1

Paulus en die besnydenis – Francois Malan

Willie vra:

DIE BESNYDENIS

Boodskap Teks:

My Vraag handel oor die besnydenis en Paulus se siening (Galasiërs 5)

vers 5 Maar ons, ons verwag deur die Gees en op grond van geloof die vryspraak waarop ons hoop. 6 Want in Christus Jesus is besnedenheid of onbesnedenheid van geen belang nie, maar wel geloof wat deur liefde in dade omgesit word.

Vers 11 En ek, broers, as ek steeds die besnydenis verkondig, waarom word ek dan nog vervolg? Dan is die struikelblok van die kruis immers uit die weg geruim. 12 Ek wens diegene wat julle so opstandig maak, wil hulleself volledig laat ontman!

My vraag is hoekom sou Paulus nog die besnydenis verkondig as hy redding deur geloof en genade alleen preek ( Sola Gratia en Sola Fide)

 

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Die probleem lê by die verstaan van Galasiërs 5:11 in die gang van die argument waar Paulus juis sê dat in Christus Jesus is besnedenheid of onbesnedenheid van geen belang nie, maar wel geloof wat deur die liefde in dade omgesit word (5:6).

Die voorwaardelike sin, ingelei deur ‘as ek nog/steeds die besnydenis verkondig,’ word gevolg deur die hoofsin in vragende vorm ‘waarom word ek nog/steeds vervolg?’ Die feit dat Paulus nog vervolg word bewys dat hy nie meer die besnydenis verkondig, soos hy voor sy bekering gedoen het nie, en dat die bewering dat hy steeds die besnydenis verkondig ’n kwaadwillige valsheid is.

In werklikheid staan besnydenis hier as die kenteken van die Joodse siening wat die besnydenis as noodsaaklik beskou vir jou verbondsverhouding met God, om as deel van die volk van God beskou te word. Dit is wat Paulus se teenstanders juis verkondig in die gemeentes in die provinsie Galasië, en waarteen Paulus so ernstig waarsku in dié brief.

Die kruis daarenteen, is die kenteken van die Christen se verhouding met God. Die kruis is die kenteken dat ons in Christus glo, in Hom wat ons verhouding met God reggemaak het deur sy dood deur al die sonde van die wêreld op Hom te neem en daarvoor versoening te doen. Die Seun van God het die doodstraf vir ons sonde in ons plek gedra.

Vir dié mense wat die besnydenis as noodsaaklik vir ons verhouding met God verkondig, is die kruis ’n struikelblok. Hulle sien besnydenis as die teken van die verlossing wat verkry word deur die wet te onderhou, en so jouself te verlos met jou goeie werke. Christus het egter met sy kruisdood die verlossing uit God se liefde en genade bewerk, en die verlossing word verkry deur geloof in Christus. Die aanstoot van die kruis as struikelblok beteken dat hulle hulle vertroue op hulle goeie werke moet prysgee as die manier om voor God aanvaarbaar te wees en nie langer op hulleself vertrou nie.

Hierdie gang van die argument begin in Galasiërs 5:2-4 met ‘Kyk ek, Paulus, sê nou vir julle, as julle julle laat besny, sal Christus vir julle niks beteken nie. Ek getuig weer teenoor elkeen wat hom laat besny, dat hy verplig is om die hele wet te onderhou (wat vir ’n mens onmoontlik is). Julle wat op grond van die wet vrygespreek wil word – julle is van Christus afgesny, julle het die genade verbeur.’ Die gang van die argument verduidelik juis dat Paulus nie die besnydenis verkondig nie. Vers 11 moet nie los van sy verband gelees word nie, dan word die vers maklik verkeerd verstaan. Die argument word in vers 12 afgesluit met ’n bevestiging dat dit nie Paulus is wat beweer dat hy die besnydenis verkondig nie, maar juis  ‘diegene wat julle so opstandig maak.’  Hulle maak die mense opstandig teen Paulus en sy prediking van Christus die gekruisigde. Daarom wens Paulus die verkondigers van die besnydenis wil hulleself volledig laat ontman!

Waarom Paulus in Gal 5:11 verwys na sy prediking van die besnydenis,

kan daarom slegs verwys na ‘diegene’ wat hulle so opstandig teen Paulus maak. Die Nuwe Lewende Vertaling gaan daarvan uit dat dit die valse leraars is wat valslik beweer dat Paulus nog die besnydenis verkondig. Hulle voeg dit daarom in: ‘Wat my betref, broers en susters, as dit waar is dat ek steeds verkondig dat die besnydenis noodsaaklik is…’

Die Griekse eerste persoon teenwoordige aanwysende vorm van die woord kerusso ‘ek verkondig’ is dieselfde as die vorm van die eerste persoon teenwoordige konjunktief, wat vertaal kan word met: ‘as ek steeds die besnydenis sou verkondig. Daarmee wys Paulus dan dat ánder mense beweer dat hy steeds die besnydenis verkondig, en nie hy self nie, soos die Nuwe Lewende Vertaling dit weergee as ’n konjunktiewe werkwoord, in die lig van die gang van die argument.

Skrywer:  Prof  Francois Malan




Terug na die Ou Testament: Allerlei (3)

Terug na die Ou Testament: Allerlei (3) – Adrio König

6.3 En die besnydenis?

Dit is opvallend dat, sover ek weet, geen groep wat op pad is terug na die Ou Testament, die besnydenis weer in gebruik geneem het nie. ‘n Mens sou minstens net sulke sterk argumente vir die besnydenis as vir die Sabbat kon aanvoer, en selfs sterker argumente as vir die feeste. 

  • Die besnydenis word net soos die Sabbat en die ander gebruike “ewige” gebruike genoem. Alreeds by die instelling van die besnydenis word dit ‘n “ewige verbond” genoem (Gen 17:13 – 1953-vertaling).
  • Wie nie besny was nie, moes net soseer uit die volk uitgesluit word as dié wat nie die Sabbat onderhou het nie, en was ook met die dood strafbaar (Gen 17:14; Eks 4:24-26).
  • Die Here maak byna vir Moses dood omdat hy nie sy seun besny het nie (Eks 4:24-26).
  • Toe die volk vir ‘n tyd lank tydens die woestyntog nie meer besny is nie, het die smaad van die Here op hulle gerus, die smaad wat eers weer weggeneem is toe Josua almal laat ná die intog in Kanaän besny het. (Jos 5:9).
  • Die besnydenis word selfs baie sterker direk met die werk van die Here verbind as die Sabbat. Die Here sal self die Israeliete besny met ‘n geestelike besnydenis (Deut 30:6 –  1953-vertaling).
  • Jesus is self ook besny (Luk 2:21).
  • Ons weet die Christene in Jerusalem het nog hulle seuntjies besny (Hand 21:21).

 

Dis opvallend hoe die ooreenkoms lui wat tydens die beroemde kerkvergadering in Jerusalem bereik is (Gal 2:7-9). Die vraag wat die Christene in Jerusalem so hewig ontstel het, was of Paulus toegelaat mag word om die evangelie sonder die besnydenis aan die heidene te verkondig.  Die ooreenkoms het toe gelui dat, terwyl Paulus dit wel mag doen, Petrus sou voortgaan om “die evangelie van die besnydenis” aan die Jode te verkondig (Gal 2:7). Dit was ‘n toegewing aan Paulus dat hy die besnydenis mag los. Die standaard-evangelie het die “besnydenis-evangelie” gebly.

 

Waarom gebruik ek juis hierdie vreemde uitdrukking: “die evangelie van die besnydenis”? Dit is hoe die Grieks lui in Galasiërs 2:7, 8, 9. Die 1953-vertaling het dit nog só. En dit wys hoe belangrik die besnydenis nog vir die vroeë Joodse Christene was.

 

En dié wat wil terugkeer na die Ou Testament? 

 

Waar is die besnydenis in die Nuwe Testament vir die Jode afgeskaf?

 

Is daar nie net sulke sterk gronde om weer met die besnydenis te begin as met die Sabbat nie, of selfs sterker gronde? 

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Besnydenis

Die Groot Geloofswoordeboek: Besnydenis

Besnydenis

Die besnydenis is nie beperk tot Israel nie. Daar is meer volke wat die voorvel van die manlike geslagsdeel afsny, gewoonlik as die baba nog baie klein is. Tydens die inisiasieskole van tra­disionele groepe in ons land en in die res van Afrika word dit in die puberteitsjare gedoen, dikwels onder onhigiëniese om­stan­dighede en met baie slegte gevolge vir mense se ge­sondheid.

Daar is gevalle waar vrouens of dogtertjies ook besny word deur die klitoris af te sny.

Die Ou Testament

In die Ou Testament was die besnydenis die teken van die ver­bond. Babaseuntjies is op ag dae besny. Mense van ander gods­dienste wat die geloof van Israel aanvaar het, is ook besny.

Veral die profete het die geestelike betekenis van die besnyde­nis na vore gebring met die eis dat Israeliete se harte, lippe en ore besny moet wees (lees die 1953-vertaling van Eks 6:11, 29; Lev 26:41; Deut 10:16; 30:6; Jer 4:4; 6:10; 9:25-26; Eseg 44:7, 9), wat be­teken het dat hulle gehoorsaam aan God moes lewe. Dit ska­kel die moontlikheid uit dat die besnydenis bloot ‘n nasionale teken was, ‘n teken dat iemand ‘n Israeliet of Jood was.

 

Die Nuwe Testament

In die Nuwe Testament bevestig Paulus die geestelike betekenis van die besnydenis. Die besnydenis het net waarde as jy die wet onderhou (Rom 2:25). Dit skakel die gedagte uit dat dit bloot ‘n volks- en nasionale teken was.

Besnydenis en *doop

Hierdie geestelike betekenis van die be­snydenis baan ook die weg vir ‘n bepaalde verband tussen be­snydenis en doop. Dit is baie onnoukeurig en oorvereenvoudig om sonder meer te sê die doop het in die plek van die besnydenis gekom. Die betekenis van die *doop is baie ryker as dié van die besnydenis. Die doop gaan terug op minstens twee belangrike gebruike in die Ou Testament: die reiniging en die besnydenis. Wat die reiniging betref, kan ‘n mens maar net dink aan twee van die bekende betekenisse van die doop: vergifnis en reiniging van sonde. En wat die besnydenis betref, aan die verskillende inlywende betekenisse van die doop: die inlywing in Christus, in die gemeente en in die verbond.

Maar al kan ‘n mens nie eenvoudig sê die doop het in die plek van die besnydenis gekom nie, ly dit nogtans min twyfel dat daar inderdaad ‘n verband is tussen die doop en die besnydenis. Paulus skryf vir die Kolossense, wat uit die heidendom tot bekering gekom het en dus nie gedoop was nie, dat hulle die geestelike betekenis van die besnydenis deur die doop ontvang het (2:11-12). Dit is nie oortuigend om te dink dat hierdie gees­telike besnydenis iets anders is as die betekenis van die be­snydenis nie. Indien dit so was, het Paulus geen rede gehad om dit ‘n “besnydenis” te noem nie.

Een van die betekenisse van die doop is duidelik ook dieselfde as dié van die besnydenis: om mense in die Abrahamver­bond in te lyf (Gal 3:26-29). Ook uit die ver­wysing na die betekenis van die besnydenis van Abraham (Rom 4:11) blyk die geestelike be­te­ke­nis daarvan. Daar is wel ‘n poging bekend om te ontken dat die besnydenis ook vir ander mense dieselfde geestelike betekenis ge­had het as vir Abraham. Geen ander persoon se besnydenis sou dieself­de hoë, geestelike betekenis gehad het nie. Dis egter ‘n vreem­de argument. Waarom sou die besnydenis van ‘n ander Ara­meër as Abraham nie dieselfde betekenis gehad het nie? Nes Abraham sou hy in die Here moes glo, en die Here sou hom aangeneem het omdat hy geglo het. Waarom sou sy besnydenis dan nie ook ‘n waarborg kon wees dat God hom aangeneem het omdat hy geglo het nie?

Deel van Paulus se argument is dat Abraham op dié manier die va­der geword het van almal wat ook eers moes glo en daarna besny is (Rom 4:11). Hoe kon hulle besnydenis ‘n ander betekenis as syne gehad het? Wat beteken dit dat hy hulle vader is?

Hierdie vreemde argument is ‘n poging om te probeer wegkom van die betekenis wat hierdie feit vir die *kinderdoop het. Want dit is merkwaardig dat die besnydenis, wat ‘n waarborg was dat iemand wat glo, gered is, ook aan babas bedien is. Ook die doop is so ‘n geloofsakrament. Waarom kan dit dan nie ook bedien word aan babas wat deel van die geloofsgemeenskap is nie?

Daar word soms gewys op die feit dat die besnydenis net aan mans en seuntjies bedien is, maar die doop aan alle mense. Maar dis net nog ‘n aanduiding van die feit dat vrouens in die Ou Testa­ment baie min getel het, terwyl hulle in die Nuwe Testament meer in eie reg na vore gekom het. (Gal 3:28 – *Onderdanigheid van die vrou)

Verskillende waarderings van die besnydenis

Die besnydenis word nie oral op dieselfde hoë vlak gestel as in Romeine nie. Veral in Galasiërs is Paulus baie negatief oor die besnydenis. Hy waarsku selfs dat Christus geen betekenis meer het vir heiden-Christene wat hulle laat besny nie (5:2).

‘n Mens moet onthou dat die verband in Galasiërs heeltemal van Romeine verskil. Paulus werk met ‘n situasie waarin die besnydenis losgemaak is van sy geloofsbetekenis en aan die wet-as-heilsweg gekoppel is. Dit was die Judaïste se argument: ‘n heiden moet die wet hou en besny word om gered te kan word. Dan is Paulus fel téén die besnydenis omdat dit Christus oorbodig maak.

Maar in ander situasies kon hy baie positief wees, soos toe hy Timoteus laat besny het (Hand 16:3). Dit be­klemtoon nogeens hoe belangrik verband is. In die een verband word aan die besnydenis heeltemal ‘n ander betekenis toegeken as in die ander verband. Dit sou byvoorbeeld vandag nog met die doop en die nagmaal kon gebeur. In ‘n situasie waarin mense glo dat jy outomaties gered is as jy net gedoop is, sou die kerk kon besluit om nie langer mense te doop nie totdat die misverstand uit die weg geruim is.

Aanvanklik het Joodse gelowiges hulle kinders besny (Hand 21:20 ev), waarskynlik omdat die doop aan die begin veral met son­devergifnis en reiniging verband gehou het (Hand 2:38; 22:16), en nog nie die betekenis van inlywing in die verbond gehad het nie, wat die primêre betekenis van die besnydenis was. Hierdie bete­kenis van die doop het eers later in Paulus se briewe na vore gekom.

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek.

 

Outeur: Prof Adrio König