Die antichris

Die antichris – Francois Malan

‘n Leser vra:

Ek verneem graag,as die antichris eendag kom, in watter taal gaan hy met ons kommunikeer. Daar is baie verskillende volke en nasies, dialekte. Hoe gaan hy met almal kommunikeer? Is daar iewers in die Bybel enige bewyse in watter taal gaan hy met ons kommunikeer?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In die Bybel word geen taal genoem vir die antichris nie.

Die woord of naam ‘antichris’ beteken ‘teenstander van Christus’ of  ‘in die plek van Christus’. Die woord kom slegs vier maal in die Nuwe Testament voor, naamlik in 1 Johannes 2:18,22; 4:3; en in 2 Johannes 7. Die woord word ook nie in die Griekse literatuur voor die koms van Christus gebruik nie. Dit lyk asof Johannes self die woord geskep het. Die ander Bybelskrywers ken ook nie die woord nie.

Die gedagte van ‘n stryd van die wêreldmagte teen God en sy volk kom reeds in die Ou Testament voor, vgl. Eseg.38:2-3 se Gog en Magog; Dan.9:26,27; 11:31; 12:11 die ander regeerder wat ‘op die een hoek van die tempel ‘n ding sit wat ‘n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig’ – wat waarskynlik verwys na Antiogus Epifanes wat in 168 v.C. ‘n altaar vir die Griekse hoofgod Zeus op die tempelterrien opgerig het. Jesus verwys daarna in Mark.13:14, vgl.Matt.24:15, as ‘n tipe van die weerstand wat teen Jesus en sy volgelinge gevoer sal word.

Die idee van ‘antichris’ verskyn ook in Paulus se beskrywing van ‘die wettelose mens’ in 2 Tes 2:1-12. In Openbaring word van beeldspaak gebruik gemaak waar verwys word na die draak (Openb 12), die dier wat uit die see opkom (Open.13) en die dier wat uit die aarde opkom, wie se  getal 666 is (Openb 13:18).

1 Joh 2:18 praat ook van baie antichriste wat nou reeds daar is. Dit is die bewys dat ons reeds in die laaste dae leef, tussen die eerste en tweede koms van Christus.

Volgens 1 Joh 4:3 is elkeen wat nie bely dat Jesus die verwagte Christus (in Grieks), Messias (in Hebreeus), Gesalfde van God is nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie (m.a.w. die Heilige Gees wat in ons kom woon – vgl. 2:20-21 gesalf met die Heilige Gees). So ‘n lidmaat wat nie meer kan bely dat Jesus waarlik mens is en ook waarlik God is nie, het die gees van die antichris – staan buite Christus en is eintlik teen Christus.          

2 Joh 7 verwys juis na sulke lidmate: Daar het baie misleiers te voorskyn gekom in die wêreld (letterlik: wat uitgegaan het in die wêreld in). Hulle erken nie dat Jesus die Christus is wat mens geword het nie. Dit is wat ek met ‘die misleier, die antichris, bedoel. 

So sê 1 Joh 2:22 ook: Wie is die leuenaar anders as hy wat nie wil erken dat Jesus werklik die Christus is nie? Hý is die antichris, hy wat nie die Vader en die Seun wil erken nie. Wie nie die Seun erken nie, verwerp ook die Vader; wie die Seun erken, erken ook die Vader – met ander woorde, iemand wat Jesus nie erken nie, erken nie dat Jesus God is nie.

Almal wat nie glo dat Jesus ware mens en ware God is nie, is ‘n antichris. Sulke mense kom in al die dele van die wêreld en onder alle tale van die wêreld voor, ook onder mense van jou eie taal. 1&2 Johannes is nie so bekommerd oor ‘n antichris wat voor die wederkoms van Christus sal verskyn nie, as wat Johannes bekommerd is oor lidmate wat nou reeds óf Christus se mensheid óf sy godheid verwerp.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Die Eindtyd (2)

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Eindtyd (2)

  • Die tekens van die tye

Die tekens van die tye is die tekens van die nabye wederkoms van Christus. Sowel Jesus as die skrywers van die Nuwe Tes­tament noem ‘n aantal gebeurtenisse wat sal dien as tekens dat sy koms naby is. Maar let mooi op na hierdie formulering: Tekens dat sy koms naby is, nie tekens wanneer sy koms naby sal wees nie.

Wat beteken dit? Moes die tekens mense eendag in die verre toekoms help om te bereken wanneer sy koms naby sal wees, of moes die tekens die eerste Christene daagliks daaraan herinner dat sy koms (alreeds in hulle tyd) naby was? Kom ons kyk.

Daar is algemene tekens soos oorloë, aardbewings, honger­sno­de, verdrukking, geloofsafval (Matt 24:3 ev). Maar daar is ook meer spesifieke tekens soos die antichris, die Jode en die hei­densending.

Die algemene tekens is dinge wat deurlopend in elke ge­slag ge­beur: oorloë, aardbewings, hongersnode, verdrukking, ge­loofs­afval. Hierdie tekens sou dus moeilik kon dien as aandui­ding wanneer sy koms naby sou wees. Elke geslag beleef hierdie tekens.

Daar is ‘n taamlik algemene oortuiging onder baie Christene dat hierdie tekens wel altyd voorkom, maar dat dit kort voor die wederkoms intensiewer sal word. Maar dit is ‘n ver­leent­heids­op­lossing. Jesus sê nooit iets daarvan nie, en indien dit wel so is, hoe intensief moet dit dan word voordat ons daaruit moet aflei dat die koms nou naby is?

Dit lyk dus beter om Jesus se woorde net so te aanvaar soos dit daar staan: “As julle (sy dissipels) … ” Dit was bedoel as herinnering aan sy dissipels (en daarom ook aan elke geslag na hulle) dat sy koms naby is. Dit was nie bedoel as hulp om te bereken wanneer sy koms naby sou wees nie.

Deur die eeue heen was hierdie tekens dus ‘n staande herinne­ring daaraan dat die Here enige oomblik kan kom. Hulle funksie is inderdaad juis om ons voortdurend gereed te hou, presies soos Jesus dit oorspronklik gestel het: “Om dieselfde rede moet julle ook elke oomblik gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie” (Matt 24:44).

Maar wat dan van die spesifieke tekens: die antichris, die Jo­de en die heidensending? Sou hierdie tekens vir ‘n mens ‘n aanduiding kon gee van wanneer Christus se koms naby sal wees? Die vraag self is natuurlik in terme van die Nuwe Tes­ta­ment klaar ‘n vreemde vraag. As Christus se koms al in die tyd van die Nuwe Testament naby was, is dit dan sinvol dat daar sekere tekens is om te help bereken wanneer dit naby sal wees? Maar kom ons kyk een vir een na hierdie tekens.

 

Antichris (*Chiliasme)

“Antichris” is ‘n Griekse woord wat in die Bybel net in die eer­ste en die tweede brief van Johannes voorkom. Dit verwys na ‘n figuur in die eindtyd wat radikaal teenoor Christus (anti-Christus) staan en die gelowiges vervolg. Volgens die briewe van Johannes was daar alreeds in sy tyd baie “antichriste” of misleiers en vyande van Christus wat die gelowiges vervolg het (1 Joh 2:18-25; 4:1-3; 2 Joh v 7-9).

Die meeste Christene stem saam dat daar wel ook op an­der plek­ke in die Bybel van hierdie figuur sprake is, onder andere 2 Tessa­lonisense 2:3-12 en Openbaring 13.

Onder Christene is daar verskillende sienings oor die anti­chris. Die Chiliaste en die Dispensasionaliste in die algemeen is oortuig dat ons eintlik nou eers in die eindtyd leef en dat die anti­christe waarvan Johannes in sy briewe skryf, maar net voorlopers was van die eintlike antichris wat nog moet kom. Hierdie antichris sal ‘n politieke wêreldheerser wees wat die gelowiges stelselma­tig en vreeslik sal vervolg in wat bekend staan as die Groot Verdruk­king (*Chiliasme), wat sewe jaar lank sal duur.

Dit is egter goed om noukeuriger na hierdie saak te kyk. Dit wat Johannes uitdruklik skryf, maak dit onmoontlik om in hierdie antichriste maar net voorlopers van die eintlike antichris te sien. Johannes skryf dat dit die laaste uur is. Dus sal hy nie van voorlopers skryf nie. As hy in die laaste uur skryf, sal hy tog seker oor die eintlike antichris skryf. En dan herhaal hy ook nog dat die feit dat daar reeds in sy tyd baie antichriste is, bevestig dat hulle in die laaste uur leef. Dan kan hierdie antichriste mos nie voorlopers wees nie. Die feit dat hy van antichriste (meervoud) praat, is nie vreemd nie. Ons weet dat daar verskillende prentjies van die antichris in die Nuwe Testament is: ‘n godsdienstige leier (2 Tess 2), ‘n politieke leier (Op 13) en mense (meervoud!) wat in die gemeente was, maar die gemeente verlaat het (1 Joh 2:19 ev).

Verderaan in hierdie deel skryf Johannes nog meer oor die antichris. En dan blyk dit dat dit juis om meer as een persoon gaan, want elkeen wat nie bely dat Jesus werklik die Christus (Messias) is nie, is ‘n antichris (2:22 ev).

1 Johannes 4:1-3 bevestig hierdie siening. Hier word aan die gelowiges ‘n maatstaf gegee waaraan hulle profete kan meet om te weet of hulle eg is en of hulle die gees van die antichris adem. Van sulke profete word dan geskryf dat hulle die gees van die antichris is “van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld is” (4:3). Dit gaan dus om dinge wat deel van die gemeentelede se lewe is. En die derde en laaste verwysing waar die woord “antichris” gebruik word, bevestig dit. Hier word geskryf van baie verleiers wat “te voorskyn gekom het in die wêreld”, en hulle is dié wat nie erken dat Jesus die Christus is wat mens geword het nie. En dan vervolg Johannes uitdruklik: “dit is wat ek met ‘die misleier’, ‘die antichris’, bedoel” (2 Joh v 7).

Die antichris het dus alreeds in Johannes se tyd in baie ver­skillende vorme en persone gekom. Dit ondersteun die gedagte dat die eindtyd alreeds met Jesus se aardse optrede aangebreek het en dat sy wederkoms al in die tyd van die Nuwe Testament naby was. Maar dit beteken ook dat die koms van die antichris nie die gelowiges gehelp het om te bereken wanneer Jesus se koms naby sal wees nie, maar eerder bevestig het dat sy koms – toe al – naby was.

Dit bring ‘n interessante faset van hierdie tekens na vore: hulle was nooit bedoel om mense te help bereken wanneer die wederkoms naby sal wees nie – wat onsinnig sou wees omdat die wederkoms alreeds naby was – maar om te bevestig dat die wederkoms naby is.

Natuurlik het die antichris sedertdien al weer in baie ander vor­me of persone verskyn. En natuurlik kan hy nog weer in ander vor­me of persone na vore kom. Maar dit is elke keer net om te bevestig dat Christus se koms naby is. Die tekens van die tye is nooit gegee om Christene in staat te stel om te bereken wanneer Christus se koms naby sou wees nie, eenvoudig omdat sy koms van die begin af naby was. Dit is gegee om hulle voortdurend daaraan te herinner dat sy koms naby is. Omdat hulle baie gely het, was dit vir hulle ‘n troos. En vir die ongelowiges ‘n waar­skuwing.

 

Outeur: Prof Adrio König




Ek opponeer Jesus (Antichris)

Ek opponeer Jesus (Antichris)

Die duiwel het ook ʼn eindpoging… net voor die Here weer kom, sal daar hewige teenkanting teen die Here wees, veral in die vorm van ʼn verskriklike slegte leier(s).

Baie mense het net een so ʼn slegte figuur verwag, wat net kort voor Jesus se wederkoms sou kom. Johannes het die houding van opstand teen en verwerping van God egter as ʼn gesindheid in baie mense herken (1 Johannes 2:18). In sy gemeente was daar ʼn klomp mense wat vir ʼn rukkie deel van die kerk was, maar toe hulle rug op Jesus gedraai het. Hulle noem Johannes ‘antichriste” (1 Johannes 2:18-24, 4:3; 2 Johannes 7). “Anti” is die Griekse woord vir “teen”, wat beteken dat Antichriste mense is wat teen Jesus gedraai het. Die volgende is nou interessant:

(a)  Hierdie antichriste wat eers deel van die kerk, maar het toe weggebreek;

(b)  Hierdie antichriste het wel nog in Jesus geglo (1 Johannes 4:1-4), maar het nie meer die regte dinge oor Jesus bely nie – hulle het gesê Hy is God, maar wou nie meer erken dat Hy mens geword het nie, wat beteken dat Hy nie regtig vir ons kon sterf en ons sonde so vergewe nie. Dit help nie om net ʼn stukkie van Jesus te bely nie; jy moet Hom volledig bely vir Wie Hy is, anders is jy soos iemand wat “teen” Hom is.

Die gees van mense wat “teen” Christus is, is dus by en tussen ons. Daar kan miskien nog een groot figuur of mag kom om Jesus van die troon af te probeer stoot, maar ons hoef nie bekommerd te wees nie: Jesus het oorwin!

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy