Alle Paaie lei na Jesus: Algemene vervullings

Alle Paaie lei na Jesus: Algemene vervullings – Adrio König

7.3 Algemene vervullings

Behalwe hierdie spesifieke vervullings, moet ons ook kyk na vervullings in die algemeen. Dink maar net aan die volgende. Die profesie oor die Seun van die mens kom uit Daniël 7:13-14. Daarvolgens is dit ’n heerlikheidswese wat heerskappy voer oor alles en almal. Maar wanneer dit in Jesus vervul word, is Hy in vernedering. Trouens juis wanneer Hy oor sy komende lyding praat, identifiseer Hy Homself heel spesifiek met die Seun van die mens. Telkens wanneer omstanders na Hom as Messias verwys, slaan Hy doelbewus oor na “die Seun van die mens” en dit juis as sy lyding ter sprake is (oa Mark 8:31; Matt 26:63). Uit die profesie in Daniël sou niemand ooit kon afgelei het dat hierdie Seun van die mens in vernedering sou kom nie.

Iets van dieselfde aard kry ons in die vervulling van die profesie oor die dienaar van die Here volgens Jesaja 53. Dit is die profesie waarna verreweg die meeste verwys word in die Nuwe Testament. Ons weet dus dit is vervul in Jesus van wie ons bely dat Hy aan God gelyk is. Maar uit Jesaja 53 sou ’n mens nie kon aflei dat die dienaar aan God gelyk sou wees nie. Uit Jesaja 53 kan ’n mens niks meer aflei as dat dit ’n mens sou wees nie. Dit is terloops belangrik om op te merk dat dit onnodig is om die nuwere vertalings soos die 1983-vertaling, NLV en LB te kritiseer omdat hulle nie in Jesaja 53 die voornaamwoorde vir die dienaar met hoofletters skryf nie. Die plig van die vertaler is om te vertaal wat die skrywers bedoel het en wat die mense in daardie tyd sou verstaan het, en niemand in daardie tyd het selfs net eers daaraan gedink dat hierdie dienaar aan God gelyk sou wees nie. Daarom is dit eintlik verkeerd om die voornaamwoorde wat in Jesaja 53 na hom verwys, met hoofletters te begin.

 

Kom ons kyk ook na die vervulling van die profesieë oor die Messias. Die Messias sou in heerlikheid kom om die heerlikheid van Israel te herstel soos dit in die tyd van koning Dawid was. Hy sou op die troon van Dawid in Jerusalem sit en oor die omringende volke regeer (Jes 8:23-9:6; 11:1-8). Maar toe Hy kom, kom Hy in vernedering. Hierdie kontras was so skerp dat dit een van die groot punte van misverstand was tussen Jesus en sy eie dissipels. Petrus bely Hom as die Messias, maar dan praat Jesus oor sy komende verwerping en lyding (Matt 16:13-23). Petrus reageer baie skerp hierop: “Mag God dit verhoed.” Waarom? Juis omdat hy Jesus toe net as Messias bely het, en hy het baie goed geweet die Messiaanse profesieë het dit in die vooruitsig gestel dat die Messias in heerlikheid sou kom regeer. Hierdie misverstand geld van al die dissipels (Mark 9:30-37; 10:32-38).

 

Natuurlik verwag ons dat die Messias nog weer sal kom, en dat dit inderdaad hierdie keer in heerlikheid sal wees. Maar dit het die dissipels nie op daardie stadium geweet nie. Hulle het die profesieë geken oor die Messias wat in heerlikheid sou kom, en op Petrus se belydenis bevestig Jesus dat Hy inderdaad hierdie Messias is. Maar Hy praat van sy verwerping en dood! Dit beteken dus nog ’n keer dat hulle nie uit die profesieë oor die Messias sou kon aflei hoe dit in Jesus se aardse optrede vervul sou word nie. Op grond van die profesieë verwag hulle ’n Messias in heerlikheid, maar die Messias kom in vernedering.

 

As ons nou terugkyk na die sewe spesifieke vervullings en die twee algemene vervullings, is dit duidelik dat ons (al is dit teen wil en dank?) die gedagte heeltemal moet laat vaar dat profesieë letterlik vervul word. In die meeste gevalle is daar op sy beste maar net ’n vae ooreenkoms tussen die profesie en die vervulling, in ander gevalle gaan dit glad nie om ’n profesie nie, maar om ’n geskiedenis wat ’n vae ooreenkoms toon met wat nou gebeur, en in nog weer ander gevalle kies die profeet ’n ander weergawe van ’n profesie (die Septuagint) wat wel ’n mate van ooreenkoms toon met die situasie waarin hy is.

 

Ons gevolgtrekking: Profesieë word so vry vervul dat ons nie vooraf uit die profesie se bewoording sou kon aflei hoe die vervulling  sal lyk nie. In nie een van die gevalle wat ons behandel het, sou ons naastenby uit die profesie self kon aflei hoe dit vervul sou word nie. Die vorm van die vervulling is elke keer ’n verrassing.

 

En dit is presies wat ons vir die toekoms moet verwag. Ons het geen helder beeld hoe Jesus weer sal kom, hoe God die dooies sal opwek en die aarde sal nuut maak nie. Ons kan ons enige voorstelling maak wat ons wil, maar ons moet ons gereedmaak vir groot verrassings.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Spesifieke vervullings (4)

Alle Paaie lei na Jesus: Spesifieke vervullings (4) – Adrio König

7.2.6 Die uitstorting van die Gees

Op die Pinksterdag toe die Gees gekom het, preek Petrus (Hand 2:16 ev) met sy teks uit Joël 2:28-32. Hy sien hierdie profesie vervul in die uitstorting van die Gees. Hy haal inderdaad ook die hele profesie aan, iets wat Matteus nooit doen nie. Matteus haal net dié deel aan wat volgens hom vervul is. Die profesie in Joël gaan oor die koms van die Gees. Dit sal gepaardgaan met baie opvallende verskynsels.

  • Seuns en dogters profeteer
  • Bejaardes droom
  • Jong mans sien visioene.
  • Tekens in die hemel en op die aarde: bloed, vuur, rookwolke.
  • Sonsverduistering, bloedrooi maan.

 

Is hierdie profesie nou letterlik vervul in die koms van die Gees? Wel, geeneen van die opsienbarende natuurverskynsels is vervul nie, en ook niks van die oorlogsimbole (bloed, vuur, rookwolke) nie. Op die Pinksterdag self, die geleentheid waarin Petrus die vervulling van Joël sien, kry ons net die koms van die Gees wat inderdaad deel van die profesie is. Later was daar natuurlik wel mense wat geprofeteer het en visioene gesien het. Maar dit is nie die punt wat Petrus maak nie. Hy sê nie met die uitstorting van die Gees is begin met die vervulling van die profesie van Joël, en dat die ander dinge later geleidelik sou volg nie. Die uitstorting is volgens hom sonder meer die vervulling.

 

Ons het dus dieselfde situasie as by Matteus: Daar is een punt van ooreenkoms, en dit is vir Petrus genoeg om dit aan te kondig as die vervulling van die profesie van Joël wat hy in sy volle omvang aanhaal. Maar ons sou nooit eens naastenby uit die profesie kon aflei hoe dit vervul sou word nie.

 

7.2.7 Die sending

Die laaste vervulling van ’n profesie waarna ons kyk, kom uit die mond van Jakobus (Hand 15:15-17). Hy verwys na die profesie in Amos 9:11-12.

 

Die situasie in Handelinge 15 is die eerste “sinode” van die vroeë kerk waar die probleem bespreek word van Paulus se sendingwerk onder heidene. Paulus het nie van hulle verwag om die Ou-Testamentiese wette te hou soos die Sabbat en die besnydenis nie. Sy boodskap was dat hulle net deur die offer van Christus gered word as hulle hulle vertroue in Hom stel. Maar sommige Joodse Christene wou hê dat hulle ook net soos die Jode die hele wet moes hou, en veral dat hulle ook besny moes word. Na bespreking tree Jakobus uiteindelik na vore en steun die posisie van Paulus. Sy punt is dat God deur Paulus werk en besig is om vir Hom ’n volk uit die heidennasies te versamel. En volgens hom getuig die profete van ouds al daarvan. Om dit te bevestig, haal hy dan Amos 9:11-12 aan. Jakobus se weergawe van Amos ondersteun sy punt baie sterk: Die Here sal Israel herstel (waarskynlik in die terugkeer uit die ballingskap), “sodat al die ander mense die Here kan soek, ja, al die heidennasies wat Ek geroep het om my eiendom te wees, sê die Here wat hierdie dinge doen.” Waar is die probleem dan? By die opvallende verskille tussen Amos 9:11-12 en die wyse waarop Jakobus dit in Handelinge 15:15-17 aanhaal. Hier is die relevante dele uit die twee boeke:

Amos 9:12 Handelinge 15:17

Sodat my volk die oorwinnaar sal wees oor wat van Edom oor is, sodat al die mense die Here kan soek oor al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is (Amos 9:12)  ja, al die heidennasies wat Ek geroep het om my eiendom te wees sê die Here wat hierdie dinge doen (Handelinge 15:17). Amos gee ’n oorlogsprofesie: Israel sal sy ou vyand Edom oorwin, en trouens ook al die ander nasies oor wie die Here se Naam uitgeroep is. Die laaste frase beteken die nasies op wie die Here klaar beslag gelê het.

 

Jakobus maak daarvan ’n sendingteks: al die heidene wat die Here geroep het, sal Hom soek. Hoe werk dit? Nogeens moet ons onthou dat Jakobus en die vroeë Christene ’n “ander” Ou Testament gelees het as ons Ou Testament, naamlik die Septuagint, en dit is waar Jakobus hierdie vreemde bewoording van Amos 9 gekry het. Ons het reeds verwys na die feit dat die Septuagint nie ’n akkurate vertaling was van die Ou Testament, die sogenaamde Masoretiese teks waaruit ons huidige Ou Testament vertaal is, is nie. Die vertalers van die Septuagint het onder andere twee dinge

gedoen:

  • Om tekste wat nie met die Messias te doene gehad het nie, so te vertaal dat dit wel met Hom in verband gebring kon word.
  • Om tekste wat oor die nasionale belange van Israel handel, te verander na sendingtekste.

 

En dit is presies wat met Amos 9:11-12 gebeur het. In die Hebreeus (soos in ons Afrikaans) is dit ’n profesie wat aan Israel ’n oorwinning beloof oor een van sy aartsvyande. Maar die Septuagint het dit vertaal soos dit nou in Handelinge 15:17 staan – ’n sendingteks. En dit is dan wat Jakobus gebruik in sy argument ten gunste van Paulus se sending onder die heidene. Hy kies dié weergawe van Amos 9:12 waarmee hy sy punt die beste kan maak. Van die vervulling van Amos 9:11-12 in sy oorspronklike Hebreeuse vorm is daar in Paulus se sendingwerk geen enkele spoor nie. Daar is geen manier hoe ’n mens uit Amos 9, soos dit oorspronklik gelees het, vooraf iets van Paulus se sendingwerk sou kon aflei nie.

 

Dit lyk dus asof ons die gedagte van die letterlike vervulling van profesieë heeltemal moet prysgee, ook wat profesieë betref wat eers in die toekoms vervul sal word.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Spesifieke vervullings (3)

Alle Paaie lei na Jesus: Spesifieke vervullings (3) – Adrio König

7.2.5 Die opstanding

Tot dusver is net vervullings uit Matteus behandel. Dit mag dus wees dat ons net by hom hierdie vrye vervulling van profesieë kry. Daarom word drie ander vervullings gekies uit die boek Handelinge.

 

Die vervulling van Psalm 16 in die opstanding van Jesus (Hand 2:25-28) is besonder belangrik. Immers ons weet dat ons nie regtig duidelike verwagtings van die opstanding in die Ou Testament kry vóór die baie laat verwysing van Daniël 12:2 nie. ’n Mens verwag dus dat daar nie veel sprake sal wees van profesieë wat in Jesus se opstanding vervul is soos dit geld van die res van sy lewe en sy sterwe nie.

 

Juis dit maak die verwysing na Psalm 16 so belangrik. In hierdie Psalm is iemand aan die woord wat in groot gevaar is. Dis nie duidelik of dit vyande of siekte is wat sy lewe bedreig nie. In vers 1 gebruik die meeste vertalings (soos die 1983-vertaling) woorde wat aan vyande laat dink (“Neem my in beskerming, o God; ek soek skuiling by U”). Hy kry dan van die Here die versekering dat die Here hom bewaar (16:7-8), en dan volg sy loflied (vers 9-11). Hy juig, want hy voel nou veilig (9). Hy weet nou die Here sal hom nie aan die dood oorgee nie. Dit beteken dat hy nie sal sterf nie. Hy sal nie in die graf kom nie (10). Hy loop oor van vreugde (11). Hier is nie sprake van opstanding uit die dood nie, maar van beveiliging teen die dood. Hy sal nie doodgaan nie. Die Here sal hom bewaar.

 

In Handelinge 2 (en ook Hand 13) lees ons nou dat hierdie Psalm vervul is in die opstanding van Jesus, dat Dawid nie hier regtig oor homself kon geskryf het nie omdat almal weet hy het wel gesterf. Maar “hy het die opstanding van Jesus vooruit gesien” (Hand 2:31).

 

Die vraag is nou hoe Petrus die opstanding kon aflei uit ’n Psalm wat handel oor die bewaring teen die dood sodat ’n mens nie sterf nie. En die antwoord is dat hy dit aanhaal uit die Septuagint, soos verreweg die meeste skrywers van die Nuwe Testament doen. En soos in baie ander gevalle, het die Septuagint Psalm 16 anders vertaal as wat die Hebreeus is. Dit gaan eintlik net om ’n paar veranderings, maar hulle is belangrik. Die vertalings word redelik letterlik gegee. Dit gaan oor Psalm 16:9, 10.

 

Hebreeus LXX

My liggaam voel veilig My liggaam lê in hoop (9)

U gee nie my siel aan die doderyk nie

U laat nie my siel oor aan die doderyk nie (10)

U laat nie u vrome die graf sien nie

U laat nie u vrome verrotting sien nie (10)

 

Dit is sonder meer duidelik dat die eerste groep beteken dat die Psalmdigter nie dood is nie, dat hy teen die dood gevrywaar word, terwyl die tweede groep suggereer dat hy dood is, maar nie aan die dood prysgegee is nie. Maar selfs met hierdie veranderings is daar nog nie regtig sprake van opstanding nie. Dit beteken op sy meeste dat die persoon nie prysgegee is aan die dood nie. Dit is hierdie veranderings wat Petrus die ruimte gee om die opstanding uit hierdie Psalm af te lei. Die teologiese implikasies hiervan is nie nou ter sprake nie. Ons weet dit gebeur oor en oor dat die Septuagint vreemde vertalings het en dat die vroeë Christene hierdie vertalings verkies het omdat dit hulle saak gesteun het.

 

Maar die punt waaroor dit nou gaan, is dat niemand ooit uit Psalm 16 in sy oorspronklike vorm die opstanding uit die dood sou kon aflei nie, trouens selfs nie uit die vorm in die Septuagint nie. Niemand sou selfs net kon vermoed dat dit ’n profesie was nie. Dit het gegaan oor die verhaal van iemand wat deur God teen die dood bewaar word sodat hy nie sterf nie. En dit beteken dat ons vir die soveelste keer voor die feit staan dat ’n skrywer van die Nuwe Testament ’n geskiedenis as ’n profesie interpreteer, en ook dat ’n mens nie uit die inhoud daarvan sou kon aflei hoe die vervulling sal lyk nie. Profesieë word op ’n merkwaardig vrye manier vervul. Ons moet eenvoudig wag vir die vervulling om te weet hoe dit sal lyk. En vanselfsprekend geld dit ook profesieë wat nog nie vervul is nie. Ons kan dus nie ’n detailprentjie teken wat dit waarop ons nog wag nie. Ons het op sy beste vae aanduidings.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König

 
 

 




Alle Paaie lei na Jesus: Spesifieke vervullings (2)

Alle Paaie lei na Jesus: Spesifieke vervullings (2) – Adrio König

7.2.3 Herodes se kindermoord

Herodes se kindermoord en die moeders se droefheid is volgens Matteus 2:16-18 die vervulling van Jeremia 31:15. Is hier sprake van letterlike vervulling? Jeremia 31:15 is deel van ’n omvattende profesie wat uit drie verse bestaan:

15 So sê die Here: ’n Gekerm word in Rama gehoor, ’n gehuil vol hartseer: Ragel treur oor haar kinders, sy wil haar nie laat troos nie, want haar kinders is weg.

16 So sê die Here: Bly stil, moenie huil nie, moenie trane in jou oë hê nie! Vir al jou swaarkry sal jy vergoed word, sê die Here, jou kinders sal uit die vyand se land terugkom.

17 Daar is ’n toekoms vir jou nageslag, sê die Here, jou kinders sal na hulle besitting toe terugkom.

Net soos Hosea 11:1 is vers 15 waarna Matteus verwys, nie ’n profesie nie, maar geskiedenis. Dit vertel van die hartseer van moeders oor hulle kinders wat in ballingskap weggevoer is. Ragel is die stammoeder van Josef en Benjamin, en dit is twee van die stamme van die Noordryk wat teen hierdie tyd alreeds in die ballingskap van 722 vC weggevoer is. Sy is dus die simbool van die moeders wat huil oor hulle kinders. Daar is ingrypende verskille tussen Jeremia 31:15-17 en die kindermoord in Matteus.

 

Eerstens is Jeremia 31:15, net soos Hosea 11:1, nie ’n profesie nie. Matteus interpreteer dit as een.

Verder gaan dit in Jeremia nie om babas soos in Matteus nie, maar om jongmense wat in ballingskap weggevoer is. Hierdie jongmense is dus nie vermoor soos die babas van Matteus 2 nie, maar as slawe weggevoer.

 

Dit beteken dat daar nog hoop is vir die huilende moeders van Jeremia, want die belofte is dat die kinders nog weer gaan terugkom,  iets wat nie moontlik is in Matteus nie omdat die babas dood is. Dit is dan waarskynlik ook die rede waarom Matteus nie die volle deel uit Jeremia aanhaal nie. Die moeders in Matteus kan nie hoop dat hul vermoorde babas weer sal terugkom nie. Die grootste deel van Jeremia 31:15-17 is dus eenvoudig nie vervul in Herodes se kindermoord nie. Al ooreenkoms wat daar regtig is, is die moeders wat oor hul kinders treur.

 

In die lig van al hierdie verskille is dit nie moontlik om van die letterlike vervulling van Jeremia 31:15-17 te praat nie, selfs nie eers net van vers 15 nie. Daar is net een punt van ooreenkoms: Moeders wat huil oor kinders. Verder verskil die situasies hemelsbreed. Maar hierdie uiters beperkte ooreenkoms is genoeg vir Matteus om te skryf dat Jeremia 31:15 in Matteus 2 vervul is, net soos die uiters beperkte ooreenkoms tussen Israel se uittog en die Kindjie Jesus se terugkeer uit Egipte vir Matteus voldoende grond is om vergelykenderwys te praat van ’n “vervulling” van die geskiedenis uit Hosea 11. Wat hy onder vervulling bedoel, is dus dat daar ’n mate van ooreenkoms is tussen wat nou gebeur en wat al vroeër gebeur het: Moeders huil oor kinders. Dit beteken dat daar net ’n baie losse verband tussen die “profesie” (eintlik geskiedenis) van Jeremia en die geskiedenis van Matteus is, met net een punt van ooreenkoms.

 

7.2.4 Judas se loon vir sy verraad

Volgens Matteus is Judas se verraad die vervulling van wat Jeremia gesê het (Matt 27:9-10). Ons weet dat Judas 30 silwer muntstukke van die priesterhoofde en familiehoofde gekry het om Jesus te verraai. Het ons hier met ’n letterlike vervulling van ’n profesie te doen?

 

Die eerste vraag is waar Matteus hierdie profesie gekry het. Dit kom nie uit Jeremia nie. Al wat ons in Jeremia kry, is die geskiedenis van Jeremia wat die opdrag kry om ’n stuk grond van sy oom se seun in Anatot vir 17 sikkels silwer te koop. Daar kan ’n baie vae ooreenkoms wees met die stuk grond wat die priesters toe uiteindelik volgens Matteus gekoop het met die geld wat Judas vir hulle teruggegee het. Maar dié ooreenkoms is so vaag dat ’n mens glad nie meer van vervulling kan praat nie.

 

Bowendien was die verhaal in Jeremia ook nie ’n profesie nie. Daar is wel in Sagaria 11 ’n allegorie wat ’n beperkte ooreenkoms met Judas se verraad het. Ons lees in Sagaria dat die Here ontevrede is met die leiers van die volk wat die volk skreiend verwaarloos. Die beeld van herders en skape word gebruik. Sagaria kry dan die opdrag om hulle herder te gaan wees. Hy pas hulle dan ’n maand lank op, maar dan versuur die verhouding tussen hom en hulle. Hy vra dan die kleinveehandelaars om hom vir sy werk te betaal, en hulle gee hom 30 stukke silwer. Die feit dat dit ’n “kosbare” loon genoem word, is sarkasme, want dit is vernederend min. Die Here beveel hom dan om die loon vir die pottebakker in die tempel te gooi. Tot sover Sagaria.

 

Matteus haal nou uit hierdie allegorie twee verse aan (12-13) en noem Judas se reaksie ’n vervulling hiervan. Tussen die twee is inderdaad beperkte ooreenkomste. In beide is sprake van:

  • geld wat betaal word vir dienste,
  • 30 silwermuntstukke,
  • die geld word uiteindelik weggegee,
  • die tempel en ’n pottebakker is betrokke.

Maar hier eindig die beperkte ooreenkomste.

 

Die verskille is enorm.

  • Sagaria 11 is nie ’n profesie nie, maar Matteus interpreteer dit as een. Ons het nou gesien dat dit herhaaldelik gebeur.
  • In Sagaria ontvang die profeet die geld vir eerlike werk, in Matteus ontvang Judas dit vir verraad.
  • In Sagaria betaal die kleinveehandelaars die profeet, in Matteus betaal die priesters die verraaier.
  • In Sagaria gooi die profeet die geld vir die pottebakker, in Matteus gooi Judas dit vir die priesters en hulle koop die grond van die pottebakker, en in Jeremia koop die profeet die grond van sy oom se seun.

 

Hoe kan Matteus skryf dat Jeremia (Sagaria?) in die verraad van Judas vervul is? Ons het nou al meer sulke voorbeelde gehad. Solank daar net ’n punt van ooreenkoms is, hoe vaag ook al, sien Matteus dit as vervulling van ’n profesie, selfs al is dit nie oorspronklik ’n profesie nie. In hierdie geval is daar twee punte van ooreenkoms:

  • die 30 stukke silwer,
  • die geld word teruggegee.

 

Hoe sou ’n mens ooit uit die geskiedenis van Jeremia of van Sagaria kon aflei hoe Judas Jesus sou verraai? Daar is dus geen manier om die standpunt te verdedig dat profesieë letterlik vervul word nie. In die gevalle waarna ons gekyk het, is daar op sy beste net vae ooreenkomste tussen die profesie of die geskiedenis, en die vervulling daarvan. Dit beteken dat daar geen manier is waarop ’n mens vooraf uit die profesie of die geskiedenis sou kon afl ei hoe die vervulling sal lyk nie. ’n Mens moet wag vir die vervulling, en dan eers sal jy weet hoe dit vervul is. Dit het natuurlik geweldige implikasies vir die uitleg van die visioene (profesieë) in Openbaring.

 

In die volgende artikel kyk ons verder na spesifieke vervullings van profesieë.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König