Ambassadeurs vir Christus (4)

Meaninglessness does not come from being weary of pain, but meaningless comes from being weary of pleasure. We have exhausted ourselves in this indulgent culture – G. K. Chesterton

Ambassadeurs vir Christus (4)

Wat beteken dit as ons sê dat ons ambassadeurs vir Jesus Christus is? Ons gaan ‘n hele paar blogs hieraan afsonder.  As basis gaan ons van 2 Korintiërs 5:11 – 21 gebruik maak.

Die boodskap van die ambassadeur

Wat moet die ambassadeurs van Christus spesifiek hanteer? In die Skrif definieer God hierdie boodskap baie duidelik.

  • Ons moet oor God praat

Ons bediening moet God-gesentreerd wees en op mense fokus. Ons moet verduidelik wie hierdie God is, want die moderne kultuur waarin ons leef, weet nie meer wie Hy is nie. Ons moet sy storie vertel; ons moet beklemtoon dat Hy absolute gesag het. Dit sal nie sommer aanvaar word nie … maar ons boodskap gaan oor God. Daar is iets teneerdrukkend oor ‘n kultuur – soos die postmodernisme –  wat niks behalwe homself het nie. Ons kan oor God, wat daar is, praat en om Hom te ken, is die ewige lewe. You have made us for yourself, and our hearts are restless until they find their rest in you (Augustinus).

  • Ons moet oor Jesus Christus praat

Ons word spesifiek gestuur om te vertel wat God in Jesus Christus gedoen het. Die primêre doel van verkondiging is nie dat mense Christelike leerstelling verstaan en ken nie, maar eerder dat hulle Jesus Christus ken en verstaan. Jesus Christus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as ‘t ware aan die kruis kon sien hang (Galasiërs 3:1). As ons Jesus Christus verheerlik, sal mense in hulle geloof groei, want hulle sal sien hoe betroubaar Hy is. Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus (Galasiërs 6:14).

  • Ons moet oor sonde praat

Die boodskap van versoening bestaan daarn dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie (5:19). Hoe het God dit gedoen? Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees (5:21). Ons het opdrag gekry om hieroor te praat. Ons kan dit nie vervang met ‘n ander boodskap wat ons dink meer toepaslik is nie. Ons kan nie ‘n evangelie sonder sonde hê nie. Dan verkondig ons ‘n ander evangelie. As ons sê dat sonde vir God ‘n belangrike saak is, sal postmoderniste sê dat ons nou oor ‘n klein sake opgewonde word – dit is nou nie iets wat ons moet ontstel nie. Vir meeste mense in ons samelewing beteken die woord sonde niks meer nie – dit is skadeloos. In die Bybel beteken sonde dat ek vir God aanstoot gee en dit is hoekom dit ernstig is. Hierdie verlies van die gevoel van sonde is deels die gevolg van ons verlies aan ‘n kennis van God.

  • Ons moet praat oor versoening

Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou (5:18 – 19). Ons moet mense hulle sonde laat besef om hulle te help om die betekenis van Jesus Christus en sy offer te verstaan.

  • Ons moet van hoop praat

Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom (5:17). Ons kry baie pessimistiese mense in ons wêreld. As daar geen bron van hoop buite ‘n gebroke wêreld is nie, waar sal jou hoop dan vandaan kom? Maar ambassadeurs vir Christus kan hierdie wêreld vertel van ‘n God wat stukkende lewens weer kan heelmaak – dit is die hoop van die evangelie. Die evangelie bied baie meer as enige selfontwikkelingsprogram.

Dit is die boodskap wat aan God se ambassadeurs toevertrou is. Volgende keer gaan ons na die doel van die ambassadeur kyk.




Ambassadeurs vir Christus (3)

While the doctors have been disputing, the disease has been spreading and the patient dying – J. C. Ryle oor die kerk    

 

Ambassadeurs vir Christus (3)

Wat beteken dit as ons sê dat ons ambassadeurs vir Jesus Christus is? Ons gaan ‘n hele paar blogs hieraan afsonder. As basis gaan ons van 2 Korintiërs 5:11 – 21 gebruik maak.

Die verantwoordelikhede van ‘n ambassadeur

Die ambassadeur se rol hang af van die belangstelling wat sy regering in die mense na wie hy gestuur word, het. As ambassadeurs van Christus word ons na ‘n “land” waarin Christus groot belangstelling het, gestuur.

As die Here geen woord vir die mense om ons te sê het nie, het ons ook niks om te sê nie. Die mense om ons is die daaglikse fokus van die Here – Hy het ‘n woord te sê vir hulle en Hy vertrou hierdie kommunikasie aan ons toe. Die ambassadeur moet die stanpunte en beleid van die regering wat hy verteenwoordig akkuraat kommunikeer. Hoekom? Sodat die mense met wie hy praat in ‘n goeie verhouding met die land wat hy verteenwoordig sal kom en bly. Om aan hierdie verantwoordelikheid te voldoen is twee dinge nodig:

  • Die ambassadeur moet soos een wat onder gesag staan, luister

Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou (5:19)

‘n Doeltreffende ambassadeur is een wat getrou kommunikeer dit wat hy gegee is om te sê. Sy agenda is vir hom neergeskryf. Sy primêre belang is die belange van sy regering. Hy kan nie sy eie siening gee nie. Die kerk is ‘n ambassade – dit moet sensitief wees vir die kultuur waarin hy werk, maar onderdanig aan die gesag van die regering vir wie hy werk. Die wil van sy regering bepaal sy program, prioriteite en beleid. Die ambassadeur moet goeie kommunikasie met die regering wat hom gestuur het, behou. Hy gee aandag aan dokumente wat aan hom gegee word; hy bestudeer hulle en dan kommunikeer hy hulle aan die mense om hom op so ‘n wyse dat hulle dit verstaan.

God het vir ons sy beleidstandpunt gegee – sy Woord. Ons moet dit bestudeer om te verstaan watter effek dit op ons eie optrede en op die kultuur om ons het. Dan moet ons die boodskap uitdra na die mense om ons op so ‘n manier dat hulle dit verstaan. Ons God praat. Hy het dit wat Hy gesê het aan ons toevertrou Ons moet luister wat God vir ons kultuur sê met ‘n oop Bybel. Die ambassadeur lees die teks met twee vrae in sy gedagtes: Wat sê die regring? En: Hoe kan ek dit oordra op so ‘n manier dat die mense dit sal verstaan? As die ambassadeur ophou werk onder die gesag van sy regering kan hy nie meer ‘n nuttige bydrae maak nie. Hy mag gewild wees, maar hy is irrelevant – selfs gevaarlik.

  • Die ambassadeur moet praat soos een wat gesag gekry het

Alle gesag word gegee – ons ontvang dit. Ons sien dit pragtig beskryf in die gedeelte van die genesing van die offisier se slaaf: Ek is ook ‘n mens wat onder gesag staan en ek het soldate onder my. Vir een sê ek: ‘Gaan daarheen!’ en hy gaan; en vir ‘n ander: ‘Kom!’ en hy kom; en vir my slaaf: ‘Doen dit!’ en hy doen dit (Matteus 8:9). Hierdie man was ‘n offisier en in sy amptelike hoedangheid praat hy met al die gesag  van Rome. Hy het ook besef dat as Jesus praat Hy met die gesag van God praat. Dieselfde geld vir ambassadeurs van Christus. As ons sy boodskap getrou oordra, is dit God wat deur ons ‘n beroep op julle doen (5:20).

Vals profete gee hulle eie menings en nie dié van God nie. Hulle het die ongemaklike waarhede oor die oordeel van God vermy. Hulle het  van vrede gepraat waar daar geen vrede was nie. Van watter waarde is ‘n ambassadeur wat nie vir die mense om hom sê wat sy regering werklik sê nie. ‘n Ambassadeur wat nie die Woord wat aan hom gegee is, oordra nie, is ‘n gevaar vir die mense.

Volgende keer gaan ons kyk na die boodskap van die ambassadeur.




Ambassadeurs vir Christus (2)

But God’s commandments drive us to our neighbor, that we may thereby benefit others to their salvation – Martin Luther

Ambassadeurs vir Christus (2)

Wat beteken dit as ons sê dat ons ambassadeurs vir Jesus Christus is? Ons gaan ‘n hele paar blogs hieraan afsonder. As basis gaan ons van 2 Korintiërs 5:11 – 21 gebruik maak.

Die ambassadeur se profiel

As jy ‘n ambassadeur moet soek, na watter kwaliteite sal jy soek?

  • Lojaliteit

Dit is die belangrikste kwalifikasie waarna jy soek. Die groot probleem van ‘n ambassadeur is dat jy so vasgevang word in die vreemde kultuur om jou dat jy skoon vergeet dat jy juis in daardie vreemde kultuur geplaas is om ‘n ander kultuur te verteenwoordig. Hy is aanspreeklik; sy regering gaan hom evalueer. Paulus het dit besef: Ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil. Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn (5:9 – 10).

Hierdie is die eerste beginsel van bediening: eendag staan ek elkeen alleen  voor Jesus Christus wat my uitgestuur het en ek sal moet rekenskap gee van my bediening. Dit is nie sommer iets wat ons ligtelik kan opneem nie: Ons weet wat dit beteken om die Here te dien (5:11). ‘n Ambassadeur wat sy aanspreeklikheid vergeet, stuur op ‘n ramp af. Die wete dat ek Christus se ambassadeur is, help my om my prioriteite en aktiwiteite te bepaal.

  • Integriteit

Integriteit is baie belangrik. ‘n Ambassadeur sonder integriteit verlaag die reputasie van sy regering in die oë van die mense van die land waarheen hy gestuur word. Maar, tweedens, die hele doel van die stuur van ‘n ambassasdeur is dat deur die opbou van persoonlike verhoudings daar ‘n brug van verstaan en kommunikasie tussen die twee lande gebou word. Die doeltreffendste kommunikasie tussen lande is persoonlik, nie e-posse nie. God ken ons bedoelings , en ek vertrou dat julle ook van ons bedoelings oortuig is (2 Korintiërs 5:11).

  • Nederigheid

‘n Ambassadeur verteenwoordig nie homself nie, maar die regering wat hom gestuur het. Hy moet sy persoonlike invloed gebruik, maar nie in sy eie belang nie – in belang van sy regering. Paulus verstaan dit: Ons prys onsself nie opnuut by julle aan nie (5:12). Hy is nie besig om ‘n persoonlike magsbasis op te bou nie. Dit vereis nederigheid om JC in ‘n vyandige samelewing te verteenwoordig.

  • Geestelikheid

‘n Ambassadeur sal die kernwaardes van die kultuur wat hy verteenwoordig uitdruk. Watter eienskappe verwag ons om in die lewe van ‘n ambassadeur van Jesus Christus  te kry?  Paulus noem hier twee soorte mense wat betrokke was by Christelike bediening:

Dié wat trots is op die uiterlike en nie op die innerlike nie; en

Diegene wat oor die hart spog.

As die wêreld vra wat ons het, is dit maklik om oor ons programme en getalle te spog. Dit is goed; dit is goed wat ons kan sien. Maar wat van die hart? ‘n Ambassadeur moet ‘n goeie persoonlike uitdrukking wees van wat hy aanbeveel.

  • Liefde

Die doeltreffende ambassadeur kombineer patriotiese lojaliteit aan sy eie regering met liefde vir die mense na wie hy gestuur is. Luister hoe stel Paulus dit: Die liefde van Christus dring ons (5:14). Die dryfkrag vir sy bediening is nie sy liefde vir Christus nie, want dit kan varieer. Die dryfkrag vir sy bediening is die liefde wat God vir sy mense het – die mense na wie Hy gestuur is.

Lojaliteit, integriteit, nederigheid, geestelikheid en liefde saam wys vir ons dat die eerste ding wat nodig is as jy enige kultuur wil bereik, karakter is. ‘n Postmoderne wêreld sal nie ons woorde hoor voordat hulle aandag nie deur die gehalte van ons lewens vasgevang is nie.

Volgende keer gaan ons na die verantwoordelikhede van ‘n ambassadeur kyk.




Ambassadeurs vir Christus (1)

This shift from “accepting the existence of different views” to “acceptance of different views,” from recognizing other people’s right to have different beliefs or practices to accepting the differing views of other people, is subtle in form, but massive in substance. To accept that a different or opposing position exists and deserves the right to exist is one thing; to accept the position itself means that one is no longer opposing it. The new tolerance suggests that actually accepting another’s position means believing that position to be true, or at least as true as your own. – D.A. Carson

Ambassadeurs vir Christus (1)

Wat beteken dit as ons sê dat ons ambassadeurs vir Jesus Christus is? Ons gaan ‘n hele paar blogs hieraan afsonder. As basis gaan ons van 2 Korintiërs 5:11 – 21 gebruik maak.

Ons tree dus op as gesante van Christus (5:20). Hier gee Paulus vir ons ‘n beskrywing van die aard van die bediening van Christene – ons is Christus se gesante/ambassadeurs. Christus het ons gestuur om in ‘n bepaalde kulturele omgewing om sy onthalwe op te tree.

Meeste van ons is gewoond om in ‘n kultuur te werk waar die basiese boustene van die evangelie bekend is – al word dit nie geglo nie. Maar nou kry ons ‘n nuwe opdrag: om Christus se ambassadeurs te wees in ‘n postmoderne wêreld.

‘n Ambassadeur is ‘n verteenwoordiger van die regering. Hy dien in ‘n vreemde land waar hy die beleid van sy land moet kommunikeer op so ‘n wyse dat die mense wat hom hoor in ‘n goeie verhouding met die land wat hy dien, sal wees. Dit is nie maklik om ‘n ambassadeur vir Christus te wees in ‘n postmoderne wêreld nie. Hulle het nog nooit die land wat ons verteenwoordig besoek nie; sommige aanvaar nie die gesag van die land wat ons verteenwoordig nie; ander kan nie insien hoe die beleid van die land wat ek verteenwoordig hulle raak nie. Daar is selfs mense wat glo dat daar nie iets soos regeringsbeleid kan wees en selfs as daar is, het ons nie die vermoë om dit akkuraat te beskryf nie. Die ambassade is oop en ons taak is om Christus as ambassadeurs in hierdie postmoderne land te dien.

Volgende keer gaan ons na die ambassadeur se profiel kyk.