Geld die Tien Gebooie steeds? – Hermie van Zyl

Janus vra:

Daar was vroeër vanoggend ’n praatjie oor die wet/gebooie oor Radiokansel waarná ek baie deurmekaar en vol vrae gelaat is. En ek is seker ’n groot deel van Radiokansel se luisteraars is kinders van God.

Soos ek die gesprek verstaan het, is Bybelgelowige Christene nie meer veronderstel om elke gebod (insluitende die 4e Sabbatsgebod) te onderhou nie. Ons moet nou eerder na die geestelike betekenisse en die liefde kyk in plaas daarvan om die uitdruklike letter van al tien gebooie te gehoorsaam.

Hoekom is daar nie vir die luisteraars duidelik gemaak nie dat die 4e gebod deel is van die tien gebooie en nog steeds vandag gehoorsaam moet word? Jesus het dit tog baie duidelik gemaak dat geen deel daarvan ooit sal verby gaan nie.

Wat beteken dit as Jesus in die Nuwe Testament sê: As julle my liefhet, onderhou (doen) dan my gebooie? Ja, ons het Hom lief, maar dit beteken tog ook ons moet die tien gebooie doen uit gehoorsaamheid en liefde, naamlik: Moenie steel nie, moenie egbreuk pleeg nie, onderhou die sewende dag (sabbat), ensovoorts.

Die 4e gebod was reg aan die begin vir die Jode in plek gesit deur die sewende dag wat deur God geheilig en geseën is. Waar was dit ooit ontheilig en gesê dat ons dit nie meer hoef te heilig en te rus op die sewende dag (Saterdag) nie? Mag ons nou kies watter van die tien gebooie ons wil nakom en watter nie? Net nege of al tien soos Jesus gevra het?

Let wel, die 4e gebod begin met die woorde “onthou” – onthou die Sabbatdag, so asof die mense dit later sou vergeet en afmaak as niks.

Mag God se Gees die waarheid laat seëvier en mense laat terugkeer om sy wil te doen. Dit gaan immers oor sola Scriptura in plaas van slim redenasies.

Selfs Paulus het dit duidelik gemaak dat ons sonde ken deur die wet.

Ek is baie ontsteld want baie mense, glo ek, word mislei deur redenasies in plaas daarvan dat die Woord van God reg gesny en bedien word.

Daar is net een waarheid en dit moet verkondig word. Wat mis ek?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ons vraagsteller vra eintlik twee afsonderlike vrae: (a) of die tien gebooie steeds vandag relevant is vir Christene, en (b) hoe die 4e gebod vandag verstaan moet word. Oor (a) verwys ek die vraagsteller graag na die volgende artikel wat op ons webblad “Bybelkennis.co.za” verskyn het (geskryf deur ondergetekende): “Die wet se relevansie vir vandag”. Hierin word volledig aandag gegee aan hoe ons as Christene steeds die tien gebooie as deel van ons lewe moet aanvaar en uitleef. Soek die artikel met die soekfunksie op Bybelkennis.co.za se webblad. Oor (b) – die 4e gebod se verstaan vandag – handel ek vervolgens graag meer uitvoerig.

  • Wat is die probleem waarvoor Christene in die vierde gebod gestel word?

Die vierde gebod (Eks 20:8/Deut 5:12) sê: “Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou”. Die wyse waarop die Israeliete dit moes “heilig hou”, was om geen werk te doen nie. (Die woord “sabbat” kom van die Hebreeus werkwoord šabat wat “rus [van iets]” beteken.) Christene sê: Die tien gebooie geld nog steeds vir ons; dus, die vierde gebod ook. Indien die vierde gebod nog geld, waarom vier ons die Sabbat op die eerste dag van die week, en nie die sewende dag nie? Waar kom hierdie verskuiwing van sewende dag (Sabbat) na eerste dag (Sondag) vandaan? Verder, wat is die kernsake vervat in die vierde gebod wat steeds geld vir vandag? Dít is die sake wat ons wil hanteer.

  • Herkoms van die Sabbat in Ou Testament (7e dag as rusdag)

Waar kom die Sabbat vandaan? Daar is drie moontlikhede:

  • Die Sabbat is leengoed uit die oud-Ooste

In oud-Babilonië is sekere dae van die maand gesien en onderhou as sogenaamde bose/ongelukkige dae waarop die koning en ander hoë amptenare sekere goed nie mog doen of eet nie, en waarop offerandes aan gode gebring is om hulle gelukkig te hou.

’n Alternatiewe siening is dat die 7 dag-week gekoppel is aan die vier fases van die maan per maand, soos in Babilonië.

Dit is egter onwaarskynlik dat die herkoms van die Ou-Testamentiese Sabbat in Babilonië lê, omdat die Israelitiese 7 dag-week nie gekoppel is aan die fases van die maan of aan ’n jaarkalender nie.

Verder kom die tipies menslike karakter van die Sabbat (naamlik dat mense moet rus op hierdie dag) nie in Babilonië voor nie. By laasgenoemde was die rusdae gekoppel aan vrees vir die straf van die gode, ’n gedagte wat glad nie by Israel voorgekom het nie. Dit was ook net die konings en hoë amptenare wat dit moes nakom, nie die hele volk, soos by Israel nie.

Dus, die verskille tussen die Ou-Testamentiese Sabbat en die feesdae van die Babiloniërs is baie groter as die ooreenkomste. Die gedagte dat die Sabbat by die Babiloniërs geleen is, is daarom nie aanvaarbaar nie.

  • Die Sabbat is uniek aan Israel

Hierdie gedagte beklemtoon dat die tien gebooie ’n unieke geskenk van God aan Israel is. Hy gee dit vir eerste keer aan Israel by Sinaï (Eks 20). Maar, dit is duidelik dat die Sabbat reeds vóór Sinaï bekend was, want gedurende die woestyntog, vóór Sinaï, mag die Israeliete nie manna op die sabbatdag opgetel het nie (Eks 16:22). Dus, die herkoms van die Sabbat lê verder terug in die geskiedenis, maar presies hoe ver terug is onduidelik. En, soos ons verder sal sien, hoewel die Sabbat gekoppel is aan Israel, gaan dit Israel ook te bowe.

  • Die Sabbat is ’n universele instelling (= vir alle mense bedoel)

Volgens die skeppingsverhaal kan mens sê dat die Sabbat met die skepping gegee is. Die skeppingsverhaal in Gen 1 struktureer die skeppingsgebeure as ses dae werk en sewende dag rus. Hoewel die tegniese term “Sabbat” nie hier gebruik word nie, vermeld die skeppingsverhaal wel dat God op die 7e dag gerus het van al sy werk en die 7e dag geheilig het (Gen 2:2-3). Dus, die skeppingsverhaal neem die 7 dag-week as uitgangspunt om God se skeppingswerk te beskryf. Dit probeer op hierdie manier iets verwoord van ’n Goddelike ritme in die skepping wat ook tot voordeel van die mens is. Daardeur verkry die sewende dag rus ’n universele betekenis: dis nie net bedoel vir Israel nie, maar vir alle mense. God se rus op die sewende skeppingsdag word ook as motivering vir die onderhouding van die Sabbat in Eks 20:11 gegee. So word God se “skeppingswerksweek” en Israel se weekritme wedersyds direk aan mekaar gekoppel. Die skeppingsverhaal word geskryf vanuit die perspektief van Israel se weekritme, en laasgenoemde word weer gemotiveer vanuit die skeppingsgebeure.

Dus, sedert die totstandkoming van die Mosaïese wetgewing in die volkslewe van Israel was die onderhouding van die Sabbat (7e dag) tiperend van Israel se godsdienstige en siviele lewe, tot vandag toe. Weliswaar het sieninge daaroor gewissel oor tyd heen, maar dit verander nie daaraan dat sabbatsonderhouding tiperend van die Judaïsme was nie.

Voorbeelde van wisselende sieninge oor die Sabbat: (1) In die koningstyd was die sabbatsviering nie so omring met streng bepalings soos in die tussentestamentêre tyd toe die skrifgeleerdes allerlei beperkinge ingestel het nie, bv hoe ver jy mag reis op die Sabbat (1 200 meter). (2) “Geen werk” is in die Makkabeërtyd (167-142vC) so geïnterpreteer dat jy eerder moet sterf as jouself verdedig (wat tot ’n groot slagting gelei het). Hierna is dit aangepas dat jy op die Sabbat wel die wapen mag opneem.

  • Betekenis van die Sabbat

In die godsdienstige lewe van Israel het die Sabbat die volgende betekenis gehad:

  • Rus: herwinning van kragte

Eks 20:8-11 sê: God het op die sewende dag gerus van sy ses dae se skeppingsarbeid, daarom moet die mens ook rus van sy arbeid. Die mens is die beeld van God; hy verteenwoordig God op aarde. In die sabbatsrus verteenwoordig die mens dus die Goddelike ritme van lewe. Die mens is nie ‘n slaaf van arbeid nie, is nie vasgevang in die bose kringloop van werk nie. Een dag rus wil sê dat die mens vertrou dat God sal sorg.

So verkry die Sabbat ’n universele betekenis: die lewenstyl van Israel het ‘n boodskap uitgestuur na die omringende volke: Vertrou jou lewe toe aan God wat sal sorg. Verder, die genade-aspek by die mens se skepping staan voorop: By God is dit eers werk, dan rus. By die mens: eers rus, dan werk. Want die mens is op die sesde dag geskape; dus, sy eerste volle lewensdag was die sewende dag, God se rusdag. Die mens begin dus sy lewe/werksweek met rus in God, gemeenskap met God. Van daaruit lewe hy. Die mens verdien nie sy lewe uit sy arbeid nie, maar vanuit die rus in en gemeenskap met God.

  • Verlossing: Vier God se reddingsdaad uit Egipte

Deut 5:12-15 se weergawe van die vierde gebod sê: God het Israel uit die slawerny van Egipte verlos, daarom moet Israel die sabbatdag vier. Die sewende dag is dus nie net rusdag nie, maar ook viering van God se groot verlossingsdade – dat hulle aan God behoort. Hy het hulle tot sy eiendom gemaak deur hulle te verlos uit Egipte. Die verlossingsmotief beklemtoon dus veral die Sabbat as dag van oorwinning oor alles wat verslaaf en van God wat red. Dis ‘n dag van feesviering.

  • Gemeenskapsaspek: Gemeenskap met God en mekaar

Die feit dat daar gerus en feesgevier word op die Sabbat laat mense fokus op gemeenskap met God en met mekaar. Die hele lewe kom tot stilstand (Israeliet, slaaf, vreemdeling en dier). Die Sabbat laat die mens ontdek dat mense mekaar en vir God nodig het; dat hulle vreugde kan vind in mekaar.

  • Van Sabbat na Sondag

Met die koms van Christus het baie dinge verander, ook die viering van die Sabbat. Alles het egter nie skielik gebeur nie, maar geleidelik. Dit het baie lank geduur voor ’n nuwe patroon gevestig is. Maar die wortels van die verandering t o v die Sabbat lê reeds in die Nuwe Testament.

Jesus het soos enige ander godsdienstige Jood die Sabbat gevier en die sinagoge besoek. In Luk 4:16 staan daar byvoorbeeld: “Soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag die sinagoge besoek”.

Hoe het dit dan gebeur dat ons as volgelinge van Jesus nie, soos Hy, op die sewende dag ons rusdag vier nie, maar op die eerste dag, die Sondag? Dit het alles te make met die opstanding van Jesus op die eerste dag van die week. Dit het tot gevolg gehad dat Christene spontaan op hierdie dag – in onderskeiding van die Jode – begin vergader het. Sondag het ook algaande bekend geword as “die dag van die Here” (kuriakē hēmera). (Vgl Openb 1:10, dis die dag waarop die skrywer van Openbaring sy gesig gehad het.)

  • Gegewens in Nuwe Testament om bg te staaf

Ses van die agt verskynings van Jesus ná sy opstanding vind plaas op ‘n Sondag.

Pinkster was volgens berekeninge daardie jaar (van Jesus se kruisiging en opstanding) op ‘n Sondag. Dus, die Heilige Gees is ook op ’n Sondag uitgestort.

Hierdie gebeure beklemtoon tegelyk die “bonatuurlike” karakter van hierdie dag in die gemoed van die eerste Christene.

Daar is min bekend in die Nuwe Testament oor die dag van samekoms van die vroeë kerk, maar drie geleenthede staan uit:

  • 1 Kor 16:2: Paulus verwys na die insameling van ’n kollekte vir die kerk in Jerusalem, en sê dat die Korintiese gemeente elke Sondag iets hiervoor opsy moet sit. Dit wys dat die gemeente waarskynlik gereeld op Sondae bymekaargekom het vir die gemeentelike byeenkoms.
  • Hand 20:7: Paulus in Troas: Hier word vermeld dat die gemeente op die eerste dag van die week “brood gebreek het”. Dit verwys waarskynlik na die gebruiklike samekoms van die gemeente op die eerste dag van die week om nagmaal te vier en na die uitleg van die Woord te luister.
  • Openb 1:10: “die dag van die Here”. Die skrywer van die boek Openbaring ontvang die openbaring van Jesus op dieselfde dag van die week as wat Jesus opgestaan het uit dood. Dit wys verder dat die begrip “Dag van die Here” as verwysing na die Sondag waarskynlik teen die einde van die eerste eeu reeds gevestig was.
  • Gegewens uit vroeë kerk tot en met edik van keiser Konstantyn die Grote (321 nC)

Alle kerkvaders en dokumente uit hierdie era (100-321 nC) is dit eens dat Christene op die eerste dag van die week vergader het vir gemeentelike byeenkomste: Ignasius (van Antiogië), Didage, Barnabasbrief, Justinus die Martelaar, Ireneüs, Klemens van Aleksandrië, Tertullianus, Origenes, Siprianus.

Keiser Konstantyn die Grote vaardig in 321 nC ’n edik uit wat ’n nuwe era in die geskiedenis van Sondagviering inlui. Hy sê: Alle regters, stedelinge en vakmanne moet op Sondag rus. Tot nou toe het Christene wel op die Sondag bymekaar gekom, maar van nou af was Sondag van owerheidsweë ook ’n amptelike rusdag. Hieroor skryf kerkvader en historikus Eusebius (4e eeu): Keiser Konstantyn het nou met die instel van die Sondag as ’n rusdag vir alle onderdane van die Romeinse Ryk, “die hele mensdom gelei tot die ware diens aan God”. Dis miskien ’n bietjie oordrewe, maar dit verteenwoordig ten minste die sentiment dat die rusdag nie net vir gelowiges bedoel is nie, maar vir alle mense. Dit onderstreep die universele betekenis van die rusdag waarvan hierbo hierbo melding gemaak is.

  • Betekenis van oorgang van Sabbat na Sondag

Ons kan al bogenoemde soos volg saamvat:

  • Joodse Christene het aanvanklik beide die Joodse Sabbat en die (Christelike) Sondag gevier. Dit hang saam met die samestelling van die Christendom in die 1e eeu: aanvanklik was die meeste Christene voormalige Jode. Eers aan die einde van die 1e eeu het die heidene in die meerderheid geraak, en het die behoefte aan die onderhouding van die Joodse Sabbat afgeneem.
  • Nêrens in die Nuwe Testament staan dat Sondag die Sabbat vervang nie. Wat wel gebeur het, is dat Christene algaande die betekenis van die Sabbat (kyk volgende punt) op die Sondag van toepassing begin maak het. Die gevolg is dat in die gemoed van Christene ons steeds die vierde gebod nakom, hoewel soos vanuit die koms van Christus geïnterpreteer.
  • Sabbat beteken rus, verlossing en gemeenskap: Al hierdie betekenisse is deur Christene oorgeneem uit die Ou Testament, maar dit ondergaan ’n verdieping vanuit Christus se koms:
  • Rus word nou ook rus van al ons bose werke en sonde. Hierdie interpretasie kry ons reeds by die kerkvaders, ook in die Heidelbergse Kategismus;
  • Verlossing ondergaan ’n verdieping as verlossing uit die slawehuis van sonde, asook oorwinning oor die sonde;
  • ’n Eskatologiese (eindtydelike) moment kom by (veral vanuit Hebreërs): gelowiges verwag nou ook die ewige sabbatsrus;
  • Die gemeenskapsgedagte word nou verdiep as gemeenskap met Christus en met mekaar rondom die breek van die brood in die nagmaal.
  • Die vroeë Kerkvaders en latere reformatore waarsku teen die sabbatisering van die Sondag, d w s, om Sondagviering as ’n blote voortsetting van die Joodse Sabbat te sien, met al die wettiese elemente daaraan gekoppel soos in die Judaïsme van Jesus se tyd. Reeds Paulus waarsku hierteen in Kol 2:16-17. Al hierdie dinge (jaarlikse feeste, nuwemaansfeeste en sabbatte) noem hy ’n skaduwee van wat sou kom, naamlik Christus.
  • Ons kan dus steeds sê dat die vierde gebod – al die betekeniselemente daarvan – op ons van toepassing is, want die hele tien gebooie geld vir Christene, maar dan gesien vanuit die vervulling in Christus. Enige terugkeer na ’n Joodse viering van die Sabbat (bv om die sewende dag i p v die eerste dag te neem as dag van samekoms) ontken die vervulling wat daar in Christus gekom het.
  • In ’n gesekulariseerde samelewing – soos die Suid-Afrikaanse samelewing al meer word, selfs onder kerkmense – moet Christene dus ’n weg vind om enersyds nie in wettisisme te verval rondom die viering van die Sondag nie, maar andersyds ook uit hulle optrede te laat blyk dat die Sondag ’n besondere dag is van ontmoeting met God en met mekaar – ’n dag waarop jou kragte herwin kan word, die verlossing in Christus gevier word, en die gemeenskap van gelowiges beoefen word.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die Tien Gebooie as hoofwet

Die Tien Gebooie as hoofwet – Francois Malan

Jan Smith vra:

Die tien gebooie blyk vir my die “Hoofwet” te wees terwyl die ander by-wette en/of regulasies is wat die dag tot dag gedrag en lewenswandel van Israel gereël het. Ek verwys hier na die seremoniële wette, die morele wette en juridiese wette soos mens dit kry in Eksodus en Levitikus  —-  of vorm hulle almal saam die Wet van Here?

 

Jesus het gesê dat Hy nie gekom het om die wet tot niet te maak nie maar om dit te vervul. Het Hy nou hier na die Tien Gebooie verwys of was dit die totaal wat ook die by-wette en  saamgestelde wette insluit. Nou was daar glo 692 (?) bykomende oorlewerings “wette” wat deur die leiers van Israel bygevoeg was.

In sommige kerke word die Tien Gebooie nog elke Sondag gelees maar daar is niks melding van die by-klousules en regulasies nie. Baie gelowiges voel erg oor die wet en daar is aanbieders van programme wat CD na CD dorp na dorp stad na stad vrystel/besoek om die reg van die Sabbat heringestel te kry.

Galasiërs handel oor die wet en hy sê: Die wet is onmagtig om te red maar dit lei ons na Christus.

Niemand word deur die wet by God geregverdig nie. Die wet was ‘n Tugmeester na God toe totdat die geloof gekom het om ons los te koop van die vloek van die kruis. Besnydenis of onbesnydenis het geen waarde by God nie. Slegs die geloof soos Abraham wat in God geglo het en die is hom tot geregtigheid gereken. Die wat besny moet die wet ten volle hou. Breek jy een breek jy almal.

Vrae: Is die Tien Gebooie dus die Hoofwet by die koms van Christus toe Hy dit kom vervul het?

Is dit korrek dat Christus die wet gewysig het om te lees: “Jy moet die Here jou God liefhê en jou naaste soos jouself.

Indien die voorgaande waar is beteken dit, myns insiens, dat daar ‘n vloek oor die onderhawige gemeente uitgespreek word met die lees van die wet – omdat geen mens dit wel kan onderhou nie?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Die by-klousules en regulasies oor die offers vir die sonde is vervul deur God self toe sy Seun gesterf het vir die sonde van die hele wêreld (Johannes 1:29), vir die mense van die Ou Testament en van die Nuwe Testament. Die offers was maar ‘n skaduwee van wat sou kom, en wat nou deur God afgeskaf is (Hebreërs 10:1-10 ons is vir God afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd). Paulus sê ons moet onsself aan God gee as ‘n lewende offer, toegewy om in alles te lewe as God se kinders en toe te laat dat Hy ons denke vernuwe om te onderskei wat vir God goed en aanneemlik is (Rom 12:1,2).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Wet

Die Groot Geloofswoordeboek: Wet

Wet/Torah/Pentateug Wet/Tien Gebooie/Dekaloog

Torah is die Hebreeuse woord wat onder andere gebruik word vir die eerste vyf boeke van die Bybel. In die Nuwe Testament word dit “die wet” of “die wet van Moses” genoem (Matt 22:40; Hand 28:23). In die tyd van Jesus het hulle na die Ou Testament verwys as “die wet en die profete”. Soms is daar ook na die “geskrifte” verwys, wat die ander boeke was wat nie onder “die wet en die profete” ingesluit is nie. Die eerste vyf boeke word ook die Pentateug genoem. Baie Christene noem die Tien Gebooie ook die wet. Dit veroorsaak soms verwarring.

Kom ons kyk eers na die woord torah, en dan na die Tien Ge­booie.

Torah

Die woord torah word in die Ou Testament op ’n hele paar ma­niere gebruik.

• Dit kan in die algemeen raad, lering, onderwysing beteken, veral ouers se opvoeding van kinders (Spr 1:8; 4:1 waar dit vertaal is met “onderrig” en “opvoeding”).

• Dit kan verwys na ’n spesifieke boodskap wat die profeet in die Naam van die Here aan die volk gee. Dikwels word dit dan parallel met “woord” gebruik, soos in Jesaja 1:10 wat eintlik lui: “Luister na die woord van die Here, gee ag op wat ons God julle leer (die torah van die Here).” Uit wat volg blyk dit dat torah hier eintlik waarskuwing of selfs veroordeling beteken, want daar volg ’n reeks sterk veroordelings oor die sonde van die volk.

• Maar dit kan ook verwys na dit wat die Here in die algemeen deur die profeet vir die volk gesê het (Jes 5:24: “openbaring”; Jer 6:19: “leer”).

• Jesaja gebruik dit ook vir die volle omvang van dit wat hy verkondig het (8:16 – “prediking”), dus die hele boodskap van die profeet.

• Daar is psalms wat dit gebruik vir die totale wil van die Here (1:2: “woord”; 105:45: “voorskrifte”). Psalm 119 is ’n uitsonderlike torah-psalm.

Torah word egter ook meer spesifiek gebruik vir die bevele wat Moses aan die volk gegee het (Deut 4:8, 44; 31:9), en moontlik selfs vir een of meer van die eerste vyf boeke (Deut 28:61; Neh 8:2, 4). Gaandeweg word dit dan ook die wet van Moses genoem, en selfs net kortweg die wet (Matt 22:40).

• Uiteindelik word torah dan ’n tegniese term vir die eerste vyf boeke.

Die Torah, dit is die eerste vyf boeke, word deur sommige kon­serwatiewe Joodse groepe as die eintlike Bybel beskou. In die tyd van Jesus het die *Sadduseërs nog steeds net die Torah as ge­sag­heb­bend beskou. Dit is waarom hulle nie aanvaar het dat daar ’n *opstanding sal wees nie (Matt 22:23 ev; Hand 4:2 ev). Daar word niks oor ’n opstanding in die eerste vyf boeke geskryf nie. Dit kom eers baie later in die Ou Testament voor, byvoorbeeld in Daniël 12:2.

In die Nuwe Testament word die Griekse woord nomos vir die wet gebruik, ’n woord wat ons nog herken in ons woorde soos norm en normeer. Die wyse waarop Paulus na “die wet” verwys, is nogal moeilik om te verstaan. Hy kan baie negatief oor die wet wees wanneer die Judaïste vereis dat heidene nog die wet moet hou en daarom ook besny moet word om gered te word (Gal 2:15-21; 3:1-6, 13). Hy noem Christus die einde van die wet (Rom 10:4). Maar aan die ander kant staan hy ook daarop dat die wet heilig en regverdig en goed is (Rom 7:12). Jesus self ontken ten sterkste dat Hy die wet ongeldig wil maak. Hy wil dit juis sy volle betekenis laat kry (Matt 5:17).

’n Verkeerde gebruik van die wet

As ons ’n bepaalde onderskeid maak, kan ons dalk iets verstaan van Paulus se dubbele reaksie op die wet. Die doel waarom die wet by Sinai gegee is, was nooit dat die volk dit moes hou en daardeur verdien om die volk van die Here te word nie. Die Here het glad nie die wet vir ’n heidense volk gegee, en hulle aangemoedig om dit te hou nie. Dis vir sy volk gegee, die volk wat klaar in die *verbond met Abraham opgeneem is. Dit is gegee as rigsnoer vir hulle lewe. Die Here sou hulle ryklik seën as hulle die wet hou, maar swaar straf as hulle dit nie hou nie (Deut 28).

Na die *ballingskap was sekere groepe van die volk baie be­kommerd dat so ’n ramp hulle weer in die toekoms kon tref. Die *Fariseërs het uit een van hierdie groepe ontwikkel. Hulle was oortuig dat hulle so ’n moontlikheid sou kon afweer indien hulle die wet in alle besonderhede hou. Hulle het selfs nog meer wette geformuleer.

Die probleem met hierdie houding was dat hulle die oorsaak van Israel se ontrou misgekyk het. Dit was nie dat Israel nie sterk genoeg daarop ingestel was om elke wet te onderhou nie, maar dat hulle hulle verhouding met die Here verbreek het. Dit is wat gelei het tot hulle wetsontrouheid.

Dit is presies teen hierdie wettiese ingesteldheid van die Fariseërs en ander groepe wat Paulus reageer. (*Moralisme) Die Judaïseer­ders eis dat selfs die heidene die wet moet hou om gered te word. Die wet se oorspronklike bedoeling word dan misken: ’n rigsnoer vir die lewe van die volk van God, nie ’n heilsweg nie.

Daarom is dit duidelik dat Paulus die wet ook in ’n baie positiewe lig sien. En juis dit bring ons by die Tien Gebooie.

Die Tien Gebooie

Dit word ook die dekaloog genoem, letterlik die tien woorde.

Daar is interessante vrae oor die besondere aandag wat ons aan die Tien Gebooie gee. Hulle word nie so uitgesonder in die Ou Testament nie. Hulle word ook nie afsonderlik die wet genoem soos ons dit doen nie. Waar kom ons hieraan? Waarom is dit vir eeue lank in elke erediens van die Gereformeerde Kerke voorgelees?

Miskien kry hulle dit juis by Paulus. Dit lyk of hy spesifiek na die Tien Gebooie as die wet verwys. Wanneer hy ’n aantal van die Tien Gebooie aanhaal, praat hy van “die hele wet”, en ook van “die volle uitvoering van die wet” (Rom 13:8-10). Daar is nog iets wat belangrik is. Onthou dat hy deeglik daarvan bewus was dat die Torah, dit is die hele wet, as rigsnoer gegee is vir die lewe van die volk. Tog sonder hy telkens die Tien Gebooie uit as hy die gemeente oor hulle lewe vermaan. Net in een lang vermaning haal hy ses van die gebooie aan (Ef 4:25-5:5), en in ’n ander vermaning vyf (Kol 3:5-9). In die algemeen kan die Tien Gebooie ook in sy sondelyste herken word (Rom 1:29-31; Gal 5:19-21). Dit is dus duidelik dat hy ’n besondere waarde geheg het aan die Tien Gebooie as rigsnoer vir die gelowiges se lewe. Ons kan maar gerus daarmee voortgaan.

 

Skrywer: Prof Adrio König