Spreek jy Vrees of Vrede?

Spreek jy Vrees of Vrede? – Kobus Kok

Wat is jou vrese?

Ons almal vrees iets, ons almal vlug van iets en bou vestingsmure om ons brose harte om ons te beskerm teen die seer wat die lewe ons kan aandoen. Wat is dit wat jy vrees? Sommige mense vrees dat hulle uitgevang gaan word, dat hulle hulle werk gaan verloor, of dat iemand waarvoor hulle baie lief is hulle gaan los. Sommige mense vrees dat hulle verlede en hulle keuses hulle gaan inhaal. Sommige mense het vrees oor hulle toekoms en hulle ou dag. Baie mense vrees die moontlikheid van mislukking of verlies. Hoeveel dinge is daar wat jy vrees? Op watter manier het jy woorde en gedagtes en mites om jou geskep wat soos ‘n donker kombers jou lewe omvou en jou beweging inhibeer?

Die dissipels en hulle vrese

In Sy voetspore het hulle gestap, tree vir tree oor die dorre landskap van Israel – ‘n plek wat in die tyd van Jesus min hoop gehad het. Die magtige Romeinse Ryk het die Jode onderdruk en die meeste mense het sonder noemenswaardige lewensmoontlikhede daarna uitgesien. Die meeste mense in Jesus se tyd het onder die broodlyn geleef. Toe Jesus op die dorre landskap verskyn, het ʼn stroom van nuwe lewende water in die harte van mense begin vloei. Jakobus en Johannes was opgewonde oor die moontlikheid wat hierdie Charismatiese leier vir hulle toekoms ingehou het. Tog het hulle verkeerd verstaan. Jesus was nie ʼn politieke Messias wat met ʼn perd en ʼn swaard sou heers nie. Sy koninkryk het gekom in die vorm van ʼn genesende hand en ʼn ope hart.

Die weerstand teen Jesus en sy beweging het met tyd al groter begin groei – dit sou skaars drie jaar hou. Bykans van alle kante het die teenkanting gekom. Uiteindelik word Jesus gekruisig en die dissipels se grootste vrees en skok word waar. Dit waarvoor hulle letterlik hulle lewe gegee het vir soveel jaar het skielik gestol in impotensie.

In Johannes 20 lees ons hoe die dissipels in vrees vir die Jode agter geslote deure wegkruip. Die Griekse woord “fobos” word deur Johannes gebruik en illustreer iets van die gevriesde status waarin die dissipels in “limbo staat” verkeer het. Hierdie gevriesde status inhibeer moontlikhede. Dit inhibeer kreatiwiteit en lewe in oorvloed. Hierdie tipe vrees verstar.

Jesus se vrede

Maar dan verskyn Jesus skielik op die toneel van die gevriesde, gestolde situasie wat dan op ʼn besondere wyse oopgebreek word in lewe-skeppende moontlikhede. Jesus breek deur die grense van ons eie bestaan as hy deur die geslote deure loop en woorde spreek wat die dissipels se harte van vrees in vrede omskep. Jesus se belangrike woorde spring uit die teks – Vrede vir julle! Vrees inhibeer, vrede aktiveer en energeer. Juis om hierdie rede stuur Jesus sy dissipels dan uit met die woorde: “Soos die Vader my gestuur het, net so stuur ek julle ook!”

Jesus se sending was ʼn liefdes-sending. Dit lees ons in Johannes 3:16. Jesus stuur sy mense om die wêreld nie met gestolde vrees te ontmoet nie, maar met bewegende vrede en liefde te infiltreer met woorde wat lewensmoontlikhede oopmaak en kreatiwiteit ontsluit.

Spreek vrede wat ontvries

Mag my en jou woorde van vrees in woorde van vrede oor-vloei. Spreek vrede in plaas van vrees oor jou lewe. God gee lewe, nie dood nie. God gee geleenthede, nie verleenthede nie. God vries en stol nie, God ontvries en stuur. As ons instrumente in God se hand is deur wie Hy werk, word ons ook geroep om mense te wees wat ander mense se vrese help ontvries deur die Vrede-gewende Lewe wat deur ons vloei.

Video: klik op http://youtu.be/GIKVdryNGBA

Wenk: Kyk gerus na die volgende youtube video waar ek die boodskap in ʼn visuele formaat vir u aanbied. Hou die control knoppie in en Dubbel-klik op die skakel – dit behoort u direk na die video te neem. Alternatiewelik kan die skakel “copy” (ctrl+c) en in internet explorer paste (ctrl+v)

Skrywer: Prof Kobus Kok