Soek vir God op die verkeerde plekke

image_pdfimage_print

In times of drastic change, it is the learners who inherit the future. The learners find themselves well equipped to live in a world that no longer exists – Eric Hoffer

Soek vir God op die verkeerde plekke

In 2 Konings 5:1 – 14 lees ons die verhaal van Naäman wat van sy melaatsheid genees word. Naäman was ‘n beroemde man – die hoof van die leër van die koning van Aram. Hy was dapper; hy het die agting van die koning geniet. Almal het hom geken en gerespekteer. Hy het egter ‘n probleem: hy het melaats geword.  Wat ‘n verleentheid.

 

Tydens een van sy strooptogte ontvoer hy ‘n jong dogtertjie uit Israel. Die dogtertjie word die bediende van Naäman se vrou. Eendag vertel sy vir Naäman se vrou van die profeet in Samaria … dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.  Nadat sy vrou dit vir Naäman vertel het, gaan vertel hy dit vir die koning. Die koning gee toestemming dat Naäman die profeet mag besoek.

Naäman vertrek nadat hy ‘n indrukwekkende karavaan bymekaar gemaak het – silwer, goud en klere. Hy gaan reguit na die koning en gee vir hom ‘n brief van die koning van Aram. Hierdie brief ontstel die koning van Israel: Wanneer hy by jou uitkom, moet jy hom van sy melaatsheid gesond maak. Die koning was so ontstel dat hy sy klere geskeur het. Hoe moes hy nou vir Naäman genees? Hierdie is ‘n strik. Misluk hy gaan die Aramese Israel sekerlik aanval.

 

Elisa hoor van die koning wat sy klere geskeur het en stuur ‘n boodskap na die koning: Laat Naäman na my toe kom, sodat hy kan besef dat daar ‘n profeet in Israel is. Naäman en sy hele gevolg trek nou na Elisa toe. Naäman verwag dat Elisa uit sy huis sou kom en hom genees. Nee, Elisa stuur ‘n dienaar. En dan die boodskap: Gaan was jou sewe maal in die Jordaan, dan sal jy gesond word en rein wees.  Naäman ontplof. Ek is ‘n generaal en Elisa kom nie eers uit om met my te praat nie en dan sy voorskrif vir genesing. Daar is meer indrukwekkende riviere in Aram. Vererg ry Naäman daar weg. Sy amptenare praat hom om om Elisa se voorskrif te volg en sy vel  het gesond geword soos dié van ‘n klein seuntjie.

 

Is dit nie verbasend dat in hierdie ou verhaal al die “groot” manne dwase is en die dienaars reg optree. Die koning van Aram dink die koning van Israel kan Naäman genees – die diensmeisie het tog duidelik gesê die profeet kan dit doen. Die koning van Israel besef blykbaar nie eers die profeet is in sy stad nie en skeur sy klere. Naäman, ‘n trotse man, weier om die profeet se raad te volg. Die diensmeisie begin die verhaal; die dienaar van Elisa dra die boodskap oor; die amptenare van Naäman oorreed hom om Elisa se raad te volg.

 

Soek ons nie ook dikwels vir God op die verkeerde plekke nie? Wat Keiser Augustus gedoen het was altyd op die voorblad van die koerant; wat Sirenius die goewerneur van die provinsie  Sirië gedoen het was bekend. ‘n Klein ongetroude, swanger tiener gee geboorte aan ‘n baba. Geen koerant sou daaroor rapporteer nie. Maar hierdie kindjie is ons Verlosser en Here – die Een wat ons aanbid. Soek ons nie dalk vir God op die verkeerde plekke nie?

 

image_pdfimage_print