Gaan ‘n mens onmiddellik hel toe of hemel toe? – Francois Malan

Michele vra:

Hier is n man wat n praatjie gaan hou oor wat hy deurgemaak het in die hel. Ek is bietjie skepties daarvoor maar aan die ander kant sal ek graag wil hoor. Is dit moontlik dat mens onmiddellik hel toe gaan of Hemel toe as jy doodgaan. Hoekom ek vra, is êrens staan daar dat daar nie tyd in die Hemel is nie en 1 dag is soos 1000 jaar en 1000 jaar soos 1 dag.

Antwoord
Prof Francois Malan antwoord:

Volgens Lukas 16:19-31 het Jesus vertel van ’n bedelaar met die naam Lasarus wat gesmag het om van die oorskiet van ’n ryk man se tafel iets te ete te kry. Toe hy sterf is hy deur die engele weggedra om teen die bors van Abraham te rus. Toe ryk man sterf en begrawe is, het hy sy oë opgehef vanuit die doderyk waar hy gefolter is, en het vir Abraham van ver af gesien met Lasarus teen sy bors. Hy het geroep: Vader Abraham, wees my genadig en stuur Lasarus om die punt van sy vinger in water te doop en my tong af te koel, want ek ly vreeslik in hierdie vlam. Maar Abraham antwoord, Kind onthou dat jy gedurende jou lewe die goeie ontvang het. Nou word hy hier getroos, maar jy word gepynig. En buitendien is daar ’n groot kloof tussen ons en julle gevestig, sodat diegene wat hiervandaan na julle wil oorgaan, nie kan nie, en diegene wat daar is, ook nie na ons toe kan oorkom nie.

Die naam Lasarus beteken ‘God help,’ en sê waarskynlik iets van sy ingesteldheid teenoor God. Die ereplek langs Abraham veronderstel ’n feesmaal. Die doderyk was volgens die Fariseërs ’n plek van afwagting voor die voleinding. Die Fariseërs het daarop geroem dat Abraham hulle voorvader is, en so word hy nou ook aangeroep. Hy vra om ontferming in sy nood. Sy behoefte staan weer op die voorgrond en Lasarus moet hom bedien. Hoewel Abraham hom ‘my kind’ noem beteken sy natuurlike verwantskap niks vir sy geluk nie. Die groot kloof tussen hemel en hel beteken dat daar in die lewe hierna geen oorgang van die een staat na die ander moontlik is nie. Geen bekering na jou dood nie. Die gelykenis het Jesus vertel na aanleding van die Fariseers se liefde vir geld, en omdat hulle Jesus uitgelag het oor sy prediking (Luk 16:14-15).

2. Hier is n man wat n praatjie gaan hou oor wat hy deurgemaak het in die hel.

Die verdere verloop in Luk 16:27-31 vertel van die ryk man wat vra dat Lasarus uit die dood moet opstaan en sy vyf broers moet gaan waarsku sodat hulle nie ook in die plek van pyniging gaan beland nie. Maar ook dit word geweier as onnodig, want hulle het die wet en die profete in hulle bybel om hulle te waarsku en wat van die Messias-verlosser getuig. Dit is ’n verwysing na die Fariseërs wat toegewy is aan die studie van die wet en die profete. Op die ryk man se pleit dat iemand, wat uit die dood opstaan, miskien sterker staan as Moses en die profete, antwoord Abraham, hulle sal na hom ook nie luister nie. Dit is ook bewys deurdat die leierpriesters nie geglo het toe Jesus uit die dood opgestaan het nie (Matteus 28:12-15).
3. volgens hoe ek die Bybel verstaan, gaan almal saam geoordeel word en waar dit in die Bybel staan “vandag”, beteken dit vandag soos ons dit ken?

In 1 Korintiërs 15 verduidelik Paulus oor die opstanding uit die dood van dié mense wat aan Christus behoort, met die wederkoms van Christus (vers 22-28), en Christus al sy vyande onder sy voete gestel het (vers 25). In verse 35 tot 57 vertel hy hoe die opstandingsliggaam sal wees, hoe almal sal verander by die laaste basuin wanneer ons verganklike liggame met onsterflikheid beklee sal word.

2 Tessalonisense 2 vertel vam die gebeure voor Christus se wederkoms, en 1 Tessalonisense 5:1-11 oor die koms van die Here om deur ons Here Jesus Christus verlossing te verkry (v9).

In Openbaring 20:11-14 word oor die laaste oordeel geskryf en in in Matteus 25:31-46 oor die skeiding van die skape en die bokke met Christus se wederkoms.

In 2 Korintiërs 5 word egter gesê dat wanneer ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ’n gebou het wat van God kom, ’n ewige woning in die hemele, wat nie met hande gemaak is nie.

In Filippense 1:23 sê Paulus hy verlang om heen te gaan en met Christus te wees. Dit is verreweg die beste te beste.
Terwyl ons sterflike liggame begrawe of veras word, en die gelowiges op die opstandingsdag met heerlikheid beklee sal word, is ons self met ons dood reeds by Christus.

4. êrens staan daar dat daar nie tyd in die Hemel is nie en 1 dag is soos 1000 jaar en 1000 jaar soos 1 dag.

In 2 Petrus 3 word oor die wederkoms geskryf. Vers 8-9 lui: By die Here is een dag soos duisend jaar en duisendjaar soos een dag. Die Here stel nie die belofte uit, soos party mense dink nie. Inteendeel, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.

God is ewig en by Hom is 1000 jaar gelede vandag, en duisend jaar vorentoe ook vandag. Terwyl ons in ruimrte en tyd dink, is die ewigheid soveel anders.
Skrywer:  Prof Francois Malan




Die leer van die hel (1)

The law never came to save men. It never was its intention at all. It came on purpose to make the evidence complete that salvation by works is impossible – Spurgeon.

 

Die leer van die hel (1)

J. D. Greear het ‘n blogreeks oor die hel geskryf. Hoekom? Want dit was ‘n onderwerp wat veroorsaak het dat hy amper sy geloof verloor het. Hy sê dat die hel ‘n moeilike werklikheid is, maar dit is iets wat die Bybel ons leer. Ons kan nie vir God en sy wêreld verstaan as ons nie stoei met die leer van die hel nie. Wanneer laas het jy ‘n preek oor die hel gehoor? Daar is soveel verwarring oor hierdie onderwerp dat ek besluit het om na hierdie artikels te kyk.

C. S. Lewis skryf oor die hel: “There is no doctrine which I would more willingly remove from Christianity than this, if it lay in my power.” Ek dink meeste van ons sou met hom saamstem. Die hel is ‘n moeilike werklikheid, maar die Bybel praat daarvan – ons kan dit nie sommer uitvee nie. Kom ons begin met ‘n paar stellings:

 

  • Hel is wat die hel is omdat God is wie God is

Die Bybel sê vir ons dat God se heiligheid en volmaaktheid so volledig is dat ons dit nie sou oorleef as ons Hom sou sien nie (Eksodus 33:20). Toe Jesaja vir God op sy troon sien, roep hy verskrik uit: Dit is klaar met my! Ek is verlore! (Jesaja 6:5). God vertel vir ons van die hel om die grootheid van sy heiligheid te wys. Die hel moet ons monde laat oophang as gevolg van God se geregtigheid en heiligheid. Ons moet bewe voor sy majesteit.

  • Jesus praat meer oor die hel as enigeen anders in die Bybel

Hel is nie iets wat net in die Ou Testament voorkom nie. Ons het ‘n beeld van Jesus gebou – sag, vol deernis en liefde – wat korrek is, maar onvolledig is. As ons die versies tel, het Jesus meer oor die hel as oor die hemel gepraat! Ons kan nie die idee van die hel vermy deur net op ‘n “sagte, deernisvolle” Jesus te fokus nie.

  • Die werklikheid van die hel wys vir my die omvang van God se liefde om my te red.

Hoekom praat Jesus so baie van die hel? Hy wou hê ons moet sien wat Hy aan die kruis sou verduur. Sy dood was nie maklik nie. Die ergste was egter die skeiding van sy Vader: My God, my God, waarom het U My verlaat (Matteus 27:46). Die hel wys vir ons hoe ver God sou gaan om ons te red.

  • Mense is ewig

C. S. Lewis sê dat die hel ‘n noodwendige afsluiting vir die Christelike geloof dat mense gemaak is om vir ewig te leef, is.

  • Ons kan kwaad wees vir God, maar ons kan Hom tog nie reghelp nie. Paulus sê ons in ‘n hoop klei. Hoe kan ons dan die Goddelike Pottebakker bevraagteken. Jesaja sê: Almal wat teen Hom tekere gegaan het, sal beskaamd daarvan afkom wanneer hulle voor Hom moet verskyn (45:24). Dan sal ons besef hoe volmaak God se weë is. Elke keer as ons vanuit die ewigheid terugkyk na ons lewens sal ons verbaas staan, nie oor die graad van sy straf nie, maar oor die groothartigheid van sy genade.

  • Baie mense het ernstige besware teen die leer van die hel. Daarna sal ons volgende keer kyk.

    Die leuens wat die kerk vertel (6)

    Who is the Holy Spirit? The Holy Spirit is the Spirit of God and is called the third person in the Trinity. Is the Holy Spirit divine? Yes, the Holy Spirit is GodJohn Broadus

    Die leuens wat die kerk vertel  (6)

    Steve Hill (Spiritual Avalanche) beskryf hoe hy in ‘n whiteout beland het. Dit is waar die sigbaarheid skielik verminder as gevolg van sneeu. Hy voel dit is wat vandag in die kerk gebeur. Die verwysingspunte – die antieke landmerke – is bedek en ons sien hulle nie meer nie. Dwaalleer en waarhede word vermeng en lidmate word gedisoriënteerd – selfs blind.

     

    Ons kyk nou na Hill se laaste twee leuens.

    • Verwerping van die hel

    Nêrens sien ons die bevraagtekening van God se Woord duideliker as wanneer dit kom by die onderwerp van die hel en toekomstige oordeel nie. Ons verkondig ‘n ongebalanseerde evangelie – beklemtoon God se liefde en genade en ignoreer sy oordeel en geregtigheid – ons het  geen plek meer vir die hel in ons teologie nie. Hoekom gebruik Jesus dan sulke sterk taal soos hierdie: Maar mense vir wie die koninkryk bedoel is, sal in die diepste duisternis daarbuite gegooi word, waar hulle sal huil en op hulle tande kners (Matteus 8:12)? Hoekom sê Jesus: Want dit is beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland (Matteus 5:30)? Hoekom waarsku ander skrywers ons herhaaldelik oor die oordeel wat kom (Efesiërs 5:1 – 6)?

    Dit is iets heeltemal anders om die aard van die toekomstige oordeel wat diegene wat die evangelie verwerp, gaan tref, te bespreek as om dit te verwerp. Wat ons wel weet van die toekomstige oordeel  is dat dit onomkeerbaar is en dat die gevolge aaklig en permanent gaan wees. In Openbaring 20:11 – 15 lees ons van die laaste oordeel voor die groot wit troon. Maar moderne dwaalleraars het besluit om alle verwysings na oordeel en die hel uit die evangelie te verwyder.

    • Universele versoening

    Hierdie mense glo dat almal uiteindelik  gered sal word en in die hemel kom – Jesus het immers vir almal aan die kruis gesterf. Daar sal toekomstige lyding wees, maar dit is toetsing en nie straf nie. Uiteindelik word almal gered. Hierdie mense verwys na ‘n vers soos Kolossense 1:20: Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. Hulle wys ook daarop dat soos almal in Adam gesterf het so sal almal in Jesus leef (Romeine 5:12 – 21).

    Dit is duidelik dat die gelowige se fondament besig is om weggekalwe te word en as die storms kom, sal die huis inmekaar stort. Hierdie vals leerstellings is nie meer ‘n sagte briesie nie, maar ‘n sterk wind – dit het ‘n dodelike whiteout geword. As ons toelaat dat hierdie verdraaiings van die evangelie voortgaan, kan ons in ‘n sneeustorting beland wat alles wat vir ons kosbaar is, vernietig.




  • Het ons ons godsdiens afgewater? Die hel?

    Unholiness in a preacher’s life will either stop his mouth from reproving, or the people’s ears from receiving. —William Gurnall

    Het ons ons godsdiens afgewater? Die hel?

    Daar het die afgelope aantal jare heelwat boeke verskyn waarin gesê word dat die kerk sy boodskap afgewater het. (Michael Horton se  Christless Christianity en David Platt se Follow Me. A call to die; a call to live is goeie voorbeelde hiervan) Ons aanvaar sekere waarhede en bid die sondaar se gebed en glo alles is reg – ons is nou Christene. Maar dit is nie waar nie.

    Hierdie is vandag ‘n baie kontroversiële onderwerp. Oordeel ‘n God van liefde mense wat verkeerd doen?

    Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word (Johannes 5:29). In Openbaring 20 beskryf Johannes hierdie laaste oordeel. Hy sien ‘n groot wit troon en Iemand sit daarop. Dan word die boeke oopgemaak en die dooies  word geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het … elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het … As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

    Jesus self verwys na die hel in Markus 9:42 – 48. Dit is die bekende gedeelte waar Hy onder andere sê: Dit is beter dat jy met een oog die koninkryk van God ingaan as dat jy altwee oë het en in die hel gegooi word. Daar gaan die wurm nie dood nie en word die vuur nie geblus nie. Baie mense glo dat die hel nie ‘n werklikheid is nie of slegs ‘n tydelike straf is. Ander glo weer dat ons hier met simboliese taal te doen het. Maar ‘n simbool van wat? Van ‘n verskriklike plek. Jesus in sy profetiese rede praat van die ewige straf (Matteus 25:46).

    Baie mense glo nie meer in die werklikheid van die oordeel en hel nie. Wat kan ons sê?

    • Daar is ‘n oordeelsdag waartydens Jesus Christus alle mense sal oordeel.
    • Dié wat verkeerd gedoen het sal veroordeel word.
    • Hierdie oordeel is vir ewig.
    • God is nie by hierdie mense teenwoordig nie.

    En die hemel? Volgende keer gaan ons daarna kyk.