DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (6)

DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (6) – Jan van der Watt

Episode 4 – Markus 6

Die woorde van Jesus moet uit… maar die reaksies wissel.

As jy tyd het, teken die verskillende reaksies op Jesus aan…………………………………………………….

………………………………………………………………………………………………………………………………………

 

Wat dink jy moet ‘n mens daaruit leer?……………………………………………………………………………….

………………………………………………………………………………………………………………………………………

Nasaret ontken Hom, maar die woord tref baie wyer deur sending (6:1-13)

Reaksies wissel (6:14-29)

    • Die mense (6:14-16)
    • Selfs Johannes die Doper (6:17-29)

Die dissipels kom terug met suksesverhale (6:30-34)

Jesus versorg sy mense wat sy woord aanneem

    • Met fisiese en geestelike voedsel (6:35-44)
    • Met sy nabyheid (6:45-52)
    • Sommer almal (6:53-56)

 

Jesus is nie deur almal met ope arms ontvang nie, maar tog het die saad in baie se harte gegroei. Dit vertel hierdie episode vir ons.

 

Wat veral hier interessant is, is hoe die einde van die episode Jesus se reaksie teken – die verkondigde Here word hier die versorgende Here (6:35vv.). As jy bereid is om die pad saam met Jesus te stap, moet jy weet Hy stap die pad saam met jou ook. HY sal vir jou sorg, op baie maniere, maar veral deur sy teenwoordigheid. Dit is wat hom so anders maak as gewone mense – Hy kan vir jou sorg, sal vir jou sorg omdat Hy die Seun van God is.

 

Kyk na Mk 6:35-56 en kyk hoe versorg Jesus sy mense……………………………………………………………

 

Jesus se woord is vir almal, hoewel nie almal dieselfde reageer nie. Party verwerp Hom sowaar. Hier sien ons dus hoe lyk geloof en ongeloof in die praktyk.  Die wat positief reageer, word deur Hom versorg.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (5)

DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (5) – Jan van der Watt

Episode 3 – Markus 4-5 

Jesus preek en dit vra geloof… onvoorwaardelike geloof

Kyk of jy kan sien hoe episode 3  klem op bogenoemde boodskap lê…………………………………………

………………………………………………………………………………………………………………………………………….

 

Jesus preek oor sy preke en die effek wat preke op mense moet hê (4:1-34):

  • Saaier… saai Woord (4:1-25)
  • Saad groei vanself (4:26-30)
  • Saad is klein (4:31-34) 


Geloof op verskillende maniere. Jesus se preke bevestig deur wonders.

  • Stilmaak van die storm deur Jesus se woorde en geloof (4:35-41)
  • Die besetene van Gadara en geloof (5:1-20)
  • Onvoorwaardelike geloof deur ‘n onbekende vrou (5:21-43)

 

In die vorige episode (episode 2) het Jesus gewys die feestyd is hier. Maar hoe en waar leer mense daaroor? Episode 3 vertel dit vir ons. Jesus preek en so praat God met mense deur die Heilige Gees. Hierdie woorde is kragtig en groei… maar dit het gelowige harte nodig om in te val. Mense moet glo.

 

Daarom volg daar verhale oor wonders wat Jesus gedoen het. Maar weer is daar ‘n storie agter die storie… elke verhaal is ‘n verhaal van geloof, onwrikbare en onvoorwaardelike geloof. Dit is die sleutel en toegangskaartjie tot die feesmaal… aanvaar Jesus en sy boodskap in geloof.

 

 

Die prediking van Jesus word in feitlik al die evangelies opgevolg en versterk deur wonders. As Jesus sê Hy is die Seun van God, moet Hy tog optree as die Seun van God. Hoe anders kan ‘n mens dit sien, behalwe deurdat Jesus dinge doen wat ‘n gewone mens nie kan doen nie. Deur wonders te doen illustreer Hy sy verbondenheid met die Almagtige God en sy Gees wat alles kan doen. So ondersteun die wonderdade dus die woorde van Jesus. Jesus beweer groot dinge, maar dit is waar, want Hy wys Hy kan groot dinge doen ook… dinge wat net God kan doen. God is aan sy kant en daarom sal Hy nie jok nie. Mense kan maar glo. So hang prediking en wonders altyd by Jesus saam.

  


Die Koninkryk kom deur die woorde van Jesus wat geglo moet word. En ‘n mens kan maar glo, want kyk net wat doen Jesus alles. God werk in en deur Hom.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (4)

DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (4) – Jan van der Watt

Episode 2 – Markus 2-3

Gaan Markus 2-3 vinnig deur en kyk of jy kan agterkom waaroor gaan die episode…………………….

………………………………………………………………………………………………………………………………………….

 

 

Die koninkryk kom met die krag van God self: letterlik (genesings) en geestelik (preke). Kyk of jy ‘n storie uit die volgende grafiese uiteensetting kan kry……………………………………………………………

………………………………………………………………………………………………………………………………………….

………………………………………………………………………………………………………………………………………….

 

  • Jesus genees die lam man… en vergewe sonde (2:7,10)
  • Jesus roep ‘n tollenaar… Hy kom vir die geestelik siekes (2:17)
    • Dus: die feestyd is hier (2:19,22) 


  • Jesus gee nuwe betekenis aan godsdiens – Hy is Here van die sabbat (= Joodse wetsgodsdiens – 2:27; 3:4)
    • Reaksie: Jesus is die Seun van God (3:11)

[Jesus kies sy dissipels – 3:13-19) 


  • Jesus is aan die kant van die Heilige Gees (3:23,28-29)
    • Dus: Jesus begin die familie van God (3:34)

  

Kyk na die storie:  Jesus kom en genees ‘n lam man (fisies) en dan roep hy ‘n tollenaar as dissipel – iemand wat as sondaar in die gemeenskap gesien is. Geestelik kom genees Hy mense en maak hulle sy volgelinge. Die koninkryk kom vir almal… Dit is ‘n nuwe tyd wat aanbreek: ‘n feestyd waarin mense nuut moet optree, want dit Koning is hier.

 

En dan kry ons die verwysing na die sabbat – die sabbat was die groot teken van die wettiese godsdiens van die Jode… Jesus kom verander dit; nie meer wetstyd nie, want dit is feestyd. Hier kry ons dus die eerste duidelike teken dat Jesus die godsdiens totaal nuut kom maak het. Nie wette nie, maar sy teenwoordigheid verander alles. Mense kom dus in groot getalle na Jesus toe.

 

Hoe kry Jesus dit reg? Hy werk deur die Heilige Gees. Dis God wat werk.

 

God wat werk… om sy nuwe familie, sy kinders, hier op aarde bymekaar te maak. 

Wat ‘n illustrasie van God se krag wat deur Jesus in hierdie wêreld inkom en alles kom verander, siekes, sondaars, wette, godsdiens. Dit is feestyd wat die Bruidegom is hier! God se familie moet deur die krag van die Gees bymekaar kom en feesvier.

 

 

 


 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 

 




DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (3)

DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (3) – Jan van der Watt

Deel 2 – die inhoud van Markus 1:1-8:21

Ons gaan nou sistematies deur die Evangelie beweeg – ons gaan kyk watter klein vertellings daar is en hoe dit saamhang om die boodskap van die groter episode te vorm. Laat ons begin.

 

NOTA: omdat ons tyd min is, is hierdie net ‘n oorsig. Net van die hoofpunte word genoem. As jy meer tyd het, lees die Evangelie in meer detail (met ander woorde, lees die dele in die Bybel deur, merk wat jou tref, ens.).

—oooOOOooo—

 

Episode1 – Markus 1

 

Gaan Mk 1 vinnig deur… waaroor dink jy gaan dit hier?………………………………………………………

 

‘n Klomp dinge gebeur hier: Johannes die Doper…Jesus se doop… versoeking… preek… dissipels word gekies…Jesus begin genees.. en preek nog verder….

 

a) Veral twee dinge is belangrik om op te let:

  • Al die dinge wat Jesus gereed maak om te begin,  gebeur.
    • Sy boodskapper kom en kondig hom aan soos die profete voorspel het (1:2,7);
    • Jesus word gedoop “gesalf” om met sy werk te begin (1:9-11)
    • Jesus ontmoet sy vyand (1:12-13)
    • Jesus kry sy groep mense (dissipels) bymekaar (1:16-20).

Nou is Jesus reg om te begin werk. Hy is aangekondig en “gesalf” het sy eie mense by Hom en ken sy vyand…

    • Dan doen Jesus wat Hy gekom het om te doen – Hy preek (1:14-15, 32-39) en Hy genees (1:21-45).

 

b) Maar daar is ‘n verhaal agter die verhaal: kyk wat sê almal:

  • Johannes die Doper (1:2,7)……………………………………………………………………………………
  • God uit die hemel (1:10)……………………………………………………………………………………….
  • Besetene (1:24, 27)………………………………………………………………………………………………
  • Die melaatse (1:40)………………………………………………………………………………………………

 

Daar is drie sterk getuienisse: Van God se boodskapper, van God self en van die duiwels. Die sieke eggo dit dan. Die storie agter die storie is: die waarheid en getuienis oor wie Jesus is weergalm uit hemel en hel. Dit is nie mensewerk nie, maar God se werk. 

 

c) Aan die einde sê Jesus ‘n snaakse ding. Lees 1:44… moet vir niemand sê nie. Watter predikant preek en sê dan: moet vir niemand sê nie? Waarom dink jy sê Jesus dit?…………………………………..

 

Moet vir niemand sê nie… hierdie opdrag kom ‘n paar maal in Markus voor. Ons noem dit die “Messiasgeheim”. Die rede daarvoor hang saam met ons “wipplank” styl waarin Markus geskryf is. In die eerste deel word Jesus as buitengewoon suksesvol geteken. Hy doen wonders en behaal sukses. As jy nou oor Jesus praat, sal jy net ‘n boodskap van wonders en sukses hê: “Jesus die wonderwerker” wat alles net altyd goed laat gaan. MAAR in die tweede deel kry ons ‘n ander prentjie. Jesus word gevang en hang magteloos aan die kruis. Hy ly en word deur sy eie mens in die steek gelaat. Dit is ‘n ander lydende Jesus hierdie. As jy nou moet vertel wie Jesus is, is Hy nie die wonderwerker nie, maar die Een wat ly. Wat is die ware prentjie: beide dele – Jesus is die Seun van God wat wonders doen, maar ook die mens wat vir ons ly. Die twee fasette vorm saam die boodskap oor wie Jesus is. Hy is Seun van God wat as mens vir ons kom ly. Daarom moet jy nie te gou praat nie… wag tot jy die hele boodskap het, anders verkondig jy dalk net die helfte van die boodskap. Bly stil tot jy die “hele” Jesus ontdek het. Dan kan jy praat, soveel jy wil.

 

 

 

Ons gaan nou na mekaar die verskillende episodes hanteer.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt