1

Sion se herstel (51:1-11) – Francois Malan

51:1-8 Die verse vertolk die belofte van herstel op ‘n besonder mooi en kragtige wyse. Hier word veral die godvresende deel van Israel in ballingskap aangespreek (v1, en v7 letterlik: julle wat geregtigheid ken, o volk, in wie se hart my wet is). Driemaal word Israel opgeroep om te luister (vv1,4,7) soos in Deutr.6:4.

51:1-2 Die Here roep die oorblyfsel van Israel op – julle wat geregtigheid nastreef en die Here soek (1983: wat reg wil doen en na die wil van die Here vra) – om te lewe en te doen wat reg is in die oë van die Here, volgens sy woord, want Hy is die doel van hulle lewe, hulle God, te midde van die afgodsdienaars om en tussen hulle. Hulle word opgeroep om te luister (ook in vv4,7) want die Here gaan groot dinge sê, ‘n belofte van heil, met twee opdragte ingelei: kyk na (1983: dink aan) om te sien wat die Here in die verlede gedoen het. Hy verwys hulle na hulle oorsprong as ‘die rots waaruit julle gekap is’ – soos ‘n beeldhouer wat die vromes uit Abraham gebeitel het, ‘en die steengroef waaruit julle gegrawe is’ – soos ‘n klipkapper wat hulle uit Sara uitgehaal het. Uit die enkele versteende kinderlose egpaar (Hebr 11:11-12)  het die Here op ‘n wonderbaarlike wyse ‘n groot nageslag verwek. Op so ‘n wonderlike wyse kan en gaan die Here ook nou met die getroues in die ballingskap handel.

51:3 ‘Want die Here het Sion getroos; Hy het al haar ruïnes getroos’ – wat die Here aan die verwoeste stad en haar puinhope gaan doen word verpersoonlik met die Here se troos, soos vir iemand in rou. Die omgewing van die stad wat tydens die ballingskap ‘n woestyn geword het, sal weer ‘n lushof word, soos die paradystuin van die Here, ‘n nuwe skepping vol vreugde en blydskap, dank en lofsang aan die Here om sy gawe van die nuwe lewe te besing. Die opdragte en versekering van die Here gaan in teen hulle huidige ellendige omstandighede, en laat hulle uitsien na die vernuwing wat die Here beloof, Hy wat weer as die leier deur Israel aangeneem is.

51:4 Weer die oproep tot Here se volk, sy mense (die oorblyfsel wat in vv1-2 beskryf is) om te luister, want die heil van die Here neem hoër vlugte. Dit gaan ook na die heidennasies wat deur Kores gaan bevry word van hulle onderdrukking: die onderrig van die Here en sy geregtigheid sal gevestig word as ‘n lig vir hulle. Deurdat reg en orde deur die Here herstel word in die lande wat Kores nou gaan inneem, sal hulle die reg van die Here as ‘n lig sien wat hulle lewe sal verlig en lei, en hulle sal gelukkig lewe.

51:5 ‘My geregtigheid is naby; my verlossing gaan vooruit’ – waar die reg triomfeer word die verdrukking beëindig en breek ware geluk aan.  So gaan die arm van die Here (sy mag) ook die heidenvolke verlos uit die verdrukking, soos vir Israel. Die verste lande sien uit na die verlossing deur die arm van die Here, al ken hulle Hom nie. Maar in die lande is daar orals van Israel in die verstrooiing wat aan die Here getrou gebly het as sy getuies onder die nasies.

51:6 Die gedig gebruik drie konkrete voorwerpe: die hemele…soos rook , die aarde…soos verslete klere, dié wat daarop woon…soos muggies. Alles verdwyn maar die nuwe heerskappy van die Here, sy verlossing en sy geregtigheid sal bly (Markus 13:31). Die standvastigste, betroubaarste werklikheid is die Here se goeie heerskappy (die koninkryk van God waarvan die Nuwe Testament praat).

51:7 Die derde oproep aan die oorblyfsel om na die Here te luister. Hulle word weer genoem ‘dié wat geregtigheid ken’ (v1 dié wat daarna streef) – ken is hier nie ‘n saak van die verstand alleen nie, maar van harte; met die wet van die Here in hulle hart – om dit met liefde te oordink (Ps 1:2; 119:97) en hulle deur die innerlike lewensbeginsel te laat lei  (Jer 31:33; Ps 40:9). Vir die spot en beledigings van die heidene onder wie hulle lewe en van die Jode wat nie onder Kores wil teruggaan Palestina toe nie, moet hulle nie bang wees nie.

51:8 Want die spotters is sterflike mense. Maar dié wat die Here se geregtigheid ken en sy wet in hulle hart het, kan sê: wat kan ‘n mens aan my doen? (Ps 118:6). Die teenstanders word beskryf met twee metafore wat aansluit by vers 6 se metafore vir die verganklikheid van die aarde en sy bewoners teenoor die Here se blywende verlossing – hier word die spotters vergelyk met ‘n kleed wat deur ‘n mot opgevreet word en wol deur ‘n wurm, teenoor die Here se ewige verlossing van geslag tot geslag. Die opdragte in verse 1-2, 4, 7 plaas die ballinge voor ‘n keuse oor hulle ware identiteit. Deur op die Here te vertrou kan hulle seker wees dat Hy hulle huidige ellendige toestand gaan verander (In Hosea 2:13-19;  12:7,10 het die Here gesê Hy stuur Israel in die woestyn in om Hom te leer liefkry, soos met die uittog se 40 jaar in die woestyn, en dan sal Hy hulle terugbring).

51:9-11 Die beloftes van die Here se wonders word afgewissel met ‘n gebed. Na die vier opdragte van die Here aan Israel om te luister, in 51:1-2, 4, 7, volg hier vier versoeke wat getuig van Israel se vrymoedigheid.

51:9 Soos die Here die dienaar elke môre wakker gemaak het (50:4), word hier tot die arm van die Here geroep: ‘word wakker, word wakker, beklee jou met mag, word wakker soos in die ou dae, in die geslagte van die voortye…’ die arm van die Here is simbool van die Here se mag, wat slap hang wanneer Hy die volke toelaat om Israel te verdruk. Nou word gevra dat die Here sy arm met krag sal beklee, soos met die aantrek van ‘n wapenrusting, vir groot dade. Uiterlik gaan Kores sy arm wees.

In die voortye met die skepping het die arm van die Here die magte van chaos oorwin. Rahab is die naam vir die chaos of seemonster in antieke stories waarna verwys word in Ps 89:11; Job 9:13 en hier (vgl.ook Ps 74:13; Ps 29:10; Ps 93:3; en die tweede en derde skeppingsdae oor die skeiding van die waters). Rahab word ook gebruik vir Egipte in Ps 87:4 en Jes 30:7. Die draak  (Tanin) word in Ps 148:7 beskryf as ‘n seemonster wat die Here moet loof, in Eks 7:9 as Moses se staf wat ‘n groot slang word voor Farao, en in Eseg 29:3 as die Farao wat as die groot krokodil rustig in sy rivier lê en deur die Here vernietig gaan word. Die oorwinning van die Here oor die monsters verwys na sy skeppingsmag, maar ook oor sy verlossing van Israel uit die vier eeue-lange slaweskap in Egipte. (Gen 15:13).

51:10 Soos die Here die wêreldvloed beheer het op die tweede en derde skeppingssdae, so het Hy ook die Rietsee laat pad maak vir Israel se verlossing. Hulle word genoem ‘die vrygekooptes,’ wat die Here met die bloed aan die kosyne vrygekoop het uit die dood (Eks 12:23).

51:11 Daarom spreek die bidder sy verwagting uit dat die Here, soos met die skepping en die uittog, ook in die toekoms sy volk sal verlos, en hy haal Jes 35:10 hier letterlik aan. Wat in vers 9 ‘n ernstige pleidooi was, word in vers 11 ‘n uitbundige lofprysing, in die sekerheid dat die Here gaan wakker word na die lang ballingskap en optree om sy volk te verlos. Die bidder noem hulle ‘die verlosdes van die Here’ wat Sion met sang en ewige vreugde op hulle koppe ingaan.  Die Here se antwoord op die bede volg in verse 12-16.

Skrywer:  Prof Francois Malan