Gedagtes van die eerste Christene: Die Gees is soos wind deur ‘n harp – Kobus Kok

Dit is altyd opwindend vir my om antieke tekste te bestudeer wat ‘n venster oopmaak en mens in ‘n tydmasjien terugneem na die antieke tyd. Hierdie tekste gee ons ‘n blik op die woorde en gedagtes van die vroegste Christene wat nie in die Bybel opgeneem is nie, maar wat uit die gebedskamer van daardie Christene kom wat met hulle hele lewe naby aan die hart van God wou leef. Een so ‘n teks kom uit die Odes van Salomo. Dit is waarskynlik rondom 100-200 n.C. geskryf[1][1]. Dit is met ander woorde amper so oud soos evangelies soos Johannes en boeke soos Openbaring en 2 Petrus. Die tekste is dus ‘n tydgenoot van die Bybel. Een dag het ek die Ode 6 vir die eerste keer in Siries gelees. Dit gaan oor die pragtige metafoor van die Gees van God wat soos ‘n harp wat deur die wind gespeel word, ons gees deurgrond. Terwyl ek op die teks gefokus het end it in stil gebed oor en oor bedink het, het ek op google ‘n video van ‘n harp wat deur die wind gespeel word gesoek en op die volgende video afgekom. Ek nooi jou uit om êrens op ‘n stil plek te gaan sit en op jou telefoon of mobiele surf-boek die volgende video herhaaldelik te speel en te fokus op die musiek. Dink ook aan God se Gees wat jou wil deurgrond en wat van buite af op jou inwerk. Die Bybel leer ons dat God se Gees óns aanraak. Die harp speel nie vanself nie maar word gespeel deur ‘n subjek wat ‘n aksie verrig op die harp, in die geval die wind. God se Gees is soos die wind wat ons aanraak en sy eie musiek en ritme in ons teweeg bring. Laat toe dat God jou beweeg en deurgrond. Laat Hy na jou toe kom en laat toe dat Hy jou beweeg. God se Gees praat in en deur my op baie vlakke in en deur sy liefde. In die proses vernietig hy vreemde dinge en bring Hy harmonie en wys dat Hy in beheer is, en die bron van herskeppende lewe is. Hy bring lig, lewe, restourasie, en vervul die wat dors na Hom. Indien jy die Odes van Salomo mooi lees, erken jy ook sommer vinnig gedagtes wat ons in Johannes se evangelie vind (kyk Joh 1:1, 4, 7:37-39; 8ff [lam man]; 9 blinde man]).

 

Luister die video hier (https://www.youtube.com/watch?v=rmP5XaNYlkI)[2][2] en lees ook die teks deeglik deur:

 

Die Odes, soos vertaal deur die geleerde James Charlesworth[3][3]:

  1. As the wind glides through the harp and the strings speak,
  2. So the Spirit of the Lord speaks through my members, and I speak through His love.
  3. For He destroys whatever is alien, and everything is of the Lord.
  4. For thus it was from the beginning, and will be until the end.
  5. So that nothing shall be contrary, and nothing shall rise up against Him.
  6. The Lord has multiplied his knowledge, and He was zealous that those things should be known which through His grace have been given to us.
  7. And His praise He gave us on account of His name, our spirits praise His Holy Spirit.
  8. For there went forth a stream, and it became a river great and broad; indeed it carried away everything, and it shattered and brought it to the Temple.
  9. And the barriers which were built by men were not able to restrain it, nor even the arts of them who habitually restrain water.
  10. For it spread over the surface of all the earth, and it filled everything.
  11. Then all the thirsty upon the earth drank, and thirst was relieved and quenched;
  12. For from the Most High the drink was given.
  13. Blessed, therefore, are the ministers of that drink, who have been entrusted with His water.
  14. They have refreshed the parched lips, and have aroused the paralyzed will.
  15. Even living persons who were about to expire, they have held back from death.
  16. And limbs which have collapsed, they have restored and set up.
  17. They gave strength for their coming, and light for their eyes.
  18. Because everyone recognized them as the Lord’s, and lived by the living water of eternity.
    Hallelujah.

 

[4][2] https://www.youtube.com/watch?v=rmP5XaNYlkI besoek op 23 Junie 2016.

[1][1] Almal is dit nie eens nie. Daar is mense wat meen dit is veel later geskryf. Die meeste geleerdes is van mening dat dit egter vroeg geskryf is soos aangedui.

[2][2] https://www.youtube.com/watch?v=rmP5XaNYlkI besoek op 23 Junie 2016.

[3][3] http://www.earlychristianwritings.com/text/odes.html besoek op 23 Junie 2016.

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Die Verlore teks

Die Verlore teks – Francois Malan

Thys vra:

Daar is egter nog waarwordings wat my verwonderd laat. Ons is in ‘n omgeegroep wat weekliks op Dinsdagmiddae bymekaar kom om uitsluitlik in die gees te groei.Wat opmerkend is,is dat vers 37 van HANDL 8:37 nie in die 1983 vertaling verskyn nie, maar wel in die3353 vertaling.Vir my is die waarde van en die rede vir Jesus se kruisiging en opstanding geheel hierdeur verydel aangesien die voorwaarde nl die geloof (glo) dat JESUS CHRISTUS die seun van GOD is wie vir ons sondes geserf het om ons voor HOM (GOD) Sy Vader te regverdig en dan juis hierom verseker dat ons nuut gebore moet word sodat ons met Sy wederkoms geheilig gaan word om in Sy Koninkryk saam met Hom te regeer en ewig te lewe Dit mag mos nie gebeur het nie, aangesien God ons in Deutr.2:2 daarteen vermaan om niks uit die woord te haal of by te voeg nie. Druis dit nie in met die Heiligmakings proses nie? Shalom.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

 

Dit is ‘n lang storie:

 

Ons het geen oorspronklike geskrif van enige Nuwe Testamentiese boek nie. Alles wat beskikbaar is, is kopieë van kopieë van die Grieks wat Paulus, Markus, Lukas en die ander geskryf het. Daarby is alle geskrifte met die hand oorgeskryf totdat Johannes Gutenberg in Mainz Duitsland die Latynse vertaling van die Bybel met masjiene begin druk het tussen 1450-1456.

 

Die eerste gedrukte Griekse teks van die Nuwe Testament is in 1514 in Alcalá Spanje gedruk as deel van ‘n boek met vier kolomme langs mekaar, die teks van die Bybel in Hebreeus, Aramees, Grieks en Latyn, gepubliseer in vyf volumes. Die oorsprong van die teks van die Griekse teks daarin bly onbekend.  Die drukker Johann Froben van Basel Switzerland het toe ‘n geleentheid gesien om ‘n handige uitgawe van die Griekse Nuwe Testament alleen te publiseer. Daarvoor het hy Desiderius Erasmus van Rotterdam Nederland in April 1515 na Basel toe laat kom om die teks vir hom voor te berei. Tot sy teleurstelling het Erasmus in Basel slegs twee Griekse manuskripte van die Nuwe Testament in Basel se klooster gekry wat hy kon gebruik, een op die Evangelies en een op Handelinge en die briewe, maar albei wat eers in die 12e eeu n.Chr. met die hand geskryf is. Die twee het hy saamgeflans en hier en daar verander om aan te pas by sy eie vertaling van die Latynse Nuwe Testament waaraan hy gewerk. Vir Openbaring het hy ‘n kopie van sy vriend Reuchlin geleen. Die laaste ses versies van Openbaring was egter nie in die manuskrip nie, en dié vertaal hy toe uit die Latyn na Grieks (met sommige woorde wat hy gemaak het en nie in Grieks bestaan nie). Die teks wat in Maart 1516 gedruk is, was so vol foute, dat hy dit in vyf uitgawes telkens effe verander het. Die tweede uitgawe was die teks wat Luther gebruik het vir sy vertaling van die Bybel in Duits. Die Griekse NT was so gewild dat dit later die benaming Textus Receptus ‘Die aanvaarde teks’ verkry het. Die teks is gebruik vir die vertaling in Engels, die King James Version van 1611, en vir die Nederlandse Statenvertaling in opdrag van die sinode van Dordt 1618-1619.  Die 1933-vertaling in Afrikaans het eers ‘n stryd gekos of dit ‘n vertaling van die Nederlandse Statenvertaling sou wees, en of dit nuut uit die Hebreeus van die Ou Testament en die Grieks van die Nuwe Testament moet wees. Daar is toe besluit om die Textus Receptus vir die Nuwe Testament te gebruik, maar daar was enkele stemme wat gevra het dat die Textus Recepetus effe aangepas moet word by die kennis wat in die vorige jare opgedoen is van Koine, die algemene Grieks wat in die Nuwe Testamentiese tyd in die Romeinse Ryk gebruik is as omgangstaal (vgl. bv.Paulus se prediking in Listra tussen die mense wat Likaonies gepraat het, Hand 14:11), wat baie woorde en uitdrukkings in die Nuwe Testamentiese geskrifte het wat afwyk van die klassieke Grieks, maar ooreenstem met woorde en uitdrukkings wat gebruik was in ou kontrakte en briewe uit die Bybelse tyd, wat in Egipte op papirus geskryf is. Selfs vandag word daar nog steeds van die ou geskrifte in Egipte opgegrawe. Die 1953 hersiening van die Afrikaanse Bybel was eintlik slegs ‘n verbetering van die Afrikaanse taalgebruik.

 

Intussen het navorsing en opgrawings baie Griekse tekse van die Nuwe Testament ontdek wat baie ouer is as die tekse wat Erasmus gebruik het. Van die oudste geskrifte is in Egipte gevind, wat kort dele van die Nuwe Testament bevat  wat tussen die derde en die sesde eeu op papirus geskryf is. Die oudste van hulle bevat 5 verse van die Evangelie van Johannes wat in die eerste helfte van de tweede eeu, ongeveer 130 n.Chr. afgeskryf is. Die eerste geskrifte is alles in Griekse hoofletters geskryf. ‘n Stroom kopieë van die Nuwe Testament op perkament, dierevelle wat gebrei en fyn skoongemaak is, is deur die jare ontdek (die papirus het slegs in die droë klimaat van Egipte oorleef). Die beste van die hoofletter manuskripte is in die helfte van die 19e eeu deur Konstantyn Tischendorf van Leipzig ontdek in die Katharina klooster in die Sinai-woestyn, enkele velle was reeds in die vullismandjie om verbrand te word. Na ‘n lang stryd is die manuskrip verkry met die hulp van die Tsaar van Rusland as hoof van die Grieks Ortodokse kerk, en in 1933 het die Britse Museum die manuskrip by die Russiese regering gekoop. Tans is die Kodeks Sinaitikus in die Britse Museum en bevat die volledige Nuwe Testament sowel as die Ou Testament, wat in die 4e eeu n.Chr. afgeskryf is (ongeveer 325 n.C.). Ook uit die 4e eeu n.Chr. (ongeveer 350 n.C.) dateer die Kodeks Vaticanus wat in die biblioteek van die Vatikaan in 1475 ontdek is. Die laaste deel van Nuwe Testament van Hebreërs 9:14 tot Openbaring makeer egter in hierdie manuskrip. Nog ‘n 44 gedeeltes van die Nuwe Testament in hoofletters geskryf, is gevind, wat tussen die 5e tot 10e eeu n.C. afgeskryf is. Daarna volg ‘n lang lys van oor die 1,000 manuskripte wat in kleinletters geskryf is wat baie vinniger geskryf kan word, baie van hulle is slegs dele van die Nuwe Testament. Uit die fotokopieë van meer as 250,000 volledige en gedeeltes van manuskripte van die Nuwe Testament, aanhalings van die Skrif in vroeë skrywers, leesroosters in ou kerke het die ‘Instituut vir die studie van die teks van die Nuwe Testament’ in Munster, Duitsland ‘n teks saamgestel wat die naaste aan die oorspronklike teks is, met aantekening van die manuskripte wat die teks ondersteun en wat ander manuskripte aanbied. Die United Bible Society het die beredenering van die Instituut by die keuse van die teks gepubliseer. Dit is teks van die 26e uitgawe van die Instuut is deur die Afrikaanse vertaling van 1983 gebruik.

 

Oor die uitlating van Handelinge 8:37 is die kommentaar van die Instituut:

Dit is ‘n Westerse invoeging, wat nie voorkom in papirusse 45,47 en die hoofletter manuskripte Sinaiticus, Vaticanus, Alexandrinus, Ephraemi, drie kleinskrif manuskripte, die Vulgaat, die Siriese vertaling, die Koptiese vertaling nie, maar wel, met baie variasies, in Laudianus (6e eeuse hoofletterteks), báie kleinletter manuskripte, en latere uitgawes van die Latynse Vulgaat, en van die Siriese, Koptiese en Aramese vertalings. Daar is geen rede waarom ‘n afskrywer die teks sou uitgelaat het as dit oorsponkiik in die teks was nie. Daarby is die Griekse ‘die Jesus Christus’ met die lidwoord sonder bv. ‘die naam van’ nie ‘n uitdrukking wat Lukas gebruik nie. Die uitdrukking ‘ek glo dat die Jesus Christus die seun van God is’ is in die vroeë kerk gebruik by doopgeleenthede, en kon waarskynlik in die kantlyn van Handelinge geskryf gewees het. Die woorde is skynbaar ingevoeg omdat gevoel  is dat Filippus nie die Etiopiër kon doop sonder om sy belydenis van geloof te kry nie. Ireneus het reeds in die laaste deel van die tweede eeu n.C. die Etiopiër se belydenis van geloof in Christus aangehaal. Daarom was die gedagte reeds vroeg bekend, al is dit eers in die sesde eeuse manuskrip opgeneem,

Die middeleeuse teks wat Erasmus gebruik het vir sy tweede uitgawe, het nie vers 37 gehad nie, maar dit het in die kantlyn gestaan van die teks wat hy vir die vierde uitgawe bygewerk het. Erasmus het dit toe in sy 4e uitgawe ingevoeg omdat hy geoordeel het dat dat dit uitgelaat was deur ‘n nalatige afskrywer.

 

‘aangesien God ons in Deutr.2:2 daarteen vermaan om niks uit die woord te haal of by te voeg nie. Druis dit nie in met die Heiligmakings proses nie?’

 

Dit lyk eerder asof Hand 8:37 bygevoeg is by die oorspronklike teks wat Lukas geskryf het.

 

‘Vir my is die waarde van en die rede vir Jesus se kruisiging en opstanding geheel hierdeur verydel aangesien die voorwaarde nl die geloof (glo) dat JESUS CHRISTUS die seun van GOD is wie vir ons sondes geserf het om ons voor HOM (GOD) Sy Vader te regverdig en dan juis hierom verseker dat ons nuut gebore moet word sodat ons met Sy wederkoms geheilig gaan word om in Sy Koninkryk saam met Hom te regeer en ewig te lewe.’

 

Ek het tog ‘n vraagteken by die volgorde wat jy hier mooi omskryf. Ons word nuut van Bo af uit God gebore deur die Heilige Gees, om van ons kinders van God te maak wat aan die Seun van God verbind word om  met sy dood en opstanding verbind te word. Die Heilige Gees doen dit deur ons daarvan te oortuig deur veral die prediking van die woord van God (vgl Rom 10:14-15), sodat ons besluit om in Jesus as ons Verlosser te glo. Selfs ons geloof is ‘n gawe van God (Ef 2:8). Ons geloof in Christus is die bewys dat ons sy kinders is en dat die Heilige Gees in ons woon. En as ons in Jesus Christus glo as die Here van ons lewe, is ons reeds geheilig. 1 Kor 1:10 sê letterlik: ‘Deur Hom (God) is julle in Christus Jesus wat vir ons die wysheid geword het wat van God kom: regverdiging sowel as heiliging en bevryding.’ Christus is ons heiliging, ons regeer nou reeds saam met Hom oor versoekings en sonde, en ons het nou reeds die ewige lewe, ‘n lewe in gemeenskap met God wat in ons kom woon het (Johannes 3:36; 10:27-29; 14:18,23). Met sy wederkoms sal ons ten volle ken, soos God ons ten volle ken (1 Kor 13:12) en sal ons volmaak wees deur ons ten volle aan God te onderwerp en Hy alles in almal sal wees (1 Kor 15:28). 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan