Redes vir lyding (3)

A quarrel is like an itch; the more you scratch, the more it itches.” ~ Joodse spreuk

Redes vir lyding (3)

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through Pain and Suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

Ons moet God in ons lyding vertrou. Deur dit te doen, wys ons vir die wêreld iets van die grootheid van God. Dit is genade as iemand die pyn van onverdiende lyding verduur omdat hy aan God getrou wil wees (1 Petrus 2:19). Paulus stel dit so: Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam I2 Korintiërs 4:10).

 

Kom ons kyk na ‘n goeie voorbeeld: Stefanus. Hy word gevange geneem en verhoor voor die Joodse Raad: Toe al die lede van die Raad stip na Stefanus sit en kyk, sien hulle dat sy gesig soos dié van ‘n engel lyk (Handelinge 6:15). Net voor hy sterf, sak hy op sy knieë neer en roep hard uit: Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie (7:60). Dit maak menslik net geen sin nie.

Christene se gedrag as hulle gemartel word, maak ‘n diep indruk op die mense. Paulus sit in die tronk as hy skryf: Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word omdat ek om julle ontwil ly nie. Julle moet dit eerder as ‘n eer beskou (Efesiërs 3:13).

Oktober 2007. ‘n Gewapende man stap ‘n Amish skool binne. Hy skiet tien kinders  tussen die ouderdom van 6 en 13 – vyf sterf. Daarna skiet hy homself dood. Hulle vergewe hom. Sosioloë ondersoek hulle vermoë om te vergewe en kom tot die gevolgtrekking dat dit berus op verskeie faktore:

  • Hulle diepe nadenke oor Jesus, ‘n Man wat vir sy vyande gesterf het.  As jy voortdurend daaroor dink en daaroor sing, kan jy selfs die moordenaar van jou kinders vergewe.
  • Vergifnis beteken dat jy jou reg om terug te betaal, opgee. Jy doen afstand van jou individuele belange vir God en ander mense; jy gee jou vryheid op om volgens God se wil en tot voordeel van jou naaste te leef. Dit is presies die teenoorgestelde wat ons geleer word. Ons leef in ‘n individualistiese verbruikersamelewing waarin ons ons ten alle koste moet handhaaf – my belange, behoeftes en vryheid kom eerste. As ons dus lyding ondervind is ons eerste reaksie vergelding.

Vrede en liefde in tye van lyding – soos Stefanus, die Amish en Jesus Christus –  is die beste getuienis in hierdie wêreld oor die werklikheid van God – sy heerlikheid en sy genade.

As ander sien dat jy geduldig ly al sê jy niks nie, besef hulle dat God ‘n werklikheid is. Hoekom die verskil tussen die Christelike en die sekulêre wêreldsiening? Die sekulêre wêreldsiening glo dat hierdie wêreld die enigste werklikheid is. Dan is jy volkome afgesny van hoop. Alles wat jy dan doen, moet voor mense gedoen word. Geen lyding is tevergeefs nie – God sien dit.

Jesus ly nie sodat ons nooit sal ly nie, maar sodat, wanneer ons ly, ons meer soos Hy sal wees. Daarom is Paulus bly dat hy in die tronk sit. Sy lyding lei tot heerlikheid. As ons weet dat daardie heerlikheid kom, kan jy lyding hanteer.