Salomo en die koningin van Skeba – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Groot was my teleurstelling toe ek ’n DVD kyk oor die lewe van Salomo en besef hulle het, alhoewel ’n groot gedeelte van die verhaal akkuraat is, gesê dat Salomo met die koningin van Skeba trou en ’n kind by haar het, ens; iets waarvan ek nêrens iets in die Bybel lees nie.

Ek het vandag self oor koning Dawid en Salomo gelees. In 1 Konings 10:13 staan daar GLAD nie so iets nie. Is dit reg om mense te verlei met sulke antwoorde? Indien u kan, kan u dit verduidelik asseblief.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

In die vraagsteller se vraag het ons met twee kwessies te doen: a. prof Francois Malan se antwoord oor die koningin van Skeba (kyk sy volledige antwoord op Bybelkennis.co.za se webblad; ek herhaal dit nie hier nie), en b. die video oor die lewe van koning Salomo.

Wat a. betref: Al wat prof Malan probeer doen, is om ’n oorsig te gee oor, enersyds, die Bybelse gegewens omtrent die koningin van Skeba (wat baie skraps is) en, andersyds, die legendes wat in ander tradisies (bv Moslem, Etiopies) uit hierdie Bybelse gegewens voortgespruit het. Die gedagte dat sy en Salomo ’n verhouding gehad het waaruit ’n kind gebore is, is dus suiwer legende en berus nie op Bybelse gegewens nie. Prof Malan se antwoord is dus nie misleidend nie, maar probeer juis aantoon hoe Bybelse gegewens van ander fiktiewe gegewens onderskei moet word.

Wat b. betref (die video wat die vraagsteller onder oë gehad het): Die naam van hierdie video word ongelukkig nie vermeld sodat mens die oorsprong en vervaardigers hiervan kan verifieer nie. Maar uit wat die vraagsteller noem, is dit duidelik dat die vervaardigers ’n soort “Hollywood weergawe” van Salomo en die koningin van Skeba gemaak het, waarskynlik gebaseer op van die legendes rondom hierdie vrouefiguur, maar wat, soos bo genoem, geen Bybelse basis het nie. ’n Mens moet dus maar altyd versigtig wees om sommer enige video oor Bybelse verhale as evangelie te aanvaar sonder dat mens eers die Bybelse gegewens gekontroleer het. Die kaf moet altyd van die koring geskei word.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl