Die Seder (2)

Die Seder (2) – Coen Slabber

Die volk het toe hulle brooddeeg, sonder suurdeeg, in skottels gesit, dit in hulle klere toegedraai en dit op hulle skouers gedra … Met die deeg wat hulle uit Egipte saamgebring het, het hulle ongesuurde roosterkoeke gebak: dit was sonder suurdeeg omdat hulle uit Egipte gejaag is en nie kans gehad het om eers vir hulle padkos klaar te maak nie (Eksodus 12:34, 39).

Tydens die agt dae wat die Paasfees gevier word, eet die Jode net ongesuurde brood – die plat, ongesuurde brood wat die pas bevryde slawe geëet het (matzah of matzo of matzoh). Geen suurdeeg – enigiets wat rys as dit gebak word – mag geëet word nie. Die kombuisgereedskap wat normaalweg gebruik word, moet verplaas word met gereedskap wat gebêre word spesifiek vir gebruik tydens die Paasfees. Die huis moet deeglik skoongemaak word en alle suurdeeg moet verwyder word – selfs die krummels wat die kinders gemors het.

 

Matzah – Ongesuurde Brood

matzah

 

 

 

 

 

 

 

 


 

Hierdie verbod op suurdeeg is so streng dat sekere rituele ingestel is om te verseker dat alle suurdeeg verwyder word. Die aand voor die Paasfees is daar ’n seremoniële soektog vir suurdeeg – ’n simboliese laaste geleentheid om enige suurdeeg wat dalk nie raakgesien is nie, te verwyder. Gewoonlik word ’n kers gebruik. ’n Veer word gebruik om die oorblywende “suurdeeg” in ’n houtlepel te vee. Die oggend van Paasfees word al die suurdeeg wat verkry is, verbrand.

Geen suurdeeg mag na 10:00 die oggend van Paasfees geëet word nie. Ons moet onthou die Joodse dag begin met sononder. Alle eersgebore Joodse mans vas die dag.

Nou kom ons by die Seder self. Die tafel word met die beste silwerware gedek. Familielede kom met gewone klere, maar die persoon wat die leiding gaan neem, kom in ’n wit kleed. By die kop van die tafel is die Sederbord met ’n verskeidenheid simboliese kossoorte wat tydens die Seder geëet sal word. Ook byderhand is ’n bord met drie matzah en skottels met soutwater.

Elke deelnemer kry ’n afskrif van die Haggada. Mans en vroue neem deel aan die fees. Belangrike gedeeltes uit die Haggada word in die oorspronklike Hebreeus en Aramees gelees. Gewoonlik word dit in die moedertaal herhaal, sodat almal dit kan verstaan. Die leier sal dikwels die voorlesing onderbreek om die betekenis en interpretasie vir die kinders te verduidelik.

Temas van die Seder

Die rituele en simboliese kosse beklemtoon twee temas: slawerny en vryheid. Sonsondergang was die Jode slawe van die farao. Om middernag volg die tiende plaag – die dood van al die eersgeborenes van Egipte – selfs die eerstelinge van die diere (Eksodus 12:29). Nog daardie selfde nag beveel die farao vir Moses en Aäron om pad te gee. Die deelnemers aan die Seder dink aan die eerste deel van die nag aan slawerny deur matzah (die arm man se brood – ongesuurde brood), bitter kruie (simbool van die bitterheid van slawerny) en Charoset (’n soet pasta wat die messelklei wat die Joodse slawe gebruik het, simboliseer) te eet.

Dit was die nag waarin die Here oor hulle gewaak het en hulle uit Egipte bevry het. Daarom behoort dié nag aan die Here en moet alle Israeliete en hulle nageslag dié nag wakker bly (Eksodus 12:42).

In die volgende artikel gaan ons kyk na twee belangrike simbole van die paasmaaltyd – die wyn en ongesuurde brood.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




Die Seder (1)

Die Seder (1) – Coen Slabber

[Joodse rituele diens en seremoniële ete vir die eerste of eerste twee aande van die Paasfees. Dit is afgelei van die Hebreeuse seder wat orde of prosedure beteken – Oxford English Dictionary.]

Daar is artikels oor Etes en Kos in die Bybel op die webblad. Daarin word bespreek wat die mense destyds geëet het. Daar is egter twee baie spesiale maaltye wat in die Bybel vermeld word: die Paasmaaltyd en die Nagmaal. In hierdie reeks artikels gaan ons kyk na die Paasmaaltyd.


Jesus se laaste Paasmaaltyd

In Matteus 26:17 lees ons dat die dissipels na Jesus toe gekom het met ’n vraag: Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet. Daarna lees ons dat hulle die paasmaaltyd in ’n groot bovertrek voorberei het. Hierdie was ’n belangrike maaltyd, want tydens die maaltyd wys Jesus sy verraaier aan en stel die Nagmaal in. Oor die maaltyd self lees ons nie veel nie. Ons weet daar was brood en wyn en dat lofsange gesing is. Na hulle klaar was met die maaltyd gaan hulle na Getsémané waar Jesus gevange geneem is. Uit hierdie kort stukkie is dit duidelik dat die Paasmaaltyd ’n spesiale geleentheid was wat spesiale voorbereiding vereis het. Wat was die oorsprong van hierdie feesmaaltyd?


Die oorsprong van Paasfees.

Ons lees daarvan in Eksodus 12. Die Hebreeuse woord vir Paasfees is Pesach. In die Ou Afrikaanse Vertaling lees ons van pasga. Hierdie fees vier die historiese uittog van die Hebreeuse slawe uit Egiptiese slawerny. Dit is ook ’n lentefees – die hergeboorte van die grond na die lang, koue winter. Elke huisgesin moes ’n jaaroud rammetjie slag en die bloed aan die sykante en die bokant van die deurkosyn van elke huis smeer. Daardie aand bring God die tiende plaag aan – elke eersgeborene van Egipte sterf.

Die Seder is ’n teken dat die Joodse Paasfees begin het. Die datum is 14 Nisan volgens die Hebreeuse kalender. Ortodokse Jode buite Israel vier dit ook op die 15de. [Volgens ons kalender is dit laat in Maart of in April.] Tydens die fees word die verhaal van die vrylating van Israel uit die slawerny in Egipte gevier – die verhaal wat ons in Eksodus kry. Die opdrag vir die viering van hierdie feesdag kry ons in Eksodus 13:8: Op die feesdag moet elkeen vir sy kinders vertel: ‘Dit is wat die Here vir my gedoen het toe ek uit Egipte getrek het’ (Eksodus 13:8).


’n Huisfees

[Omdat ons nie weet hoe Jesus en sy dissipels die Paasfees gevier het nie, beskryf ons hoe Jode vandag die Paasfees vier. Baie van die gebruike wat beskryf word, is sekerlik deur Jesus gebruik.]

Tradisioneel kom families en vriende in die aand bymekaar en lees die Haggada (’n ou Joodse teks). In die Haggada lees ons die verhaal van die uittog uit Egipte. Dit bevat ook spesiale seëninge en rituele en Paasfeesliedere. Seder-gebruike sluit in die drink van vier glase wyn, die eet van ongesuurde brood en ander simboliese kossoorte wat op die Sedertafel geplaas word.


Die Tradisionele Seder-tafel

sedertafel

 

Die sinagoge is die middelpunt van baie Joodse feeste. Die Seder word egter in die huise van families gevier. Die Seder is ’n integrale deel van die Jode se geloof en identiteit. As dit nie was vir die ingryping van God nie, sou die Jode steeds as slawe in Egipte gewerk het. Die Seder is dus ’n geleentheid vir lofprysing en danksegging, maar ook ’n geleentheid vir die oordrag van die Joodse geloof van die een geslag na die volgende. Die eksodus is dié gebeurtenis wat ’n groepie slawe in ’n nasie saamgesnoer het.

Baie belangrik tydens die viering van die Paasfees is die kos wat geëet moet word – en die kos wat nie geëet mag word nie. Hierna gaan ons in die volgende artikel kyk.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber