Interpretasie en toepassing van die Bybel

“What is the point of being alive if you don’t at least try to do something remarkable?” – John Green

Interpretasie en toepassing van die Bybel

Ons spandeer baie tyd daaraan om die Bybel reg te verstaan. Dit is baie belangrik dat ons dit doen, maar ons moet altyd besef dat dit nie die finale stap is nie – dit is nie waar alles ophou nie. Hoekom lees ons die Bybel? Om God te leer ken, want Hy openbaar Homself aan ons in die Bybel. Maar ons lees ook die Bybel om te hoor wat Hy van ons verwag en dit dan in gehoorsaamheid te doen. Luister na Jakobus: Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself … Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen (1:22, 25).

 

God het aan ons die Bybel gegee sodat ons deur die waarhede wat ons daar kry verander sal word; dat ons meer en meer soos Hy sal word; dat ons in ons liefde vir Hom sal groei.




Hoe berei ek my voor om die Bybel te lees?

We don’t hire people to do jobs, we hire people to build teams – Chris Hodges

 

Hoe berei ek my voor om die Bybel te lees?

As ek die Bybel oopmaak, ontmoet ek vir God daar. Hoe moet ek my voorberei vir hierdie ontmoeting? Die eerste vereiste is nederigheid. Nederigheid beteken ek aanvaar my rol – ek is ‘n student wat van die groot Leermeester wil leer. Ek lees nie die Bybel om vas te stel of die Bybel met my sienings saamstem nie. Ons lees die Bybel, want ons het nie die antwoorde nie. Ek los my eie agenda en kyk wat God vir my wil leer. As my leefstyl en dit wat ek glo, bots met die Bybel aanvaar ek die Bybel is verkeerd?  Die regte motivering maak die verskil. Ons weet dat ons almal kennis het. Kennis maak verwaand, maar liefde bou op (1 Korintiërs 8:1).

 

Die regte benadering tot die Bybel is om alles wat ek wil hê en verwag net daar te los – laat God vir ons vertel wat om te dink en wat om te doen. God moet ‘n opregte verlange na sy woord in ons harte ontwikkel. As jou hart nie reg is nie, sal jy die Bybel verkeerd gebruik.

Mense gebruik die Bybel op verskillende maniere:

  • As teksboek/ reëlboek – hoe moet ek my lewe leef.
  • Ek konsentreer op die stories en karakters – hulle bemoedig my en dien as modelle.
  • ‘n Mistiese benadering – my oog val op ‘n bladsy en daar kry ek geestelike bemoediging en leiding vir my lewe.
  • ‘n Akademiese benadering – ek bestudeer elke gedeelte in diepte.

Meeste van ons gebruik een of ander tyd elkeen van hierdie benaderings en nog baie ander. Ons weet ons het die Bybel nodig, maar ons sukkel dikwels in ons soeke om die meeste uit ons lees van die Bybel te kry.




Hoekom het God die Bybel vir ons gegee om te lees?

Saints won’t do the work of the ministry if shepherds don’t equip them – Wayne Cordeiro

 

Hoekom het God die Bybel vir ons gegee om te lees?

Hoekom het God besluit om met ons te praat?

  • Sodat ons van Hom kan leer. God openbaar Homself in die Bybel aan ons – Hy openbaar sy karakter en sy eienskappe aan ons deur vir ons sy soewereine optrede dwarsdeur die geskiedenis te beskryf. Hy wil hê dat ons sekere dinge van Hom moet weet. In die Bybel leer ons van sy mag, geregtigheid, barmhartigheid, toorn, heiligheid, deernis, ens. Hy word volledig in die Bybel beskryf. Daarom is dit nie nodig dat ek my eie prentjie van Hom moet ontwikkel nie. God wil hê dat daar geen wanbegrip oor Hom moet wees nie.
  • Om oor onsself en die wêreld waarin ons leef, te leer. Waar kom ons vandaan? Hoekom is die wêreld in die toestand waarin hy is? Waarheen is ons en die wêreld op pad? Die Bybel antwoord al die belangrikste lewensvrae – nie net sogenaamde godsdienstige waarhede nie. Die Bybel beskryf akkuraat die wêreld waarin ons woon – God het immers self die wêreld gemaak.
  • Om ons in staat te stel om goddelike lewens te lei. Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag (2 Petrus 1:3). As ons God ken, het ons alles wat ons nodig het vir ‘n goddelike lewe. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk (2 Timoteus 3:16 – 17). Hier spel Paulus die doel waarom ons die Skrif moet bestudeer duidelik uit. Onthou altyd die waarskuwing van die skrywer van die Hebreërboek: Die woord van God is lewend en kragtig. Die is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart (4:12).
  • Om ons verhouding met God te fasiliteer. Elke verhouding het kommunikasie nodig waarin die mens sy gedagtes, emosies, kommer en drome uitdruk. Dieselfde geld vir ons verhouding met God. In die Bybel deel God sy gedagtes en begeertes met ons. Hy het vir ons 66 boeke gegee sodat ons Hom beter kan leer ken. As ons die Bybel lees, luister ons na God se stem en word ons verhouding met Hom versterk.
  • Om Jesus Christus te verheerlik. Alle gebeure in die Bybel wys na God se Seun. Alles is geskryf om Jesus Christus te verheerlik.  Ons lees dus die Bybel om Jesus Christus in ons lewens te verheerlik.
  • Om ons vir ons Godgegewe roeping voor te berei. Reeds in Genesis 2:15 lees ons dat God die mens in die tuin laat bly het om dit te bewerk en op te pas. In Genesis 12 kry Abraham sy roeping van God. Ons is nie hier in die wêreld net om ons eie persoonlike verhouding met God te geniet nie – ons is ook hier as God se dienaars en ambassadeurs: Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ‘n beroep op julle doen (2 Korintiërs 5:20). Ons is mede-arbeiders van God. Ons kry ons opdragte van God – in die Bybel. Hoekom is ons hier? Hoe word ons deel van dit wat God besig is om op aarde te doen? Die Bybel antwoord al hierdie vrae … as ons net bereid is om te luister.

Volgende keer gaan ons kyk hoe ons ons moet voorberei om die Bybel te lees.




Hoekom moet ek die Bybel bestudeer?

“Live each day as if it is the last day, for one day, it will be.” – Anoniem

 

Hoekom moet ek die Bybel bestudeer?

Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het (Matteus 28:20). Dit is deel van Jesus se laaste opdrag aan sy dissipels. As ons dit wil doen, moet ons Jesus se onderrig en beloftes ken. Maar waar kry ons dit? In die Bybel.  Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry (1 Petrus 2:2). Dit is duidelik dat gelowiges op die Skrif moet vertrou vir geestelike oorlewing en groei.

 

Die Bybel is die woord van God. Wat beteken dit? Dit is iets wat God vir ons geskryf het. Ons kan dit sien as ‘n stem uit die hemel wat met ons praat. As die Bybel dan die woord van God is, moet dit tog elke aspek van my lewe vorm en elke besluit rig. Alles goed en wel, maar ek moet steeds weet hoe om die Bybel te hanteer – op die regte manier en vir die regte motiewe.

Hoekom lees ek die Bybel? Kom ons begin met drie verkeerde redes om die Bybel te lees.

  • Ek voel skuldig. Ek weet ek is veronderstel om die Bybel te lees en daarom doen ek dit. Dit is ook hoekom sommige mense eredienste bywoon. Hierdie skuldgevoelens gaan dikwels met wettisisme gepaard. Ons lees elke dag soveel hoofstukke en hou by die plan. Ons vergeet dat hierdie plan nie God se plan is nie. Binnekort verwag ons ander mense moet ook hierdie plan volg.
  • Status. Mense respekteer mense wat die Bybel goed ken. Natuurlik moet ons die Bybel goed ken, maar hoekom is dit nodig? Om slim te lyk? Om as die mees geestelike persoon in die kamer erken te word? Ek lees die Bybel, want ek het ‘n begeerte om God beter te leer ken; om deur sy Woord verander te word; om mense om ons lief te hê en te dien. Om die Bybel te wees om “beter” as iemand anders te wees, is verregaande.
  • Die Bybel is ‘n bron van leermateriaal. Hierdie is ‘n baie subtiele wangebruik van die Bybel. Natuurlik is dit noodsaaklik om die Bybel hiervoor te gebruik – die voorbereiding van preke, voorbereiding vir Bybelstudie … Die probleem is as ons die Bybel slegs as ‘n bron van studiemateriaal sien. Ons lees die Bybel om te luister wat God vir ons wil sê en leer. Daarom moet ons toelaat dat die Bybel ons op allerhande onverwagse maniere verander.

Volgende keer gaan ons na ‘n paar goeie redes om die Bybel te lees, kyk.