Sonde

Sonde – Jan van der Watt

Erika vra:

Hoe hang 1 Johannes 5:16 en 17 saam? Die teks lees so: “16As iemand sy broer sonde sien doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid en God sal die broer die ewige lewe gee. Dit geld dié wat sonde doen wat nie tot die dood lei nie. Daar is sonde wat tot die dood lei; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie. 17Alle ongeregtigheid is sonde, maar daar is sonde wat nie tot die dood lei nie.”

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hierdie verse word soms verkeerd verstaan, aangesien die konteks nie heeltemal in gedagte gehou word nie. Mense dink dat hier staan dat ‘n mens vir sekere mense nie moet bid nie. Dit sou dan mense wees wat die “sonde tot die dood” gedoen het. Dan vra hulle wat die sonde tot die dood presies is.

Die Briewe van Johannes is in ‘n situasie geskryf waarin die gemeente sterk konflik beleef het. ‘n Deel van die gemeente het weggebreek (1 Johannes 2:18-19) en dit het nogal probleme veroorsaak (2Johannes 11). Die brief is geskryf om die gemeente te versterk en hulle selfbeeld sterker te maak. Daarom lees ons in hierdie Brief soveel van die God van liefde en Jesus wat hulle die ewige lewe gee. Dit is wat gelowiges sterk maak.

Nou lyk dit of die wind nog nie gaan lê het in die gemeente nie. Daar is nog van die broers wat nie weet wat hulle moet doen nie – moet hulle gaan of moet hulle bly? Hulle sondig dus. Vir sulke broers moet daar gebid word. Nou beteken “bid” in Johannes nie net “praat met die Here” nie, maar veronderstel ook aksie van jou kant af. As jy vir iemand bid, gaan jy hom ook probeer help (as instrument van God). Broers (let op nie mense in die algemeen nie, maar gemeentelede) wat miskien die pad byster kan raak bly op jou agenda – jy moet bid en help en God sal vir die res sorg (vers 16).

Maar dan is daar die groep wat hulle goed gevat en geloop het. Hulle het hulle rug op Jesus gedraai, is weg van die gemeente af en het eintlik niks meer in die gemeente te soek nie. Dit is juis wat die sonde tot die dood dan ook beteken. Sonde in Johannes is om nie in Jesus te glo nie. As jy nie in Hom glo nie, bly jy in die duisternis en is al jou dade in die duisternis gehul. Jy kan alleen uit die doodse en duister situasie kom as jy jou na Jesus, die lig van die wêreld, keer. Glo jy nie in Jesus nie, sondig jy en is jy oppad na die dood toe – ja, jy loop die ewige lewe mis.

Moet die gemeente nou nog agter hulle aanloop en soebat? Dit lyk nie so nie, ook nie as ons 1 Johannes 11 lees waar die apostel sê dat jy nie eers sulke mense in jou huis moet toelaat nie, want dit sou beteken dat jy jouself met hulle sou assosieer. Moenie agter sulke mense aanloop en probeer om hulle nog terug te haal nie. Jy moet dus nie vir hulle bid (in die sin van met God praat, maar ook van dat jy by hulle betrokke bly) nie.

Die vers kan saam met Hebreërs 6:4-8 gelees word waar min of meer dieselfde gedagte aangetref word.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt