Paulus oor gelowiges se bydraes – Dit gaan nie oor die geld nie, dit gaan oor God

Paulus oor gelowiges se bydraes – Dit gaan nie oor die geld nie, dit gaan oor God

Wanneer Paulus oor gelowiges se bydraes praat, is sy taalgebruik buitengewoon.  Hy vermy die alledaagse begrippe wat met “geld” vereenselwig word en verkies om die saak in teologiese begrippe te verduidelik en te motiveer.  Sy doel daarmee is om die Korintiërs te laat opkyk van hulle beursies in hulle hande af, sodat hulle vir God kan raaksien (wat vir hulle iets oor hul beursies wil sê).  Vir Paulus gaan dit nie oor die geld nie, dit gaan oor God 

Die belangrikste teksgedeeltes waar Paulus gelowiges se bydraes bespreek, word in sy briewe aan die Korintiërs aangetref (1 Kor. 9, 16:1-4; 2 Kor. 8-9, 11:1-15, 20-21, 12:11-18).  In hierdie teksgedeeltes gaan dit veral om twee sake: bydraes vir die hulpfonds vir die arm gelowiges in Judea (bv. 1 Kor. 16:1-4, 2 Kor. 8-9), en bydraes vir ‘n apostel (Paulus) se persoonlike lewensonderhoud (bv. 1 Kor. 9, ens).

Die manier waarop Paulus hierdie onderwerpe aan die orde stel, is baie insiggewend.  In 2 Korintiërs gebruik Paulus byvoorbeeld nie een keer in die Griekse teks enige woord uit die “geld en geldeenhede”-woordfamilie nie.  Dit is opvallend, aangesien die tema van finansiële bydraes dadelik bespeur kan word wanneer die brief gelees word.  Trouens, hoewel Paulus die terme (juis) nie gebruik het nie, gebruik die Nuwe Afrikaanse Vertaling sewe keer sinonieme vir “geld” om Paulus se bedoeling in Afrikaans weer te gee, sowel as ander woorde wat na finansies heenwys, aangesien dit moeilik vermy kon word in die vertalingsproses.  Die tema is dus duidelik aanwesig, maar Paulus se (oorspronklike) taalgebruik buitengewoon.  Hoekom spandeer Paulus byvoorbeeld twee hele hoofstukke (2 Kor. 8-9) daaraan om oor geld te praat sonder om een keer (in Grieks) ‘n sinoniem vir “geld” te gebruik?

Dit is opmerklik dat daar deurlopend, wanneer Paulus oor finansiële bydraes praat, begrippe gebruik word wat teologies gelaai is, in plek van die alledaagse woorde vir bydraes, geld of donasies.  Begrippe soos dank aan God, diens aan God, diens aan medegelowiges, genadebetoning ens. word ruim deur Paulus ingespan in sy besprekings van die onderwerp.  Dit moenie as blote eufemismes beskou word nie, met ander woorde ‘n strategie om die onderwerp op dié manier te versag of te verskans nie.  Bewus van die krag van taal om persepsies te vorm, te bevorder of af te breek (vgl. 2 Kor. 10:4-5), het Paulus op ‘n meesterlike wyse ‘n teologiese verstaan van die saak van finansiële bydraes onder die Korintiërs probeer kweek.  Hy het immers geweet dat die gemeente geneig is om nog wêreldse waardes en gesindhede jeens die saak te handhaaf.  Hulle het byvoorbeeld, tipies aan die kultuur waarbinne hulle hulself bevind het, aan die gewers en ontvangers van bydraes as “weldoeners” en “kliënte” gedink, met die wedersydse verpligtinge, eerbetonings en magspel wat daarmee gepaard gegaan het.  Paulus probeer hierdie gebruiklike manier-van-dink oor die saak van bydraes (“geskenke”) oorkom, deur by die Korintiërs ‘n nuwe, Christus-gesentreerde verstaan van die saak te kweek.  Ten einde hierdie doel te verwesenlik, gebruik hy meestal nie die gewone terme wanneer hy die saak motiveer nie, maar beskryf en motiveer hy die saak deurlopend met teologies gelade taal.  Hierdie soort taal wat hy gebruik, word dus doelbewus deur hom ingespan om ‘n ander, nuwe “manier van kyk na die saak” te bevorder, wat diep beïnvloed is deur die evangelie van Jesus Christus.  Deur sy taalgebruik wys Paulus eintlik daarop dat die saak van bydraes of dankoffers gee, nie gaan oor die geld nie, maar oor God!

Indien die Korintiërs (en ons!) sou inval by hierdie Christus-gesentreerde manier van kyk na die saak, het dit implikasies vir die manier waarop bydraes gegee, ontvang en bestuur word.  Die evangelie maak ‘n appél op ‘n gelowige se motiewe en gesindhede rondom die gawes wat hy/sy gee.  Netsoveel maak die evangelie ook ‘n appél op diegene wat, in een of ander hoedanigheid, die verantwoordelikheid het om hierdie gawes te bestuur.  En waar iemand in die posisie sou wees om as evangeliedienaar begunstig te word deur die gawes van die gelowiges, het die evangelie van Jesus Christus ook implikasies en voorwaardes vir die wyse waarop dit kan en moet geskied.  Hoofsaak is dat God in gelowiges se hantering van (hul) bydraes, sigbaar en verheerlik sal word.  

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 




Paulus se fondsinsameling vir die arm gelowiges in Judea: ‘n opsomming van sewe van Paulus se aansporings aan die Korintiërs

Paulus se fondsinsameling vir die arm gelowiges in Judea: ‘n opsomming van sewe van Paulus se aansporings aan die Korintiërs

Paulus skryf 2 Kor. 8-9 vanuit Masedonië aan die Korintiërs om hulle aan te spoor om die fondsinsameling, wat reeds vroeër in die gemeente begin is (1 Kor. 16:1-6; 2 Kor. 8:1, 6; 9:4), nou weer op dreef te kry en te voltooi, voor Paulus se aankoms in Korinte (2 Kor. 9:3-5). Om hulle hiertoe te motiveer, gebruik hy agt aansporings. Lees gerus hier wat sy eerste sewe aansporings was.

1.    Die voorbeeld van die Masedoniërs moet hulle daartoe aanmoedig (8:1-7).  Paulus doen ‘n beroep op hulle eer deur ‘n vriendelike wedywering tussen die gemeentes in Masedonië en Agaje in te stel.  Die Masedoniërs het ruim bygedra ten spyte van hul armoede.  Die Korintiërs is (in die algemeen) welaf, en het dus die vermoë om die Masedoniërs in hierdie opsig te oortref.  Die Masedoniërs se ywer en vrywilligheid om aan die projek deel te neem dien ook as voorbeeld vir die Korintiërs, wat traag geraak het ten opsigte van die projek.  Om hulle eer te beskerm, moet hulle liewer nou opskud en die insameling afhandel, en soveel te meer ywerig en vrygewig wees in die insameling, sodat hulle nie die loef afsteek by die Masedoniërs nie.

2.    Verwant aan die vorige punt, deur nog ‘n beroep op hulle eer, wys Paulus die Korintiërs ook daarop dat hy reeds met hulle ywer vir die saak, gespog het by die Masedoniërs (9:1-5).  Dit is (ten minste gedeeltelik) vanweë die Masedoniërs se indrukke van die Korintiërs se gereedheid om by te dra, dat hulleself daartoe aangespoor is.  Gevolglik mag die Korintiërs, van wie die gereedheid om by te dra alreeds ander daartoe gemotiveer het, nie nou agterweë bly nie!  Om hulle eer te beskerm, moet die Korintiërs sorg dat hulle die beeld wat Paulus van hulle oorgedra het, gestand doen.  Anders sal sowel hulle as hyself in die skande gesteek word.  Die afvaardiging wat hy na hulle toe stuur (9:3-5), sal help dat hulle so ‘n verleentheid kan vermy.

3.    Die fondsinsameling is ‘n toets van die Korintiërs se liefde (8:8).  Sou hulle die insameling suksesvol afhandel, met die regte gesindheid, sal dit hulle liefde (vir Christus en hulle medegelowiges) bevestig.  Paulus gee dus nie ‘n opdrag dat die Korintiërs die fondsinsameling moet afhandel nie.  Hy herinner hulle egter daaraan dat hulle keuse in die verband, boekdele gaan spreek oor die mate waarin hulle liefde uitleef.

4.    Paulus wys die Korintiërs ook daarop dat hulle Christus, van Wie hulle bely dat Hy “ons Here” is, se voorbeeld van selfopoffering moet náleef (8:9), deur guns aan ander te bewys.  ‘n Goeie geleentheid hiervoor is om ‘n bydrae te maak vir die arm gelowiges in Judea.  Om sodanige guns aan andere te bewys en hulle te “verryk”, behels om jouself in die proses te “verarm”.  Hierin is die voorbeeld van Christus dus die standaard waartoe hulle moet streef en  motivering om tot aksie oor te gaan.  Hy het immers deur sy menswording en gevolglike kruisiging (“verarming”), in belang van die gelowiges opgetree sodat hulle daardeur die ewige lewe en al die ander gawes van God ontvang (“verryking”).

5.    ‘n Voorneme wat onvervuld bly, is van geen waarde nie.  Gevolglik gee Paulus die raad aan die Korintiërs (8:10-11) om hul bereidwilligheid gestalte te laat kry deur tot aksie oor te gaan en die poging, waarmee hulle wel reeds begin het, nou af te handel.  Dit behoort hulle te doen sodat hulle “bereidwilligheid om gewillig te wees” voltooi kan word en nie net ‘n betekenislose voorneme bly nie.

Die Korintiërs se hulpverlening word in 9:13 ook beskryf as ‘n bewys  van diens.  Dit is iets meer as ‘n voorneme tot diens – hulle moet hulle diens aan hul medegelowiges (en aan God – 8:12) prakties illustreer deur tot die daad oor te gaan.

6.    Ewewig: die oorvloed van sommige is die voorsiening van God vir die gebrek van andere (8:13-15).  Tans bevind die Korintiërs hulle in ‘n situasie van oorvloed sodat hulle dié wat gebrek ly kan help.  Die voorsiening van God aan sy mense is (ten minste gedeeltelik) daarin geleë dat sowel die wat meer het as die wat minder het, almal genoeg het.  Dit natuurlik mits die gelowiges gewillig is om hulle besondere gawes (in die breë sin van die woord) met mekaar te deel.  Daarom behoort die Korintiërs, wat deur die genade van God tans (finansiële) oorvloed geniet, vanuit hul oorvloed by te dra tot die verligting van die Judese gelowiges se armoede.  Op wederkerige wyse kan die Judeërs dan weer vanuit hulle oorvloed (op watter terrein ookal) gawes met die Korintiërs deel waar hulle gebrek ly (vgl. Rom. 15:27).

7.    Net soos die Masedoniërs se ywer en vrywillige inisiatief die Korintiërs moet aanmoedig, so ook die ywer en inisiatief van Titus (8:16-17), wat nie net Paulus se versoek om met die insameling te help, verwelkom het nie, maar ook met groot ywer uit eie beweging na hulle wou gaan.  As die Korintiërs nou maar net op dié wyse sal meewerk aan die fondsinsameling…

Lees gerus die volgende artikel, wat Paulus se agste aansporing uiteensit.

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 

 




Fondsinsameling vir die arm gelowiges in Judea

Fondsinsameling vir die arm gelowiges in Judea

Ses teksgedeeltes in die Nuwe Testament vertel vir ons van die fondsinsameling vir die arm gelowiges in Judea wat oor die verloop van ‘n aantal jare deur Paulus behartig is.  Ons lees eerste in Handelinge (11:27-30) daarvan, waar dit duidelik is dat hierdie inisiatief by die gelowiges in Antiogië begin het, en dat Paulus dadelik deel daarvan gemaak is.  Lees gerus hoe hy die inisiatief later verder geneem en afgehandel het…

Hand. 11:27-30

Die Heilige Gees kondig deur ‘n profeet, Agabus, aan dat daar ‘n hongersnood oppad is, en dit realiseer in die tyd van keiser Claudius.  Hierdie hongersnood het die gelowiges in Judea besonder swaar getref, en die gelowiges in Antiogië besluit om ‘n hulpfonds te stig om tot hulle verligting by te dra.  Elkeen sou volgens sy vermoë bydra tot hierdie fonds, en Paulus (Saulus) en Barnabas moes dit na die ouderlinge in Jerusalem neem.  Dit was die begin van ‘n fondsinsameling waaraan later nie net die Antiogiërs meegewerk het nie, maar ook ander gelowiges in die provinsies van Galasië, Masedonië en Agaje.

 

Gal. 2:1-10

Nadat hierdie fondse aan die ouderlinge in Jerusalem oorhandig is (Hand. 12:25), is Paulus en Barnabas by ‘n latere geleentheid weer in Jerusalem vir ‘n vergadering met die apostels en ouderlinge daar.  By dié geleentheid versoek die apostels, naas sekere andere vereistes waaraan die bekeerdes uit die heidennasies moet voldoen (Hand. 15:20, 29; 21:25), dat hulle ook “nie die armes onder [die Judese gelowiges] moet vergeet nie” (Gal. 2:10).  Paulus dui dan aan dat hy hom steeds vir hierdie liefdesdiens beywer.

 

1 Kor. 16:1-6

In hierdie brief aan die Korintiërs beskryf Paulus die praktiese wyse waarop hulle die fondsinsameling moet hanteer, waarskynlik nadat die gemeente hom daaroor uitgevra het.  Paulus antwoord hulle op ‘n diplomatiese wyse, wat duidelike riglyne gee maar tog ook nie voorskriftelik is nie.  Hy begin deur uit te wys dat die gemeentes in Galasië ook daarmee besig is, en dat die Korintiërs die saak dus op dieselfde wyse as hulle moet aanpak.  Die gelowiges moet nou reeds elke Sondag tuis iets opsy sit, spesifiek vir hierdie doel.  Met Paulus se koms, kan hulle die fondse aan hom oorhandig. Hy sal dan ‘n afvaardiging, wat die gemeente self saamstel, van aanbevelingsbriewe voorsien om die fondse na Jerusalem te neem, of selfs ook saam met hulle reis indien nodig.  Maar voordat hy na hulle toe kom, gaan hy eers vir ‘n tyd lank in Masedonië en Efese werk.

 

2 Kor. 8-9

Teen die tyd dat Paulus in Masedonië aankom, het daar ‘n mate van verhoudingsbreuk tussen hom en die gemeente in Korinte plaasgevind, grootliks te wyte aan “vals apostels” in hul midde wat sy gesag ondermyn het.  Paulus skryf ‘n brief aan hulle (wat hulle eers hartseer maak, maar tog ook tot inkeer laat kom, 2 Kor. 7:8-9). Titus kom dan met die berig na Paulus in Masedonië dat die gemeente positief gereageer het op sy brief aan hulle (7:5-16).  ‘n besoek van Paulus aan die gemeente sal dus nou (weer) geleë wees. Ter voorbereiding van sy besoek, terwyl hy nou reeds oppad is om die ander gemeentes se ingesamelde fondse na Jerusalem te neem, versoek Paulus die Korintiërs om nou werk te maak van hul eie fondsinsameling (wat skynbaar ietwat agterweë gebly het terwyl hulle tydelik nie op ‘n goeie voet met Paulus was nie), sodat dit gereed is wanneer hy by hulle arriveer.  Om hulle te help om alles gereed te kry, en so te verhoed dat hulle in die verleentheid kom, stuur Paulus solank ‘n afvaardiging vooruit na hulle toe.

 

Rom. 15:25-29

Paulus arriveer uiteindelik by die Korintiese-gemeente, en voordat hy vandaar verder vertrek om die fondse na Jerusalem te neem, skryf hy ‘n brief aan die gemeente in Rome (Romeine).  In hierdie brief vertel hy hulle dat hy oppad is om fondse, wat die gemeentes in Masedonië en Agaje uit vrye wil ingesamel het vir die doel, na Jerusalem te neem, ten bate van die armes onder die gelowiges daar.  Behalwe dat dit hulle eie besluit was, meld Paulus dan dat hy dit ook as hul plig beskou, “want as die gelowiges uit die Jode hulle geestelike rykdom met die heidennasies gedeel het, is die gelowiges uit die heidene dit aan die gelowiges uit die Jode verskuldig om hulle met stoflike hulp by te staan” (Rom. 15:27).  Paulus is van voorneme om ná sy besoek aan Jerusalem sy sendingwerk in die Oos-Middelandse-See-streke eers te laat vaar ten gunste van ‘n nuwe sendingveld, Spanje, en om oppad daarheen ‘n wyle in Rome te vertoef.  Hierdie voorneme kon egter nie realiseer nie, aangesien Paulus in Jerusalem gevange geneem is.

 

Hand. 24:17

Na Paulus se gevangeneming en wegsending uit die oproerige Jerusalem uit om voor die goewerneur Feliks verhoor te word, verduidelik hy sy teenwoordigheid in Jerusalem so aan Feliks: “na baie jare het ek teruggekom om my mense met ‘n geldelike bydrae te help en om aan God te offer”.  Dit is af te lei dat hy hier verwys na die afhandeling van die fondsinsameling deur die oorhandiging van die bydraes in Jerusalem, voor sy gevangeneming.

 

Skrywer: Ds Dirk Venter