Die Groot Geloofswoordeboek: Die Ampte

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Ampte

Amp • Predikant (leraar) • Pastoor • Priester

• Ouderling • Diaken • Amp van die gelowige

Amp

Die woord “amp” kom nie in die Bybel voor nie. Dit word in die meeste historiese kerke gebruik om bepaalde leiersposisies in die gemeente aan te dui. In die *Gereformeerde tradisie word onderskei tussen twee soorte ampte: besondere ampte en die amp van die gelowige.

Besondere ampte

Onder die besondere ampte tel predikant, ouderling en diaken. In die Gereformeerde Kerke vorm hulle saam die *kerkraad, wat die regsliggaam van die gemeente is. Tradisioneel word die pre­dikant met die profeet vergelyk wat die woord van die Here aan die volk verkondig het, die ouderling met die koning wat na­mens die Here oor die volk regeer het, en die diaken met die priester wat die diens in die tempel verrig het.

 

Predikant (leraar)

Die werk van die predikant (leraar – wat nie ‘n goeie be­skry­wende woord vir hierdie amp is nie) het dan hoofsaaklik te doen met die verkondiging van die Woord, wat die bediening van die sakramente (doop en nagmaal) insluit.

 

Ouderling

Die werk van die ouderling is om toesig oor die gemeente te hou, wat toesig oor die predikante insluit, en veral toesig oor die suiwer­heid van hul leer en lewe.

 

Diaken

Die werk van die diaken is om na die nood van lidmate om te sien.

In die tradisionele vorm van die Gereformeerde Kerke het hier­die ampte die hele bedieningstruktuur uitgemaak. Die ge­meen­te is net bedien, hulle het nie self ‘n bediening gehad nie.

In teorie is hierdie ampte almal gelyk sodat die een nie meer ge­sag as die ander het nie. In die praktyk het die predikant ge­woon­lik meer gesag. Die teoretiese gelykheid van die beson­dere ampte staan teenoor die hiërargiese ampstruktuur van die sogenaamde Hoog­kerklike denominasies, soos die *Katolieke Kerk en die *An­glikaanse Kerk, waar die biskop hoër gesag as die priester het. In die onafhanklike Charismatiese kerke is daar ook ‘n hiërar­gie om­dat daar ‘n enkele leiersfiguur is.

In sekere kerke is die neiging deesdae eerder in die teen­oor­gestelde rigting: om liewer van “dienste” of “bedienings” as van “ampte” te praat sodat almal dan gelyke gesag en verant­woor­de­likheid het.

 

Amp van die gelowige

Die amp van die gelowige beteken dat elke gelowige direk kontak met God het en nie afhanklik is van tussengangers soos die besonde­re ampte (predikant of pastoor of priester) nie. Dit dui ook op die verantwoordelikheid van elke lidmaat om in die gemeente diens te lewer en na buite ‘n getuie van Jesus te wees.

Die historiese kerke wat uit die *Kerkhervorming voortgekom het, probeer die gewone gelowiges (die amp van die gelowige) ster­ker na vore bring nadat daar tradisioneel in die *Katolie­ke Kerk ‘n duidelike onderskeid gemaak is tussen die geestelike vol­wassen­heid van die besondere ampte (biskop, priester) en die sogenaamde “geestelikes” (the religious) aan die een kant, en die lid­­mate (die leke, laity) aan die ander kant. Hulle is as geestelik on­volwasse beskou.

Die leer van die amp van elke gelowige is ‘n pragtige Bybelse leer. Dit hou verband met die *Liggaamsmodel (1 Kor 12) van ge­meen­tewees, die gedagte dat elke gelowige ‘n soldaat vir Christus is (2 Tim 2), of ‘n steen in die tempelmuur (1 Pet 2:5). Die probleem is dat dit nie in die kerke van die Hervorming tot sy reg gekom het nie. Die verwringing van die *Herder-kudde-model het van die lidmate toeskouers gemaak wat bedien moet word, en nie mense wat ander met hulle gawes bedien nie.

 

Woorde gemerk met ʼn * sal later meer volledig bespreek word.

 

Outeur: Prof. Adrio König

 




Die Here het vir my ʼn spesiale werk (Amp(te))

Die Here het vir my ʼn spesiale werk (Amp(te))

Die tipiese kerkwoord “amp” word gebruik vir ʼn spesiale posisie wat iemand in die kerk het met die oog op spesifieke dinge wat gedoen moet word.

Die “ampte” verskil van kerk tot kerk. So kry ʼn mens byvoorbeeld dominees/pastore, priesters, diakens, ouderlinge, biskoppe, en so aan. In van die protestantse kerke word die “ampte” gewoonlik beperk tot drie, naamlik ouderlinge, diakens en dominees/pastore. Dominees moet sorg dat die Woord van God gereeld en reg verkondig word. Ouderlinge moet kyk dat alles in die gemeente reg en goed gebeur. Hulle moet regmaak as daar iets verkeerd gaan. Diakens moet die materiële sake van die gemeente bestuur, byvoorbeeld deur geld in te samel en om die armes te help.

Daar is deesdae die gevoel dat daar meer “ampte” as net drie in ʼn gemeente moet wees. Elke ding wat in die gemeente gebeur, is tog belangrik en daarom moet ʼn mens nie die een meer belangrik as die ander laat lyk deur die een “‘n amp” te maak en die ander nie. Daar is tog baie meer as drie take in die gemeente, byvoorbeeld, daar is mense wat die jongmense oplei (kategete), of ʼn ou of meisie wat leiding neem onder die jongmense van die gemeente. Hulle beklee mos ook spesifieke posisies in die gemeente en doen spesifieke dinge vir die Here. Hulle werk is tog nie minder belangrik as die ouderling of diaken s’n nie.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy