Skuldgevoelens

Those who are strong only in fervor and sharpness, but are not fortified with solid doctrine, weary themselves in their vigorous efforts, make a great noise, rave, [and] make no headway because they build without a foundation. — Johannes Calvyn

Skuldgevoelens
Richard Coeken (in The Big Fight waarvan Richard Perkins en Tim Thornborough die redakteurs is) het ‘n interessante gedeelte oor skuldgevoelens geskryf. Hy beklemtoon vier aspekte:

(1)    Mense voel nie skuldig voor God nie al behoort hulle skuldig te voel. In die hart van die goddelose het die opstand teen God die laaste woord. Die goddelose het geen vrees vir God nie en praat net goed oor homself. Hy is altyd daarop uit om kwaad te doen en om te haat (Psalm 36:2 – 3). Baie mense soek nie die Verlosser nie, want hulle vrees nie vir God soos hulle behoort te doen nie. Hoekom? Hulle voel nie skuldig oor hulle sonde nie.
(2)    Baie gelowiges voel skuldig voor God oor dinge wat nie verkeerd is nie! Paulus waarsku teen dwaalleraars: Hulle verbied mense om te trou en bepaalde soorte kos te eet. Maar God het die voedsel gemaak, sodat dié wat glo en tot die kennis van die waarheid gekom het, dit met danksegging kan gebruik (1 Timoteus 4:3). Goeie voorbeelde hiervan is die voedselwette van die Jode, die vastye van die Moslems en Katolieke monnikke wat nie mag trou nie.
(3)    Baie mense voel skuldig voor God wanneer sy Gees hulle oortuig van hulle behoefte aan ‘n Verlosser. En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het (Johannes 16:8). Die Heilige Gees oortuig ons deur die Skrif dat ons onder God se wet skuldig is, en dat ons Hom nodig het. Dit gebeur dwarsdeur ons lewens as gelowiges. Ons bewustheid van skuld is ‘n bemoedigende teken van die Heilige Gees se werking in ons lewens.
(4)     Gelowiges moenie aanhou skuldig voel nie, want ons is van ons sondes gereinig. Laat ons nou tot God nader met ‘n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ‘n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water (Hebreërs 11:22). Soos ‘n hoëpriester God nader met die bloed van offers vir sy mense, so is Jesus permanent in die teenwoordigheid van God as ons Hoëpriester nadat Hy sy eie bloed aan die kruis vir ons sondes gestort het. Ons kan dus nou sonder skuldgevoelens in die teenwoordigheid van God lewe – indien ons in Jesus Christus en dit wat Hy gedoen het, glo.

Elkeen van ons kan hier iets leer.