Amen. Wat beteken dit?

Better than a thousand days of diligent study is one day with a great teacher. -Japanese spreekwoord

Amen. Wat beteken dit?

Amen beteken nie: die gebed is nou klaar nie. Nee, dit beteken iets besonders. Amen beteken: laat dit so wees. As jy jou gebed met  Amen afsluit sê jy in werklikheid: “Ja, Here, laat dit so wees. Volgens u wil, mag dit so wees.”

 

 

Vraag 129 in die Heidelbergse Kategismus vra: Wat beteken die woord Amen? Die antwoord: Amen wil sê: dit is waar en seker. Want my gebed is baie sekerder deur God verhoor as wat ek in my hart voel dat ek dit van Hom begeer.

In sy genade antwoord God ons gebede baie beter as wat ons hulle bid. Amen getuig van ons begeerte dat sy wil gedoen word en van sy belofte dat dit wel sal gebeur.




Die Groot Geloofswoordeboek: Amen

Die Groot Geloofswoordeboek: Amen

“Amen” is, net soos “halleluja”, ‘n Hebreeuse woord wat nooit vertaal is nie. Selfs in die Nuwe Testament, wat in Grieks geskryf is, is die woord onvertaald behou en net in Griekse letters geskryf, net soos dit in ons Bybelvertaling in ons (Arabiese) letters geskryf is.

Amen het die betekenis van iets wat vasstaan en geldig is. Wan­neer Jesus sy woorde met “amen” inlui (vertaling: “dit ver­seker Ek julle”), het dit die betekenis van vastheid, waarheid en gel­digheid. Dit word duidelik uit die feit dat Lukas die Griekse woord vir “waarheid” gebruik waar Matteus “amen” het (Matt 16:28; Luk 9:27). Jesus benadruk dus die sekerheid van sy woorde en gee daar­aan gro­ter gesag.

Soms is amen gebruik om instemming te betuig (1 Kor 14:16). Ons heg eintlik nie meer dié betekenis daaraan as ons ná ons gebede “amen” sê nie. Vir ons is dit nie veel meer as: “Ek is klaar” nie. Maar oorspronklik het dit beteken dat die een wat gebid het, veronderstel dat die gemeente die gebed sal bevestig en dat hy of sy dit dus namens hulle uitspreek. Oor die algemeen het amen nog hierdie betekenis van instemming in sekere denominasies se eredienste waar mense selfs wanneer die persoon nog bid, die gebed hardop met amen bevestig.

Outeur: Prof Adrio König