Moet ons die Bybel so vinnig lees?

The church has persecuted only two kinds of people: those who do not believe in the teachings of Christ and those who do – Will Durant in The Story of Civilzation

 

Moet ons die Bybel so vinnig lees?

Ons het allerhande programme om die Bybel in een jaar deur te lees. Goed en wel, maar ons moet dit nie elke jaar doen nie. Om die Bybel in een jaar te lees is soos om die hele Europa in ‘n week te sien. Jy sien ‘n aantal dinge, maar jy ken nie Europa nie. Kom ons kyk na Handelinge 16.

 

Paulus is op sy tweede sendingreis. In Troas sien hy ‘n gesig – die Masedonies man wat hom smeek om oor te kom na Masedonië. In Filippi ontmoet hy vir Lidia en begin ‘n gemeente in haar huis. Hy en Silas word in die tronk gegooi omdat hy ‘n waarsêersgees uit ‘n slavin uitgedryf het. In die tronk vra die bewaarder vir hulle wat hy moet doen om gered te word. Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin antwoord hulle hom.

 

 

Ons weet hierdie dinge, want dit is die “hoogtepunte” van hierdie hoofstuk. Maar daar is baie meer aan hierdie hoofstuk.

  • Hoekom is Paulus en Silas in die tronk? (16:16 – 24)

Alles wat hulle gedoen het, was tog goed. Hulle seën mense; hulle help hulle om by Christus uit te kom; hulle genees dié wat seerkry. Toe hulle die gees uit die jong vrou wat deur haar eienaars uitgebuit is, uitdryf, kon die plaaslike mense dit nie meer vat nie. Hulle gaan verklaar hulle by die owerheid. Die “owerheid” bring hulle voor die stadsbestuur en sê: Hierdie mense is Jode wat moeilikheid maak in ons stad. Hulle wil vir ons gebruike leer wat ons as Romeine nie kan aanvaar of navolg nie. Intussen het ‘n skare bymekaar gekom. Die stadsbestuur besef dat die openbare mening sal toelaat dat hulle vir Paulus en Silas slaan. Daarna word hulle in die tronk gegooi. Die bewaarder kry ‘n opdrag om hulle streng te bewaak. Hy sluit hulle in die middelste sel op en klem hulle voete in ‘n houtblok vas.

 

  • Wat doen Paulus en Silas daardie nag? (16:25 – 34)

Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Kan tog nie wees nie. Meeste van ons sou gekla het: “God waar is U? Ons het maar net probeer om ons bes te doen en kyk waar sit ons. Hoekom laat U ons in die steek?” Maar nie hierdie twee nie. Soms sing ons, want ons het pyn: Ek is ‘n hulpelose mens, vol pyn, maar U, o God, sal my red en my beskerm. Dan sal ek die Naam van God besing, Hom met ‘n danklied prys (Psalm 69:30 – 31).

 

Die ander gevangenes het na hulle geluister. Hulle luister altyd om te sien hoe ons die pyn en swaarkry van die lewe hanteer. Die bewaarder luister ook. Die Here verlaat nie sy getroue werkers nie.  Daar kom ‘n aardbewing wat die tronkdeure laat oopgaan en die gevangenes se boeie gaan los. Die bewaarder word wakker en sien al die deure staan oop. Hy besef sy tronk is leeg. Hy wil homself met sy swaard om die lewe bring. Maar Paulus stel hom gerus – al die gevangenes is nog daar. Die bewaarder vra ‘n lig, storm Paulus en Silas se sel binne,  val bewend voor hulle neer en vra: Wat moet ek doen om gered te word? Paulus se antwoord is dieselfde antwoord wat ons vandag moet gee as hierdie vraag aan ons gevra word: Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.

 

Nou doen die bewaarder ‘n ongelooflike ding – hy neem hulle na sy huis toe. Hy maak sy mense wakker; hy was hulle wonde; hy berei ‘n ete vir hulle. Paulus en Silas vertel hulle van Jesus Christus en hulle word daar en dan gedoop. Toe gebeur ‘n snaakse ding: hulle gaan terug tronk toe.

 

  • Die volgende môre (16:35 – 40)

Die volgende oggend stuur die stadsbestuur polisie met die opdrag dat die gevangenes vrygelaat moet word. Die bewaarder sê vir Paulus en Silas:Julle kan nou gaan, en voorspoed op julle reis. Nie so vinnig nie. Paulus gee vir die polisie ‘n boodskap wat hulle aan die stadsbestuur moet oordra: Ons is sonder verhoor in die openbaar geslaan en in die tronk gestop, ons wat Romeinse burgers is. En nou wil hulle ons stilletjies hier wegkry. O nee! Laat hulle self kom en ons uitlei.

 

Toe die stadsbestuur hoor dat hulle Romeinse burgers was, word hulle paniekerig. Romeinse burgers het sekere regte gehad – onder andere om volgens die Romeinse wet hanteer te word. Hier is moeilikheid en die stadsbestuur weet dit. Hulle gaan self tronk toe en vra om verskoning. Hulle vra hulle om die stad te verlaat. Voordat hulle egter die stad verlaat gaan hulle eers na Lidia se huis, waar hulle die gelowiges gesien en bemoedig het.

 

Hierdie is ‘n wonderlike verhaal, maar net as ons daar vertoef en die verskillende tonele raaksien en waardeer. Geniet die Bybel – daar is niks beter nie.

 

 

 




My eie bagasie

 

Tweeting for volunteers doesn’t work. People want to be tapped on the shoulder – Perry Noble

My eie bagasie

Die grootste gevaar van interpretasie van die Bybel is die bagasie wat ek met my saamdra. So glo meeste Westerlinge dat Jesus wit met blonde hare en blou oë was. Dit is baie onwaarskynlik, want die inwoners van Israel was meestal blas met bruin of swart hare. Ons glo ook dat God wil hê dat ons gelukkig, gesond en vervul moet wees. God wil nie noodwendig hierdie dinge vir ons gee nie – altans nie soos hierdie dinge in ons kultuur gedefinieer en nagejaag word nie.

 

Kom ons kyk na enkele faktore wat my manier van Bybellees beïnvloed

  • My lewenservarings. As my vader van die huis af weggeloop het of my mishandel het, het ek probleme om te verstaan as die Bybel van ‘n liefdevolle, hemelse Vader praat.
  • As ek groot geword het in ‘n huis met min of geen reëls en met toegeeflike ouers, verstaan ek nie die mag en soewereiniteit van God nie – dat Hy sekere reëls kan neerlê wat ek moet gehoorsaam.
  • Almal van ons word deur die kultuur waarin ons leef, beïnvloed.

Ons moenie aannames maak  oor wat die Bybel sê nie – ons moet die Bybel toelaat om vir homself te praat. Ons moet hierdie bagasie los en vir God vra om direk met ons deur sy woord te praat. Dan sal ons ondervind dat sy woord ons denke en optrede verander.




Ons lees nie meer die Bybel nie

Whatever your sex or position, life is a battle in which you are to show your pluck, and woe be to the coward. Whether passed on a bed of sickness or a tented field, it is ever the same fair play and admits no foolish distinction. Despair and postponement are cowardice and defeat. Men were born to succeed, not to fail. – Henry David Thoreau

 

Ons lees nie meer die Bybel nie

Daar kom gereeld navorsing na vore wat wys dat mense nie meer die Bybel lees nie. Selfs gelowiges lees nie meer die Bybel nie. Daar is baie redes vir hierdie verskynsel. Hier is ‘n paar:

 

 

  • Mense oor die algemeen lees minder. Hulle mag nog koerante of blogs of kort artikels lees, maar niks meer nie. Leer jou kinders om te lees en boeke lief te hê. Kyk maar net na die bevindings oor geletterdheid in Suid-Afrika.
  • Tegnologie maak ons vermoë om te lees seer. Ons leer om oppervlakkig te lees en te dink; ons kan nie meer vir lang tye aandag gee nie – na 3 bladsye dwaal ons aandag af.
  • Ons skedules is te vol. kyk weer na die gelykenis van die saaier – drie van die vier  plekke waar die saad val, is die probleem ‘n gebrek aan spasie. Ons moet spasie maak om ons Bybel te lees.
  • Ons ken nie die oorhoofse Bybelse verhaal en hoe die dele inmekaar pas nie. Ons het geen raamwerk wat alles bymekaar hou nie. Geen wonder ons word gefrustreer as ons die Bybel lees nie.

 

Om die Bybel gereeld te lees, vereis dissipline; dissipline kom nie van self nie – ons moet daaraan werk. Bepaal ‘n vasgestelde tyd elke dag waar jy jou Bybel gaan lees.

 




Lees die Bybel. Hoekom?

One of the most seductive false gospels is moralism. This false gospel can take many forms and can emerge from any number of political and cultural impulses. Nevertheless, the basic structure of moralism comes down to this — the belief that the Gospel can be reduced to improvements in behaviorAlbertMohler   

 

Lees die Bybel. Hoekom?

Natuurlik is dit belangrik dat Christene die Bybel moet lees. Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van van siel en gees en van gewrigte en murg (Hebreërs 4:12). Maar dit is belangrik dat alle mense die Bybel moet lees en nie net Christene nie.

In The New Dictionary of Cultural Literacy skryf E. D. Hisch  dat no one in the English-speaking world can be considred literate without a basic knowledge of the Bible. Ons kan net nie ons taal verstaan sonder hierdie basiese kennis van die Bybel nie. Hoe sal jy weet wat bedoel word as iemand sê ‘n dit is ‘n geveg tussen Dawid en Goliat of as hy van die wysheid van Salomo praat?

 

Of ons nou sê iemand is die sout van die aarde of sê iemand het die goeie stryd gestry of sê ‘n klein hoeveelheid is ‘n druppel in die emmer,  jy praat die taal van die Bybel. Hierdie uitdrukkings, wat ons vandag so algemeen gebruik, kom uit die Bybel – lang blootstelling aan die Bybel het hulle deel van ons alledaagse taal gemaak. Daar is meer as 1300 aanhalings of verwysings na die Bybel in die werke van Shakespeare. Hulle sê hy het met die pen in die regterhand en die Bybel in die linkerhand geskryf.

 

Die Bybel is steeds die boek wat jaar na jaar die meeste verkoop in die wêreld. Dit is ‘n kragtige mag wat steeds die wêreld vorm. Net bloot uit die oogpunt van ons taal en kultuur is dit dus belangrik om die literatuur van die Bybel te verstaan.