Was Paulus ‘n apostel?- Francois Malan

As PAULUS n apostel was,was daar tog 13 apostels. Is it korrek?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die woord apostel in die Nuwe Testament kom van die Griekse woord apostéllō wat beteken om iemand te stuur of om ’n boodskap te stuur.’ Die woord apóstolos beteken ’n gestuurde of ‘n boodskapper.

In Handelinge 22:21vertel Paulus dat die Here Jesus aan hom in die tempel van Jerusalem verskyn het en gesê het: ‘Gaan, want Ek wil jou ver weg stuur (apostéllō) na die heidene.’ In Handelinge 26:17-18 vertel Paulus aan koning Agrippa en die hele saal vol mense in Sesarea van sy roeping toe die Here Jesus aan hom op die pad na Damaskus verskyn het (vgl. Handelinge 9:1-6). Hy was op pad om die Christene in Damaskus te gaan arresteer. Op pad het  Jesus aan hom op die middag verskyn in ’n lig uit die hemel wat skerper was as die son. Die Here het vir hom gesê: ‘Ek sal jou red uit jou volk en van die heidene na wie Ek jou stuur (apostéllō) om hulle oë op te maak, sodat hulle van die duisternis na die lig kan kom, en van die mag van die Satan na God, en ook dat hulle deur geloof in My vergewing van sonde, asook ’n erfdeel saam met die geheiligdes, kan ontvang. Om hierdie rede, koning Agrippa, was ek nie aan die hemelse visioen ongehoorsaam nie…’ 

In sy briewe aan die gemeentes  begin Paulus altyd sy brief ‘Paulus, ’n dienskneg van Christus Jesus, ’n geroepe apostel (apóstolos), afgesonder vir die evangelie van God (Romeine 1:1). ‘Paulus, deur die wil van God ’n geroepe apostel (apóstolos) van Christus Jesus..’(1 Korinthiërs 1:1). ‘Paulus, ’n apostel (apóstolos) van Christus Jesus deur die wil van God…’ (2 Korinthiërs 1:1). ‘Paulus, ’n apostel – nie op gesag van mense of deur ’n mens nie, maar wel deur Jesus Christus en God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het…’  (Galasiërs 1:1). ‘Paulus, ‘n apostel (apóstolos) van Christus Jesus deur die wil van God…’  (Efesiërs 1:1), ensovoorts.

In Handelinge 14:14 word Barnabas ook ’n apostel (apóstolos) genoem saam met Paulus, al was Barnabas nie een van die twaalf nie.

Volgens Lukas 6:13 het Jesus, na ’n nag van gebed op die berg, sy dissipels (volgelinge) nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, en Hy het hulle apostels (apostóloi) genoem. Een van die twaalf was Judas Iskariot, wat Hom sou verraai (Lukas 6:16). Na Judas se dood, en na Jesus se dood en opstanding en hemelvaart het Petrus die 120 broers verwys na Psalm 109:8 ‘Laat ’n ander sy amp as opsiener oorneem. In Judas se plek het hulle twee manne voorgestel, en in gebed  die Here gevra om een aan te wys wat die Here gekies het om die taak  van hierdie diens van apostel (apóstolos) oor te neem waarvan Judas afvallig geraak het. Toe het hulle geloot en die lot het op Mattias geval. Hy is daarop by die elftal apostels (apostóloi) gevoeg.

Openbaring 21:12-14 verwys na die Nuwe Jerusalem se 12 poorte waarop die name van die twaalf stamme van Israel op gegraveer is, en die twaalf fondamente van die stadsmuur met die name van die twaalf apostels (apostóloi) van die Lam op gegraveer.

Die Openbaring aan Johannes is egter ’n boek van simbole. Hier word die name van die twaalf stamme van Israel gebruik om aan te toon dat al die gelowiges uit die Ou Testament deel sal wees van die Nuwe Jerusalem. Die Nuwe Jerusalem is egter ’n simbool van die ewige lewe saam met God. So is die twaalf name van apostels ’n simbool vir al die gelowiges van die Nuwe Testament wat in die Lam van God, sy Seun Jesus Christus glo, wat deel het aan die ewige lewe saam met God. Want Jesus, as God wat ons menslike natuur aangeneem het, het gesterf vir die sonde van die ganse mensdom van die Ou Testament en van die Nuwe Testament (vgl. Johannes 1:1-5,9-14,29,36). En elkeen wat in Jesus glo word deel van die ewige lewe saam met God. (vgl. Johannes 3:16).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Basiese inligting oor Jesus se twaalf dissipels Opvolg Vraag – Jan van der Watt

Wessel vra waarom Paulus nie saam met die 12 dissipels bespreek is nie.

Hier volg die rede:

Die 12 dissipels was die twaalf persone wat Jesus tydens sy aardse openbare optrede gekies het om sy spesiale volgelinge te wees. Hy was sy leerlinge wat noukeurig alles van Hom moes leer en dit dan later verder versprei (na sy hemelvaart). Die 12 persone se name word in die Evangelies genoem. Die woord dissipel (in die sin van volgeling word wel elders ook meer algemeen gebruik – Hand 6:7. Daarom word daar van die TWAALF dissipels gepraat wat die spesiale volgelinge van Jesus was).  Paulus was nie deel van hulle nie. Daar is geen aanduiding in enige dokumente dat hy eintlik vir Jesus tydens sy openbare bediening gesien het nie. Dit was eers later, toe hy die Christene in Damaskus wou gaan vervolg het, toe Jesus in ‘n helder lig aan hom verskyn het en hy tot bekering gekom het. Hy was dus nie een van die Twaalf (dissipels) nie. 

Hy was egter wel ‘n apostel. Die woord ‘apostel’ is ‘n transliterasie van die Griekse woord ‘apostello’ wat gestuurde beteken. Die mense wat dus gestuur is om Jesus se boodskap uit te dra heet ‘apostels’. Die 12 dissipels was dus nie alleen dissipels nie, maar is ook (12) apostels genoem (Luk 6:13; Mat 10:2; Mk 6:30). Paulus was ook gestuur en is dus ook die apostel (gestuurde) van die Here genoem (1 Kor 1:1). Dit is belangrik om te weet dat hierdie nie die enigste apostels was nie. Die Nuwe Testament vertel ons van baie meer ‘apostels’ of gestuurdes van die Here (Rom 16:7; 1 Kor 4:9; Hand 14:4; 16:4; 2 Cor 8:23; 11:5). Dit was dus ‘n baie meer algemene ‘titel’ as die TWAALF dissipels.  

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Apostel en dissipel

Die Groot Geloofswoordeboek: Apostel en dissipel

Apostel

Apostel is ‘n Griekse woord wat net soos “halleluja” en “amen” net in ons (Arabiese) letters oorgeskryf is. Die woord het oor­spronklik verband gehou met iemand wat gestuur is. In die tyd van Jesus se aardse bediening word meestal van “dissipels” ge­praat wat iets soos volgelinge of leerlinge beteken. Die dissipels is nie in die tyd van Jesus dikwels apostels genoem nie. “Dissipels” of “die twaalf” is die gewone benaming. Maar ons kry “apostels” tog hier en daar in die Evangelies, veral in Lukas (Matt 10:2; Mark 6:30; Luk 9:10; 17:5). Dis nie duidelik of die Evangeliste hulle maar later, toe hulle die Evangelies geskryf het, so genoem het omdat hulle toe al aan die woord gewoond was nie. In Handelinge neem die woord “apostels” heeltemal oor en word hulle glad nie meer “dissipels” genoem nie.

Na die opstanding van Jesus word Mattias in die plek van Judas gekies (Hand 1:26), maar ‘n mens hoor nooit weer van hom nie. Later lyk dit of Paulus eintlik die plek van die twaalfde apostel in­geneem het (1 Kor 9:1 ev; 15:9-10).

Die woord “apostel” word later in die Nuwe Testament ook vir ander leiers gebruik (Rom 16:7; 2 Kor 8:23; Fil 2:25), maar som­­mige vertalings, soos dié van 1983, het verkies om dit met ander woorde te vertaal soos “afgevaardigde” (2 Kor 8:23). Oor Romeine 16:7 is daar groot verskille. Die Grieks laat meer as een vertaling toe. Ver­talers kies tussen ten minste twee moont­lik­hede: ons lees daar van Andronikus en Junias: “hulle is hoog­aan­geskrewe by die apostels”, of “hoogaangeskrewe onder die apos­tels”, of selfs “hulle neem on­der die apostels ‘n besondere plek in”. Die verskil in betekenis is duidelik. Hierdie twee was óf mense wat deur die apostels hoog geag is, maar self nie apos­tels nie, óf hulle was vername apostels. Wat hierdie uitspraak nog meer omstrede maak, is die feit dat daar nie so ‘n naam soos Junias (‘n man) bekend is nie; wel Junia, wat ‘n naam vir ‘n vrou is. Dit kan beteken dat ons hier met ‘n man en ‘n vrou te doen het, en dus dat daar ‘n vroulike apostel was, ‘n saak baie na aan die hart van mense wat pleit vir vrouens in die kerklike ampte. Niks is egter seker hieroor nie. (*Feminisme)

Die apostels het ‘n baie belangrike plek in die grondlegging van die kerk ingeneem. Hulle was volgelinge van Jesus wat op ‘n be­sondere manier deur Hom opgelei en voorberei is om die evan­ge­lie verder te dra. Wanneer die kerk die tempel van God genoem word, word hulle saam met Christus genoem: Hy is die hoeksteen, hulle is (saam met die profete van die Nuwe Tes­tament) die fondament van die kerk (Ef 2:20). Daarom praat ons vandag nog van die *apostolisiteit van die kerk as ‘n onmisbare eienskap.

Dit is dan ook nie vreemd nie dat die vroeë kerk besondere ont­sag vir die apostels gehad het. Die vraag of ‘n bepaalde geskrif met ‘n apostel verband gehad het (bv deur ‘n apostel geskryf is of deur die volgeling van ‘n apostel), was een van die belangrike sake wat gesag aan ‘n geskrif gegee het sodat dit later as deel van die Nuwe Testament beskou is. (*Kanon) Alhoewel hulle geweet het dat Markus nie ‘n apostel was nie, was dit genoeg om te weet dat hy ‘n besondere verhouding met Petrus gehad het. En Lukas weer met Paulus. Verder was hulle oortuig dat Matteus en Johannes self apostels was.


Petrus

Die rol van Petrus het altyd besondere aandag getrek. Dit lei min twyfel dat hy die leier onder die dissipels was. Wanneer Jesus die dissipels aangespreek het, was dit telkens hy wat geant­woord het, dikwels duidelik as hulle verteenwoordiger (Mark 8:27-30). Ook ná die koms van die Gees is hy die spreekbuis (Hand 2:14 ev).

Die vraag is egter of die kerk regtig op Petrus gebou is. Die Ka­tolieke Kerk glo dit na aanleiding van onder andere Matteus 16:18 waar Jesus vir hom sê: “Jy is Petrus, en op hierdie rots (petra) sal Ek my kerk bou.” Die woordspeling is opvallend. Die Katolieke aan­vaar dat Petrus die rots is. Daarom glo hulle hy is die aardse hoof van die kerk (hulle ontken nie dat Christus die hemelse Hoof is nie), en die *pous is sy opvolger. Die pous moet dus die leier van die kerk wees.

Die meeste ander kerklike tradisies is nie so seker hiervan nie. Sommige meen dat Jesus bedoel het die rots waarop die kerk gebou word, is Petrus se belydenis (hy het net tevore bely dat Jesus die Messias is). As Hy regtig die kerk op die persoon van Petrus wou bou, kon Hy maklik genoeg gesê het: Jy is Petrus en op jou sal Ek my kerk bou.

‘n Mens kan vra waarom jy so min van die meeste ander apos­tels in die Nuwe Testament lees. Eintlik is dit net Petrus, Ja­kobus en Pau­lus wat prominent is in Handelinge. Maar ‘n mens moet ont­hou dat Handelinge deur Lukas geskryf is wat na aan Paulus gestaan het, en dat Petrus en Jakobus in elk ge­val aan die begin ‘n prominente rol gespeel het. Die ander kon in ander verbande baie gedoen het wat maar net nie in die Nu­we Testament genoem word nie. Die Nuwe Testament is nie planmatig opgestel om vir die nageslag ‘n volledige verslag te bewaar van alles wat gebeur het nie. Geen apostel het besef sy geskrifte gaan later opgeneem word in ‘n bundel wat die eeue sal ingaan nie. Hulle het maar net geskryf wat op daardie oom­blik belangrik was vir die groep aan wie die geskrif gerig was. Uit ander bronne weet ons dat ander apostels in ander gebiede betrokke was. Daar is byvoorbeeld die oorlewering dat Matteus vroeg na Indië is en dat die kerk wat van baie vroeg af in Indië bestaan, na sy sendingwerk teruggevoer kan word.


Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek.

 

Outeur: Prof Adrio König




Die Here Jesus stuur mense om spesiaal vir Hom te werk (Apostel)

Die Here Jesus stuur mense om spesiaal vir Hom te werk (Apostel)

Apostels is die naam wat vir die vroegste volgelinge van Jesus gegee is.

Dit is die “verafrikaansing” van die Griekse woord apostellein wat stuur beteken. Apostels is dus mense wat spesiaal deur Jesus gestuur is om sy goeie nuus die wêreld in te dra. Ons lees van baie apostels in die Nuwe Testament, maar seker die prominentste een was Paulus. Lees maar hoe begin hy sy briewe: van Paulus, ʼn apostel van Jesus Christus… Daarmee gee hy gesag aan sy boodskap. Dit is nie sy eie boodskap nie, maar Jesus se boodskap. Hy is maar net gestuur (ʼn apostel) om die goeie nuus vir almal te vertel.

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy