Die Bybel – Jan van der Watt

Jan vra:

Waarom word, Here op party plekke geskryf, en HERE op ander plekke?

Antwoord

Prof Jan van der Wat antwoord:

Di hoofletters HERE word net in die Ou Afrikaanse vertaling van 1933/53 gebruik en feitlik ook net in die Ou Testament (en nie eers oral in die Ou Testament nie). Die resente Afrikaanse vertalings gebruik Here. Die rede daarvoor hang saam met die naam van God  in die Ou Testament. Die mense van die Ou Testament wou uit respek en vrees dat hulle God (Jahweh) se naam ydelik mag gerbuik nie die naam van God (Jahweh) uitspreek of hardop gese nie. As hulle by die naam kom, het hulle ‘adonai’ gese, wat heer beteken (hulle het ook die klinkers van die woord ‘adonai’ by die letters JHWH gesit wat daartoe gelei het dat sommige vandag nog van Jehova praat). In die Ou 1933/53 vertaling wou die vertalers probeer aandui dat die woord JHWH wat met HEER vertaal die naam Jahweh weergee en onder andere daarom die hoofletters gebruik. Dit is dus ‘n besluit van die vertalers. In die jonger vertalings is besluit om die eervolle aanduiding (in hoofletters) nie meer te gebruik nie, maar eenvoudig Heer met ‘n hoofletter te skryf.. 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Herhaling van woorde in die Bybel, bv Voorwaar, Voorwaar – Hermie van Zyl

Philna vra:

Wat is die betekenis van die herhaling?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Verdubbeling en herhaling van woorde en begrippe kom baie in literatuur voor en het ’n retoriese effek, wat telkens kontekstueel vasgestel moet word. Byvoorbeeld (om net by die Bybel te bly), in Genesis 1:27 word die woord “geskep” drie keer herhaal om te beklemtoon dat net God die vermoë het om uit niks, iets te skep, en dat die mens geskep is om God se beeld te verteenwoordig. In Jesaja 36:4-9 word die woord “vertrou(e)” telkens herhaal om aan Hiskia die boodskap tuis te bring dat hy slegs op die Here moet vertrou. En, om nie meer voorbeelde te noem nie, in Lukas 10:41 spreek Jesus vir Marta aan as “Marta, Marta”, waardeur Hy kennelik Marta se aandag daarop wou vestig dat sy nie so bedrywig moet wees met die goeie dat sy die beste nalaat nie, naamlik om Jesus se dissipel te wees.

In die onderstaande uiteensetting fokus ek egter net op die voorbeeld wat ons vraagsteller noem, naamlik die herhaling van “voorwaar”.

Die Griekse woord wat “voorwaar” onderlê, is “amen”. Op sy beurt is dit ’n oorname van die Hebreeuse woord “amen” vanuit die Ou Testament, wat “sekerlik” of “dit is so” beteken. In die Afrikaanse Bybels word “amen” op verskillende maniere vertaal. In die 1933/53 Vertaling is dit “voorwaar”, in die 1983-Vertaling is dit “Dit verseker ek julle”, in die Nuwe Lewende Vertaling (2011) is dit “Ek verseker julle”, in Die Boodskap is dit “Julle moet nou mooi luister”, en in die Afrikaanse Standaardvertaling (2014) asook die onlangse Direkte Vertaling (2020) word dit onvertaald gelaat: “Amen”. Laasgenoemde Vertaling het ’n verduidelikende voetnoot by wat lui: “ ’n baie sterk bevestiging van sekerheid”. (’n Enkele keer in die Afrikaanse Standaardvertaling word “amen” met “Waarlik, Ek sê vir julle” vertaal.)

“Amen” word in verskillende kontekste in die Bybel aangewend: om instemming te betuig (Num 5:22), om ’n seënwens of lofuitspraak te bevestig (Ps 41:14), om ’n gebed mee af te sluit (1 Kor 14:16), en om die beloftes van God te bevestig of toe te eien (2 Kor 1:20). In die Evangelies kom dit baie voor in uitsprake van Jesus om te bevestig of te verseker dat iets vasstaan (bv Matt 5:18). Dit word so baie deur Jesus gebruik dat geleerdes dit as tiperend van die aardse Jesus se optrede aanmerk.

Die interessante verskynsel is verder dat in die eerste drie Evangelies waar “amen” voorkom in Jesus se uitsprake, dit met slegs één “amen” ingelui word, maar in die Johannesevangelie word dit konsekwent met ’n dúbbele “amen” gedoen, byvoorbeeld Johannes 1:51 (en nog in vier en twintig ander gevalle in Johannes). Nie al die Vertalings bring egter die onderskeid tussen die enkel en dubbele amen na vore nie. In die 1983-Vertaling word beide die enkel en dubbele “amen” met “Dit verseker ek julle” vertaal, en in die Nuwe Lewende Vertaling met “Ek verseker julle”, maar in die 1933/53-Vertaling respektiewelik met ’n enkel en dubbele “voorwaar”, en in die Afrikaanse Standaardvertaling asook die 2020-Vertaling met ’n enkel en dubbele “amen”. Dit het daarmee te doen dat die 1933/53-Vertaling, die Afrikaanse Standaardvertaling en die 2020-Vertaling letterlike vertalings is, terwyl die 1983- en Nuwe Lewende Vertaling meer dinamies-ekwivalent is wat nie daarop uit is om elke woord afsonderlik te vertaal nie.

Die vraag is waarom die Johannesevangelie die “amen” telkens verdubbel, maar die eerste drie Evangelies nie. Daar is kennelik nie ’n diep betekenisverskil hierin tussen die Evangelies nie. Almal wil so die gewigtigheid van Jesus se woorde beklemtoon, dat dit belangrik en seker is, en vasstaan. ’n Mens kan jou daarop verlaat. Maar die feit dat Johannes konsekwent die dubbele “amen” gebruik, dui tog daarop hy dit as ’n besondere aandagtrekker of merker benut. Die vraag is net, merker van wat?

Eerstens kan mens sê dat hierdie dubbele amen altyd as ’n merker in verband staan met wat volg, maar ook met wat voorafgaan. Dit bind die voorafgaande met die belangrike woorde wat volg. Byvoorbeeld, in Johannes 6:26 roep die dubbele amen-uitspraak die voorafgaande gebeure in herinnering waar Jesus die brood vermeerder het. Maar wat dan volg, is waar Jesus verduidelik dat Hy Self die brood van die lewe is. Die dubbele amen is dus ’n retoriese merker wat lei tot ’n dieper teologiese insig omtrent Jesus as wat bloot uit die broodwonder afgelei kan word.

En dit lei na die tweede punt, naamlik dat hierdie dubbele amen altyd die aandag wil vestig op die persoon van Jesus as die Een wat die Vader openbaar. Die Johannesevangelie lê baie klem op Jesus as één met die Vader, van die begin af, en dat wat Jesus sê en doen, volledig in ooreenstemming is met die Vader en sy wil (vgl Joh 8:26-29; 14:1-14). Jesus is die Woord van God (Joh 1:1); Hy ís die Amen (Op 3:14; vgl 2 Kor 1:19-20). Jesus verseker ons dus met die dubbele amen dat God volledig saamstem met wat Hy (Jesus) sê en dit ook waarborg. Verskeie geleerdes het daarop gewys dat die dubbele amen-uitsprake in Johannes eintlik ’n Christologie in ’n neutedop vorm. Daarmee word bedoel dat as mens hierdie uitsprake wat met ’n dubbele amen ingelui word se inhoud bestudeer en sistematiseer, dan kan mens ’n hele leerstellige argument opbou oor wie en wat Jesus is, veral in verhouding tot die Vader.

Om saam te vat, hoewel bloot die woord “amen” nie in betekenis verskil tussen die Evangelies nie, wil dit tog lyk of die funksie daarvan in die Johannesevangelie ietwat verskil van die eerste drie Evangelies. By Johannes is die dubbele gebruik daarvan ’n merker wat die leser se aandag wil vestig op die identiteit van Jesus as één met die Vader, dat Hy die gesaghebbende openbaarder of bekendmaker van die Vader en sy wil is.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Bybelvertalings Opsomming – Jan van der Watt

Hier onder is a tabel met ‘n kort opsomming van elke vertaling. Dokument formaat is in PDF formaat as gevolg van die kompleksiteit van die dokument. Kliek op die onderstaande skakel om die tabel oop te maak.

Bybelvertaling




Die vertaling van die woord sarks – Hermie van Zyl

Hierdie is ‘n opvolg oor ‘n vorige vraag oor die mens se sondige natuur

  1. Die Direkte Vertaling van die Interliniêre Bybel (CUM, 2012) is nie dieselfde as die Direkte Vertaling van die Bybelgenootgeskap (2014) nie. Eersgenoemde is meer letterlik as laasgenoemde. Daarom het ons in eersgenoemde verkies om sarks met “vlees” weer te gee. ’n Letterlike vertaling probeer altyd so kort as moontlik op ’n konkordante manier vertaal, dit wil sê, dit probeer ’n een tot een verhouding bewerkstellig tussen die Griekse woorde en die ontvangertaal, met so min as moontlik interpretasie. Maar juis hierdie kenmerk maak ’n letterlike vertaling baie onbevredigend vir die ontvangertaal-leser. Want die vraag bly steeds: wat beteken “vlees” nou eintlik? En daarom het ons in die  regterkantste kolom van die Interliniêre Bybel die 1983-Afrikaanse Vertaling bygevoeg sodat die leser kan sien hoe verskil ’n letterlike en dinamiese vertaling. Laasgenoemde probeer juis die betekenis van die Grieks vir die ontvangertaal (in hierdie geval Afrikaans) so presies as moontlik weergee. En, soos reeds beredeneer in die vorige antwoord, daarom word “vlees” met “sondige natuur” vertaal omdat lg die bedoeling van die teks beter verwoord. En dat die vertalers nie hier ’n fout begaan het nie, word geïllustreer in bv Rom 8:3 waar letterlik staan dat God sy eie Seun gestuur het “in gelykheid aan die sondige vlees”. Paulus self tipeer dus die vlees as sondig.
  2. Die Boodskap is op sy beurt ’n baie vrye vertaling, eintlik ’n parafrase. Hierdie vertaling vertaal “vlees” in Rom 8 op ’n verskeidenheid van maniere, soos die volgende: “mag van die sonde in ons lewe”; “deur die sonde oorheers”; “in sonde leef”; “die sonde heers oor hulle”; “in die greep van sonde”. Met hierdie uitdrukkings word in wese dieselfde gesê as die 1983-Vertaling se “sondige natuur”. Hulle druk almal die gedagte uit dat die mens nie anders kan as om te sondig nie; die mens is in die greep van sonde; hy kan met die beste wil in die wêreld nie doen wat God behaag nie. Laasgenoemde begin eers moontlik word wanneer God deur sy Gees ’n nuwe natuur in die mens genereer wat na God se wil kan begin lewe.
  3. Waar kom die sondige natuur van die mens vandaan? God het ons inderdaad nie aan die begin so gemaak nie. Die mens in sy oorspronklike staat is goed (Gen 3:31). In die teologie sê ons die mens is geskape in ’n staat van ongeskondenheid (status integritatis). Maar as gevolg van die ongehoorsaamheid van die mens het die sonde verbrei na alle mense (Rom 5:12) en bevind die mens hom nou in ’n staat van korrupsie (status corruptionis). Waar die mens voorheen in staat was om nie te sondig nie (posse non peccare), is hy nou nie in staat om nie te sondig nie (non posse non peccare). Dit is die situasie wat Paulus in sy aanwending van die begrip sarks beskryf. Maar deur die Gees (wedergeboorte) skep God weer in ons ’n nuwe natuur waar ons verlang om volgens al God se gebooie te lewe. En so is God met ons op weg na die verheerlikte staat (status gloriae) wat ons eers sal beklee in God se nuwe skepping. En dis die dilemma van die Christen: ons lewe tussen wat ons alreeds het in Christus, maar nog nie volkome gerealiseerd sien in ons eie lewe nie. Wanneer ons dus oor die aard of natuur van die mens dink soos ons hom nou ken, mag ons die onderskeid tussen hoe ons oorspronklik gemaak is (status integritatis) en wat die sonde van ons gemaak het (status corruptionis) nooit uit die oog verloor nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl