Sabbat of Sondag – Francois Malan

Franco vra:

In sy antwoond skryf hy dat “By die skepping het God die Sabbat as gawe aan die mens gegee, nie as ‘n wet nie….”
Waar kom prof Francois Malan aan die stelling want volgens Eksodus 20: 9-11 (Die 10 gebooie) verstaan ek dit anders. Help asseblief.
Ek verstaan ook nie die sewende dag as ons eerste dag nie… Hoe werk dit en waar in die Bybel staan dit..Ek kort hulp ..

 

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Vraag 1: “By die skepping het God die Sabbat as gawe aan die mens gegee, nie as ‘n wet nievolgens Eksodus 20: 9-11 (Die 10 gebooie) verstaan ek dit anders.

Vergelyk Jesus se verklaring van die Sabbat: ‘Die Sabbat is gemaak vir die mens en nie die mens vir die Sabbat nie, daarom is die Seun van die Mens Here, óók van die Sabbat (Markus 2:27-28). Die passiewe vorm van die werkwoord ‘is gemaak’ impliseer dat dit God is wat die Sabbat vir die mens gemaak het om gereeld op dié dag sy daaglikse arbeid te onderbreek; en dit te heilig beteken dat die mens homself op die dag spesiaal aan die Here en sy diens sal wy. Volgens Jesus se uitspraak dat Hy die Here is wat die seggenskap oor die Sabbat het en oor al die dae van die week, soos geïmpliseer in ‘óók,’ beteken dit dat dit ’n dag is wat Hy elke week aan ons skenk om ons daaglikse werk te onderbreek en ons aan Hom te wy.

Volgens Genesis 2:3 het God die sewende dag geseën en geheilig. Die seën van die dag wat God vir die mens gee is dat God met die mens gemeenskap wil hou, om saam met God fees te vier, en ons met sy liefdeswoord te versterk vir die week wat voorlê se arbeid. Eers dankbaar saam met God feesvier om van sy skepping en sy woord te geniet en daardeur versterk te word vir werk in sy tuin; eers vryheid en dan arbeid; eers die vrde van God geniet en dan die stryd van die week aan te pak.

Dat God die dag geheilig het beteken dat die Here die dag vir Hom opeis as sy dag, die dag van die Here, waarop Hy die mens wil beskerm, en ongestoord met hom wil praat, en van sy genade en liefde wil oortuig (vgl. Eks 34:5-7).

Volgens Deuteronomium 5:15 is dit om ook ons werksmense die rus te gun. In Deutr. 5:15 herinner die Here die Israeliete dat hulle in Egipte slawe was wat sewe dae ’n week moes werk en dat die Here hulle met sy groot krag en magtige dade daaruit bevry het. Daarom het Jesus die Sabbat verander van ’n wet na ’n geskenk van God aan die mensdom soos dit van die begin af was.

In Markus 3:4 daag Jesus die Fariseërs uit met die vraag: ‘Is dit toelaatbaar om op die Sabbat goed te doen of sleg te doen, om ’n lewe te red of dood te maak?’ Toe maak hy die man met die verdorde hand daar in die sinagoge gesond en die Fariseërs gaan uit en begin dadelik op die Sabbat planne beraam om Hom dood te maak. Sommige van die Fariseërs het ook gesê ‘Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die Sabbat nie,’ en dit omdat Hy die blindgebore man op die sabbatdag genees het (Johannes 9:16).

Net voor Jesus se verklaring in Markus 2:33-38 (ook in Lukas 6:1-5) dat Hy die Here is oor die Sabbat, het Jesus twee gelykenisse vertel om te verduidelik dat Hy met ’n nuwe lewenswyse en gebruike kom, en dat jy nie ’n nuwe lap op ’n ou kledingstuk kan werk nie, en nie nuwe wyn in ou leersakke kan gooi nie (Markus 2:18-22; Lukas 5:37-39). Hebreërs 8:8-13 praat van die nuwe verbond die Here, wat die verouderde wettiese verbond van Eksodus 20 wat by Sinai met hulle gesluit is, vervang omdat Israel dit verbreek het. En wat verouderd verklaar en afgeleef, is naby aan verdwyning. In die nuwe verbond gee die Here sy wette in ons verstand en graveer dit op ons harte dat Hy ons God is en ons sy volk. Dit is die Here se verbond van genade om nie meer aan ons sondes te dink nie. Paulus sê: As ons op grond van die wet vrygespreek wil word, is ons van Christus afgesny en verbeur ons die genade van God (Galasiërs 5:5).

 

Vraag 2. ‘Ek verstaan ook nie die sewende dag as ons eerste dag nie… Hoe werk dit en waar in die Bybel staan dit..Ek kort hulp ..

Die woord sabbat beteken eintlik ‘ophou,’ en Genesis 2:2 se digvorm kan eintlik vertaal word met:

En op die sewende dag was God klaar

met die taak wat Hy verrig het;

en op die sewende dag het Hy opgehou

met die hele taak wat Hy verrig het.

Dan beteken dit dat God nie ophou werk het op die sewende dag nie, maar dat Hy met die skeppingstaak opgehou het. Daarom kan Jesus in Johannes 5:17 sê: ‘My Vader is tot nou toe steeds aan die werk, en Ek is ook aan die werk.’ Dit het Hy gesê as regverdiging vir sy genesing van die siek man by die bad van Betesda op die Sabbat.

Die Here het volgens Genesis 2:2 op die sewende dag opgehou met al sy skeppingswerk, en die dag daarom geseën en dit geheilig (Genesis 2:2-3). God het die mens aan die einde van die sesde dag gemaak (Gen 2:24-31). Daarom was God se sewende dag die eerste dag van die mens se lewe op God se aarde, die dag wat deur die Here geseën is en aan God gewy is. Ná die mens se eerste dag, op die dag toe God opgehou het met sy skeppingstaak, het die mens uit dankbaarheid vir ses dae gaan werk, om die tuin wat die Here vir die mens gemaak het te bewerk en op te pas (Gen 2:8,15).

Jesus is op Sondagmôre uit die dood opgewek en het op dié eerste dag van die week reeds aan sy dissipels verskyn (Matteus 28:1; Markus 16:1-6; Lukas 24:1-7; 13-40; Johannes 20:1,2,19). Die christene het die opstandingsdag van Jesus die ‘dag van die Here’ genoem (Openbaring 1:10). Volgens Handelinge 20:7 en 1 Korinthiërs 16:2 het die gelowiges op die eerste dag van die week, op Sondae, bymekaargekom vir hulle gemeenskaplike maaltyd en nagmaal.

Die woord Pinkster kom van die Grieks vir 50 (pentekoste). Op die vyftigste dag na Paasfees het die Jode hulle dankfees vir die oes gehou, die dag na die sewende Sabbat vanaf die fees van die eerstelinge (Levitikus 23:15-16). Op die vyftigste dag, op Sondag, is die Heilige Gees uitgestort en het die kerk eintlik begin funksioneer as ’n gemeenskap van gelowiges in Christus Jesus onder die leiding van die Heilige Gees (Hand.2:1-4).

Wanneer Paulus in ‘n stad by die Jode begin met sy sendingwerk, gaan hy na die sinagoge op ‘n Sabbatdag (Handelinge 13:14-15), maar vir die gelowige gemeentes preek hy op Sondag (Handelinge 20:7). Aan die bekeerlinge uit die nie-Jode het Paulus nie die onderhouding van die Sabbat verkondig nie, hoewel hy Christene wat nog die Sabbat hou nie veroordeel nie (Romeine 14:1,5-6, hoewel hy hulle as swak in die geloof beskou; ook Kolossense 2:16-17, wat egter ook sê dat die Sabbat ’n skaduwee is van dit wat aan die kom was, maar die werklikheid is Christus). Eintlik verkondig Paulus vryheid van die Joodse wette en gebruike soos die Sabbat, vasdae, feesdae en -jare, en ‘n lewe wat aan Christus verbind is (Galasiërs 4:9-11; Romeine 14:8-9). By die vergadering van apostels en gelowiges in Jerusalem is die onderhouding van die Sabbat nie een van die vier dinge wat hulle onder leiding van die Heilige Gees van die bekeerlinge uit die nasies gevra word nie (vgl. Handelinge 15:28-29).

In Kolossense 2:16-17 reageer Paulus teen die dwaalleraars wat o.a. die onderhouding van die Sabbat as ‘n maatstaf van ware godsdienstigheid vereis. Paulus beskou dit as ‘n skaduwee van Christus wat sou kom, en dat dit nou die betekenis van Christus verduister. Die voorskrifte en gebooie van die Ou Testament was die skaduwee wat die buitelyne van Christus vertoon het. Maar nou het Hy gekom, en moet ons nie langer aan die skadubeeld vashou nie, maar in liefde en dankbaarheid saam met Hom en vir Hom lewe (vgl. ook Hebreërs 8:5-6,13 wat sê dat die ou verbond met sy wette vervang is deur die nuwe verbond van genade wat Christus gebring het).

Skrywer: Prof Francois Malan