Alle Paaie lei na Jesus: Jesus verryk ons siening van bepaalde dinge (3)

Alle Paaie lei na Jesus: Jesus verryk ons siening van bepaalde dinge (3) – Adrio König

11.3.3 Ons siening van die heil (hoofstuk 2)

Daar is geen manier om oor die heil te dink los van Jesus nie. Vroeër het sekere groepe Hom graag “Heiland” genoem. Die benaming kom nog uit die tyd van die eerste vertalings in die volkstale soos die King James Version (Saviour) en die Statenvertaling (Heiland). Deesdae word dit gewoonlik met Redder vertaal. Dit het meestal in die Ou Testament voorgekom en verwys na die Here wat mense uit nood red.

Jesus verdien vir ons die heil: vergifnis, regverdiging, redding, en hoeveel ander woorde kan ons gebruik. Hierdie woorde veronderstel dat die ou verhouding herstel word. Ons sondeskuld word weggeneem, ons word regverdig verklaar, ons word uit die gevaarposisie bevry, ons kom terug in die regte verhouding met die Here.

 

Maar Jesus herstel nie net wat verbreek is nie. Hy doen meer. Hy verryk ook ons siening van die heil. Hy plaas ons toekoms op ’n ander vlak as die oorspronklike. Daar was altyd mense wat net aan ons redding gedink het as ’n herstel van wat ons verloor het, as “paradise lost, paradise regained”. Maar die begrip “verheerliking” bring ’n nuwe dimensie van die heil na vore. Jesus is nie net ’n herhaling van die eerste Adam nie, Hy is ’n verheerlikte mens. Die eerste Adam was ’n “lewende wese”, maar die tweede Adam is ’n “lewendmakende Gees” (1 Kor 15:45). Dis nogal moeilik om ’n goeie vertaling te kry vir die Grieks, maar wat dit ook al presies beteken, dit is veel meer as net ’n lewende wese.

 

En ons deel in hierdie plus. Ons word ook verheerlik (Rom 8:30). Ons sterf as ’n “natuurlike liggaam”, maar ons sal opstaan as ’n “geestelike liggaam” (1 Kor 15:44). In 2.3.3 het ons na die betekenis van “geestelike liggaam” gekyk. Die “ewige lewe” hou dieselfde gedagte in (2.3.4). Ons kry nie net die lewe van die eerste Adam terug nie, ons kry ’n aandeel in Jesus se lewe, sy opstandingslewe wat die dood finaal agter Hom het. Dit beteken dat “ewige lewe” nie net ons gewone lewe is wat ewig sal aanhou nie, maar lewe op ’n ander vlak, ’n ander kwaliteit lewe. Dit kom mooi na vore in Openbaring 21, 22 waar ons inderdaad iets kry van ’n herhaling van die tuin in Genesis 2 (Op 22:1-3), maar óók ’n radikale oortreffing daarvan met die veilige en heerlike stad en God en die Lam wat Self die lig is sodat die son nie eens meer nodig is nie.

 

Dit is teen hierdie tyd seker eintlik meer as net duidelik dat Jesus dus nie die passiewe eindpunt is waarheen elke groot tema in die Bybel ons lei nie. Hy is die groot “Veranderaar, Vernuwer, Verheerliker”.

  • Hy beëindig en vervang wat nie regtig werk nie.
  • Hy bereik God se doel met die dinge wat langs die pad vasgeloop het.
  • Hy verryk ons siening van sentrale sake in die Bybel oneindig.

 

Dit beteken die titel van hierdie boek sou ook iets soos die volgende kon gewees het:

Jesus lei alle temas in die Bybel na die punt waar God hulle wil hê.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Jesus verryk ons siening van bepaalde dinge (2)

Alle Paaie lei na Jesus: Jesus verryk ons siening van bepaalde dinge (2) – Adrio König

11.3.2 Ons verstaan van die Ou Testament (hoofstuk 6)

Die manier waarop ons die Ou Testament lees en verstaan, is ook verryk deur Jesus. Die wyse waarop die vroeë Christene en veral die skrywers van die Nuwe Testament die Ou Testament gebruik het, het ons geleer om nie die Ou Testament “plat” te lees nie, maar bepaalde dinge daarin te soek (hoofstuk 6). Daar is trouens ’n sin waarin hulle eintlik net vir Jesus daarin gesoek het. Wat hulle ons geleer het, was juis dat alle paaie na Jesus lei.

 

 

Hulle het ons geleer dat daar nie eintlik net bepaalde profesieë in Jesus vervul is nie, maar dat Hy soos ’n prisma die hele Ou Testament op Homself saamgetrek het. Al die groot figure wat in die toekoms verwag is, profeet, Messias, dienaar, Seun van die mens, is in Hom vervul. Maar veel, veel meer. Hy het ’n nuwe gestalte en betekenis gegee aan al drie die ampte wat bepalend was vir die lewe van die volk, profeet, priester, koning.

 

Deur dit alles het ons geleer dat daar struktuur is in die Ou Testament, dat dinge onderling met mekaar in verband staan. Dit help ons om samehangend te lees selfs as dit nie oor “voorlopers” van Jesus gaan nie. Om maar net een voorbeeld te gebruik. As ons oor God se skeppingswerk dink, lees ons nie net een hoofstuk, byvoorbeeld Genesis 1, en bou ons hele siening daarop nie. Ons lees alles oor die skepping, en dan kyk ons of daar dinge is wat duidelik na vore kom en ander wat terloops is. Ons soek tendense en verabsoluteer nie ’n paar dinge wat ons siening van sake ondersteun nie (hoofstuk 4).

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Jesus verryk ons siening van bepaalde dinge (1)

Alle Paaie lei na Jesus: Jesus verryk ons siening van bepaalde dinge (1) – Adrio König

11.3 Jesus verryk ons siening van bepaalde dinge

11.3.1 Ons siening van God (hoofstuk 10)

Dit is merkwaardig hoeveel ryker ons siening van God deur Jesus word. Allereers het ons in Jesus se lewe duideliker as ooit tevore gesien Wie en hoe God is. Wat Jesus gedoen het, het Hy gedoen soos sy Vader dit sou gedoen het. Hy is in ’n unieke sin die openbaring/bekendmaking van God. Hy verklaar ook: “Wie My sien, sien die Vader” (Joh 14:9). En Johannes skryf oor Jesus: “Hy het Hom (die Vader) bekend gemaak” (1:18). En Paulus skryf oor Christus: “In Hom woon God met die volheid van sy wese” (Kol 2:9). As ons dan wonder hoe God lyk, hoe Hy oor ons voel, wat sy doel met ons lewe is, lees ons net oor Jesus. Hy is God se openbaring.

 

Maar daar is veel meer. Ons het reeds daarop gewys dat daar nie regtig in die Ou Testament enige teken is van ’n meervoudigheid in God nie. Daar is net een God, Israel se God, en sy Naam is Jahwe, Here. Eers wanneer ons in die Nuwe Testament met Jesus te doen kry en lees wat die vroeë Christene alles oor Hom geglo het, besef ons dat ons nie net enkelvoudig oor God kan dink nie, maar dat daar ook iets meervoudigs in die een ware God is. Eers dan besef ons dat Jesus in sy lewe vóórdat Hy mens geword het, alreeds voluit betrokke was by die werk van God in die Ou Testament.

 

Maar dan gaan daar eintlik ’n hele nuwe wêreld oop oor God se eie interne gemeenskapslewe, oor die verhoudings waarin die Vader en die Seun en die Gees met mekaar leef. Die Vader het die Seun gestuur en die Seun het gekom om ons te wys Wie en hoe God is. En uiteindelik stuur die Vader ook sy Gees om dit wat Jesus vir ons verdien het, in ons lewe in te dra. Hieroor is boeke volgeskryf. Maar ons weet nou dit alles het eers na vore gekom omdat Jesus gekom het en die vroeë Christene besef het Hy leef in ’n unieke verhouding met die Vader. Hulle het Hom selfs as “God” bely, maar Hom veral “Here” genoem, en dit het later duidelik geword hulle bedoel eintlik met “Here” die Naam van God, Jahwe.

 

Die belydenis wat later opgestel is dat God een Wese is in drie Persone, was ’n poging om hierdie opvallende meervoudigheid in God uit te druk wat veral deur Jesus se optrede duidelik geword het. Op die presiese woorde in hierdie formulering (Wese, Persone) kan heelwat kritiek uitgespreek word, maar ’n mens moet nie hierdie intensie daaragter mis nie. Dit is duidelik genoeg in die Nuwe Testament. Jesus het ons siening van God geweldig verryk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Jesus bereik God se doel met bepaalde dinge (3)

Alle Paaie lei na Jesus: Jesus bereik God se doel met bepaalde dinge (3)- Adrio König

11.2.3 Die skepping (hoofstuk 4)

Daar is ’n sin waarin Jesus net die skeppingswerk van God verryk. Terwyl ons in die Ou Testament net van God die Vader as Skepper lees, kom Jesus ook as Skepper by in die Nuwe Testament, nie as die Jood Jesus nie, maar as die ewige Seun van God. Sowel Johannes as Paulus sien Hom betrokke by die skepping (Joh 1:1-3, 10; 1 Kor 8:6; Kol 1:16).

 

Maar Jesus is ook in ’n ander sin by die skepping betrokke. In die Nuwe Testament lees ons dat Hy die doel van die skepping is. Dit is iets wat ook nie in die Ou Testament na vore kom nie. Maar in die Nuwe word hierdie betekenis herhaaldelik aan Jesus toegeskryf. Hy is die einde van alles, maar dan die einde as die einddoel; alles is vir Hom geskape in die sin dat alles op Hom gerig is en in beweging na Hom toe is om hulle doel in Hom te bereik. Ons het onder 4.12.2 gesien daar is nie duidelike uitsprake in die Bybel oor presies wat dit beteken nie, maar ons kan wel iets aflei as ons dink wie God is en hoe Jesus geleef het. En dan staan liefde uit. Ons kan nie regtig daaraan twyfel nie dat God se wil is dat liefde op een of ander manier deel van die funksionering van die hele skepping en die totale menslike samelewing moet wees. En in Jesus se lewe het ons gesien hoe dit werk, hoe liefde lyk.

 

Die beelde wat in Openbaring 21, 22 gebruik word om iets te vertel oor die lewe op die nuwe aarde en in die nuwe Jerusalem, skets ’n wêreld en ’n samelewing wat in terme van liefde werk. Die skoonheid, harmonie, vreugde, vrede is ’n appèl aan ons om nou reeds deur die krag van die Gees iets daarvan in die samelewing in te dra.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König