Die vierde Adventskers

There was never a sinner half as big as Christ is as a Savior. —C.H. Spurgeon

Die vierde Adventskers

Ons het reeds drie kerse aangesteek – dié van hoop, vrede en vreugde. Gister het ons die vierde een aangesteek – dié van liefde. Jesus het vir ons gewys wat liefde waarin jy jouself gee, beteken. Hy was die Goeie Herder. Kersfees is ‘n tyd van dink aan ander en deel met ander. Dit is ‘n tyd van liefde net soos God ons liefgehad het toe Hy sy kosbaarste besitting vir ons gegee het. Soos God liefde is, laat ons ook liefde wees.

 

 

Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie. Hy laat reg geskied aan die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdeling lief en gee vir hom kos en klere. Jy moet ook die vreemdeling liefhê, want jy was self ‘n vreemdeling in Egipte (Deuteronomium 10:17 – 19).

 Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is (Johannes 13:34 – 35).

 

Gebed:

O Here, leer ons om lief te hê. Laat ons U altyd eerste stel soos ons in Christus se voetspore stap; dat ons u liefde mag ken en in ons lewens wys. Soos ons vir Jesus se geboorte voorberei, vul ons harte met liefde vir hierdie wêreld, sodat almal u liefde kan en dié Een wat U gestuur het, u Seun, mag ken. Amen.




Die Derde Adventskers

One must keep on pointing out that Christianity is a statement which, if false, is of no importance, and, if true, of infinite importance. The one thing it cannot be is moderately important –C. S. Lewis

Die Derde Adventskers

Vandag het ons die derde Adventskers aangesteek. Die eerste kers was dié van hoop en die tweede dié van vrede. Die derde kers is die kers van vreugde. Soos die koms van Jesus Christus, ons Verlosser, nader kom, bou ons vreugde op soos ons afwagting vir sy geboorte opbou.

In Jesaja 65:18 lees ons die woorde van die Here: Wees bly, en jubel sonder ophou oor wat Ek gaan skep: Ek gaan ‘n Jerusalem skep wat vol blydskap is, sy inwoners sal vreugde hê.

 

Paulus sê in Galasiërs 5:22 – 25: Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, nederigheid en selfbeheersing … Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

 

Gebed:

Ons loof U, o Here, met blydskap, omdat U u belofte van ‘n Verlosser vervul het. Dankie vir die gawe van verlossing wat ons deel is deur die geboorte van u Seun, Jesus. Herskep ons terwyl ons wag; help ons om u heerlikheid te sien as U ons lewens met u lewende Gees vul. Amen.

 

 




Skatte in die Hemel

It is the mark of a hypocrite to be a Christian everywhere except at home. —Robert Murray M’Cheyne

Skatte in die Hemel

Jesus Christus het in ‘n droë, warm, stowwerige wêreld geleef. Kos was skaars – Hy het sekerlik honger en dors geken. Maar Hy het ook die ryk Jode en Romeine se huise en leefwyse in dorpe soos Tiberias gesien – hulle villas, baie kos en Romeinse baddens. Hy het sekerlik geweet wat armoede is en Hy het geleef tussen mense wat nog minder as Hy gehad het. Hy het ook mense gesien wat in weelde geleef het.   Daarom eis Jesus ‘n eenvoudige lewe, want Hy het dit geleef; Hy verwag dat die armes versorg moet word, want Hy het self armoede ondervind.

 

 As Jesus in Matteus 6:19 – 21 opstaan om sy dissipels te waarsku teen die bymekaarmaak van skatte kom Hy nie met iets nuut na vore nie. In die Ou Testament – die wet en die profete – is daar baie geskryf oor die gevare van afgodery, die bymekaarmaak van besittings, die verspreiding van oormaat om die armes te help, ens. Jesus kom hier en bevestig die geldigheid hiervan.

 Wat is die kern van Jesus se boodskap in 6:19 – 24? Leef eenvoudig. Besittings word maklik ‘n afgod – dit is nie moeilik om ons vertroue op geld in plaas van op God te plaas nie. Hy gebruik drie afsonderlike beelde – konkrete voorbeelde om ‘n belangrike waarheid aan sy dissipels oor te dra.

 In die gedeelte skatte in die hemel (5:19 – 21) kry ons drie elemente van belang:

  • ‘n Verbod: Moenie vir julle skatte op aarde bymekaar maak nie. Dit gaan hier oor die bymekaarmaak van dinge wat dan die fokus van ons blydskap word – die begeerte om altyd meer te wil kry. Hoekom is dit verkeerd? Mot en roes verniel dit en diewe steel dit. Wat sê dit? Besittings is tydelik – dit het geen permanente waarde nie.
  • ‘n Positiewe opdrag: Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar. Ons moet ophou om dinge wat net tydelike waarde het, na te jaag en te konsentreer op daardie dinge wat permanente waarde het – die skatte in die hemel. Maar wat is ewig/blywend? Liefde. Ons moet op ons liefde vir God en vir ons naaste fokus. Jesus vra dat ons sal leef in die lig van die wêreld wat nog gaan kom.
  • Hoekom moet ons nie skatte op aarde bymekaarmaak nie? Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.  Hoe weet ek waaraan ek waarde heg? Dit is daar waar ek my geld, tyd en energie spandeer.

 Dink aan die dissipels wat hulle families en beroepe verlaat het om Jesus te volg. Dink aan Saggeus wat sy winsgewende besigheid net so gelos het om Jesus te volg. Is ek bereid om so iets te doen?

 




Die tweede Adventskers

Adversity toughens manhood, and the characteristic of the good or the great man is not that he has been exempt from the evils of life, but that he has surmounted them.”  – Patrick Henry (1891)

Die tweede Adventskers

Verlede Sondag het ons die eerste Adventskers – hoop – aangesteek. Gister het ons die tweede kers – vrede – aangesteek. Soos ons vir die koms van Jesus Christus voorberei, onthou ons dat Jesus ons hoop en ons vrede is.

 

  • Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring (Jesaja 9:5 – 6)
  • Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie (Johannes 14:27).

Gebed:

Genadige God, gee dat ons vrede mag ondervind terwyl ons voorberei vir ons Here se geboorte. Mag verskille tussen ons en ander in vrede opgelos word. Mag daar vrede in ons land en in die wêreld wees. Gee dat ons die vredespaaie raaksien en gee vir ons die moed om op hulle te loop. Here, laat ons nie vergeet dat U die Gewer van ewigdurende vrede is en dat U altyd met ons is nie. Amen.