Sonde: Wat is die gevolge van sonde?

image_pdfimage_print

The will of man without grace is not free, but is enslaved, and that too with its own consent –  Martin Luther.

 

Sonde: Wat is die gevolge van sonde?

Ek gaan ‘n aantal blogs gebruik om oor sonde te skryf. Ek gaan, waar toepaslik, van die Nuwe Testament en Psalms: ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gebruik maak.

 

Sonde mislei, versoek en verslaaf die mens. Sonde is fataal vir die mens se verhouding met God. Moses het eerder verkies om saam met die volk van God sleg behandel te word as om die kortstondige genot van sonde te beleef (Hebreërs 11:25). Dan, wanneer die begeerte bevrug is, gee dit geboorte aan die sonde en wanneer die sonde volgroei is, gee dit geboorte aan die dood (Jakobus 1:15). Ons sien dat sonde gevolge vir onsself, ons verhouding met ons naaste en ons posisie voor God het. Die ergste gevolg van sonde is die dood.

 

Ons lees van Adam wat van onskuldig na skuldig en uiteindelik na die dood voortgaan en dit omdat hy deur Satan verlei is. In die proses is Adam se verhouding met God nadelig beïnvloed. Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld gekom het, en as gevolg van die sonde die dood, so het die dood ook tot alle mense deurgedring omdat almal gesondig het (Romeine 5:12).

 

Die dood is nie net fisies – die afsny van die lewe – nie, maar ook geestelik – afgesny van God. Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here (Romeine 6:23).

 

As dood dan die straf vir sonde is, sal vergifnis van sonde ook verlossing van die ewige dood beteken. Die wet van die Gees wat in Christus Jesus die lewe gee, het jou immers vrygemaak van die wet van die sonde  en die dood (Romeine 8:2).

 

Vir gelowiges is daar die ewige lewe en nie die ewige dood nie. Jesus Christus het die dood deur sy kruis en opstanding oorwin. Maar vir diegene wat Hom nie as hulle Verlosser aanvaar het nie, wag daar die ewige dood. Dit is die grootste enkele gevolg van sonde.

 

 

 

image_pdfimage_print