‘n Paar verkeerde sienings van dissipelskap

“Forgiveness isn’t an end in itself. The point of forgiveness is to remove the barrier that stands between us and God so that He can give us His Spirit and bring us into His everlasting family.”

– Darrell Bock, Real Lost Gospel 

‘n Paar verkeerde sienings van dissipelskap

Daar word vandag baie oor dissipelskap gepraat. Ook vir Jesus was dit belangrik – Hy plaas dit in die hart van dy Groot Opdrag: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels. In die Weste beleef dissipelskap moeilike tye. Ed Stetzer sê dat ons huidige model stukkend is. Hy noem vyf gebiede waar ons model stukkend is:

 

  • Ons dink dissipelskap en Bybelkennis is dieselfde ding. Natuurlik kan ons nie geestelike groei sonder kennis van die Bybel nie, maar ons reduseer dikwels die dissipelskapproses tot ”Lees dit. Bestudeer dit. Memoriseer dit.” Dissipelskap is om meer soos Jesus Christus te wees: Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die eerste is (Romeine 8:29) Die sleutel is nie inligting nie, maar transformasie – om meer soos Christus te wees. Dit gaan nie oor kennis in die algemeen nie, maar om Jesus Christus beter te ken. Om soos Hy te probeer wees, sonder sy krag, is ‘n hopelose taak.
  • Ons probeer dissipelskap programmeer. Dissipelskap is nie ‘n ses weke kursus nie – dit vereis die najaag van kennis plus doelbewuste optrede. Ons gee boeke en bied kursusse aan, maar wat potensiële dissipels nodig het, is ‘n lewe. Toe Jesus dissipels gemaak het, het Hy hulle met Hom saamgeneem sodat hulle sy bediening kon sien. Ons moenie net mense vertel wat dissipelskap is nie – ons moet vir hulle wys. Mense soek betekenisvolle verhoudings en nie net ‘n dissipelskapklas nie.
  • Ons stel dissipelskap gelyk aan ons prediking. Prediking kan nooit die gemeente se dissipelskapstrategie wees nie: “As mense net na my preke luister, sal hulle geestelik groei.” Dissipelskap is ‘n daaglikse proses – dit is nie ‘n gebeurtenis wat elke Sondag plaasvind nie – dit is daaglikse toewyding.
    • Ons glo dat ons sonder enige inspanning kan groei. Baie mense glo dat God hulle verlos het en al wat van hulle verwag word, is om elke Sondag die erediens by te woon en van die “groot” sondes weg te bly. Dit is nie wat ons in die Skrif lees nie: Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe (Filippense 2:12). Dissipelskap vereis ‘n doelgerigte  poging. Die groeiproses van gelowiges is ‘n stap-vir-stap proses. Die toelê waarvan Paulus hier praat, beteken nie dat ons nou self ons eie verlossing kan bewerk nie. Dit is deur genade en geloof. Jy kan nie ‘n verhouding met God verdien nie. Dallas Willard stel dit so:Ons bied nie praktiese stappe aan nie. Om die gemeente se verbruikerskultuur te verander vereis ‘n doelgerigte dissipelskapplan en strategie. Ons moet mense aanmoedig om vas te staan in hulle geloof, uit te gaan in die wêreld en deel van ‘n klein groepie te wees. Gee aan mense stappe en mense saam met wie hulle hierdie pad kan loop.

 As ons aanvaar dat ons dissipelskapplan Bybels gegrond is, is die besonderhede daarvan nie so belangrik soos die implementering en kommunikasie daarvan nie. Om die uitdagings van opregte dissipelskap te identifiseer en jou toe te wy aan ‘n proses wat hierdie uitdagings hanteer, is die eerste en noodsaaklike stap vir ‘n gemeente vol dissipels.




Dissipelskap: Net vir super-Christene? (4)

We cannot grow into holiness, but we must grow in it (Oswald Chambers)

Dissipelskap: Net vir super-Christene? (4)

 Man’s whole life is a continual contradiction of what hy knows to be his duty. In every department of life he acts in defiant opposition to the dictates of his conscience and common sense (Leo Tolstoy) Hierdie lewe wat Tolstoy beskryf, lei tot ‘n gevoel van hopeloosheid en waardeloosheid – ‘n gevoel dat ek nooit in hierdie wêreld sout en lig vir ander sal wees nie. Ons is soos sout wat verslaan het: Dit is nie eers bruikbaar vir die grond of vir die mishoop nie (Lukas 14:35)

 

Nog iets wat ons dikwels hoor, is: Doen wat ek sê en nie wat ek doen nie. Luister wat sê Jesus van die skrifgeleerdes en Fariseërs: Julle moet alles doen en onderhou wat hulle vir julle sê, maar hulle voorbeeld moet julle nie navolg nie, want hulle doen self nie wat hulle sê nie (Matteus 23:3). Wat sou Jesus van ons vandag sê? Is dit nie wat ons ook maar doen nie? Is dit nie die gevolg daarvan as ons dissipelskap opsioneel maak nie?

Ons praat nie nou van volmaaktheid of om God se gawe te verdien nie. Niemand kan verlossing verdien nie, maar ons moet optree asof dit ons s’n is. Paulus kon in een asem sê: Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus  my reeds Syne gemaak het (Filippense 3:12). Paulus se tekortkominge lê agter hom, maar hy leef na vore, na die toekoms. Hy kon dus sê: Volg my. Ek is gevind.

Omdat die kerk besluit het dat dissipelskap opsioneel vir Christene is, word dié soort lewe wat die koers van die samelewing kan verander uitgesluit uit die boodskap van die kerk. Ek kan tog nie sê dat ek Christus vertrou, maar ek volg Hom nie. Om Christus te volg is nie net ‘n noodsaaklikheid nie, maar is die vervulling van die hoogste menslike moontlikheid.

The Christian stands, not under the dictatorship of a legalistig ‘You ought,’ but in the magnetic field of Christian freedom, under the empowering of the ‘You may.’ Helmut Thielicke




Dissipelskap: Net vir super-Christene? (3)

 A pound of meat would surely be affected by a quarter pound of salt. If this is real Christianity, the salt of the earth, where is the effect of which Jesus spoke (William Iverson)

Dissipelskap: Net vir super-Christene? (3)

Ons praat baie oor die koste van dissipelskap en die opoffering wat dit vra so asof nie-dissipelskap niks kos nie. Is dit waar?

In 1937 skryf Dietrich Bonhoeffer sy bekende boek The Cost of Discipleship. Daarin praat hy onder andere van goedkoop genade. Hiermee bevestig hy dat dissipelskap nie goedkoop is nie.

Hy was reg: jy kan nie ‘n dissipel van Christus wees sonder om afstand van sekere dinge te doen nie. Die koste van nie-dissipelskap is egter baie hoër.

Dit kos blywende vrede – ‘n lewe gekenmerk deur liefde, geloof wat alles in die lig van God se goedheid sien, hoop wat in die ontmoedigendste omstandighede vas staan, krag om te doen wat reg is en die kragte van goddeloosheid te weerstaan. Jesus het belowe: Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed (Johannes 10:10). Die kruis van Christus is ‘n instrument van vrylating en krag vir diegene wat in Hom woon. Dit is nie vir die nie-dissipel beskore nie

Volgende keer eindig ons met ‘n paar opmerkings oor dissipelskap.




Dissipelskap: Net vir super-Christene? (2)

Every human being’s essential nature is perfect and faultless, but after years of immersion in the world we easily forget our roots and take on a counterfeit nature. -Lao-Tzu, filosoof

Dissipelskap: Net vir super-Christene? (2)

In die plek van God se plan plaas ons: “Maak bekeerlinge vir ‘n spesifieke denominasie en doop hulle as kerklidmate.”  Daar is duidelik ‘n paar aspekte wat ons ignoreer:

  • Ons maak nie meer mense Christus se dissipels nie. Jesus sê dat alles hiervoor moet wag, maar ons ignoreer dit al is dit Jesus se eerste opdrag in sy Groot Opdrag.
  • Ons leer ook nie meer bekeerlinge om alles te onderhou wat Ek hulle beveel het nie.

Omdat ons nie die bekeerlinge dissipels gemaak het nie, is dit onmoontlik om hulle te onderrig om te leef soos Christus geleef het. As ons mense met die voorbeeld en onderrig van Christus konfronteer is die reaksie nie een van opstand en verwerping nie, maar een van verwondering: Wat het dit nou met ons te doen?

Maar wat is hierdie dissipelskap waarvan ons praat? Toe Jesus op aarde rondgeloop het, was daar ‘n sekere eenvoud aan dissipelskap. Primêr beteken dit dat jy saam met Hom geloop het met ‘n gesindheid van leer, gehoorsaamheid en nabootsing. Die mense het geweet wat dit beteken en wat dit kos. Petrus sê: Kyk, ons het alles verlaat en ons volg U (Markus 10:28). Familie en beroepe is vir lang periodes verlaat om saam met Jesus van plek tot plek te loop. Dissipels moes by Hom gewees het om te leer hoe om te doen wat Hy gedoen het.

Sê nou net ons moes dit vandag ook doen. Hoe sal jou familielede en werkgewers hierop reageer? Hulle sou waarskynlik gedink het dat ons nie veel vir hulle omgee nie. Miskien is dit wat Sebedeus gedink het toe sy twee seuns hom net daar in die skuit gelos het om Jesus te volg (Markus 1:20). In Lukas 14 praat Jesus oor die eise van dissipelskap. Hy begin deur te sê niemand kan sy dissipel wees tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe nie.

Dissipelskap in die verlede het ‘n duidelike betekenis gehad. Vandag is dit anders. Ons kan nie meer letterlik by Hom wees nie. Maar die prioriteite en gesindhede is nog steeds dieselfde. In die hart van die dissipel is daar ‘n begeerte en daar is ‘n besluit. Nadat ons verstaan wat dit beteken – en die koste bereken het – begeer die dissipel van Christus om soos Hy te wees. ‘n Leerling moet tevrede wees as dit met hom gaan soos met sy leermeester (Matteus 10:25). Iemand wat volleerd is, sal aan sy leermeester gelyk wees (Lukas 6:40).

 As ons die begeerte het, is daar nog ‘n besluit om te neem: om my daaraan toe te wy om soos Christus te word. Dit beteken dat jy sistematies jou sake herrangskik om meer soos Christus te word. Deur hierdie optrede skryf jy in vir Christus se opleiding en word jy sy dissipel. Daar is geen ander weg nie.

Die nie-dissipels – binne en buite die kerk – het iets belangriker om te doen as om soos Jesus te word. Kyk maar na die gelykenis van die groot maaltyd (Lukas 14) en die flou verskonings wat die mense aanbied om weg te bly. Ons doen nog steeds dieselfde.

Ons kan nie vandag ons families verlaat om saam met Jesus te loop nie, maar ons kan nog steeds ons dissipelskap konkreet maak deur ons vyande lief te hê, diegene wat ons vervloek te seën, om die tweede kilometer saam met die onderdrukker te loop. Hierdie optrede maak dissipelskap nie minder tasbaar  nie.

Ons het gekyk na die koste van dissipelskap. Kos nie-dissipelskap iets? Daarna kyk ons volgende keer.