Sewende Dag Adventiste

Sewende Dag Adventiste – Francois Malan

Davina vra:

Watter antwoorde gee ek aan ‘n familielid wat nou ‘n Sewendedag Adventis is? Watter Bybel verse sal ek kan aanhaal? Wat is die verskille/ooreenkomste? Ek het Prof Francois se berig gelees, maar sal graag meer wil weet.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord: 

Die Sewende Dag Adventiste (SDA’s)  glo in die goddelike inspirasie van die Bybel en aanvaar die Bybel as die enigste rigsnoer vir hulle geloofslewe en gedrag. Hulle glo in die goddelike Drie-eenheid, Vader, Seun en Heilige Gees. Hulle erken dat Jesus Christus vir ons gely en gesterf het en dat die ewige lewe ‘n genadegawe van God is deur Jesus Christus. Hulle onderhou die tien gebooie as die vrug van die bekering en glo dat die voorskrifte van die tien gebooie vandag nog letterlik en geestelik van krag is. Daarom onderhou hulle ook die sewende dag van die week as ‘n rusdag, wat op Vrydagaand met sononder begin tot Saterdagmiddag sononder.

Hulle doop deur onderdompeling na kategese en belydenis van geloof; en beoefen die voetwassing van mekaar by die nagmaalsdiens.

Hulle glo dat wanneer ‘n mens sterf hy in die graf rus in ‘n sieleslaap tot die opstandingsmôre. Hulle glo dat die persoonlike wederkoms van Christus om die dooies en lewendes te oordeel naby is.

Hulle onthou hulle van onrein voedsel soos in die Bybel aangetoon – daarom is baie vegetariërs – ook van tabak, alkohol en ander dwelmmiddels.

Dat hulle aan die letterlike betekenis van die Skrif vashou, bring tog ‘n inperking van die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en ‘n konsentrasie op die letterlike betekenis daarvan, wat wetties word en kan maak dat die geestelike betekenis daarvan skade ly.

As die onderhouding van die Sabbat ‘n onontbeerlike vereiste word vir die saligheid, word die betekenis van Christus se verlossing soms in die skadu gestel, dat ek glo in Christus, maar my wetsonderhouding word ‘n bykomende vereiste; dan word dit Christus plus die onderhouding van die Sabbat.

Dit was Paulus se probleem met die afwyking wat daar in die gemeentes van Galasië gekom het. Die Galasiërs het, onder Joodse  Christene se invloed, begin glo dat geloof in Christus nie genoeg is om jou te red as jy nie ook streng volgens die Joodse wet leef nie. Hy noem dit afvalligheid van die genade van God (Gal.1:6), om van ons weer slawe van wettiese voorskrifte te maak, soos bv. die viering van besondere dae, ens., en dit terwyl ons lewe in die vryheid wat Christus Jesus vir ons verwerf het (Gal.2:4; 4:9-11). Ons word vrygespreek deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie (Gal.2:16). Paulus sê, hy is dood vir die wet, sodat hy vir God kan lewe; ek is saam met Christus gekruisig en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus in my…as ‘n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het  (Gal.2:19-21). Ons is tot vryheid geroep, maar moet nie daarvan misbruik maak as ‘n verskoning om sonde te doen nie. Ons moet mekaar as nuwe mense in liefde dien (Gal.5:13; 6:15). Gaan lees maar die hele Galasiërs oor die  gevaar van op Christus plus iets ekstra van my kant te vertrou.

Vir die gemeente in Kolosse sê Paulus: moenie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet of drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus … iemand wat homself in eiewaan verhef hou nie aan die hoof, aan Christus vas nie; uit Hom groei die hele liggaam…julle het saam met Christus gesterwe en is dus dood vir die wettiese godsdienstige reëls van hierdie wêreld… (Kol.2:16-23).

Vir Paulus is ons vrygemaak van die onderhouding van ‘n wet wat van buite af op ons gelê word, omdat die wet van God in ons harte geskryf is (Jer.31:33), deurdat God self met sy Heilige Gees in ons kom woon het (Rom.8:11).  Die vrug van die Heilige Gees se inwoning en werking om ons te oortuig is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing, teen sulke dinge het die wet niks nie (Gal.5:22,23).

Terwyl Paulus nog vir die Jode op die dag van hulle samekomste op die Sabbat preek (Hand. 13:14,42,44) hou hy saam met die Christus-gelowiges die gemeenskaplike maaltyd op Sondag, bv. in Troas (Hand.20:7). Hy gee aan die gemeentes opdrag dat elke lidmaat elke Sondag (letterlik: elke eerste dag van die week) iets opsy sit vir die armes in Jerusalem (1 Kor.16:1,2).

Sondag word in die Nuwe Testament genoem ‘die dag van die Here’ (Openb.1:10). Op die Joodse Sabbat was Christus in die graf, van Vrydagaand af (Joh.19:31,42). Sondagmôre het Hy uit die dood opgestaan (Mat.28:1; Mark.16:1,2; Luk 24:1; Joh.20:1), daarom word sy oorwinning oor die dood op die opstandingsdag ‘die dag van die Here’ genoem. Daardie opstandings-Sondag het Jesus aan sy dissipels verskyn, eers aan Maria, toe aan die Emmausgangers (Luk.24:1,13) en die aand aan sy dissipels (Joh.20:19) en die volgende Sondag weer, toe Tomas ook by hulle was en Jesus hulle uitgestuur het soos die Vader Hom gestuur het na die wêreld toe (Joh.20:26).

Die Heilige Gees is op die vyftigste dag na sy opstanding, op Sondag, uitgestort, die dag waarop die kerk van Christus gestig is (Hand.2:1-4).

In Romeine 14 gee Paulus aanwysings vir die sterkes in die geloof, oor hoe hulle die swakkes in die geloof moet behandel: Vir die een is die een dag belangriker as ander dae; vir ‘n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. Die een wat ‘n bepaalde dag tot eer van die Here hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God (14:5-6)

Sieleslaap – die geloof dat mense na die dood onbewus van enigiets slaap tot die oordeelsdag: Die Bybel leer ons nie dat die mens na sy dood in onbewustheid slaap nie. Waar die Bybel die dood eufemisties beskryf met die figuurlike betekenis van slaap (Mat 9:24; Joh 11:11) moet dit ook nie letterlik opgeneem word nie – vgl. die Afrikaanse sagte figuurlike uitdrukking vir iemand wat gesterf het as: hy/sy het ontslaap (Daniël 12:1).

Selfs die Ou Testament beskryf die dooies as bewus van hulle omstandighede (vgl. Jesaja 14:9; Esegiël 31:16; 32:31). In Lukas 16:24 is die rykman in pyn; Matteus 24:51 sê hulle huil en kners op hulle tande.

Paulus verlang om heen te gaan om met Christus te wees (Filippense 1:23), Stefanus sterf met die woorde: Here Jesus ontvang my gees (Handelinge 7:59), vgl, Lasarus in Lukas 16:23,24 se gelykenis. Paulus se voorstelling van die dood is dat ons by die Here gaan woon (2 Korintiërs 5:1-10) en in sy visioene sien Johannes die siele van die wat doodgemaak is onder die altaar waar hulle God aanroep (Openbaring 6:9-11).

Jesus het vir Martha gesê: Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie (Johannes 11:25,26).

Groot doop deur onderdompeling en toewyding van babas – heidene wat tot bekering kom, word in alle kerke gekatkiseer en na belydenis van hulle geloof word hulle gedoop. Maar kerke wat ook kinders doop doen dit na aanleiding van die besnydenis wat in die ou verbond die teken was dat hulle aan God behoort (Genesis 17:12). In Kolossense 2:8-15 waarsku Paulus teen misleiding met wettiese godsdienstige reëls en nie op Christus nie. Deur ons verbondenheid aan Christus is ons besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus wat ons sondige natuur wegneem. Dit gebeur by die doop deurdat ons dan saam met Hom begrawe word en opgewek word deur die krag van God wat Christus uit die dood opgewek het en ons opwek deur al ons sondes vir goed te vergewe.

Die nuwe verbond is deur Christus ingestel met die doop in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees (Matteus 28:18), as teken en waarborg dat die persoon aan die Drie-enige God behoort. So word kinders van gelowige ouers gedoop omdat God sy verbond met ons en ons kinders maak, soos in die ou verbond (Handelinge 2:39). Paulus sê ook dat die kinders van ‘n gelowige aan God behoort (1 Korintiërs 7:14).

Die doop is nie ‘n prestasie van die gelowige nie, maar die waarborg wat God self gee dat Hy die kind of grootmens uitgekies het om aan Christus te behoort. So het Jesus gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle (Markus 10:14).

Die doop hoef nie noodwendig deur onderdompeling te geskied nie – selfs die ou verbond wat God met Israel by Sinai gemaak het, is met die besprinkeling van  bloed bevestig (Eksodus 24:8; vgl. Hebreërs 9:21). Maar ons bring nie meer die bloed van diere as offer vir ons sonde nie. Christus se offer aan die kruis verlos ons van ons sonde (Hebreërs 10:8-18). Daarvan is die doop die waarborg, vir kinders en grootmense, vir elkeen wat aan God behoort as kinders van God omdat die Heilige Gees hulle aan God se Seun Jesus verbind (Romeine 8:9-17).

 

Skrywer: Prof Francois Malan