Bediening – Jan van der Watt

Irma vra:

Ek bid dat ek woord kan kry oor my bediening. Hoe weet ek dat op papier is wat Vader van my verwag. Hoe begin jy sonder finansies om jou as persoon op te skerp om die Bybel beter te verstaan.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Baie dankie vir jou vraag. Dit is moeilike vrae vir iemand anders om te beantwoord. 

Eerstens, Hoe weet mens wat die Here wil. Natuurlik wil mens ‘n konkrete (verkieslik ‘n buitengewone) teken of aanduiding he dat die Here wil he mens moet iets doen of in ‘n bediening ingaan. Die Here werk soms met sulke tekens, (hulle is maar min in die Bybel, soos die velletjie van Gideon, die son wat stilgestaan het, die olie in die kruik van die weduwee wat nie minder geword het nie, ens.). As ons die Bybel ernstig neem dan lei die Here mens op verskeie maniere, veral deur jou verstand (jy kyk na al die moontlikhede en weeg dit teen mekaar op in gebed), jou situatsie (wat gebeur en hoekom, wat laat my situasie my toe, ens.) jou medemense (wat dink hulle en hoe gee hulle raad) en veral deur op die Heilige Gees te vertrou. Die Here stap ‘n pad met ‘n mens en hy speel nie raai, raai nie. Hy wys vir mens die pad op verskillende maniere as jy sensitief bly vir sy wil deur gebed en die Gees. SOms mag Hy nee se, en dan moet ons dit as gehoorsame kinders aanvaar. Net so mag hy ‘n ander pad vir ons kies. As ons egter bly vertrou dat Hy vir ons deure sal oopmaak en ons stap deur SY oop deure en nie waar ons altyd wil loop nie, dan werk ons lewe reg uit. Ons moet nie altyd dink dat wat ons wil iets anders is as wat God wil nie – meer dikwels is ons wil in ooreenstemming met syne en dan moet ons met vertroue voortgaan. Maar soms mag ons probeer om ons wil op die Here af te dwing asof dit sy wil is en Hy so moet maak. Daarteen moet ons waak. 

Tweedens, hoe begin jy jouself in die Bybel op te skerp. Die eerste stap is om die Bybel te lees, veral die Nuwe Testament eerste. Daarby is dit goed om een goeie boek te koop, soos die Bybel met verklarende aantekeninge, of die Eenvolume kommentaar. So ‘n boek dek die hele Bybel en help mens om dit te verstaan. Dan is daar webblaaie soos Bybelkennis.co.za waarvan die doel is om aan mense inligting te gee waaroor hulle kan dink en hulle so met hulle Bybelvrae te help. Dit is gratis. Pas egter op vir webblaaie wat baie geld vra of wat jou probeer oortuig van een of ander standpunt wat vir jou ongemaklik laat voel. Daar is baie groepe op die web wat hulleself of eie standpunt wil bevorder. As daar allerhande vreemde dinge op die webblad is, toets dit eers, want baie keer is die inligting nie akkuraat nie. Dit geld van alle webblaaie. 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Is jou bediening ‘n laser of ‘n gloeilamp?

 

“If Christ is not all to you He is nothing to you. He will never go into partnership as a part Savior of men. If He be something He must be everything, and if He be not everything He is nothing to you.” C. H. Spurgeon

Is jou bediening ‘n laser of ‘n gloeilamp?

‘n Gloeilamp versprei ‘n sagte lig in alle rigtings, maar vir ‘n kort afstand; ‘n laser fokus net in een rigting, maar so ‘n straal kan teoreties oneindig reis. Net so is ons bediening ‘n gloeilamp of ‘n laserstraal.

Na sy opstanding gee Jesus aan sy dissipels ‘n opdrag wat soos ‘n laserstraal fokus: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels (Matteus 28:19). In die boek Handelinge word hierdie sending op tasbare maniere uitgewerk. Die dissipels het nog op ‘n gereelde basis bymekaargekom (Handelinge 2:42) en ook hulle prioriteite bepaal (Handelinge 6:4), maar die hart van die vroeë kerk was die maak van dissipels.

Geen wonder die kerk versprei van Jerusalem na Rome in net 30 jaar.

Wat het dit met bediening te doen? “There are far too many nice, little 60 watt ministries that do nice, little 60 watt activities and get nice, little 60 watt results.” (Greg Stier) Hierdie bedienings is soos ‘n gloeilamp – hulle kan skaars buite die kerkgebou gesien word. Laser-gefokusde bedienings het ‘n enkele obsessie – alles wat hulle doen, ondersteun hierdie een ding.

Het jou bediening ‘n enkele fokus? Ondersteun alles wat jy doen daardie een ding? Stem hierdie een ding ooreen met die een opdrag wat Jesus aan sy dissipels gegee het? Indien nie, is dit nie tyd om te begin fokus nie?

Mites oor bediening

Winners of souls must first be weepers for souls. —C.H. Spurgeon

Mites oor bediening

Hulle is daar; hulle is dikwels moeilik om raak te sien; hulle het ‘n impak op jou bediening – dikwels vernietigend. Kom ons kyk na ‘n paar.

  • Daar is ‘n probleem-vrye oplossing

Ons moet net aanhou soek en leer en ons sal die probleem-vrye oplossing kry. Dit is nie waar nie. Elke oplossing, elke strategie, kom met sy eie probleme. Wyse leiers kies eenvoudig die stel probleme wat hulle die beste kan hanteer.

 

  • Ons sal volgende jaar beter voorbereid wees

As ons net tot volgende jaar wag sal ons die fondament gelê het en kan ons aangaan. Ons sal byvoorbeeld die organisasie om nuwe intrekkers in te skakel in plek hê. Die waarheid is dat volgende jaar te laat sal wees. Hierdie nuwe mense sal al lankal weg wees.

  • Ons het nie die leiers wat ons nodig het nie

As ons harder en meer bid, sal God die werkers vir die oes stuur. Ons weet hoe ‘n leier lyk en ons sien hulle nie in die gemeente nie. Die waarheid is dat God in alle gevalle meer as genoeg potensiële leiers stuur … ons weet net nie wie hulle is nie. Ons moet leer om leiers te identifiseer, te werf en te ontwikkel. Ons het nuwe metodes en strategieë nodig.

  • Daardie program werk nie by ons nie

Kleingroepe werk nie by ons nie; uitreike na die gemeenskap werk nie by ons nie Nie waar nie. Your ministry is perfectly designed to produce the results you’re currently experiencing (Andy Stanley). As jy ander resultate verlang, verander die ontwerp van jou bediening.

  • Ons weet reeds die beste manier om dit te doen

Ons doen dit al lankal; ons weet presies wat om te doen. Lees ‘n boek? Woon ‘n konferensie by? Besoek ‘n ander gemeente om te sien hoe hulle dit doen? Tydmors. Ons weet hoe om dit te doen. Die waarheid is egter dat om met vars oë na dinge te kyk groot voordele mag inhou. ‘n Openheid vir nuwe idees of alternatiewe maniere om dinge te doen, mag groot voordeel inhou.

Dink ‘n bietjie na. As jy soek, sal jy in meeste gemeentes hierdie mites kry.




Doeltreffende bediening – sewe sleutels

. —C.H. Spurgeon

Doeltreffende bediening – sewe sleutels

Rick Warren het na Paulus, naas Jesus self dié uitstaande model vir bediening, gekyk en sewe sleutels vir suksesvolle bediening geïdentifiseer. In Romeine 15 gee Paulus vir ons ‘n kykie in sy bediening. In vers 14 sê hy: My broers, ek is self maar alte bewus dat julle vol goeie hoedanighede is en omvattende kennis besit, en dat julle mekaar self op die regte weg kan help. Paulus sê dat hulle bekwaam genoeg is om mekaar te help, maar dan moet jy die eerste tree gee – begin met ‘n bediening.

 

Die sleutelwoorde in hierdie hoofstuk is om … onder die heidennasies te werk (vers 16) en diens (vers 17). In hierdie hoofstuk sien ons dat Paulus se bediening twee teikengroepe het, naamlik  ongelowiges en gelowiges. Sy bediening aan ongelowiges (verse 14 – 22) is om die goeie nuus te verkondig – veral aan die nie-Jode. Maar hy het ook ‘n bediening onder gelowiges gehad (vers 23 – 33) – om hulle behoeftes te hanteer.

Elke gelowige het ‘n bediening vir gelowiges en ‘n sending na ongelowiges nodig. Sy sending was nie om vir ongelowiges te sê dat hulle op pad hel toe is nie: Dit is my priesterlike taak om die evangelie van God aan hulle te bedien. Dit is goeie nuus; dit is ‘n positiewe boodskap. Hoekom doen hy dit? Om God te verheerlik. Elke keer as jy die evangelie verkondig, verheerlik jy vir God.

Met hierdie agtergrond kan ons nou na die sewe sleutels kyk:

  • ‘n Doeltreffende bediening berus op God se genade.

God het my immers in sy genade die voorreg gegee om in diens van Christus Jesus onder die heidennasies te werk (vers 16 – 17). Om vir God te werk is ‘n voorreg. God gebruik my in ‘n bediening bloot op grond van sy genade. Hy weet ek gaan foute maak, maar nogtans het Hy my gekies. God gebruik onvolmaakte mense. As Hy net volmaakte mense gebruik het, sou niks gebeur het nie. Om te sê dat jy te veel tekortkominge het om God te dien, is ‘n swak verskoning.

  • ‘n Doeltreffende bediening word op God se woord gebou

Wat is die evangelie van God wat Paulus aan die heidennasies moet bedien? Die Bybel. Die Bybel is die handboek vir bediening.  Veral in 1 en 2 Timoteus en Titus kry ons baie riglyne vir bediening. Die Bybel is ons toerusting, ons gids en ons instrument.

  • ‘n Doeltreffende bediening word ter verheerliking van God gedoen

Bediening is nie daar om ‘n persoon te bevorder nie. In Christus Jesus is ek trots op wat ek in diens van God verrig. Ek sal dit nie waag om oor iets anders te praat as oor wat Christus deur my tot stand gebring het. God gebruik mense om dinge te doen wat Hom verheerlik.

  • ‘n Bediening wat deur God geseën word, word in God se krag gedoen.

Deur kragtige tekens en wonders, in die krag van die Gees van God gedoen. Onthou dat Jesus die wingerdstok is en ons die lote. Sonder Hom kan ons niks doen nie: Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here, die Almagtige (Sagaria 4:6).

  • ‘n Doeltreffende bediening wat deur God geseën word, word volgens God se doel beplan

Ek het my eer daarin gestel om die evangelie te verkondig waar die mense nog nie van Christus gehoor het nie. Paulus het planne gemaak – hy beplan om na Spanje te gaan. Mense dink om te beplan is nie Christelik nie, maar dit is dwaas om nie te beplan nie.

  • ‘n Suksesvolle bediening word deur God se mense ondersteun

Paulus praat hier spesifieke van geldelike ondersteuning maar ‘n doeltreffende bediening word op baie verskillende maniere deur God se mense ondersteun.

  • ‘n Doeltreffende bediening word deur gebed gesteun.

Stry saam met my deur vir my te bid. As ek vir iemand en sy bediening bid, is ek deel van daardie bediening.

Hier is sewe sleutels wat ons met groot vrug kan gebruik.