Bloedlynvloeke – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Ek het ‘n navraag in die Mediasentrum gekry oor “Generational Curses”. Ek weet nie eintlik hoe om dit te vertaal nie – Oorgeërfde vervloeking? Vraag: As alles die heeltyd verkeerd loop en niks ooit wil uitwerk nie – kan daar so ‘n vloek op ‘n gesin/persoon wees? Wat is dit en hoe spreek mens dit aan?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Vir iets soos die sogenaamde bloedlynvloeke sal mense altyd tekste in die Bybel kry om hulle standpunt te regverdig. Maar dit beteken nie dat daardie tekste dan na hulle bedoeling aangewend word nie. Gewoonlik word tekste slegs “op die klank af” gebruik omdat hulle oënskynlik toepaslik is. In verband met bloedlynvloeke is ‘n gewilde teks altyd Eks 20:5, wat sê dat God die sondes toereken tot in die derde en vierde geslag. Maar dan word gerieflik vergeet dat hierdie vers spesifiek handel oor die sonde om afgode te dien en/of om van God afbeeldinge te maak wat neerkom op afgodery. (Eks 20:5 is naamlik ‘n uitbreiding van die tweede gebod wat in vers 4 begin – jy mag vir jou geen beeld of afbeelding maak nie.) Mense wat afgode dien of God deur beelde dien, se hele bestaan word besoedel – ook dié van hulle kinders, kleinkinders en agterkleinkinders (derde tot vierde geslag). Die agtergrond hiervan is die destydse opset waar uitgebreide families binne een kommune saamgewoon het. As die ouers afgode aanbid, of God met afbeeldings probeer dien (soos die omringende heidennasies), het dit almal wat in noue kontak met hulle geleef het – kinders, kleinkinders, ens – negatief beïnvloed. Die gevolge van so ‘n verkeerde godsdiens was dan sigbaar in die doen en late van almal wat afhanklik was van die familiehoof. Dit is wat “haat” hier beteken: solank as wat die ouers volhard in afgodery het dit ‘n slegte uitwerking gehad op almal in daardie familie. Sonde is immers nie net ‘n persoonlike saak nie; dit het ook bo-persoonlike gevolge omdat mense interafhanklik is van mekaar en by mekaar “afkyk” hoe om te lewe. En so brei die sonde uit na ander en “reken God die sonde toe” aan die derde en vierde geslag. God se “vloek” is dus direk gekoppel aan hoe mense in die praktyk leef – téén sy wil. Hierdie situasie is egter slegs van toepassing solank as wat daardie familie voortgaan om God op dié manier “te haat”. Sodra hulle daarmee ophou en tot inkeer kom, verander die situasie ten goede.

Daarom praat dieselfde Eks 20 ook van die liefde van God – dat Hy sy liefde betoon tot in die duisendste geslag van hulle wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou (20:6). God is dus nie haatdraend nie. Hy is baie meer daarop ingestel om mense te seën as om hulle te vervloek. Dit is wat Hy die graagste doen – om sy liefde aan mense te bewys. Sy verbondstrou hou daarom tot in die duisendste geslag. Eintlik is dit maar net ‘n manier om te sê dat dit nooit ophou nie. As mense Hom liefhet en sy gebooie onderhou – d w s, Hom dien volgens sy wil – dan is daar geen einde aan sy trou en liefde nie. God se seën is dus – net soos by die sonde – direk gekoppel aan hoe mense daadwerklik leef, naamlik volgens sy wil. Daarom sê Ps 103:8-18 dat Hy nie ons oortredinge teen ons hou nie; Hy bly nie vir ewig toornig nie en sal nie ons sondes bly toereken nie.

Ek het doelbewus by die uitleg van Eks 20:5-6 begin om in die lig hiervan verdere opmerkings te maak oor hoe ons die hart van God moet verstaan soos dit in die bladsye van die Bybel ontvou. Want in Eks 20:5-6 word eintlik ál die belangrike lyne sigbaar wat in die res van die Bybel in groter besonderhede uitgewerk word rondom ‘n onderwerp soos bloedlynvloeke. In die lig van hierdie totaalperspektief behoort mens te besef hoe vreemd dit is dat mense hulle hoegenaamd steur aan aansprake dat vloeke van mense of van God langs bloedlyne loop en dat dít die rede is waarom mense ongelukkig is.

Ek bespreek die onderwerp verder aan die hand van die volgende hofies:

 

Sonde is nie net persoonlik nie

Ons dink dikwels dat sonde net ‘n persoonlike aangeleentheid is. Maar die menslike geskiedenis vertel iets anders. Die sonde het nie net by Adam en Eva gebly nie, maar alle mense in die kern van hulle menswees aangetas. Dit is wat die leer oor die sogenaamde erfsonde ook wil sê. Ons dra naamlik swaar aan die las van die eerste mens se sonde. Ons word daarom in sonde ontvang en gebore. Sonde is nie net ‘n paar misstappies of verkeerde dinge wat ons doen nie, maar is veral ‘n bo-persoonlike mag wat oor ons heers. Ons is slawe van die sonde. En dit manifesteer dikwels binne families op bepaalde maniere. Kinders en kleinkinders ly onder die swak gedrag van hulle ouers, op meer as een manier. Mense wat as kinders mishandel en gemolesteer is, word dikwels self molesteerders as volwassenes. Die lewenspatrone wat hulle as kinders ervaar het, sit hulle dikwels as volwassenes voort. Dit is wat Eks 20:5 bedoel: die gevolge van die sonde is tot selfs in die derde en vierde geslag sigbaar. Maar dit het niks te doen met ‘n “vloek” wat in bloedlyne loop en waaruit jy nie kan breek nie. Daarom die volgende punt.

Mense kan tot inkeer kom

Dis een van die wonderlike temas in die Bybel – ‘n mens is nie so ‘n gevangene van jou verlede dat jy nie daaruit kan breek nie. Jy het keuses in die lewe; jy kan besluit om te breek met jou verlede en God en jou naaste lief te hê en te dien. Daarvan is die Bybel vol. Trouens, as dit nie so was nie, dan was daar geen kans vir enigiemand van ons nie. Elkeen kan en moet daarom self besluit hoe hy sy lewe gaan voer – as ‘n slaaf van die sondige verlede, of as ‘n vry mens om God te dien. God hou ons nie verantwoordelik vir die sondes van ons voorouers nie, maar beoordeel elkeen volgens sy/haar eie keuses. Dít is wat ‘n teks soos Eseg 18, veral vers 19-23 sê: Die seun sal nie weens sy pa se sondes sterf nie, en die pa nie weens sy seun s’n nie. Elkeen sal self aan God rekenskap gee van hoe hy lewe. God wil nie hê dat die goddelose moet sterf nie, maar dat hy hom bekeer en lewe.

Daar bestaan dus nie so-iets soos bloedlynvloeke waaruit jy nie kan ontsnap nie. Jy is self verantwoordelik vir hoe jy lewe. Elke mens het ‘n eie verantwoordelikheid. Jy kan nie jou lewe toeskryf aan jou ouers nie, al het jy hoe ‘n agterstand. Die Here gaan jou nie verskoon omdat jou ouers jou swak opgevoed het of aan jou ‘n slegte voorbeeld gestel het nie; Hy gaan vir jou vra watter keuses jy gemaak het, en op grond dáárvan gaan jy geoordeel word. Soos Eseg 18:30 sê: “Ek gaan julle oordeel, Israel, elkeen volgens sy eie optrede” (vgl ook Deut 24:16). Anders is ons voortdurend besig om die blaam vir ons eie sondes te verskuif na ander – my ouers, (slegte) vriende, die duiwel. Adam was die eerste een wat dit probeer doen het toe hy die blaam vir sy ongehoorsaamheid op Eva wou afskuif. Maar dit werk nie so by God nie. Jy kan kies om God te haat (soos Eks 20:5 sê) of jy kan kies om God lief te hê en Hom te dien (Eks 20:6). Dit is jóú keuse. Wat dus in jou lewe gebeur, het niks te make met een of ander vloek wat in jou bloedlyn loop nie, maar alles met jou keuse vír of téén God. So lees ons van koning Hiskia van Juda dat hoewel hy ‘n slegte agterstand gehad het met ‘n vorige koning (sy pa Agas) wat gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here, hy besluit het om te doen wat reg is in die oë van die Here (2 Kon 18:3; vgl met 2 Kon 16:2-3). Hiskia was dus nie ‘n gevangene van ‘n bloedlynvloek waardeur hy gedoem is om te doen wat verkeerd is nie.

God se genade is groot

Die rede hoekom mense kan verander, is omdat God se genade baie groter is as die ellende waarin ons onsself dompel. Hy heers oor die bose en skep daarom die ruimte om uit die mag van die bose en sonde los te kom. Dit het Jesus bewys toe Hy duiwels uit mense gedryf het. Een wat sterker is, het op die toneel verskyn. Dit wys Eks 20:5-6 ook reeds: God se verbondsliefde is baie sterker as die mag van sonde. Dit mag lyk asof ons nooit aan hierdie bo-persoonlike mag van sonde en boosheid kan ontkom nie, maar dis nie waar nie. Die genade van God is groter en sterker. Die sonde kan wel voortwoeker tot in die derde en vierde geslag, maar God se liefde strek tot in alle ewigheid. ‘n Gedeelte soos Rom 5 beskryf volledig hoe die sonde wel deur die ongehoorsaamheid van een mens (Adam) in die wêreld gekom en almal verkneg het, maar ook hoe die genade en redding deur die nuwe Mens (Jesus Christus) veel kragtiger was en nou oorvloedig teenwoordig is. Dit het die mag van sonde gebreek en die genade van God na die hele wêreld uitgebrei. Christus het ons vrygemaak van die vloek van die sonde (Gal 3:13: “die vloek wat die wet meebring” is niks anders nie as dat die wet ons aankla vanweë ons sonde). Elkeen kan nou drink uit hierdie oseaan van liefde en genade wat deur Christus tot stand gekom het.

Ons mag ons dus nie laat verkneg deur ‘n dwaalleer dat daar een of ander bonatuurlike vloek in ons bloedlyn is en dat dit die rede is hoekom dit met ons sleg gaan nie. Slegte dinge kan ook met goeie, gelowige mense gebeur. Dink aan wat met Job gebeur het. Al die ellendes in sy lewe het niks te make gehad met ‘n vloek in sy bloedlyn nie, maar met God wat ‘n groter doel met sy lewe gehad het.

Samevatting: Die siening dat daar so-iets is soos bloedlynvloeke wat veroorsaak dat ons vir geslagte lank vasgevang sit in allerlei ellendes is ‘n vals teologie. In Christus het God ons finaal verlos van die enigste vloek wat oor ons heers, naamlik die sonde. Elke mens is dus vry om God te dien en hoef nie te vrees dat sy bloedlynverlede hom sal inhaal en verhoed dat hy/sy voluit vir Christus kan lewe nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Bloedskande – Francois Malan

Elize vra:

Die Bybel oor bloedskande: jou pa, ma , oom, tante, broer, suster. Jou pa se vrou of ma se man (stiefpa en ma). Hoe moet mens dit verstaan, mag niggies en nefies dan trou met mekaar? Hoeveelste geslag is dit nie meer naasbestaande nie m.a.w nie meer bloedskande nie? Adam en Eva almal stam tog van hulle af. Watter geslag daarna is dit nie meer bloedskande. Net soos met Noag en sy kinders.

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die Bybel gee aanduidings oor huweliksverhoudings tussen familielede in Levitikus 18 en die strawwe vir die oortreders in Levitikus 20. Levitikus 18:6 lê die algemene reël neer: ‘Niemand van julle mag met ‘n naby bloedverwant geslagsgemeentskap hê nie. Ek is die Here.’ Daarop volg die grade van verwantskap in 18:7-18:

 

nie met jou ma of jou stiefma nie (vgl. ook 1 Korintiërs 5:1 daaroor)

nie met jou suster of halfsuster aan vaders- of aan moederskant nie

nie met jou kleindogter nie

nie met jou tantes aan vaders- en moederskant nie, ook nie jou oom se vrou nie.

nie met jou skoondogter, of jou skoonsuster nie

nie met ‘n vrou en haar dogter of kleindogter nie

nie met jou vrou se suster solank jou vrou nog lewe nie.

 

Die strawwe word aangegee in Lev 20:11-12,17,19-20 en vers 21 voeg by: nie jou broer se vrou afneem nie.

 

Die Suid-Afrikaanse huweliksreg is gebou op die Romeins-Hollandse reg, wat die lys hierbo, met uitsondering van die laaste een, almal opgeneem en almal ook op die vrou van toepassing gemaak het en die volgende bygevoeg het:

Nie met jou dogter/seun; grootouers, seun se vrou/dogter se man;

stiefkleinkind; broers- of susterskind nie.

Niggies en nefies word nie tans in een van die twee lyste genoem nie.

 

Die aantasting van die gesagsverhoudings in die familie is as ‘n belangrike rede vir sedelike veroordeling van bloedskande gesien. Deur die ondergrawing van die gesagselement deur die ontaarding van die seksuele verhoudings raak die hele samelewing deurmekaar. Die aanwysings in Levitikus bou eintlik voort op die vyfde gebod wat die Here vir Moses op die berg Sinai gegee het: ‘Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat de Here jou God vir jou gee’ (Eksodus 20:12).

In huwelike tussen naby familielede ontstaan daar soms genetiese versterkings of afwykings (die gene word geërf van jou ouers en voorouers en bepaal die fisiese, intellektuele en emosionele karaktertrekke van ‘n persoon. Die genetiese kode wat die karaktertrekke beheer word oorgedra deur die DNA op die chronosome in die kern van die sperm en eierselle, wat saamsmelt tydens bevrugting. ‘n Kind word dus geskep uit die genetiese materiaal van albei ouers).

Dit werk blykbaar so dat waar die goeie gene van albei saamgevoeg word, die goeie eienskappe versterk word in die kinders; maar die swak gene se samevoeging kan ook die swak fisiese, intelektuele en emosionele eienskappe versterk in hulle nageslag. Dit kom dikwels tussen boers en susters en soms ook tussen neefs en niggies voor, en in ‘n mindere mate tussen kleinneefs en kleinniggies.

Die wet van Sinai is 403 jaar na Abraham aan Moses gegee (vgl. Galasiërs 3:17) baie lank nadat Adam en Eva, en Noag gelewe het. Maar reeds in die wette van Hammoerabi, die koning van Babel, wat ‘n tydgenoot van Abraham was, was daar al aanwysings wat die huwelike tussen naby familie verbied het, omdat hulle die slegte gevolge daarvan op die nageslag gesien het.

Skrywer:  Prof Francois Malan