Die eenheid en diversiteit van die Bybel

 There are worse crimes than burning books. One of them is not reading them.” — Joseph Brodsky

Die eenheid en diversiteit van die Bybel

Is die Bybel een boek of 66 losstaande boeke? Iets wat ons gewoonlik van die Bybel verwonder, is sy ingewikkeldheid aan die een kant en sy eenvoud aan die ander kant. Teoloë kan hulle hele lewe spandeer aan die studie van ‘n spesifieke aspek in die Bybel; kinders kan die basiese boodskap verstaan. Hierdie kombinasie van ingewikkeldheid en eenvoud hou verband met die eenheid en diversiteit van die Bybel. Die Bybel is ‘n eenheid, want die hele Bybel is deur God geïnspireer en vertel een verhaal – God se verhouding met mense. Sentraal staan die verhaal van Jesus Christus.

 

Die raamwerk van die verhaal is eenvoudig; die besonderhede en die manier waarop die verhaal aangebied kan word, kan ingewikkeld wees. Die verhaal self gee aan die Bybel sy eenheid; die ingewikkelde manier waarop die verhaal ontvou, gee aan die Bybel sy diversiteit.

Eenheid in die Bybel

Daar is ‘n paar aspekte wat die eenheid van die Bybel bevestig:

  • Die sentrale verhaal wat dwarsdeur die Bybel loop, verenig al die verskillende dele in ‘n samehangende geheel. Daar is selfs geen onderbreking in die verhaal as ons van die Ou na die Nuwe Testament blaai nie: Jesus kom as die vervulling van die belofte wat reeds in Genesis begin het.
  • Die karakter van God bly onveranderd deur die hele Bybel – God in die Ou Testament verskil nie van die God van die Nuwe Testament nie. So sal ons dwarsdeur die Ou Testament tekste kry wat van God se liefde en deernis praat. Die Nuwe Testament skram ook nie weg van die toorn en oordeel van God nie. In Openbaring 9:15 word ‘n derde van alle mense op aarde doodgemaak. Beide testamente  vertel vir ons van ‘n God wat gekenmerk word deur beide liefde en geregtigheid, verlossing en oordeel.
  • Daar is ook heelwat belangrike teologiese temas wat in beide Testamente teenwoordig is. Die spanning tussen die wet en genade wat Paulus in Romeine en Galasiërs bespreek, is reeds duidelik in die skrywes van die Ou Testamentiese profete. Paulus verduidelik hierdie spanning deur die verbond met Moses (wet) en die verbond met Abraham (genade) te bespreek – iets wat ons ook in die Ou Testament kry.

Diversiteit in die Bybel

God gebruik ‘n groot verskeidenheid van literêre style in die Bybel om sy verhaal aan ons oor te dra. Ons kry onder andere verhale, gedigte, briewe, apokaliptiese literatuur, liedere, gelykenisse, visioene, klaagliedere, geslagsregisters, spreuke, ens. Hulle verskil in die wyse waarop hulle God se boodskap aan ons oordra. Die psalms verskil tog van die Brief aan die Romeine. Die temas wat hanteer word en die historiese konteks tussen die twee verskil ook. Kry ons in Psalms ‘n ander verstaan van God as in Romeine? Beslis nie.

Die Ou Testament is die inleiding en vroeë deel van die verhaal en die Nuwe Testament die hoogtepunt en vervulling van die hele verhaal. Die Nuwe Testament, in sekere aspekte, is ‘n duideliker en vollediger openbaring. Dit beteken nie dat die Ou Testament verkeerd was nie, maar net dat sekere waarhede in die Ou Testament nog beperk en onvolledig was. In die Ou Testament kry ons nie ‘n duidelike onderrig oor die Drie-eenheid nie. Nadat ons die Drie-eenheid vanuit die Nuwe Testamentiese perspektief gesien het, kan ons na die Ou Testament  teruggaan en wel die Drie-eenheid sien – maar nie so duidelik soos in die Nuwe Testament nie. Veral die interaksie tussen Vader, Seun en Heilige Gees word duideliker in die Nuwe Testament  geopenbaar.

In die Ou Testament is die land baie belangrik. In die Nuwe Testament word die klem op die land deur klem op die koninkryk van God vervang. Die Ou Testament fokus op seëninge hier en nou; die Nuwe Testament kyk meer na geestelike seëninge en die ewige lewe en fokus veral op die opstanding van die dooies – iets waarvan die Ou Testament min sê.

Gevolgtrekking

Die Bybel is ryk, ingewikkeld en onuitputlik diep, maar dit is ‘n eenheid met ‘n sentrale verhaal wat maklik begryp en geglo kan word.




Hoeveel is jou Bybel werd?

Hoeveel is jou Bybel werd?

By ‘n veiling in New York is Einstein se Bybel vir $68 500 verkoop. Voor in het hy geskryf: “Hierdie boek is ‘n groot bron van wysheid en vertroosting en moet gereeld gelees word.” (Die oorspronklike is in Duits geskryf.) In die VSA is daar ‘n kerk en buite lees ons die volgende: A Bible that’s falling apart, belongs to someone who isn’t.”

Val jou Bybel uitmekaar? Hoeveel is jou Bybel vir jou werd?




Wat weet jy van die Bybel?

Elisabeth Kubler-Ross, psigiater en skrywer (1926-2004)

Wat weet jy van die Bybel?

Die primêre ding wat ons van die Bybel moet weet, is: Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig , dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek (2 Timoteus 3:16). Dit is egter nie al wat ons van die Bybel moet weet nie. Hier is nog ‘n paar dinge:

  • Die woord Bybel se herkoms is die Griekse ta biblia – die boeke. Die gebruik deur Christene van die woord kan terug gevolg word tot ongeveer die jaar 223.
  • Die woord testament beteken verbond. Die Ou Testament verwys na die Here se verbond met Abraham en die volk van Israel. Die Nuwe Testament verwys dus na die verbond wat God deur Christus met gelowiges in Christus aangegaan het.
  • Stephen Langton, die Aartsbiskop van Kantelberg, het in die vroë 13de eeu die Bybel in hoofstukke verdeel. Robert Estienne, ‘n drukker uit die 16de eeu, was die eerste persoon wat die Bybel verdeel in standaard genommerde verse gedruk het.
  • Die eerste rooi letter Nuwe Testament (die woorde van Christus word in rooi gedruk) word in 1899 gepubliseer. Hierdie idee kom van Lous Klopsch, redakteur van die Christian Herald. Hy kry die idee nadat hy Jesus se woorde in Lukas 22:20 gelees het: Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word.
  • Die Bybel is nie alleen die topverkoper van alle tye nie, maar is elke jaar die topverkoper. In die VSA alleen word ongeveer 25 miljoen Bybels – een vir elke 12 van die bevolking – verkoop of versprei.
  • Al die boeke van die Ou Testament met die uitsondering van Hooglied, Prediker en Ester word in die Nuwe Testament aangehaal. Jesus self haal uit Genesis, Eksodus, Levitikus, Deuteronomium, Psalms, Spreuke, 1 Konings, Jesaja, Jeremia, Esegiël, Daniël, Hosea, Amos, Jona, Miga, Sagaria en Maleagi aan.



Foute wat ons maak as ons die Bybel lees

. —William Jenkyn

Foute wat ons maak as ons die Bybel lees

Frank Viola identifiseer agt foute wat ons algemeen maak as ons die Bybel lees:

  • Lees die Bybel sonder gebed. Die Bybel is ‘n geestelike boek en kan nie sommer soos enige ander boek gelees word nie. Die verligting van die Heilige Gees is nodig as ons die Bybel akkuraat wil verstaan en toepas. Gebed voor en na ons die Bybel lees, is noodsaaklik.
  • Word vasgevang in die dinge wat jy nie verstaan nie. As jy die Bybel lees, kom jy dikwels voor verse of paragrawe te staan wat jy nie verstaan nie. Moenie op hulle fokus nie; gaan voort en kom later na hulle terug. Konsulteer ‘n kommentaar. Ons verstaan meer as ons die geskiedkundige konteks verstaan.
  • Lees te vinnig. Jy kan nie die Bybel lees soos jy fiksie lees nie Lees dit stadig; lees ‘n paragraaf een, twee, drie maal.
  • Lees sonder berou.  Ons geestelike toestand bepaal hoe ons lees en wat ons daaruit kry. As daar iets in my lewe is waarop God sy vinger geplaas het en ek het dit nog nie hanteer nie, dan moet ek dit eers hanteer, want dit gaan bepaal wat ek uit die Skrifgedeelte kry. Dit gaan nie net oor die metodes wat ons gebruik nie, maar onsself moet in die regte toestand wees.
  • Pas die Ou Testamentiese wette en rituele waarmee weggedoen is of wat vervul is, steeds toe. Hier dink ons aan die voedselwette, die offerrituele, kleredrag, ens. Ons moet hulle nie weer herinstel nie.
  • Ons sien nie vir Jesus Christus in die Ou Testament raak nie. Die Ou Testament praat van, getuig van, wys na Jesus Christus. Jesus Christus het dit self bevestig.
  • Lees die Bybel uit konteks. Jy moet vooraf die konteks en geskiedkundige omstandighede van elke boek bepaal – vir wie is die boek geskryf, wanneer is dit geskryf, ens.
  • Lees die Bybel sonder om dit jou eie te maak. Ons gaan na die Bybel en soek inligting wat op ander mense van toepassing is – nie dit wat op jouself en jou lewe van toepassing is nie. Jy moet die Bybel vanuit jou persoonlike hoek lees.

Vir baie van ons word Bybellees ‘n werk en nie ‘n vreugde nie. Die woorde is droog; ons gedagtes dwaal; die bladsye  is leeg. Dan moet jy seker maak dat jy hierdie foute vermy.