Identifiseer die gehoor van die Bybelboeke – Hermie van Zyl

Namaria vra:

Ek doen ’n kursus en een van die vrae is dat ek die gehoor moet identifiseer van die 66 Bybelboeke. Wat bedoel hulle met die gehoor?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Met “gehoor” van die Bybelboeke word bedoel die eerste lesers aan wie die oorspronklike geskrifte van die Bybel gerig is. Die Bybel, dit wil sê die Ou Testament (OT) met sy 39 boeke en die Nuwe Testament (NT) met sy 27, het oor ’n baie lang periode ontstaan. Wat die NT betref het dit wel binne ’n relatief kort periode ontstaan, so ongeveer 50-60 jaar, maar die OT het oor ’n tyd van ten minste 1000 jaar tot stand gekom. En elkeen van hierdie 66 boeke het in unieke historiese omstandighede ontstaan. Goeie Bybeluitleg vereis dat daardie omstandighede so goed moontlik gerekonstrueer moet word, want dit help ons om die boodskap van elke boek beter te verstaan as ons kan sê wanneer, waar, deur wie en aan wie hulle oorspronklik geskryf is.

Punt is, die gehoor van die Bybelboeke verwys na die eerste mense of leserskring vir wie ’n bepaalde Bybelboek oorspronklik geskryf is.

Ιn sommige gevalle is dit relatief maklik om die eerste gehoor te identifiseer. Neem byvoorbeeld Paulus se briewe. Hy gewoonlik aan wie hy die brief rig, byvoorbeeld die gemeente in Tessalonika in Masedonië, Korinte in Griekeland, of Kolosse in Klein-Asië (1 Tess 1:1; 1 Kor 1:2; Kol 1:2). Ander kere is dit nie so maklik om die eerste gehore vas te stel nie. Neem byvoorbeeld die Evangelies. Hier is Lukas seker die “maklikste”, want die outeur sê dat hy dit aan ene Teofilus rig (Luk 1:1-4). Maar wie is hierdie Teofilus – ’n regte persoon of ’n skuilnaam? En is die Evangelie net vir hierdie persoon bedoel, of vir ’n meer algemene leserskring? En die ander Evangelies? Van hulle weet ons nog minder wie die eerste leserskring was, want dit word nêrens pertinent genoem nie. Dan moet mens maar uit die interne gegewens van die Evangelies met intelligente raaiwerk by antwoorde probeer uitkom.

Wat die Ou Testament betref raak die saak nog ingewikkelder, want hier het ons met ’n geweldige lang periode te doen waarin die boeke ontstaan het. By die profetiese boeke gaan dit nog “maklik” omdat mens die optrede van ’n bepaalde profeet min of meer kan vaspen binne ’n sekere tyd, byvoorbeeld Haggai wat ná die ballingskap aan die terugkerende Joodse ballinge na Palestina gerig is. Maar by die eerste vyf boeke van die Bybel, Genesis tot Deuteronomium, is dit bykans onmoontlik om ’n spesifieke eerste leserskring te identifiseer, gewoon omdat hierdie boeke oor ’n lang tyd verskillende redaksionele stadiums deurloop het voordat hulle uiteindelik die vorm aangeneem het waarin ons hulle vandag het. Ons kan hoogstens sê dat die gehoor in hierdie geval die volk Israel (later die Jode genoem) oor verskillende tydperke is.

Bogenoemde is maar net om kortliks te sê dat die kwessie van eerste lesers of gehoor van die verskillende Bybelboeke ’n komplekse aangeleentheid is. Indien die vraagsteller dieper hierop wil ingaan, kan sy gerus ’n boek soos Die Bybellennium: ’n Eenvolume-kommentaar van Christelike Uitgewersmaatskappy raadpleeg. Hierdie boek probeer by elke bybelboek ’n aanduiding gee van wie die eerste lesers of gehoor was.

Laastens kan ek net byvoeg dat uiteindelik elkeen wat die Bybel lees, deel uitmaak van die gehoor van die Bybel. Want die Bybel word deur al die eeue gelees as God se Woord aan elke geslag gelowiges. Maar dit is ’n kwessie op sy eie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die ontstaan van die Nuwe Testament – Francois Malan

Ronel vra:

Noem die vier stadiums waarop boeke in die NT opgeneem is.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die boeke van die Nuwe Testament is nie eintlik in ’n bestaande boek opgeneem nie, maar die boek het ontstaan uit die verskillende boekrolle wat met die hand geskryf is, waarvan die gesag van die Here se woord in die boeke deur die gemeentes beleef en aanvaar is. Die vooraf stadium was die mondelinge vertelling deur sy apostels en oorvertelling daarvan in die gemeentes van die woorde van Jesus en die verhale oor Jesus se optrede, sy kruisiging, dood, opstanding en hemelvaart, en die verwagting van sy wederkoms wat Hy voorspel het. Die eerste stadium is die erkenning van die basiese getal geskrifte as die norm vir die geloof en lewe van die Christene. Die Nuwe Testament is ’n versameling van 27 boeke wat deur verskillende persone op verskillende tye geskryf is, aan verskillende persone en gemeentes, onder verskillende omstandighede. Die geskrifte is onder leiding van die Heilige Gees met die hand geskryf en deur die ontvangers as die Woord van God aanvaar. Die briewe wat die apostels aan gemeentes geskryf het gehandel oor spesifieke probleme en onduidelikhede wat in gemeentes ontstaan het. Met verloop van tyd het gemeentes kopieë vir hulle gemaak van briewe wat by ander gemeentes ontvang is. So het ’n gemeente bv. ’n geskrif ontvang waarvan ’n ander gemeente ’n afskrif gemaak het. Paulus sê bv. aan die gemeente in Kolosse: ‘En wanneer hierdie brief by julle voorgelees is, sorg dat dit ook in die (buur-) gemeente Laodisea voorgelees word, en dat julle ook die brief wat van Laodisea af kom, voorlees (Kol 4:16). So het sommige gemeentes ’n aantal boekrolle gehad wat Paulus geskryf het, en wat hulle saam met rolle van die Griekse vertaling van ’n aantal van die boeke van die Ou Testament in hulle eredienste gebruik het. Op verskillende tye is die boekrolle in verskillende gemeentes aanvaar as die Woord van God, die maatstaf (kanon) vir hulle lewe, voordat dit onderskei is van baie ander geskrifte. 2 Petrus 3:16 verwys na al Paulus se briewe, wat wys dat daar reeds vroeë versamelings van party van sy briewe gemaak is. Die briewe van Paulus was almal klaar geskryf voordat die Evangelies geskryf is. Die Evangelieskrywers het later die woorde en werke van Jesus op versoek van gemeentes saamgestel uit die apostels se ervarings van Jesus en wat hulle aan hulle helpers vertel of voorgedra het. Dit is saam met die voorlesing uit die Ou Testament in die gemeentes gelees. Terwyl die Ou Testament se wet en profete die eintlike bron vir die leiding van die gemeentes was (vgl. Matt 5:17; 2 Tim 3:15-17), het die geskrifte van die apostels al wyer bekend geword en die maatstaf vir die gemeentes geword saam met die Ou Testament. Ook ander geskrifte deur kerklike figure is later in die eredienste gelees, soos Ignatius se briewe aan die Filippense, 1 Klemens in Korinthe, die Polikarpusbrief, ens. Hulle het egter nie dieselfde gesag gehad as die geskrifte wat van apostels af gekom het nie. Later moes die gemeentes leiding kry oor watter boeke die fondament vir die geloof van die gemeentes is en watter net goeie leesstof, wat nie dieselfde gesag het nie. In die tweede helfte van die 2e eeu n.C. was daar al versamelings van die vier Evangelies, Paulus se briewe., 1 Petrus en Hebreërs. Die tweede stadium die totstandkoming van die idee van ’n kanon van die boeke van die Nuwe Testament was die geleidelike aanvaarding daarvan as die Woord van God, deur die gemeentes, en die vervanging van die mondelinge tradisie met dié geskrifte. Terwyl die vroegste skrywers soos Klemens (96 n.C), Didache (95-120 n.C.), Ignatius (ongeveer 110 n.C.), Barnabasbrief (135 n.C.) woorde van Jesus aanhaal, berus hulle uitsprake meer op die mondelinge tradisie wat hulle hoër ag as die geskrewe woord. Papias (135 n.C.) verkies ook die mondelinge tradisie maar weet skynbaar van Markusevangelie en sekere woorde (logia) van Matteus. In 140 n.C. word enkele aanhalings uit die Evangelies gemaak in die 2e brief van Klemens. Teen 165 n.C. word telkens verwys na die Evangelies as bron deur Justinus die Martelaar. Daar was ’n groeiende erkenning van die normatiwiteit van die Nuwe Testamentiese geskrifte van ongeveer 95-165n.C. Die derde stadium (150-190 n.C) die afgrensing van die kanon teenoor die apokriewe geskrifte wat in die naam van die apostels geskryf word met legendes oor Jesus, Paulus en ander apostels, en die openbaringsaansprake van die Montaniste, wat hulle nuwe openbarings naas die Nuwe Testamentiese boeke as gesaghebbend beskou. Ireneüs en Athenagoras (albei 180 n.C.) staan by die oorgang van die tweede na die derde stadium. Die Nuwe-Testamentiese geskrifte word deur hulle as gelykwaardig aan die Ou Testament se boeke beskou en hulle het die Nuwe-Testamentiese geskrifte as maatstaf (kanon) gebruik in hulle stryd teen die ketters. Teofilus van Antiochië noem die Johannesevangelie as Heilige Skrif. Met die groot aantal boeke wat in die tweede helfte van die 2e eeu geskryf is en afwykende leringe verkondig het, het dit noodsaaklik geword dat die kerk aanwys watter boeke as maatstaf (kanon) vir die kerk en prediking gebruik kan word. In 144 n.C. stel Marcion sy lys van aanvaarbare boeke op. Hy verwerp die Ou Testament as ’n Joodse boek met hulle wet en geregtigheid deur wetswerke en minderwaardige aardse bindinge, en stel die evangelie van die liefdevolle en barmhartige God op wat slegs deur Paulus reg verstaan is. Van die Evangelies behou hy net die ‘nie-Joodse’ Evangelie volgens Lukas en tien briewe van Paulus, maar suiwer die Evangelie en Paulus se briewe van alle Joodse invoegings. Dit ontlok ’n wye reaksie wat die idee van ’n kanon gestimuleer het. Die vierde stadium is die afsluiting van die Nuwe Testamentiese kanon van ongeveer 190 n.C. tot die vyfde eeu. Die kanon Muratori wat moontlik rondom 200 n.C.in Rome geskryf is oor verskillende geskrifte praat van erkende of aanvaarbare geskrifte vir gebruik in die erediens. Die eerste Griekse skrywer wat die naam ‘Nuwe Testament’ gebruik is Klemens Aleksandrinus (dood voor 215 n.C.) en sy opvolger Origenes (185-254 n.C.); die eerste Latynse skrywer is Tertullianus. Hulle verwys na die Ou Testament en die Nuwe Testament. Die aantal boeke waarna hulle verwys is meer as die huidige 27. Atanasius van Alexandrië se nege-en-dertigste Paasbrief in 367 n.C. aan die gemeentes in sy metrogebied bevat presies dieselfde 27 boeke van ons huidige Nuwe Testamentiese kanon, en noem dit ook die kanonieke boeke (wat die maatstaf is vir die kerk) teenoor die nie-kanonieke boeke. Sy invloed in die Oosterse en Westerse kerk was so groot dat sy kanon groot instemming en navolging gevind het. Die sinode van Rome 382 n.C. het die 27 boeke van die Nuwe Testament as kanoniek aanvaar, so ook die sinodes van Hippo Regius 393 n.C. en Karthago (397 n.C.). Pous Innosensius het in 405 n.C. gesê die kerk erken al 27 boeke as die kanon vir die kerk. (In 1546 het die Roomse konsilie van Trent die Bybelkanon as ’n geloofsartikel aanvaar. Dit het die inhoud van hulle Vulgata as hulle maatstaf gebruik, nl. die Ou Testamentiese Boeke, die Ou Testamentiese Apokriewe en die Nuwe Testament. Die Nederlandse Geloofsbelydenis van 1561 het die Ou Testament se 39 boeke en die Nuwe Testament se 27 boeke as kanoniek bely, en dat die Ou Testamentiese apokriewe wel gelees mag word en daaruit geleer word, maar dit het geensins die krag om die geloof van die Christelike godsdiens te bevestig nie. Dié geloofsbelydenis is in 1619 deur die Dordtse sinode aanvaar om alleen as outentiek gehou te word).

Skrywer: Prof Francois Malan




Hooglied in die Bybel – Francois Malan

Francois vra

Waarom is Hooglied `n bybelboek? . Daar word nie na God Jesus Christus of die Heilige Gees verwys nie. Ook nie na sonde bekering of vergifnis nie.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord

God se wêreld bevat veel meer as slegs eng godsdienstige sake. Dit omsluit ons hele lewe, wat die pragtige maar ingewikkelde wêreld van die liefde tussen ’n meisie en haar beminde insluit. Die wysheid van die Spreukedigter sê, hoe die liefde tussen ’n man en ’n meisie werk, is bo sy begrip. Hy verstaan dit nie (Spr 30:18-19). In Hooglied word veral die meisie se kant beskryf en die man se reaksie daarop.

Hooglied is nie die werk van ’n teoloog nie, maar van ’n woordkunstenaar, ’n Hebreeuse digter, wat met ’n rykdom woorde, pragtige beelde uit die natuur en literêre kunsvorms die atmosfeer skep vir die ontplooiing van die mooi liefdesverhouding tussen een man en een meisie wat tot ’n monogame huwelik lei.

In die boek vind ons treffende beskrywings van die skoonheid in die natuur, wat getuig van ‘n waardering vir die skoonheid van die skepping (2:11-13; 6:11; om die meisie te beskryf 4:1-5; om haar beminde te beskryf 5:11-13). Die skrywer se waardering vir die natuur word verbind met die innigheid en liefdesverlange van die vrou en die man na mekaar (5:6-8; 7:11-13; 8:1-3; asook 2:3-6 waar sy hom haar koning noem, 2:16; 4:10 waar hy haar besing; 6:3 haar reaksie, ens.). In Hooglied word die gesonde, natuurlike liefde besing waarby die liggaam ’n belangrike rol speel (1:15-16; 2:9-10,14; 4:10; 5:11-16 en veral 7:1-10). Die feit dat Hooglied in die Bybel staan, bewys dat daar in God se bestel plek is vir die mens se vreugde en sy behoeftes; dat die liggaam ook ‘n plek het in die bedoeling van God. Ware liefde is spontaan en moet daarom as ’n geskenk van God, wat ook deur Hom geheilig is, gesien word (8:6-7). Die gawe van die liefdeslewe moet daarom as ’n geskenk uit sy hand aangeneem word. So het God dit ook beskik dat die boek in die Bybel opgeneem is, soos ook Prediker en Spreuke. Ps 45 is ook ’n gedig, so ’n Lied van die liefde.

Die Hebreeuse Bybel is ingedeel in die Wet, Profete en Geskrifte. Hooglied is een van die 5 Feesrolle in die afdeling Geskrifte, wat tydens die 5 groot feeste in Israel gelees word. Hooglied word op Paasfees voorgelees, waarskynlik weens die skildering van God se verlossing van sy volk uit die Egiptiese slawerny en uit die ballingskap in Babel wat tydens Paasfees gevier word, met die beeld van Israel as ‘n versierde vrou en bruid  (Jes 49:18; 61:10) en God se vreugde oor sy volk, soos ’n bruidegom oor sy bruid (Jes 62:5).

In die Hebreeuse Bybel word die boek genoem ‘Die Lied van die liedere’ en is reeds in 100 v.C. in Qumran gebruik. Die Griekse vertaling van die Hebreeuse Ou Testament wat reeds meer as 200 jaar voor Christus vertaal is, was die eerste Christelike gemeentes se Bybel en het so deel geword van die Christelike Bybel.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Skrywers van die Bybelboeke

Skrywers van die Bybelboeke – Francois Malan

Vraag:

Stuur asb  vir my alles aan wat u het oor die skrywers van die Bybel.

Antwoord:

 

Prof Francois Malan antwoord:

Dit is onmoontlik om alles aan te stuur. Hier volg ‘n klein blikkie op die probleme van wie die boeke geskryf het. In die ou tyd was daar nie wette oor plagiaat nie of skrywers wat jaloers was op hulle produkte nie, maar was dit ‘n eer om iemand se naam aan ‘n boek te gee wat hy nie alles geskryf het nie. Baie van die opskrifte is later eers by ‘n geskrif aangebring.

1-5 Aan die eerste vyf boeke van die OT het verskeie groepe saam gewerk. Hulle het gebruik gemaak van dele wat Moses opgeteken het (vgl. bv. Eks.17:14; 24:4; 34:28; Num.33:2; Deutr.31:9,22 ) en het mondelinge oorlewerings en insigte mettertyd op skrif gestel. Onder die groepe tel priesters, die koninklike hof, leviete, en profete.Sommige groepe gebruik die soortnaam God vir die Skepper (Elohim in Hebreeus) ander die eienaam Here (Jahweh in Hebreeus) die verbondsnaam vir Israel se God wat Hy aan Moses gegee het (Eks.3:14-15), party gebruik altwee name.

Genesis interpreteer die oertyd met twee skeppingsverhale (1:1-2:4a; 2:4b-25): die sondeval en sy gevolg (3:1-6:4) en sondvloed 6:5-9:29), en twee verhale oor die verspreiding van die nasies (10 en 11:1-9)); daarna die aartsvadertyd van God se genade oor Abraham en sy nageslag.

Deuteronomium herhaal grootliks wat reeds in Eksodus, Levitikus en Numeri vertel is oor Moses as God se segsman om sy volk uit slawerny uit te lei, maar Deuteronomium het heeltemal ‘n ander skryfstyl. Josua is ‘n vervolg op die gebeurtenisse waarvan die eerste vyf vertel. Baie van die opteken en interpretasie kon reeds in Dawid en Salomo se tyd (1000-931 v.Chr.) plaasgevind het, maar tot in Esra en Nehemia se tyd (458-428 v.Chr.) is daar moontlik aan die finalisering van die boeke gewerk.

6,7,9-12 Die omvattende weergawe van Israel se geskiedenis wat in Josua, Rigters, 1 & 2 Samuel, 1 & 2 Konings beskryf is, word die Deutronomistiese Geskiedwerk genoem, omdat die geskiedenis van God se volk Israel beoordeel word vanuit die bepalings wat in die boek Deutronomium neergelê is. Die werk het uit verskeie vroeëre geskrifte gegroei. Vgl. Jos. 8:32; 24:26; Jos. 10:13 verwys na die Boek van die Opregte; Konings verwys meer male na die annale van die konings van Israel of Juda (bv. 1 Kon.2:19,29). Die afronding moes geskied het na die ballingskap (597-538 v.Chr.) aangesien dit gebeurtenisse tot en met die vrylating van Jojagin meedeel (2 Kon.25:27).

8 Rut word in die Hebreeuse bybel geplaas onder die Geskrifte wat die Jode beskou as later as die Wet en die Profete boeke geskryf. Rut is een van die vyf feesrolle. Dit word tydens die Pinksterfees, wat ook ‘n oesfees is, in die sinagoges gelees. Die Griekse vertaling van die OT (in die 3e eeu v.Chr gemaak) het Rut ná Rigters geplaas, omdat dié gebeure in die Rigtertyd plaasgevind het (vgl. Rut 1:1 se ‘tyd van die leiers’). Die geslagsregister in 4:18-22 loop tot by Dawid, en kan moontlik aandui dat dié klein novelle in Salomo se tyd afgerond is.

13-16 Die Kronistiese Geskiedwerk bestaan uit 1 & 2 Kronieke, Esra en Nehemia. Hierdie historiese werk dek die tydperk van die skepping tot by Nehemia (428 v.Chr.). Die vier boeke val ook onder die Geskrifte in die Hebreeuse Bybel, maar is deur die Griekse vertaling ná 2 Konings geplaas, omdat dit dieselfde geskiedenis oorvertel en verder voer tot na die ballingskap (vgl. 2 Kron.36:22-23). Die skrywers van die Geskiedwerk maak gebruik van die ouer geskrifte, waarskynlik ook van Samuel en Konings, en is waarskynlik teen 350 v.Chr. afgerond, voor die val van die Persiese ryk in 539 v.Chr., wat nie daarin beskryf word nie.

17 Die klein novelle Ester is ook een van die Joodse feesrolle, en word tydens hulle Purimfees gelees (vgl. Ester 9:26). Ahasveros regeer van 486-464 v.Chr. en die boek is waarskynlik teen die 4e eeu v.Chr. geskryf.

18 Die wysheidsboek Job bestaan uit ‘n verhalende inleiding en slot oor Job, met lang gesprekke in digvorm tussenin. Die prosa dele is die oudste en dateer uit die tyd voor die ballingskap (597-538 v.Chr.). Die grootste deel van die middelstuk kon in die loop van die ballingskap en daarna bygekom het.

19 Die Psalmbundel bestaan uit verskillende versamelings van liedere wat deur Israel se kore en soliste in die erediens gesing is. Die opskrifte, wat later aangebring is, verbind sekere psalms aan sekere persone, bv. Dawid. Die Hebreeuse koppelwoord kan egter ‘aan Dawid’ en ‘van Dawid’ aandui.

3-41 die Dawid-versameling (waaronder bv. 24,26 oor die tempel wat na Dawid gebou is)

42-83 die Elohistiese-versameling gebruik die naam ‘God’ en nie Here nie (vgl. 53 met God

en 14 met Here by dieselfde lied), om nie die Naam van die Here ydellik te gebruik nie.

42-49 die Korag-versameling

50,73-83 die Asaf-versameling

51-72 die klein Dawid-versameling (vgl. 72:20 al is 72 aan Salomo toegeskryf)

84-150 bevat kleiner groepe:

84-85,87-88 Korag-liedere

86,108-110,138-145 derde groep van Dawid-liedere

120-134 pelgrimsliedere, (met 4 Dawid-liedere en 1 Salomo-lied)

105-107, 135,136 halleluja (loof die Here) liedere

89,90-104,115,119,137 later byvoegings

Aan Dawid word 73 psalms toegeskryf, 2 aan Salomo, 1 aan Moses (90), 12 aan Asaf, 12 aan die seuns van Korag, 1 aan Heman (88), 1 aan Etan (89), 1 aan Jedutun (39).

Later is die bundel in vyf dele verdeel, wat elkeen met ‘n lofprysing eindig, en Psalms 1 en 2 as inleiding tot die gesamentlike bundel:

1-41 met die lofprysing in 41:14

42-72 met die lofprysing in 72:19

73-89 met die lofprysing in 89:53

90-106 met die lofprysing in 106:48

107-149 met 150 as die lofprysing waarmee die bundel afsluit.

20 Die Spreukebundel, met Salomo-tipe wysheid (1 Kon 4:29-34), bestaan uit ‘n hele aantal versamelings uit die 10e tot die 4 eeu v.Chr.:

10:1-22:16 ‘n Salomo-versameling van na die ballingskap, met Aramese invloed.

22:17-24:34 ‘n versameling van die wyses uit Salomo se tyd, met Egiptiese invloed.

24:23-34 ‘n tweede versameling van wyses (tyd onseker)

25-29 Salomo-spreuke deur Hiskia (714-686 v.Chr.) se amptenare versamel (dit is die oudste

versameling)

30 ‘n Agur-versameling (moontlik van Arabiese oorsprong)

31:1-9 ‘n Lemuël-versameling (moontlik ook van Arabiese oorsprong)

31:10-31 ‘n Gedig oor die ideale vrou (moontlik na die ballingskap wat 31:3 se ander kant stel)

1-9 as inleiding tot die bundel uit die 4e eeu v.Chr. met tekens van Griekse invloed.

21 Prediker is saam met Job en Spreuke die drie wysheidsboeke van die Ou Testament, en is deel van die Hebreeuse Geskrifte, en is een van die feesrolle, wat tydens die Loofhuttefees in die sinagoges gelees word. Prediker is ‘n skuilnaam, en die skrywer gebruik die gesag van die seun van Dawid en koning in Jerusalem wat wyser as al sy voorgangers is (Pred.1:1,16), maar die Aramese en Persiese woorde in die boek is ‘n aanduiding van die 4e tot die 3e eeu v.Chr. (en nie van Salomo van die 10e eeu v.Chr. nie).

12:9-11 kom van ‘n student van die prediker wat sy lof toeswaai.

12:12-14 kom van ‘n kritikus wat die prediker se pessimisme versag met gehoorsaamheid aan die wet.

22 Hooglied is ‘n versameling liefdesliedere oor die verhouding tussen één man en één vrou in die huwelik, teenoor die koning met sy baie vroue en byvroue en geld (vgl. 6:8; 8:12). Dit is een van Geskrifte in die Hebreeuse bybel, is een van die feesrolle, en word tydens Paasfees in die sinagoges gelees. Die opskrif ‘van Salomo’ kan in Hebreeus ook ‘aan Salomo’ wees en dit is onseker wie die skrywer(s) is.

23 Jesaja – ‘n onbekende skrywer het waarskynlik die boek teen ongeveer die jaar 435 v.Chr. geskryf aan die mense van Jerusalem, wat uit ballingskap teruggekom het na die ruïnes van die verwoeste stad, wat teleurgesteld is in die nuwe tempel wat hulle gebou het en afsteek by die ou Salomo-tempel, wat sonder ‘n koning is, en verdeeld is in verskillende groepe wat oor godsdiens en politiek van mekaar verskil, met die Jode wat oor die wêreld verstrooid woon. Die skrywer gebruik ou materiaal wat hy versamel het, redigeer dit en bied dit aan as ‘die gesig’ wat Jesaja 300 jaar tevore gehad het (1:1) met die Assiriese bedreiging en die tien stamme se wegvoering in 722 v.Chr, daarna die Babiloniese ballingskap van die twee oorblywende stamme wat in 597 v.Chr. begin , en daarna die bevryding deur die Perse wat in 538 v.Chr. begin. Dit handel oor God se plan met die geskiedenis deur die afgelope 12 geslagte heen, wat sy volk roep om ‘n diensknegsrol te vervul en hulle politieke onafhanklikheid prys te gee, omdat God die mag aan die wêreldmagte gegee het. Die volk se reaksie in elke geslag word uitgespel. Hulle is te trots om hulle mag prys te gee, en wil hê God moet by hulle wense inval, en sluit hulle self so uit deelname aan God se nuwe skepping (hoofstuk 65).

Jesaja het ongeveer van 750-700 v.Chr. in Jerusalem gewoon en gewerk. Die skrywer stel hom en sy woorde voor in 2:2-4; 7:1-8:18; hoofstukke 13, 20 en 36-39 (lg. kom feitlik netso in 2 Konings 18-19 voor). Hoofstukke 40-55 gebruik materiaal wat gedurende die ballingskap en die terugkeer geskryf is (597-528 v.Chr.), 56-66 materiaal wat na die terugkeer geskryf is.

24 Jeremia is ‘n boek oor Jeremia, die profeet van lyding, met ‘n nuwe visie oor oordeel en lyding.

Volgens 36:4,32; 45:1 speel Barug ‘n rol in die optekening van die boekrol wat oor ‘n lang tydperk ontstaan het.

1-25 is sy profetiese uitsprake in digvorm teen Jerusalem en Juda in die tyd van koning Josia

(626-621v.Chr.) in 2-6; Jojakim (609-604) in 7-20; Sedekia (597-587) in 21-25.

26-45 het biografiese gegewens oor die aktiwiteite van Jeremia in prosavorm.

46-51 is profetiese uitsprake teen ander nasies in digvorm

52 is ‘n geskiedkundige slot in prosa.

Omdat Juda sy rug op God gedraai het en afgode dien, tref God se oordeel hulle en gee Hy selfs Jerusalem oor om verwoes te word. Maar God is hartseer oor sy kind Israel-Juda, en uit sy onpeilbare liefde sluit Hy ‘n nuwe verbond wat Hy op die harte van sy mense skryf, wat hulle nuut sal laat dink en doen, met ‘n nuwe gesindheid.

25 Klaagliedere bevat 5 klaagsange in stadige klaagritme geskryf oor die vernietiging van Jerusalem en die tempel in 586 v.Chr. Die reëls van elkeen begin telkens met ‘n opvolgende letter van 22 letters in die Hebreeuse alfabet. Dit is waarskynlik tydens die ballingskap deur ‘n onbekende digter gedig (vgl. Ps 137:1-4), en nie deur Jeremia, soos die Griekse vertaling se opskrif sê nie). Dié feesrol word tydens die herdenking van die verskriklikheid van die val van Jerusalem gelees. Hoewel die Here die stad laat verwoes het oor sy sonde, het sy mense deur sy liefde nie vergaan nie, en is die Here goed vir dié wat op Hom bly hoop en na sy wil vra (3:21-33).

26 Esegiël is saam met die eerste ballinge in 597 v.Chr. na Babel weggevoer. In 593 roep die

Here hom as profeet (1:1-2). Hoofstukke 1-24 is profesië van oordeel wat hy oor Juda en

Jerusalem ontvang van 593-586 v.Chr. Na die val van Jerusalem in 587 handel hoofstukke 25-32

oor die oordeel oor ander volke, en 33-48 oor die verlossing van Juda en Jerusalem. Tydens

Esegiël se lewe is sy profesië op skrif gestel (7:1). Dit is later bygewerk.

27 Daniël. As jong seun is Daniël in 597 v.Chr. na Babel weggevoer en het vir 60 jaar tot 538 v.Chr. as wyse man diens gedoen aan die Babiloniese en Persiese konings. Hoofstukke 7-12 is visioene wat die profeet Daniël gesien en opgeskryf het (7:1). Die geskrifte is later gebruik toe die boek opgestel en bygewerk is tot na 168 v.Chr. en voor die herinwyding van die tempel in Jerusalem in 165 v.Chr. Hoofstukke 1-6 vertel van Daniël en sy vriende in die derde persoon, en is deur iemand anders opgeteken.

28 Hosea. In hoofstukke 1&2 is die Here aan die woord en Hosea moet dit uitvoer. In hoofstuk 3 vertel Hosea van die Here se opdrag aan hom. Sy huwelikslewe moet ‘n simbool wees van Israel se sonde, die Here se oordeel, en die Here se liefde. Hoofstukke 4-11:7 handel oor die Here se oordeel, 14:8-11 oor sy verlossing; 12-13, oordeel, 14 verlossing, 14:10 is ‘n wysheidsuitspraak. Hosea profeteer teen die tien stamme van Israel vanaf die einde van Jerobeam II (781-754 v.Chr.) tot kort voor hulle ballingskap na Assirië (722 v.Chr.). Na die 10 stamme weggevoer is, is Hosea se profesië deur vlugtelinge na Juda gebring, waar hulle aangepas is om Juda te waarsku teen afgodery soos Israel. Gedurende Juda se ballingskap in Babel (597-428) is die huidige teks gefinaliseer.

29 Joël. Die verder onbekende seun van Petuël profeteer êrens na die opbou van die tempel in 515 v.Chr. tydens ‘n sprinkaanplaag. Sy profesie word redaksioneel ontwikkel in 8 paragrawe, wat strek van die Here se oordeelswaarskuwing deur die plaag, tot die Here se verlossing deur reën en die belofte van Sy Gees op alle mense op die dag van die Here.

30 Amos was ‘n skaapboer van Tekoa in Juda, wat die Here geroep het om teen Israel se selfvoldaanheid, rykdom, vormgodsdiens, misbruik van die armes, en afgodery te gaan preek, tydens hulle voorspoedige jare onder Jerobeam II (786-746), en hulle te waarsku dat die dag van die Here se afrekening kom. Wie sy profesië opgeteken het word nie gesê nie. Sy profesië het klaarblyklik redaksionele wysigings ondergaan wat tot na Juda se ballingskap geduur het.

31 Obadja. Die verder onbekende profeet kondig ‘n strafdag vir Esau se nageslag aan, wat hulle verlekker het oor die Here se oordeel oor sy broervolk Juda se wegvoering op ‘die dag van die Here’ in 586 v.Chr. Hy kondig die koms van ‘die dag van die Here’ aan, wat vir die nasies ‘n strafdag sal wees, en vir Juda en Israel ‘n dag van seën.

32 Jona. Die verhaal van die nasionalistiese seun van Amittai, wat redding vir Israel deur Jerobeam II (781-754 v.Chr.; 2 Kon.14:25) aangekondig het, en daarna Israel se grootste vyand Nineve moes gaan oproep tot bekering, en die Here se genade ook oor die heidene moes aanskou, was waarskynlik in die 4e eeu v.Chr. deur ‘n onbekende skrywer geskryf, om God se vrymag oor alle volke te beklemtoon, wat ook met heidene in genade optree.

33 Miga profeteer in Juda tydens die koningskap van Jotam-Hiskia (739-686 v.Chr.). Hy beskryf die sosiale en godsdienstige wanpraktyke van sy dag, wat sal lei tot die vernietiging van Jerusalem, en die eventuele verlossing van ‘n oorblyfsel. Die rangskikking van sy profesië in drie groepe, hoofstukke 1-2, 3-5, 6-7, wat telkens oordeel verkondig en afsluit met verlossing, is waarskynlik latere redaksionele werk.

34 Nahum tree op na die inname van No-Amon (Thebe, in Egipte in 663 v.Chr., Nah.3:8,10) en voor die val Nineve (612 v.Chr., Nah.2:1). Hy is skynbaar een van die Israeliete wat in Assirië bly nadat die tien stamme daarheen as ballinge weggevoer is. Die uitspraak van die Here word per brief op ‘n boekrol geskryf aan die inwoners van Juda, wat deur Assirië verdruk word, om hulle te troos en te versterk in hulle geloof in die Here wat oor die hele wêreld regeer, en die Assiriërs se mag gaan breek.

35 Habbakuk is ‘n gesprek tussen hom en die Here (waarskynlik tussen die jare 612-587 v.Chr.). Hy vra: hoe God die regverdiges kan sien ly en niks daaraan doen nie. Die Here antwoord dat Hy self die Galdeërs (Babilon) gaan stuur om Juda aan te val. Habbakuk vra waarom die Here die Galdeërs toelaat om so wreed op te tree. Die Here gee opdrag dat Habbakuk kennisgewings moet oprig vir almal om te lees dat Hy almal onder alle volke, dié wat goddeloos lewe en ander verdruk, op sý tyd sal traf, en dié wat aan die Here getrou bly en op Hom wag, behoue sal bly. Na die ballingskap word hoofstuk drie ‘n lied van vertroue in die Here.

36 Sefanja. Met sy prediking van oordeel oor Juda se sonde op die dag van die Here, wat ook ander volke sal tref, maar met hoop op verlossing vir dié wat na die Here terugkom, berei Sefanja teen 630 v.Chr. die weg voor vir die hervormings van Josia. Sy preke word tydens die ballingskap en daarna bygewerk.

37 Haggai. Met vyf kort boodskappe op 4 verskillende dae tussen 29 Augustus en 18 Desember 520 v.Chr. wys Haggai op die rede vir die landsdroogte. Dit is omdat die tempel nog nie herbou is tussen al die mooi huise van Jerusalem nie, weens die selfsug van die mense. ‘n Nuwe tyd sal aanbreek met die herbou van die tempel as God se sake weer eerste kom in hulle lewens. Sy boodskappe is kort daarna deur iemand geredigeer.

38 Sagaria bestaan uit twee dele. Die eerste deel (1-8) ondersteun die leier-priesters (Sadokiete) met 8 gesigte van Sagaria tussen 520-518 v.Chr. oor die bou van die tempel en die verlossing van Israel. ‘n Inleiding is vooraan bygevoeg (1:1-6) dat Israel moet terugkom na die Here voor die herstel sal gebeur. Die slotwoord (7-8) handel oor die tyd van verlossing wat nou reeds verwag word.

Die tweede deel (9-14) verteenwoordig miskien die verwagtings van uitgeskuifde sieners (Leviete) se profesië tussen 520-425 v.Chr. Hulle verwag dat die dag van die Here se oordeel en sy redding nog in die toekoms lê. Sommige navorsers meen die gedeelte is veel later geskryf, as profesië van verskillende persone. ‘n Redakteur het die twee dele saamgevoeg en geredigeer.

39 Maleagi (Hebreeus vir ‘My boodskapper’) is die skuilnaam van ‘n onbekende profeet wat tussen 480-460 v.Chr. optree nadat die tempel gebou is, maar die verwagte heil tog nie gekom het nie, en die volk laks geword het in hulle diens van die Here. In ses toesprake wys hy die sondes van die volk en sy leiers uit, maar verseker die volk van die Here se liefde vir hulle. Enkele dele is later bygevoeg, bv. 4:4-6.

40 Matteus. Die apostel Matteus, die eerstydse tollenaar (9:9; 10:3), was waarskynlik verantwoordelik vir baie van die uitsprake van Jesus in die Evangelie. Daarby is ruim gebruik gemaak van Markus en ander bronne deur ‘n Joodse Christen wat die boek rondom 70 n.Chr. saamgestel het vir Griekssprekende Joodse Christene wat nog nie heeltemal met die Judaïsme gebreek het nie.

41 Markus. Die opskrifte van die Evangelies (bv. ‘volgens Markus’) is waarskynlik eers in die tweede eeu n.Chr. aangebring. Die kerklike tradisie verbind die boek aan Johannes Markus van Hand.12:12,25, wat die woorde van Petrus sou opgeteken het vir die gemeente in Rome (1 Petr.5:13). Die tradisie plaas Petrus se kruisiging in die tyd van Nero.

42 Lukas. Die Griekse navorser en skrywer (Lk.1:1-4) word deur die tradisie verbind aan Paulus se medewerker Lukas van Kol.4:14; Flm 24 en 2 Tim.4:11. Voor die jaar 61n.Chr. of na 70 n.Chr. rig hy sy Evangelie aan Teofilus wat waarskynlik sal sorg vir kopieë aan gemeentes wat in die Griekssprekende wêreld tot stand gekom het. As bronne gebruik hy ook Markus en die ander bron wat Matteus ook gebruik, en waarskynlik van die getuienis van nog ooggetuies (1:2).            

43 Johannes. Die Evangelie het ‘n lang ontstaansgeskiedenis waaraan verskeie Joodse en Griekse Christene gewerk het tot die eindproduk teen 85 n.Chr. in Efese voltooi is. Hulle het waarskynlik al sedert 50 n.Chr. tradisie-materiaal rondom die ‘lieflingsdissipel’ van 13:23-25; 19:26-27,35; 20:2-8 en 21:7;20-24 versamel. Die lieflingsdissipel is deur die tradisie vereenselwig met Johannes, die seun van Sebedeus. Sy naam word egter nooit in die Evangelie genoem nie, maar dikwels in die eerste drie Evangelies (bv. Mt.4:21; Mk.1:19; Lk.5:10). Die ‘ander dissipel’ wat met die hoëpriester bekend was (18:15-16) kon egter kwalik die visserman Johannes uit Galilea gewees het.

44 Handelinge is die tweede deel van Lukas se werk (Hand.1:1), wat afsluit met Paulus wat vir twee jaar wag op ‘n verhoor in Rome, van 59-61 n.Chr. (28:30-31). Uit die ‘ons’ gedeeltes (16:10-17; 20:5-15; 21:1-18; 27:1-28:16) word afgelei dat hy, gedurende dié spesifieke gebeure, saam met Paulus was.

45 Romeine. Paulus skryf die brief aan die gemeente in Rome (1:1,7) teen die einde van sy derde sendingreis 55/56 n.Chr. (15:22-29) vanaf Korinte. Tertius het die brief neergeskryf (16:22).

46 1 Korintiërs. Paulus skryf hierdie tweede brief van hom aan die gemeente in Korinte (vgl. 5:9 vir die vorige brief) in 54 n.Chr. vanuit Efese tydens sy derde sendingreis (16:19). Miskien is dit Sostenes wat die brief neerskryf (1:1; 16:21).

47 2 Korintiërs. Dit is nie seker of dit een brief is, of meer as een wat saamgevoeg is nie. Paulus skryf in 55 n.Chr. aan die Korintiërs vanuit Masedonië. Miskien is dit Timoteus wat die brief

neerskryf (1:1).

48 Galasiërs. Hierdie omsendbrief aan die gemeentes in Galasië skryf Paulus moontlik al in 50 n.Chr. van uit Korinte op sy tweede sendingreis. Die skrywer wat dit vir Paulus neergeskryf het

is onbekend (6:11).

49 Efesiërs is waarskynlik ook ‘n omsendbrief aan gemeentes in die omtrek van Efese. Die brief is deur Paulus in gevangenisskap geskryf (3:1; 4:1; 6:20), waarskynlik vanuit Rome

(Hand.28:16 – sommige dink aan sy gevangenskap in Sesarea). Tigikus neem die brief na die

gemeentes (6:21-22) saam met die brief aan die Kolossense.

50 Filippense word waarskynlik in 61 n.Chr. teen die einde van Paulus se gevangenskap (1:7,13,17) in Rome geskryf (1:7,13,17), voordat hy gehoor het of hy vrygelaat gaan word of nie

(1:21-24). Timoteus is by hom (1:1).

51 Kolossense. Saam met die omsendbrief aan die Efesiërs en omstreke, word die brief aan die gemeente in Kolosse met Tigikus en Onesimus gestuur (4:7-9) vanuit Paulus se gevangenisskap

in Rome (4:3,18). [Sommige verklaarders meen Efesiërs en Kolossense is deur volgelinge van

Paulus geskryf, en nie noodwendig uit Rome nie]

52-53 1&2 Tessalonisense. Teen die einde van 51 n.Chr. skryf Paulus dié twee briewe ‘n rukkie na mekaar aan die gemeente in Tessalonika, vanuit Korinte tydens sy tweede sendingreis.

Silvanus en Timoteus is by hom (I 1:1; II 1:1). Wie die briewe neerskryf word nie aangedui nie.

In II 3:17 neem Paulus die pen op.

54 1 Timoteus. Hoewel sommige wetenskaplikes meen dat 1&2 Timoteus en Titus deur leerlinge van Paulus ná sy dood geskryf is, getuig die persoonlike aanslag van die briewe dat hulle deur

Paulus geskryf is. Hy het die briewe waarskynlik ná sy vrylating uit die gevangenis in Rome

geskryf. 1 Timoteus word in 61 of 62 n.Chr. uit Masedonië geskryf om aan Timoteus leiding te

gee oor sy leierskap in die gemeente van Efese.

55 2 Timoteus word waarskynlik geskryf nadat Paulus weer gevang is, verhoorafwagtend is in Rome (1:16,17; 2:9; 4:6), waar hy volgens tradisie in 64 n.Chr. tydens Nero se regering onthoof

is. Hy skryf om Timoteus te bemoedig en om sy rol as apostel oor te neem.

56 Titus word na sy vrylating uit die eerste Romeinse gevangenisskap geskryf in 61 of 62 n.Chr. aan Titus wat op die eiland Kreta hulle werk moet voortsit.

57 Filemon wat waarskynlik in Kolosse woon, word gevra om sy weggeloopte slaaf Onesimus terug te neem, nou as ‘n medegelowige. Dié brief en die slaaf Onesimus word saam met Tigikus

en die Kolossense-brief uit Rome gestuur teen 60 n.Chr. terwyl Paulus ‘n gevangene is

(1:9-10,13).

58 Hebreërs. Die skrywer is onbekend. Dit is moontlik dat die brief aan Griekssprekende Joodse Christene in Palestina geskryf is in die lig van ooreenkomste met Stefanus se leer (Hand.7) en

die tipies Joodse manier van uitleg van die Ou Testament in die brief. Die lyding waarvan 10:32 en 12:4 praat kan miskien verwys na die vervolging van die Christene onder keiser Domitianus

(81-96 n.Chr.).

59 Jakobus was ‘n broer van Jesus (Mk.6:3; Gl.1:19; 2:9; 1 Kor.15:7) wat die leier in die Jerusalem-gemeente geword het (Hand.12:17; 15:13-20; 21:18). Die materiaal wat in die brief

vervat is kom waarskynlik uit sy preke, en hy het moontlik met die samestelling van die brief die hulp van Griekssprekende Joodse Christene gehad, waarvan die goeie Grieks van die brief

getuig. Dit word moontlik aan Joodse Christene buite Palestina geskryf (1:1). Volgens die tradisie is hy in Jerusalem vermoor onder Ananus, wat as hoëpriester aangestel is deur

goewerneur Albinus, die opvolger van Festus, wat in 60 n.Chr. dood is, en is die brief waarskynlik al voor Jakobus se dood neergeskryf.  

60 1 Petrus kom van die apostel van Jesus af (1:1; Mt.16:17-18) wat met die hulp van Silvanus in goeie Grieks geskryf is (5:12) aan klein groepies Christene in die noorde en sentrale dele van

Klein-Asië (die huidige Turkye; 1:1). Die brief word geskryf in Petrus se laaste lewensjare,

voordat hy volgens die tradisie in Rome vir sy geloof tereggestel is in 64 n.Chr.

61 2 Petrus is ‘n soort testament van die apostel Petrus, deur ‘n skrywer met swakker Grieks as Silvanus in 1 Petrus, wat Petrus se verkondiging in opdrag van Petrus deurgee, of kort voor

Petrus se dood, of kort daarna. Waar 1 Petrus vervolging van die gelowiges aanspreek (4:1-6;12-19; 5:9), is 2 Petrus gerig aan lesers wat gevaar loop om deur dwaalleraars (2:1,10) van hulle

standvastigheid beroof te word (3:17).

62 1 Johannes, Hebreërs, 2 Johannes en 3 Johannes is alvier sonder die naam van die skrywer. Die drie briewe 1,2,3 Johannes is deur die tradisie aan die apostel Johannes verbind, netsoos die

vierde Evangelie. Die inspirasie vir die spesifieke denkwyse van die Evangelie en die drie briewe het wel van die apostel gekom, maar is ontwikkel deur sy volgelinge. Terwyl die Evangelie

waarskynlik nog tydens die apostel se lewe afgerond is, is die briewe moontlik tot tien jaar na sy dood voltooi. 1 Johannes is gerig teen dwalings in die gemeentes: ‘n Joodse groep wat die

mensheid van Christus ten koste van sy goddelikheid beklemtoon het, en ‘n Griekse groep wat die Godheid van Jesus beklemtoon het ten koste van sy menslikheid.

63 2 Johannes word aangebied as ‘n persoonlike brief van ‘die oudste’ of leier van die Johannese huisgemeentes in en rondom Efese, aan ‘’n uitverkore vrou en haar kinders’ wat ‘n

skuilnaam is vir ‘n spesifieke huisgemeente en al die lede daarvan, om anoniem te bly in die lig van die Romeinse vervolging van die Christene.

64 3 Johannes kom, soos 2 Johannes, weer van ‘die oudste’ of leier, maar hier ‘aan die geliefde Gaius wat ek waarlik liefhet’ en aan die waarheid vashou, anders as Diotrefes, die arrogante leier

van die plaaslike gemeente, wat die brief wat ‘die oudste’ aan die gemeente geskryf het

teëgegaan het (v9).

65 Judas is waarskynlik ook ‘n broer van Jesus, soos Jakobus (Mk.6:3; 1 Kor.9:5), wat dit uit beskeidenheid nie meld nie, maar homself as ‘n dienskneg van Jesus Christus bekendstel.Sy

aanval op die dwaalleraars is korter as 2 Petrus s’n, wat waarskynlik op Judas uitgebrei het, en ander dele van Judas uitgelaat het. Daarom is Judas moontlik voor 2 Petrus geskryf.

66 Openbaring. Die gesigte wat die apostel Johannes op Patmos gehad het en vir die gemeentes in Klein-Asië opgeskryf het (1:9-11), is waarskynlik deur sy volgelinge bygewerk in dié boek

vol beelde uit die Ou Testament. Johannes se verbanning na Patmos was waarskynlik teen die einde van keiser Domitianus, wat die Christene vervolg het, se regering (ongeveer 95 n.Chr.).

 

Skrywer: Prof Fancois Malan