nie. Maar ons sukkel om ‘n God wat ons nie verstaan nie, te vertrou. Om God te vertrou al verstaan ons Hom nie, beteken dat ons Hom as God en nie as nog ‘n mens hanteer nie.

In Johannes 12:23 sê Jesus vir sy dissipels: Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. ‘n Paar verse later (12:32) lees ons: En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek. Hier word God se liefde en sy geregtigheid terselfdertyd vervul. Om God in ons lyding te vertrou al verstaan ons dit nie, is om die heerlikheid en betekenis van die kruis te verstaan en te onthou. Dan kry ons ware rus wat nie deur ons omstandighede bepaal word nie.