Simbole in die Bybel

Simbole in die Bybel

Mense stry baie oor hoe letterlik ons die Bybel moet lees. As daar in Openbaring 21 staan dat die hemel soos ʼn stad van goud en edelgesteentes is, gaan dit letterlik so wees? Of as die Bybel sê dat God ons “loskoop” met Jesus se bloed, beteken dit dat God Jesus se bloed letterlik in geld verander en dit aan die duiwel betaal? Sjoe, moet God regtig die duiwel so betaal?

Dit is nie onbelangrike vrae nie. As jy byvoorbeeld ʼn grappie met iemand maak en die persoon dink jy is ernstig is daar gewoonlik ʼn gemors. Daai persoon dink jy wil hom beledig of in die gesig vat en dan is hy dadelik vies. En jy wou maar net gaaf en oulik gewees het. Nee, dit is belangrik dat jy die bedoeling van woorde reg moet verstaan. Daarom moet ʼn mens seker maak dat jy nie iets letterlik lees wat eintlik figuurlik bedoel is nie, en omgekeerd.

Omdat die Bybel oor God praat, is daar báááie dinge wat figuurlik is, doodgewoon omdat ons as mense nie woorde en selfs die kennis het om alles van God behoorlik te beskryf nie. God is net soveel groter as ons en die hemelse dinge so anders as wat ons ken, dat ons net met beelde en metafore en beskrywings regkom.

Vat byvoorbeeld die beeld van die nuwe Jerusalem wat van goud gemaak is. Jy sou nie eers lekker met jou meisie op die sypaadjie kon sit nie, want die goue grasspriete sou jou lekker van agter bygekom het. Nee, die hemel gaan nie ʼn goue stad wees nie. Dit gaan soos (vergelyking) ʼn goue stad wees. Die skrywer moes vir sy lesers vertel hoe die hemel gaan wees, maar het eintlik nie woorde gehad nie. Die hemel is te wonderlik. Toe vat hy die beste en wonderlikste beskrywing wat hy kon kry… ʼn stad van goud en edelgesteentes en ʼn pragtige rivier met genoeg kos. Beter en wonderliker as dit kan hy hom nie voorstel nie. Die goud en pêrels en edelgesteentes is maar net maniere om ons regtig te help om te verstaan hoe wonderlik die hemel gaan wees. Om alles letterlik te lees gaan jou in die geval op die verkeerde pad sit. As jy verstaan dat die goud en edelgesteentes en die dinge beelde is van iets wat nog baie wonderliker as dit is, verstaan jy wat die skrywer wou sê.

Om beelde en simbole, ja, figuurlike taal, in die Bybel te herken, is belangrik. (Onthou, die meeste dinge wat gesê word, is letterlik, maar daar is ook figuurlike taal en dit moet jy herken). Het jy geweet dat in omtrent al die plekke in die Nuwe Testament beelde gebruik word, waar daar gepraat word oor hoe ons gered word? Daar word byvoorbeeld gesê dat ons versoen word (ʼn beeld van kwaaivriende wat weer vriende word); losgekoop word (die beeld van ʼn slaaf wat vrygekoop word); dat ons geregverdig word (ʼn beeld van ʼn regter wat jou van jou skuld vryspreek sodat jy nou regverdig uit die hof kan uitstap); dat ons wedergebore word (die beeld van ʼn kind wat in die wêreld gebore word, hierdie keer geestelik), en so kan ons aangaan. Deur te snap dat die Bybel soms in “beeldtaal” praat, help ons ook sommer om te verstaan wat die Bybel wil sê. Daarom is behoorlike Bybelstudie (ook met hulpmiddels) nie net ʼn goeie idee nie, maar nogal lekker ook.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy