1

Basiese inligting oor Jesus se twaalf dissipels – Jan van der Watt

Die name van die twaalf dissipels van Jesus kry ons by die volgende plekke (Matt 10:2-4; Luk 6:13-16. Die naam van Natánael word ekstra in Joh 1:46-47 genoem).

 Simon Petrus (Cefas), seun van Jona, visserman uit Betsáida/ Kapernaum, broer van Andréas. Hy is ‘n sleutelapostel in die Nuwe Testament. Volgens tradisie is hy in Rome doodgemartel deur onderstebo aan ‘n kruis gehang te word. Sy beendere (na ‘n bietjie omswerwings) lê tans onder die altaar van die St. Petrus katedraal in die Vatikaanstad.

Andréas broer van Simon Petrus, seun van Jona, visserman uit Betsáida/ Kapernaum. Hy speel nie ‘n prominente rol in die Nuwe Testament nie. Daar is egter in die apokriewe boeke ‘n Handelinge van Andréas wat vertel hoe Andreas in die huidige Turkye die evangelie verkondig het, demone uitgedryf het, siekes gesond gemaak het en dooies opgewek het. Hy het selibaat verkondig en is uiteindelik deur die leier van een van die gebiede langs die see gekruisig omdat hy die vrou van die leier (Maksimilla) tot bekering gebring het en sy het toe seksuele toenadering van haar man geweier.

Jakobus, die seun van Sebedéüs, ouer broer van Johannes (Jakobus die grotere/ ouere). ‘n Visserman in die groep van Petrus. Sy ma was een van die drie vroue wat by die kruis van Jesus was (Mat 27:56). Hy was die eerste dissipel wat as martelaar gesterf het (Hand 12:1-2) onder Herodus Agrippa I wat die guns van die Jode wou wen. Buite die Nuwe Testament is daar verskeie verhale oor Jakobus – daar word vertel dat die ‘polisieman’ wat Jakobus terrreggestel het, in die proses tot bekering gekom het. Ander verhale vertel van Jakobus wat in Spanje die evangelie verkondig het (hy is die beskermheilige van Spanje), ‘n Ander tradisie vertel dat sy liggaam op ‘n skip gesit is en deur engele na Santiago de Compostela (‘n beroemde bedevaartsoord) geneem is.

Jakobus, die seun van Alféüs (Jakobus die kleine/ jonger). Van hom is niks verder bekend nie.

Johannes, die seun van Sebedéüs, jonger broer van Jakobus. ‘n Visserman in die groep van Petrus. Sy ma was een van die drie vroue wat by die kruis van Jesus was (Mat 27:56). Hy word die geliefde dissipel genoem en word volgens die vroegste tradisie gesien as die skrywer van die Johannesevangelie en –briewe. Volgens tradisie is hy van Jerusalem na Efese waar hy ‘n ryp ouderdom bereik het en uiteindelik aan natuurlike oorsake oorlede is. Daar word vertel van sy suksesvolle bediening in Efese, waar hy kriminele tot bekering gelei het en selfs iemand uit die dood opgewek het. Volgens tradisie is sy graf in Efese.

Fillipus, uit Betsáida. Daar is buite-Bybelse verhale dat hy die evangelie met welslae in Turkye verkondig het en as gevolg daarvan doodgemartel is. Hy is uiteindelik in Hierapolis begrawe en sy waarskynlike graf is onlangs daar teen die berg gevind.

Tomas Didimus is veral bekend omdat hy nie wou glo voordat hy sy vingers in Jesus se wonde gesteek het nie (Joh 20:24-25). Buite-Bybelse inligting vertel dat hy besondere openbarings van die Here ontvang het en in die Handelinge van Tomas word daar vertel van sy verkondiging van die evangelie asook sy martelaarskap in Indië, ‘n tradisie wat tot vandag nog lewendig gevier word.

Matteus, die tollenaar, ook Levi genoem, wat waarskynlik die die Matteusevangelie geskryf het. Heelwaarskynlik is hy in Galilea gebore, met Alfeus as sy pa.

Simon Kananítes (Seloot/ Yweraar). Hy het waarskynlik aan die Selote behoort wat hipergetrou was aan die Wet en dit op hulle geneem het om die eer van die Wet te beskerm deur die oortreders van die wet te straf. Sy lewe moes radikaal verander het as dissipel van die Here.  

Judas, die seun van Jakobus (sien by Lebbéüs)

Judas Iskáriot, die een wat Jesus verraai het. In die geskiedenis bly sy daad van verraad steeds ‘n punt van diskussie. Oor die algemeen word sy lot vergelyk met die van mense wat teen God draai. In die resente tyd het daar teorieë die lig gesien (veral met die ontdekking van die Evanglie van Judas) wat Judas eerder as ‘n spesiale dissipel vir wie Jesus vertrou het, uitgebeeld het. Dit is egter nie oortuigend genoeg om die Bybelse beeld van Judas omver te gooi nie.

Bartholomeus word deur sommige met Natanael (sien hieronder) geïdentifiseer, maar dit is betwyfelbaar. Buite-Bybelse gegewens verwys wel na hom. Hy kom waarskynlik uit die huis van Naftali en is aanvanklik Johannes genoem. Hy het die naam verander ter wille van Johannes, die geliefde dissipel. ‘n Kerkvader (Eusebius) vertel dat hy die evangelie in Indië verkondig het, maar sy naam word ook met gebiede in Turkye en die huidige Irak en Iran verbind. Ander tradisies sê hy is in Armenia van sy vel gestroop en onthoof. Ander vertel dat sy liggaam in ‘n sak gesit is en in die see gegooi is.

Lebbéüs ( sy ‘van’) wat genoem word Thaddéüs (sy ‘naam’) (deur Matteus en Markus genoem – Matt 10:3; Mk 3:18). Lukas noem nie hierdie naam in sy lys nie, maar ook nie die van Judas die seun van Jakobus nie. Daar word gemeen dat die twee name wel na dieselfde persoon verwys, maar dat Matteus en Markus die naam Lebbéüs gebruik om misverstand rondom Judas Iskariot te voorkom. Nie veel is bekend oor die persoon nie, hoewel latere buite-Bybelse literatuur (Die Handelinge van Thaddéüs) wel vertel van Lebbéüs wat in Edessa in Irak die evangelie van die Here met sukses verkondig het.

Natanael, ‘n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie (deur Johannes genoem – 1:46-47). Van die 9e eeu af is hy met Bartholomeus (sien hierbo) geïdentifiseer, maar dat dit so is lyk onwaarskynlik. Min is verder oor hom bekend.

Mattias, wat na die verraad in die plek van Judas Iskáriot gekies is (Hand 1:26). Min is verder oor hom bekend.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Wat is dissipelskap?

“We will not let you choose between being a lover of God and his sovereignty and being a lover of lost people.” – John Piper

Wat is dissipelskap?

Dissipelskap kan baie vorme aanneem. Dit lyk asof dit eerlikheid, die soek na raad, die Skrif en iemand wat gewillig is om dit te doen, insluit. Luister wat sê die Prediker: Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as die een wat val alleen is, is daar niemand om hom op te help nie (4:9 – 10).

Twee is ook beter as een wanneer ons ons geloof in Christus uitleef. Al probeer ons dikwels alleen regkom, het ons mekaar tog nodig. Ons het teregwysing en onderrig nodig – nie dat ons dit dikwels soek nie. Dit is hoekom dissipelskap so belangrik is.

Hier is drie eenvoudige voordele van ‘n dissipelskapverhouding.

 

  • Dissipelskap bou nederigheid

Die versoeking is dat ons kan dink dat ons weet wat die beste vir onsself is – ons ken onsself tog beter as enigiemand anders. Maar Jeremia waarsku ons: Die hart is bedriegliker as enigiets anders (17:9). Miskien is ons harte nie die beste ding om op te vertrou nie. Wyse raad van ander mag dalk net die ding wees wat God gebruik om ons te beskerm.

Die Spreuke-skrywer sê: Selfs wyse mense kan na die spreuke luister en so tot dieper insig kom (1:5). Hy gaan verder: Moenie dink jy het die wysheid in pag nie (3:7) – dit is nie so eenvoudig nie. As ons wil verstaan, moet ons eers erken dat ons nie alles weet nie. Dan moet ons na die raad van ons broers en susters – ons mede-dissipels – luister.

  • Dissipelskap verenig ons met medegelowiges

Die liggaam van Christus bestaan nie net vir ons om Sondae bymekaar te kom nie – die res van die week gaan ons dan aan met ons lewens. Om raad en dissipelskap te soek, is een manier om ander gelowiges in jou lewe in te nooi. Mense ken nie die besonderhede van jou lewe nie, tensy jy bereid is om dit met hulle te deel. Om jou lewe met ander te deel is ‘n geleentheid vir gebed en wedersydse aanmoediging. Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus (Galasiërs 6:2). Ons is immers almal lede van Christus se liggaam.

  • Dissipelskap rus ons vir getrouheid toe

Paulus sê dat die ouer vroue se gedrag as voorbeeld moet dien. Hulle kan ook goeie raad gee (Titus 2:3). Hierdie is nie ‘n voorstel nie, maar ‘n opdrag van God oor ons verhouding met mekaar. Dit is dissipelskap; dit is net nog ‘n bewys dat ons mekaar nodig het. Ek kan nie ander leer as ek nie self bereid is om te leer nie.




Dissipelskap = roeping

 

A lion in God’s cause must be a lamb in his own. —Matthew Henry

Dissipelskap = roeping

Julle is die sout vir die aarde … Julle is die lig vir die wêreld (Matteus 5:13 – 16)

As Jesus Christus in sy bergrede sê dat ons sout en lig vir die wêreld is, beteken dit dat elke dissipel opgeroep is – ek het ‘n roeping vir God in hierdie wêreld. Sout en lig verwys na die impak wat elke dissipel van Jesus Christus op aarde moet hê.

 

Die kerk en elke individu moet missioneel wees, want deur missioneel te wees het ons ‘n impak op die wêreld. Wat egter belangrik is, is dat ons moet agterkom wat God in Jesus Christus se sending is en dan daarby aansluit. God se sending is duidelik:  om die skepping wat gebroke is as gevolg van sonde en ongehoorsaamheid te verlos en herstel. Dit het Hy deur die lewe, dood, opstanding en verheerliking van Jesus Christus gedoen.

Om ‘n impak in die wêreld te hê moet die grense tussen kerk en samelewing poreus wees. Ons is so geneig om skerp grense te trek om die kerk – dié mense is in, dié mense is uit. Wat egter moet gebeur is dat die plaaslike gemeente die plaaslike omgewing moet bedien – almal.

Die kerk se fundamentele taak is om God se teenwoordigheid in die wêreld te bemiddel. Ons taak is om God – sy goedheid, genade, heiligheid, geregtigheid – te verteenwoordig. Sout en lig word egter nie net beperk tot wat ons doen nie, maar sluit in wat ons is.

 




Die koste van dissipelskap

The tragedy of modern man is not that he knows less and less about the meaning of his own life, but that it bothers him less and less – Vaclav Havel

Die koste van dissipelskap

As Jesus Christus my roep om ‘n dissipel van Hom te wees, staan ek voor ‘n groot uitdaging: ek moet myself versaak en my met Jesus Christus se lyding, verwerping en dood identifiseer. Die probleem is dat ons dikwels God se wysheid as dwaasheid beskou.

Baie van die profete se optrede kom vir ons dwaas voor:

 

  • Jesaja loop vir drie jaar lank naak en kaalvoet rond.
  • Jeremia dra ‘n swaar houtjuk om sy nek.
  • Esegiël moes in die openbaar ontlasting eet.
  • Hosea moes met ‘n prostituut trou.

Hoekom word Christene as dwaas beskou?

  • Die ideaal van die wêreld is om in beheer te wees. Die Christelike geloof beteken dat ek my beheer afstaan en totaal van die Here afhanklik word – ek gee myself op om sy kruis op te neem; dit is die begrafnis van my eie afhanklikheid. Om lyding te aanvaar is nie normaal nie – om die waarheid te sê ons doen alles in ons vermoë om lyding te vermy of ten minste te verlig. Enigeen wat vrywillig pyn kies, word gesien as dwaas. Die evangelies is egter baie duidelik dat dissipelskap met koste gepaard gaan. As Jesus Christus my roep duld Hy geen mededingers nie. Die bekende Duitse teoloog, Dietrich Bonhoeffer, wat deur Hitler tereggestel is, het gesê: When Christ calls a man, he bids him come and die.
  • Die oomblik as jy ‘n dissipel van Jesus Christus word, posisioneer jy jou as teen die bestaande kultuur van die wêreld. Dit is nie so maklik nie, want almal, ook die kerk, wil graag relevant wees.
  • Die manier waarop ‘n dissipel op swaarkry reageer. Die normale reaksie is om so gou as moontlik van die swaarkry ontslae te raak. Die Christen, daarenteen, besef dat hy God se agenda moet uitleef. Hierdie agenda sluit dinge in wat die wêreld as dwaas beskou: Jy moet jou vyande liefhê; jy moet diegene wat jou vervloek seën … Dit is ‘n siening wat die wêreld verwerp.

Volgelinge van Jesus Christus sal baie name genoem word – meeste afbrekend. Maar ons identiteit word nie bepaal deur die name wat die mense vir ons geen nie, maar ons identiteit kry ons van die Here.