Rol van vrou in huwelik – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Ek lees van die rolle van man en vrou in die huwelik. My vraag is: Wat kan ek as vrou doen as my man net ons huis betaal maar verder moet ek vir alles sorg? Kos, kinders se klere, kinders versorg, huis versorg, man versorg (tot sy kosblik). Maar my man hou dronknes en geniet homself, en verwag sy bord kos as hy by die huis kom (wat daar elke keer is). Gaan ek my plig versuim as ek alles wegvat, sy “spoonfeeding” stopsit?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Oor die onderskeie rolle van man en vrou in die huwelik is daar al baie geskryf op die Bybelkennis-webblad. Ek wil die vraagsteller dus graag uitnooi om twee artikels te lees wat ek self hieroor geskryf het. Die titels is: “Die man en die vrou se rol in die huwelik”, en “God se orde in die huwelik”. Sleutel hierdie titels in by die soekblokkie op die tuisblad van Bybelkennis, druk “enter” en klik dan op die artikels soos hulle verskyn. Maar daar is ook baie ander artikels oor die huwelik wat haar sal help. Tik die woord “huwelik” in en hulle sal almal verskyn. Hulle behoort die vraagsteller te help om haar dilemma binne die konteks van God se wil vir die huwelik te verstaan en verdere aksie te neem.

Maar kan ek net kortliks spesifiek op die vraag van ons vraagsteller antwoord. Want wat sy nou nodig het, is aksie, nie net insig oor die rolle van man en vrou in die huwelik nie, hoewel laasgenoemde ’n belangrike begin is, veral ook vir die man om van kennis te neem.

Die situasie soos die vraagsteller dit bo beskryf, is beslis nie ideaal nie en vir seker nie God se wil vir haar huwelik nie. Dis duidelik dat sy uiters gefrustreerd is en nie langer kans sien om so voort te gaan nie. Wat nou nodig is, is dat sy die saak rustig en kalm, maar ook eerlik en opreg met haar man uitpraat en dat hulle tot ’n gesamentlike plan van aksie oorgaan omtrent ’n toekomstige rol- en werksverdeling wat vir beide bevredigend is. Haar man moet besef dat sy vrou ongelukkig is en voel dat sy nie na waarde geskat word vir die bydrae wat sy tot die huwelik lewer nie.

Baie mans verval in ’n patroon van onttrekking en gemaksugtigheid oor wat hulle verantwoordelikhede in die huwelik is, met die verskoning dat sekere take die vrou se verantwoordelikheid is. En ongelukkig ontstaan so ’n situasie soms omdat die vrou dit oor tyd toegelaat het om te ontwikkel. Aanvanklik was sy miskien huiwerig om haar man teen te gaan, uit vrees vir konflik, en kort voor lank ontstaan ’n situasie soos wat die vrou hierbo beskryf. En om uit hierdie patroon te kom, gaan openhartigheid, gesamentlike besluite en geduld vra. Die man sal moet besef dat dinge gaan verander, maar dat dit uiteindelik tot beide se beswil sal wees en hulle huwelik op ’n nuwe voet gaan plaas. En as persoonlike gesprek tussen die vrou en haar man steeds nie die gewenste uitwerking het nie, sal dit wenslik wees om professionele hulp in te roep, byvoorbeeld hulle pastoor of dominee, of ’n ervare huweliksberader.

Maar sy sal haar man se samewerking moet kry. Eerder dit as om drastiese stappe te neem. Moet veral nie wegspring met ultimatums en sperdatums nie. Dit sal hom net viervoet laat vasskop. Drastiese en veral eensydige maatreëls het gewoonlik allerlei negatiewe reaksies tot gevolg wat nie die langtermyndoel – ’n gelukkige huwelik – dien nie. Daar is verskillende maniere om die “spoonfeeding” stop te sit, maar ek sou verkies dat sy dit met die hulp van ’n professionele persoon doen én met haar man se instemming. Want dit vat twee om ’n huwelik te laat werk.

Baie sterkte.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl