Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (1)

Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (1) – Adrio König

Hoofstuk 9

Die uittog uit Egipte

Dit is een van die interessantste temas in die hele boek. Ons gaan van drie kante af daarna kyk:

  • Die oorspronklike betekenis
  • Die toegepaste betekenis
  • Die Nuwe-Testamentiese verwysings

9.1 Die oorspronklike betekenis

Die uittog lê in die hart van Israel se geloof. Dit is die fundamentele gebeurtenis waarop hulle verhouding met God gebaseer is. Ons lees nie verniet oor en oor in die Ou Testament dat die Here van Egipte af (die uittog) hulle God is nie (Hos 12:10; 13:4). Ons lees selfs dat Hy Hom dáár vir die eerste keer aan Israel as Jahwe (Here) geopenbaar het (Eks 6:2). Dis die moeite werd om die geloofsbelydenis te lees wat elke Israeliet elke jaar in die tempel moes aflê (Deut 26:5-10). Die kern daarvan is die Here wat hulle uit Egipte bevry het en die land Kanaän aan hulle gegee het.

 

Dit kan dus niemand verbaas dat die volk hulle juis op die uittog beroep as hulle in nood is nie. Wanneer hulle voel dat God vir hulle kwaad is en hulle verstoot het, roep hulle: “Dink tog aan u gemeente wat U lank gelede u eiendom gemaak het, die volk wat U vir Uself as besitting verkry het” (Ps 74:1-2). Hulle is deeglik daarvan bewus dat dit nie in die uittog om hulle eie waarde en betekenis gegaan het nie, maar om die onverklaarbare goedheid van God. In Deuteronomium 7:6-8 lees ons: “Jy is ’n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees. Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal. Omdat die Here jou liefhet en Hy sy belofte nakom wat Hy met ’n eed bekragtig het aan jou voorvaders … het Hy jou laat uittrek … ”

 

Dit het dus nie om Israel en hulle voortreflikhede gegaan nie, maar om die Here wat liefhet en getrou is en sy beloftes hou. En dit is natuurlik die oorweldigende kenmerk van die hele uittog: die inisiatief van God teenoor die dadeloosheid en selfs ontrou en opstandigheid van die volk. Die uittog word gekenmerk deur ’n reeks wonderwerke. Dit is een van die drie groot groepe wonderwerke in die Bybel bo en behalwe die skepping self en die wederkoms van Christus. Dit is trouens opvallend dat wonderwerke nie egalig in die Bybel versprei is en oral en altyd vermeld word nie, maar in hierdie drie groot konsentrasies voorkom:

  • Die uittog
  • Die vroeë profete (Elia, Elisa)
  • Jesus se aardse bediening en die vroeë kerk

 

Die wonderwerke tydens die uittog is byna sonder uitsondering die Here se reaksie op die vrees of ongeduld of opstandigheid van die volk.

  • Die Here beskik bedags ’n wolkkolom en snags ’n vuurkolom om die volk te lei (Eks 13:20-22).
  • Wanneer die volk met die see voor hulle die leërmag van die farao sien aanstorm, roep hulle in vrees uit. Dan beveel die Here Moses om die see met sy kierie oop te kloof (Eks 14).
  • Toe hulle protesteer dat hulle nie genoeg kos het nie, het die Here kwartels en manna uit die lug laat kom (Eks 16).
  • Daarna het hulle by Refidim met Moses rusie gemaak omdat daar nie water was nie. Die Here het Moses beveel om met sy kierie teen ’n rots te slaan, en toe het daar water uitgekom (Eks 17).

 

Dis interessant hoeveel negatiewe wonders ’n mens hier kry. In Jesus se bediening is daar omtrent net die vyeboom wat wonderbaarlik verdroog. Die ander is omtrent almal positiewe wonders, wonders wat red en help. Maar daar is omtrent net soveel negatiewe wonders as positiewes in die uittogsgeskiedenis.

 

Die tien plae is natuurlik wonders téén die Egiptenaars om Israel te red. Maar in die woestyn is daar heelwat wonderwerke om Israel te straf.

  • Die Here tref die volk met ’n ramp oor die goue kalf (Eks 32:35).
  • Wanneer die volk later weer in opstand is oor kos, laat die Here kwartels om hulle val wat hulle kon optel en eet (Num 11:31 ev).
  • Omdat die volk nie op die Here se tyd in Kanaän wil intrek nie, besluit die Here dat daardie hele geslag in die woestyn sal sterf voor die volgende geslag Kanaän sal intrek (Num 14:20- 35).
  • Wanneer die volk vir die soveelste keer oor kos in opstand is, stuur die Here giftige slange onder hulle in (Num 21:4 ev).

 

Dit is nie nodig om die hele geskiedenis oor te vertel nie. Die punt is reeds gemaak. Die geskiedenis van die uittog is ’n geskiedenis van die trou en die mag en die sorg van God teenoor die onmag en ontrou en opstandigheid van die volk. Hierdie volk het sy hele bestaan uitsluitlik te danke aan die uitreikende liefde van God wat nie ’n volk gesoek het wat dit werd was nie, wat trouens glad nie ’n bestaande volk gekies het nie, maar wat ’n nuwe volk geskep het, ’n groepie slawe wat nooit aan die gang sou gekom het as dit nie vir die genadige inisiatiewe van die Here was nie.  Dit beteken dat Israel nie ’n volk was wat onder andere in ’n spesiale verhouding met die Here geleef het nie, maar dat hulle niks anders was en geen ander bestaansrede gehad het nie as om die volk van die Here te wees. Hulle ontstaansgeskiedenis is ’n heerlike geskiedenis van verrassende genade.

 

Maar dit is net een kant van die saak. Daar is ’n ander kant ook, wat net so belangrik is. Van Israel se kant gesien, is dit ’n geskiedenis wat ’n mens liewer sou verswyg as jy kon, ’n geskiedenis van ontrou en opstand en mislukking. Waarom vertel Israel só ’n geskiedenis oor sy ontstaan? Volke is trots op ’n ontstaansgeskiedenis vol heldedade. Hulle soek rolmodelle om na te volg. Maar die geskiedenis wat Israel oor hulle ontstaan vertel, is alles behalwe!

 

Onthou nou radikaal kritiese teoloë wil ons laat glo dat daar eintlik nooit regtig so ’n uittog was nie. ’n Paar nomadiese stamme kon wel sekere bewegings gemaak het, en ander kon later by hulle aangesluit het, maar van een groot uittog van ’n hele volk was daar nooit enige sprake nie. Al meer groepe sou maar net later by een groep aangesluit het, en hulle sou toe verhale uitgedink het oor hulle ontstaansgeskiedenis. In beginsel is dit natuurlik moontlik dat die geskiedenis só verloop het. Maar dan moet ons aanvaar dat ’n groeiende groep gekies het om oor hulleself só ’n geskiedenis uit te dink. Dis ’n geskiedenis van mislukkings. Hulle is voortdurend in die “rooi”. Hulle is bang as die Egiptenaars aanstorm, hulle kerm elke keer oor hulle omstandighede, hulle kom in opstand teen die gesag oor hulle. En as ’n mens die geskiedenis volg tot by die uiteindelike intog in Kanaän in, is daar nie ’n enkele rolmodel om na te volg nie. Selfs die leier Moses maak dit nie. Hy moet weens ongehoorsaamheid self ook buite die beloofde land sterf. Trouens weens hulle voortdurende ontrou moet daardie hele geslag eers uitsterf voor die volgende geslag die land kon ingaan.

 

Wie dink so ’n geskiedenis uit? Dit is die geskiedenis van ’n volk wie se bestaan heeltemal van hulle God afhanklik is, ’n God wat hulle voortdurend teleurstel en krenk in sy eer. Daar kan net een rede wees waarom ’n volk so ’n patetiese ontstaansgeskiedenis oorvertel. Dit moes so ongeveer só gebeur het.

 

Die basiese gegewens van die uittog is histories betroubaar, al sal daar natuurlik baie vrae wees oor die fyner besonderhede. Die groot getalle het altyd vreemd voorgekom. Trouens vroeg in die geskiedenis van die radikale kritiek het ’n behoudende Ou-Testamentiese geleerde gesê as jy wil ontken dat daar so ’n persoon soos Moses was, sal jy ’n nuwe Moses moet uitdink om sy rol oor te neem.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König

 
 




Alle Paaie lei na Jesus: Die onvervulde profesieë van die Ou Testament

Alle Paaie lei na Jesus: Die onvervulde profesieë van die Ou Testament – Adrio König

8.6 Die onvervulde profesieë van die Ou Testament

Ons moet mooi nadink oor wat ons met onvervulde profesieë bedoel. Ons het reeds gesien dat profesieë besonder vry en op verrassende maniere vervul word. Niemand sou ooit kon dink Amos 9:11-12 is in Paulus se heidensending vervul as Jakobus dit nie spesifiek uitgewys het nie, of dat Joël se oorlogsprofesie in die koms van die Gees vervul is nie. Dit beteken dat baie van die sogenaamde onvervulde profesieë vervul kan wees op maniere  waaraan ons nooit eens kan dink nie. Daar is immers nêrens in die Bybel die gedagte dat elke vervulling van ’n profesie in die Bybel aangekondig word soos byvoorbeeld die vervulling van Amos 9 en Joël 2 nie.

Verder is dit duidelik dat talle van die profesieë wat oorspronklik oor Israel uitgespreek is, later vir die kerk vervul is. Ons het na talle verwys. Maar dit is eenvoudig dié waarvan die vervulling aangekondig is. Hoeveel ander profesieë oor Israel is daar dalk wat ook vir die kerk vervul is, maar nooit aangekondig is nie?

 

Derdens is daar veral ’n aantal profesieë in verband met die terugtog van Israel uit die ballingskap wat as onvervulde profesieë beskou word. Daar is twee groepe waarna ons kortliks kan kyk, dié waarin die profeet skynbaar verwys na ’n ballingskap en terugkeer wat later sal plaasvind as die terugkeer uit die Babiloniese ballingskap, en ook ’n terugkeer uit baie lande terwyl Israel tog net uit Babilon sou teruggekeer het.

 

Hier word veral verwys na profesieë in Sagaria 7 en 10. Wat die laaste groep betref, moet ’n mens onthou dat sommige profete wel na die ballingskap na Babilon verwys as ’n ballingskap na baie lande, sodat hulle ook in dié terme van die terugkeer sou kon praat (Eseg 20:41; 36:19; Jer 30:11; Ps 44:12). En wat ’n later terugkeer ná die bekende groot terugkeer betref, moet ’n mens onthou dat die ballinge nie eens naastenby almal gelyk in die bekende groot terugkeer in 539 teruggekom het nie. Selfs 50 jaar ná hierdie terugkeer, was daar saam met Ester nog soveel ballinge in Babilon dat hulle 75 000 van hulle teenstanders kon ombring (Est 9:16). Die profete het dus nog altyd ná die oorspronklike terugkeer, van toekomstige terugkere gepraat.

 

Daar is dus nie rede om in hierdie profesieë ’n toekomstige ballingskap in te lees met ’n terugkeer wat eers in 1948 na Palestina plaasgevind het en nog steeds nie afgehandel is nie. Anders as die gedetailleerde sisteem van dinge wat in die toekoms moet gebeur, meen ek daar is net oor vier toekomstige dinge regtig duidelikheid:

  • Die wederkoms van Jesus
  • Die opstanding
  • Die oordeel
  • Die nuwe hemel/aarde

 

En as ons onthou hoe vry en onvoorspelbaar profesieë vervul word, sal ons huiwerig wees om die vervulling van hierdie profesieë alte realisties voor te stel. Ons kan van een ding heeltemal seker wees: Ons sal grondige verrassings kry in die vervulling van die uitstaande profesieë.

 

In die volgende gedeelte gaan ons na die uittog uit Egipte kyk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Die Toekoms van Israel (2)

Alle Paaie lei na Jesus: Die Toekoms van Israel (2) – Adrio König

’n Nuwe fase ná die verharding?

Daar is mense wat oortuig is dat die verharding van Israel tydelik is, en dat daar ’n nuwe fase in Israel se geskiedenis kom wanneer al die onvervulde profesieë van die Ou Testament vir hulle vervul sal word. Dit word dikwels aan die Duisendjarige Vrederyk verbind. Kom ons kyk na uitsprake in die Nuwe Testament wat volgens hulle in hierdie rigting wys.

Handelinge 3:19-21 Alhoewel Israel deur Jesus verwerp is omdat hulle Hom as Messias verwerp het (Matt 21:43), word hier ’n deur van genade geopen. Dit is ook presies wat Paulus as hulle toekoms aanvaar: Hulle moet hulle bekeer, dan sal God hulle weer aanvaar en hulle sonde vergewe, en dan wag hulle soos ons almal, op die wederkoms van Jesus (“tye van verkwikking”). Dat hierdie uitdrukking inderdaad na die wederkoms verwys, word duidelik uit die volgende vers waar ons lees dat Jesus “in die hemel moet bly totdat God alles nuutgemaak het”, wat tog seker ’n verwysing na die wederkoms en die nuwe aarde is (Op 21:5), en sekerlik nie na ’n vrederyk op die ou aarde wanneer alles nog nie nuutgemaak sal wees nie.

 

Lukas 21:24 “Sommige sal deur die swaard val en ander as krygsgevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat hulle tyd verby is.” Die belang van hierdie uitspraak van Jesus is dat daar verwys word na die tyd van die heidennasies. Sommige meen wanneer dié tyd verby is, breek daar vir Israel ’n nuwe tyd aan. Daar is egter nie van so iets sprake nie. Net soos in Romeine 11:25 word gepraat van die einde van die tyd van die heidennasies, maar nie van ’n tyd daarna nie. Daar is ook hier geen rede om aan te neem dat daar vir Israel ’n besondere nuwe tyd voorlê nie.

 

Matteus 10:23 “Dit verseker Ek julle: Julle sal sekerlik nie klaar wees met die dorpe van Israel voordat die Seun van die mens kom nie.” Dit is ’n besonder moeilike uitspraak van Jesus. Maar dit beteken in elk geval skynbaar ten minste dat die evangelisasie van Israel tot by die wederkoms van Jesus sal voortgaan. Maar daar word niks oor ’n besondere toekoms van Israel gesê nie.

 

Matteus 19:28 Hiervolgens sal daar ’n tyd kom wanneer Jesus se volgelinge oor Israel sal regeer. Die verwysing na “alles wat nuutgemaak sal word” laat weereens aan die wederkoms dink, en die “regeer” ook. Dink maar net aan Openbaring 22:5 waar volgens die kinders van God op die nuwe aarde tot in alle ewigheid sal regeer.

 

Matteus 23:39 “Maar Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom.” Sommige is oortuig dat ons hier ’n duidelike aanduiding het dat daar vir die volk Israel ’n nuwe en besondere tyd voorlê wanneer hulle Jesus as Messias sal aanvaar. Dit is egter nog steeds moontlik om hierin ’n verwysing na die wederkoms te sien. Ons lees elders dat elkeen die knie sal buig, en elke tong sal bely (nie maar net “erken” nie!): ”Jesus Christus is Here” (Fil 2:10-11). Natuurlik kan die teks ook beteken dat die Jode in Jesus sal glo. Daar het altyd Jode tot bekering gekom, en Paulus het selfs verwag dat die massa Jesus as Messias kan aanvaar. Maar dit het nog nie iets te doen met ’n nuwe tyd in die geskiedenis van Israel wat as bekeerde volk op aarde regeer nie.

 

Matteus 24:32-33 Die teks van die vyeboom wat bot, het altyd die aandag getrek. Daar word beweer dat dit ’n beeld vir Israel is, en dat “bot” beteken dat daar vir die volk ’n nuwe begin sal wees. Hierdie teks is vroeër graag toegepas op die stigting van die staat van Israel in 1948. Dat die vyeboom bot, sou beteken dat Israel terugkeer na sy land.

 

Daar is egter twee probleme in verband met so ’n uitleg. Die eerste is dat Lukas 21:29 lui: “Let op die vyeboom en al die ander bome.” As die vyeboom se bot die terugkeer van Israel na Palestina beteken, moet al die ander volke ook terugkeer na hulle lande van herkoms!? En tweedens is daar geen rede om aan te neem dat die vyeboom en die ander bome hier simbole van volke is nie. Hier is ’n direkte toepassing op die bome self: As die bome bot, is die somer naby. Net so moet die dissipels weet die koms van Jesus is naby as hulle bepaalde tekens sien (Matt 24:33; Luk 21:31).

 

Dit beteken dat ons nie in die Nuwe Testament ’n aanduiding het van ’n besondere toekoms vir Israel as volk nie. Hulle is deur God verwerp uit hul besondere posisie as sy uitverkore volk deur wie Hy die heidene wou naderlok. Ook Paulus het ’n sterk uitspraak hieroor: “Die Jode het nog altyd gesondig, maar nou het hulle die maat van hulle sondes vol gemaak. Nou is dit klaar: die oordeel van God het hulle begin tref” (1 Tess 2:16).

 

Ons moet nie hierdie verwerping van Israel verkeerd verstaan nie. Hulle is nie uit die heil verwerp asof hulle nou almal verlore moet gaan nie. Hulle is as volk verwerp uit die unieke verhouding waarin hulle met God verkeer het om sy spesiale middel te wees deur wie Hy die volke wou naderbring. Maar omdat hulle profeet na profeet verwerp het en uiteindelik dié Profeet, het die Here van hulle afgesien as sy spesiale werktuig om die volke te bereik. Wat egter wel vir hulle oorbly, is om die evangelie te hoor en te glo, in hulle geval in besonder te glo dat Jesus hulle beloofde Messias is. Dan word hulle gered en word hulle weer deel van die volk van God in sy nuwe gestalte: die kerk as al die gelowige Jode en heidene saam.

 

Daar is dus ’n sin waarin die volk Israel en die heidene in dieselfde posisie is. By Paulus lees ons: “Dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie … want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (Rom 10:12-13).

 

As ons besluit dat daar geen besondere toekoms vir Israel as volk is nie, kan ons dieselfde sê van die Duisendjarige Vrederyk wat ná die groot verdrukking en die wederkoms van Jesus sou kom. Sonder om in besonderhede hierop in te gaan, is dit duidelik dat daar nóg in Jesus, nóg in Paulus of enige ander skrywer van die Nuwe Testament se weergawe van die toekoms ruimte is om ’n duisend jaar van vrede op ’n ou, onvernude aarde in te pas. Die enigste verwysing na so ’n tydperk, Openbaring 20:1-7, is so insidenteel en ook so omstrede dat ’n mens nie ’n hele leer daarop kan bou nie. ’n Mens moet dus tot die konklusie kom dat die Nuwe Testament nie so iets leer nie.

 

In die volgende artikel gaan ons na die onvervulde profesieë in die Ou Testament kyk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Die Toekoms van Israel (1)

Alle Paaie lei na Jesus: Die Toekoms van Israel (1) – Adrio König

8.5 Die toekoms van Israel

Vraagstelling

Daar is in die Ou Testament baie beloftes gemaak vir Israel as die ware Godsvolk. Skynbaar is sommige van hierdie profesieë nie vervul nie. In die Nuwe Testament het Israel as die ware Godsvolk ’n nuwe gestalte gekry: alle Jode en heidene wat in Jesus glo. Wat nou van hierdie beloftes? Is daar nog vir die huidige Israel wat in die staat Israel woon en oor groot dele van die aarde versprei is, ’n aparte rol in die toekoms? Wat is die verband tussen die huidige Israel en die ware Godsvolk?

Romeine 9-11 – Paulus se toekomsvisie vir Israel Dit is goed om by hierdie klassieke hoofstukke oor Israel te begin. Maar ’n mens moet netjies onderskei tussen drie betekenisse van “Israel”.

  • Israel as die ware Godsvolk van die Ou Testament.
  • Die nuwe vorm van hierdie Godsvolk Israel in Paulus se tyd as die vereniging tussen alle Joodse gelowiges en alle heidense gelowiges wat almal “groei” op die ou stam van die mak olyfboom, die ware Godsvolk van die Ou Testament.
  • Israel as die Jode wat Jesus verwerp het en van wie die koninkryk weggeneem is (Matt 21:43), die takke wat afgebreek is van die mak olyfboom, maar weer teruggeënt kan word as hulle Jesus as Messias aanvaar. Die huidige “Israel” as staat en volk is deel hiervan.

 

Paulus sit in Romeine 9 met die probleem dat die heidene die kerkbanke volsit, terwyl Israel die Messias verwerp het (9:1-6). Het God se beloftes aan Israel dan gefaal? (9:7) Sy antwoord is: Nee. En dan begin hy met ’n aantal onderskeidings om dit te verduidelik. Nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie. Daar is ’n duidelike onderskeid tussen Isak en Ismael, en weer tussen Jakob en Esau. Hierdie besluite lê volkome in Gods hand, want dit hang nie van ’n mens se wil en strewe af nie, maar van God wat barmhartig is. In die geval van die farao sien ons Hy ontferm Hom oor wie Hy wil, en Hy verhard wie Hy wil (9:6-18).

 

Oor wie ontferm Hy Hom? Oor die heidene wat in Jesus glo. En wie verhard Hy? Vir Israel wat die Messias verwerp (9:20-33). Wat egter nou in hierdie laaste gedeelte gebeur, is dat hy ’n hele reeks profesieë wat in die Ou Testament vir Israel uitgespreek is, op die heidene toepas. En hy sê dit ook uitdruklik in 9:24.

 

Dit beteken dat die beginsel klaar vasgestel is: Profesieë wat vir Israel uitgespreek is, kan vir die heidene vervul word, en hoef dus nie noodwendig vir Israel-as-volk vervul te word nie. Daarna behandel hy dan in Romeine 11 die toekoms van die Israel wat die Messias verwerp het. Omdat Israel hul Messias verwerp het, het hulle gestruikel, geval, en is hulle verwerp (11:11, 12, 15). Hy verduidelik dit dan met die beeld van die twee olyfbome wat reeds behandel is (hoofstuk 8.3).

 

Hieruit kom die wonderlike boodskap dat hierdie Israel se verwerping nie finaal is nie. As hulle die evangelie glo en Jesus as hul Messias aanvaar, sal hulle teruggeënt word. Intussen duur hulle verharding voort “tot dat die volle getal van die heidennasies in die koninkryk ingegaan het; en op hierdie manier sal die hele Israel gered word” (11:25-26).

 

Dis goed om net mooi te kyk wat hier staan. Hier word nie gesê wanneer “die hele Israel” gered sal word nie, maar hoe: “Op hierdie manier.” Hoe is dit? Só dat die verharding van die Israel wat Jesus verwerp het, voortduur solank die heidene tot geloof kom. Dit beteken dat hulle verharding tot die einde sal voortduur, maar dat oor hierdie hele tydperk sommige van hulle gered sal word.

 

Maar kan dít dan “die hele Israel” wees? Ja, onder “die hele Israel” bedoel Paulus nie kop vir kop alle Israeliete nie, net soos “die volle getal heidene” nie kop vir kop alle heidene is nie. Trouens daar is ’n vreemde beskouing dat die volk Israel (dus al die Israeliete wat iewers in die toekoms op ’n bepaalde oomblik sal leef) tot bekering sal kom nadat die heidene ingegaan het (wat nie hier staan nie), maar al die Israeliete wat iewers in die toekoms op ’n bepaalde oomblik sal leef, is tog nie “die hele Israel” nie, maar net een bepaalde geslag van die volk. Hier word niks gesê oor wat gebeur nadat die volle getal heidene ingegaan het nie.

 

En die hoofstuk loop uit op die merkwaardige dubbele “nou”: “Net so gaan dit ook met die Jode: omdat God Hom oor julle (heidene) ontferm het, het hulle nou ongehoorsaam geword. Maar dit het gebeur sodat hulle self ook nou ontferming kan vind” (11:31). Dit gaan dus glad nie vir Paulus om die (verre) toekoms nie, maar om die tyd waarin hy geleef het. In sy tyd het die Jode ongehoorsaam geword én moet hulle terugkom en ontferming vind. En dit word nog duideliker uit die volgende gegewens in hierdie hoofstuk.

 

Paulus gee vroeër in die hoofstuk sy siening van die toekoms van die Israel wat Jesus verwerp het. Die heidene wat tot geloof kom, moet hulle jaloers maak. Dit is trouens die doel van sy sending  onder die heidene. Só wil hy die massa Jode in sy eie tyd tot bekering bring:

  • Die massa
  • Maklik
  • In sy eie tyd

Dit is Paulus se visie vir hierdie Israel (11:11-15).

 

Eerstens wil hy die massa jaloers maak en red. Dit is die betekenis van “sommige” in 11:14. Dit is ’n tipiese understatement, en uit 11:17 en 3:3 waar dieselfde Grieks gebruik word, is dit duidelik dat dit die groot meerderheid beteken.

Tweedens is hy seker dit sal maklik wees, want hulle is die natuurlike takke. Natuurlike takke ent baie makliker op die natuurlike stam as wilde takke. Kyk na die “hoeveel te meer” (11:24). Israel se hele geskiedenis is vol van die werk van God. Die heidene weet niks van Hom nie. Natuurlik sal Israel dan veel makliker tot bekering kom, is Paulus se argument.

Derdens verwag Paulus hierdie bekering in sy eie tyd, trouens dit is presies waarvoor hy homself inwerp. “Alhoewel ek die apostel vir die heidennasies is, strewe ek in my bediening daarna om op een of ander manier my eie mense jaloers te maak en sommige (die massa) van hulle te red” (11:13-14). Dit klop presies met “op hierdie manier” (11:26), waar nie “dan” of “daarna” staan nie.

 

Paulus se toekomsvisie vir die Israel wat Jesus verwerp het, is dat, terwyl hulle verharding voortduur, die meeste van hulle deur die heidenbekerings jaloers gemaak sal word en Jesus as Messias sal aanvaar, sodat “die hele Israel gered kan word” terwyl die heidene ingaan.

 

Sy verwagting is dus nie ’n toekomstige apokaliptiese bekering net van die laaste geslag Jode nie – hoe kan dit “die hele Israel” wees? – maar ’n voortgaande bekering van die massa wat op staande voet deur die heidene jaloers gemaak word. En intussen het dit nie gebeur nie! Ja, maar hierdie “waarom” sal die Here eendag van ons, heidenchristene, vra.

 

In die volgende gedeelte gaan ons na ‘n moontlike nuwe fase na die verharding. Ons gaan na ander uitsprake in die Nuwe Testament kyk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König