Rut en Simson

 

Praying without ceasing isn’t meant to burden us but to liberate us from all our burdens. —Burk Parsons

 

Rut en Simson

Die boek Rigters sluit op ‘n donker, amper desperate, noot af: In daardie tyd was daar nog nie ‘n koning in Israel nie, en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë (Rigters 21:25). Hierdie wat “reg is in sy eie oë” was dikwels gruwelik. Aan die begin was dit baie aanloklik om God te definieer soos hulle Hom graag wou hê. Mettertyd vind hulle hulle fout uit.

 

As Rigters die enigste boek was waaruit ons die geskiedenis van Israel op hierdie spesifieke stadium kon leer, was dit maar ‘n droewige prentjie. Maar daar is ook ‘n ander boek – Rut. Die boek Rut speel af in die laaste dae van die rigters. Dit was regtig nie ‘n baie goeie tyd om ‘n vrou in Israel te wees nie. Tog is die sentrale karakter in hierdie boek ‘n vrou. Nog erger: sy is nie eers ‘n Israeliet nie. Sommer vroeg in die storie is sy ‘n weduwee. Sy is so laag en swak as wat ‘n mens kan kry – ‘n vrou, ‘n weduwee en ‘n nie-Israeliet.

 

Intussen is die sterk mans en heersers besig om die nasie in die grond te bestuur. Maar die oënskynlike swak en hulpelose Rut staan uit, want sy vertrou God al lyk dit of alles teen haar is. As gevolg van haar geloof te midde van onsekerheid sou God haar gebruik om Israel te red. Dwarsdeur die boek Rigters wonder ons of een van hierdie rigters nie Israel sou verlos nie … maar nie een van hulle was opgewasse vir die taak nie. God kies vir Rut om sy beloftes lewend te hou. Rut het ‘n seun Obed gehad. Hy het ‘n seun Isai, die vader van Dawid, gehad. Die koning wat Israel nodig gehad het, Dawid, kom nie uit die krag van Simson nie, maar uit die swakheid van ‘n weduwee uit ‘n ander land.

 

Dawid was nie dié koning wat Israel nodig gehad het nie. Geslagte later kom die koning wat Israel nodig gehad het – Jesus. Jesus, soos Rut, was arm en swerf rond sonder ‘n huis. Soos Rut was Hy nie die Verlosser wat Israel verwag het nie. As gevolg van sy swakheid, was Hy die Verlosser wat hulle nodig gehad het.

 

Jesus sou veel erger dinge as Rut moes verduur. Rut het vir ‘n tyd lank swaar gekry, maar sy eindig haar lewe in ‘n stabiele en ryk familie. Jesus eindig sy lewe en al sy vriende verlaat Hom. Hy sterf arm – sy enigste besitting, sy klere, word van sy lyf geskeur. Hy sterf ‘n afskuwelike dood.

 

Miskien moet ons weer na die boek Rigters kyk. Die einde van die boek is donker en aaklik, maar dit is nie die donkerste hoofstuk in die Bybel nie. Die donkerste oomblik in die Bybel is wanneer God se Seun gemartel, gespot en gekruisig word deur godsdiensleiers wat gedink het dat hulle God se werk gedoen het. Die groot verskil tussen die aaklige toneel aan die kruis en die tonele in Rigters 17 – 21 is dat Jesus dit vrywillig aanvaar het. Die mans in Rigters was gemaklik om ander mense, veral vrouens, aan straf te onderwerp, maat Jesus het die straf vir ons vrywillig aanvaar.

 

As ons sonde sien vir wat dit is en as ons besef dat wat Jesus verduur het, het Hy vir ons gedoen, kan ons maar net uitroep: “Genade!”