Sekere dinge is die moeite werd om oor te baklei

 

When we deal seriously with our sins, God will deal gently with us. — C.H. Spurgeon

 

Sekere dinge is die moeite werd om oor te baklei

Larry Osborne het ‘n baie interessante boek, Accidental Pharisees, geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs daaraan spandeer.

 

Oor sekere dinge moet ons baklei. Jesus en Fariseërs was in warm debatte betrokke – Jesus sê harde dinge van hulle en hulle onderrig. In Matteus 23 kry ons ‘n  uitgebreide  veroordeling van die Fariseërs. Paulus is net so sterk teen die Judaïseerders. Hy hou nie terug nie – hy wens hulle wil hulleself mutileer. Hy verdoem iemand wat vals leer verkondig.

 

In al hierdie gevalle gaan die debat oor die kern van verlossing – nie oor nuanses nie; nie oor fyn skrif en  klein besonderhede nie. Dit gaan oor wie gered gaan word en wat hy moet doen om gered te word. Jesus is teen die Fariseërs, want hulle hou sondaars wat Hy gekom het om te red, weg van Hom. Dit gaan oor die ewigheid en verlossing. Moeite werd om daarvoor te baklei. Meeste van ons bakleiery gaan oor dinge wat ons nie hel toe sal stuur nie.

 

As ons ons verskille opsy sit en arms vat, bevestig dit ons boodskap van genade, barmhartigheid en vergifnis. Ons sê vir wêreld Jesus is bo aardse dinge. Daarom kies Jesus vir Simon die Seloot en Matteus die tollenaar as dissipels. Hulle het niks in gemeen behalwe ‘n antieke band met Abraham en toegewyding aan Jesus nie. Anders is hulle twee natuurlike vyande.

 

Simon was ‘n Seloot –  ‘n lid van die Joodse groep toegewy aan die omverwerp van die Romeinse onderdrukkers – hulle was vryheidsvegters. Romeine sien hulle as nasionalistiese  ondermyners.

Matteus was ‘n belastingaarder vir die Romeinse owerheid. Hy samel buitensporige belasting in van sy mede-Jode en gee geld aan die Romeinse onderdrukkers. Vir die Jode is hy ‘n veragtelike verraaier. Romeine sien hom  as ‘n medepligtige lid van ‘n nasie wat verslaan is.

Simon en Matteus sou mekaar gehaat het. Toe Jesus hulle roep om Hom te volg, sit hulle verskille een kant en gryp die geleentheid aan. Dit moes ‘n indruk op mense gemaak het. Inderdaad ‘n wonderwerk.

 

In die vroeë kerk was dit skokkend om Jode en nie-Jode, eienaars en slawe, mans en vroue in een huis bymekaar te sien om te aanbid. Dit in ‘n kultuur wat gebou was op klasverskille, status en sosiale grense wat nie oorgesteek mag word nie. Jesus se vermoë om so ‘n diverse groep saam te snoer, sê baie van sy gesag – dit verleen ook geloofwaardigheid aan sy aanspraak dat Hy die Seun van God is. Volgens Jesus as ons mekaar liefhet sal die wêreld weet dat ons  sy dissipels is.