Beeld van God in Jakobus

Beeld van God in Jakobus – Francois Malan

Andries vra:

 

Antwoord:

Prof. Francois Malan antwoord:

Jakobus skryf waarskynlik aan Joodse-Christene wat verspreid oor die Griekssprekende wêreld woon (1:1) om aan hulle praktiese wysheid en leiding te gee om in die sondige wêreld en onder verdrukking te volhard in die lewenswandel van ‘n Christus-gelowige, as kinders van God, en nie die verkeerde praktyke van die heidense wêreld te volg nie.

Vers 7 wys daarop dat die mens geskape is om beheer uit te oefen oor die diereryk (Gen.1:26), en daarom in staat behoort te wees om sy tong te beheer. Maar vers 8 wys daarop dat geen mens nog sy tong kon tem nie, omdat die mens gedryf word deur sy eie neiging en drang tot die bose. Die uitwerking van die bose tong is noodlottig. Dit is gevul met gif wat die dood meebring (Ps 140:4 in Rom 3:13-14 aangehaal). Ons woorde kan onheil, ongeluk, dood en verwoesting saai onder mense.

Vers 9 wys dat dié verskriklikheid in die kring van die gelowiges plaasvind: Met die mond loof ons die Here en Vader – in die gemeente se samekoms en in die alledaagse lewe loof ons tereg die Here Jesus en God die Vader. Maar direk daarna gebruik ons ons spraakvermoë om ‘n medemens te vloek – presies die teenoorgestelde van wat ons pas teenoor God gedoen het (vgl. Ps 62:5).

Vers 10 vermaan die gelowiges om nie hulle tong vir goed en kwaad te gebruik nie. Die tong behoort gebruik te word om God en die medemens te loof, goed te praat oor God en sy mense en nie in woede of naywer jou medemens te begin vloek nie (vgl. Efes 4:29)..

Vers 11-12 gebruik die beelde van ‘n fontein wat slegs een soort water kan lewer, en vrugtebome wat aan hulle vrugte geken kan word (Mat 7:15-20). Wanneer jy jou medemens vloek is dit duidelik dat jou lof aan God net skyn is en nie uit jou hart kom nie (Mark. 7:20-21). In Matteus 12:33-37 waarsku Jesus juis dat ‘n mens op grond van sy woorde vrygespreek of veroordeel sal word op die oordeelsdag (vgl. Mat.5:21-22 hoe God waak oor die lewe van elke mens).

 

Skrywer: Prof francois Malan

 




Die mens as beeld van God. Wat beteken dit?

The ear is the only true writer and the only true reader – Robert Frost (digter)

Die mens as beeld van God. Wat beteken dit?

Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld (Genesis 1:26)

Aan die een kant is die mens uniek; aan die ander kant is hy nes al die ander dinge, want soos hulle is die mens ook deur God gemaak. Maar nou is ons God se beeld. Op een of ander wyse is ons soos God en dan plaas Hy ons in die wêreld as sy verteenwoordiger.

 

Beteken dit ons fisiese voorkoms stem ooreen met dié van God? Kan tog nie wees nie, want ons lees: God is Gees (Johannes 4:24). Daar is al baie voorstelle oor wat hier bedoel word as God sê die mens is sy beeld:

  • Die verwys na die mens se vermoë om sy rede te kan gebruik.
  • Dit verwys na die mens se vermoë om etiese besluite te neem.
  • Dit verwys na die mens se persoonlikheid.
  • Dit verwys na die mens se vermoë om verhoudings te bou.
  • Dit verwys na die mens wat gesag oor die skepping het.

Paulus sê: Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die eerste, verhewe bo die hele skepping (Kolossense 1:15). Ons lees ook: Uit Hom (Jesus Christus) straal die heerlikheid van God, en Hy is die ewebeeld van die wese van God (Hebreërs 1:3).

Om sy beeld te wees, beteken dat die mens op een of ander manier  Hom weerspieël. Ons het die verantwoordelikheid om God vir die wêreld te wys – sy handewerk, sy wese, sy eienskappe moet in ons weerspieël word. Maar ons moet ook aanvaar dat hierdie beeld deur die sonde besmet is.

Miskien is daar ‘n beeld uit die antieke tyd wat ons kan help. Toe het konings beelde van hulleself dwarsdeur die land opgerig. Hoekom? Om aan die inwoners en die omliggende volke ‘n visuele beeld te gee van wie hier in beheer is. Hierdie land is onder die koning se jurisdiksie. God het die mens na sy beeld geskep om in nederigheid sy heerskappy op aarde te bemiddel – om die mense te herinner dat God die Koning van die wêreld is.

God het die mens na sy beeld geskep. Dit beteken eenvoudig dat God die mens gemaak het om Hom hier op aarde te weerspieël sodat die mense kan besef God is Koning. Om God te verteenwoordig is ‘n groot verantwoordelikheid. Ons voel dit is te groot en daarom moet ons soos die psalmis uitroep: Wie is die mens dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien (8:5).

Kan die mense God in my en jou raaksien?




Die beeld van God

Die beeld van God

As ons met iemand argumenteer, is dit dikwels goed om stil te staan en te praat oor dit waaroor ons saamstem. Hoekom? Dit dwing ons om na die ander persoon te luister en dit gee duidelikheid oor waaroor die argument nou eintlik gaan.

Wat beteken dit as God sê: Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld (Genesis 1:26). Dit lyk asof daar ‘n paar gebiede is waaroor meeste mense saamstem.

Die beeld sluit in weerkaatsing

Op een of ander manier weerkaats die mens die goddelike. Die beeld is dus ‘n weerkaatsing van iets anders. Waar die ware argument na vore kom, is as ons begin bespreek wat presies weerkaats word, hoe hierdie weerkaatsing plaasvind en waar dit in die mens weerkaats word.

Die beeld is universeel

Daar is mense wat redeneer dat daar sekere groepe is wat nie na die beeld van God gemaak is nie. [In die verlede was dit nogal dikwels vroue!] Dit is verkeerd. In Genesis 1:27 word dit bevestig dat beide man en vrou na sy beeld geskep is. Dit is dan ook die basis waarom ons alle mense met waardigheid moet hanteer.

Hierdie beeld is deur sonde beïnvloed.

Hierdie beeld is Christologies

In die Ou Testament word dit beklemtoon dat alle mense na die beeld van God gemaak is. In die Nuwe Testament word daar baie op Jesus Christus as die ware beeld van God gefokus. Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie (Kolossense 1:15) Jesus Christus maak die onsigbare God sigbaar aan sy skepping.

Die beeld is nie staties nie

(2 Korintiërs 3:18). Soos ons nader en nader aan Christus getrek word, word ons verander. Hiervoor is die mens bestem: Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun (Romeine 8:29). Dit is dus ‘n proses – ‘n beweeg na die beeld van God.

Daar is heelwat punte waaroor ons kan saamstem. Natuurlik is daar nog aspekte waaroor ons verskil, veral as ons meer spesifiek wil wees. Dit is egter goed om te begin by dit waaroor ons saamstem.