Soldate in die Nuwe Testament

Soldate in die Nuwe Testament – Coen Slabber

Op die webblad is daar drie artikels oor oorlogvoering in die Ou Testamentiese tyd. In verskeie gedeeltes in die Nuwe Testament word daar ook na soldate verwys. As ons kyk na films wat handel oor gebeure van daardie tyd, kry ons amper die indruk dat daar ‘n soldaat op elke straathoek was. Was dit so? Kom ons kyk eerstens na wat ons weet van soldate in Judea en Galilea in Jesus se tyd. Darna gaan ons kyk na tonele in die evangelies waarby soldate betrokke was.

Soldate in Judea en Galilea

Herodes die Grote: Sy persoonlike leër het bestaan uit Jode sowel as buitelandse huursoldate. Rome het drie legioene aan hom geleen. Hierdie legioene moes die invallers uit Parthië uitdryf. ‘n Legioen in die Romeinse leër het uit 3 000 tot 6 000 soldate bestaan. Teen die tyd van Jesus se geboorte het Herodes egter nie meer Romeinse troepe gehad nie. Hy het wel heelwat Joodse soldate gehad plus een eenheid (kohort) elk van huursoldate uit Duitsland, Gallië (die huidige Frankryk) en Thrasië (‘n antieke land geleë wes van die Swartsee en noord van die Egeïese See). ‘n Kohort het bestaan uit ses afdelings van 100 soldate elk. Herodes het wel ‘n paar Romeinse raadgewers en offisiere gehad.

Herodes Antipas. Hy het ook sy eie leër gehad. Ons weet egter min van sy leër – sy soldate was waarskynlike Jode en buitelandse huursoldate.

Pontius Pilatus. Sy setel was Sesarea Maritima, die provinsiale hoofstad van die Romeine. Daar was vier kohorte soldate en ‘n kavallerie. In Burg Antonia, in Jerusalem, was nog ‘n kohort gestasioneer. Hulle het die fort en die asenaal beskerm. Vir die groot Joodse feeste het die goewerneur na Jerusalem gereis. Daar het soldate saam met hom gekom. Hulle was tydelik in die Praetorium, die goewerneur se paleis, gestasioneer. Romeinse soldate het gewoonlik met vaandels, wat hulle gode vereer het, gereis. As hulle na Jerusalem gereis het, het hulle die vaandels agtergelaat, want die Romeine het probeer om die godsdienstige gebruike van die land waar hulle gestasioneer was, te eerbiedig. Hierdie soldate is hoofsaaklik in Sirië gewerf en hulle gebruikstaal was Grieks. Die senior offisiere was waarskynlik Italianers.

Die hoëpriester. Die Romeine het die hoëpriester toegelaat om Jerusalem en Judea te regeer. Die goewerneur het egter die hoëpriesters aangestel en verwyder en slegs die goewerneur kon die doodstraf instel. Die soldate van die hoëpriester se primêre taak was polisiëring, maar hulle kon ook die stad beskerm.

Met hierdie as algemene agtergrond kan ons nou kyk na tonele in die evangelies waarby soldate betrokke was.

Die soldate en Johannes die Doper (Lukas 3:14): Ons lees dat soldate na Johannes die Doper gekom het en hom uitgevra het. Omdat Johannes veral in Galilea opgetree het, was hierdie waarskynlik soldate van Herodes Antipas – Jode.

‘n Offisier kom na Jesus (Matteus 8:5 – 13): ‘n Offisier kom na Jesus. Hy vertel vir Jesus dat sy slaaf verlam is en baie pyn verduur. Hierdie was waarskynlik ‘n centurio – ‘n hoofman oor honderd. Dit is baie onwaarskynlik dat daar Romeinse soldate in Galilea, waar hierdie gebeurtenis plaasgevind het, gestasioneer was. Hierdie offisier was waarskunlik ‘n nie-Joodse huursoldaat en offisier in die leër van Herodes Antipas.

Jesus word gevange geneem (Johannes 18): Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde … Hierdie was waarskynlik soldate van die Romeinse afdeling in Jerusalem. In vers 12 lees ons: Toe het die afdeling soldate onder die kommandant saam met die wagte in diens van die Joodse Raad vir Jesus gevange geneem. Dit maak dit duidelik dat hier ook Romeinse soldate betrokke was. Dit was waarskynlik nie ‘n volle afdeling – 100 soldate – nie.

Jesus voor die hoëpriester (Matteus 26 en 27): Ons lees dat Petrus by die wagte in die binnehof van die hoëpriester se woning gesit het (26:58). Johannes sê dat een van hierdie wagte wat daarby gestaan het vir Jesus geklap het: Antwoord jy die hoëpriester so? (18:22). Markus vertel dat die wagte Hom geklap het toe hulle Hom wegvat – na die vonnis uitgespreek is (14:65). Hierdie soldate het Jesus opgepas voor Hy aan Pontius Pilatus oorhandig is.

Jesus voor Pilatus (Matteus 27): Pilatus gee Jesus oor om gekruisig te word. Nou lees ons: Daarna vat die soldate van die goewerneur vir Jesus in die ampswoning in en bring die hele leërafdeling rondom Hom bymekaar. Hulle trek toe sy klere uit en gooi Hom ‘n pers mantel om. Hulle vleg ‘n doringkroon en sit dit op sy kop en gee Hom ‘n stok in sy regterhand … Hulle het op Hom gespoeg en die stok gevat en Hom oor die kop geslaan. Hierdie is die afdeling wat saam met Pilatus van Sesarea gereis het. Hierdie soldate was meestal Siriërs – mense wat die Jode gehaat het.

Jerus voor Herodes Antipas (Lukas 23): Herodes was in Jerusalem vir die Paasfees. Daarom stuur Pilatus vir Jesus na Herodes. Herodes se soldate het Hom toe met veragting behandel. Hulle was waarskynlik Jode.

Die kruisiging (Lukas 23): Omdat slegs Rome die doodstraf kon voltrek, was dit Romeinse soldate wat betrokke was by Jesus se kruisiging.

Die graf (Matteus 27): Die priesterhoofde en die Fariseërs oortuig Pilatus dat Jesus se graf vir drie dae veilig bewaak moet word. Hulle het die graf verseël en die wag daar laat bly. Met Jesus se opstanding lees ons: Van skrik vir hom (die engel van die Here) het die wagte gebewe en soos dooies geword. Omdat hulle toegelaat het dat Jesus uit die graf “ontsnap” het, was die wagte se lewens in gevaar. Die piester- en familiehoofde het geld bymekaar gemaak en vir die wagte gegee op voorwaarde dat hulle vertel dat Jesus se dissipels sy lyk gesteel het. En as die goewerneur daarvan hoor, sal ons hom tevrede stel en sorg dat julle nie bekommerd hoef te wees nie.

Ons kry ook verwysings na soldate in Handelinge en Paulus gebruik soldate as beelde in van sy briewe.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber