Wie mag inseën? – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Ek het u artikel gelees rondom die verskil tussen doop of inseën. Die beplanning is dat my kleindogter binnekort ingeseën word. Ons is Gereformeerd en haar ouers Pinkster. Hulle predikant is onlangs oorlede en my kleindogter se pa het besluit hy wil self sy dogter inseën. Ons stem nie daarmee saam nie en dit veroorsaak spanning, ook omdat ons nie die geleentheid wil uitstel nie.

Wie mag ’n inseëning behartig? My gedagte was dat my man die seremonie waarneem en dan steeds die ouers toelaat om hul dogter in te seën. (My man is tans ’n diaken; hy moes as ouderling bevestig word maar weens die Covid-regulasies het die bevestiging nog nie plaasgevind nie.)

Ek soek asb raad hieroor, want my man sê hy is nie in ’n posisie om sy kleindogter aan die Here te wy en die seremonie waar te neem nie. Sy gevoel is dit moet ’n predikant (geordende leraar) van die kerk wees. Ons kinders bly ook nie meer in dieselfde dorp as waar hulle gemeente was nie, met die gevolg dat hulle nie ’n kerk bywoon nie, slegs selbyeenkomste. U bydrae sal hoog waardeer word.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Hier is ’n hele paar kwessies wat liefs persoonlik met al die betrokkenes rustig deurgepraat moet word, omdat mens met sulke sake nie oorhaastige besluite wil neem waaroor jy later spyt mag wees nie. Veral nie as daar verskil van mening is oor wat moet gebeur nie. Dit is ook nie vir my heeltemal duidelik wat die status van die selgroep is waaraan die ouerpaar behoort nie; funksioneer dit op sy eie of is dit deel van ’n groter gemeente? Indien laasgenoemde, dan sal my redenasie hieronder nog meer sin maak.

Ek wil graag voorstel dat julle met ’n leraar van die ouerpaar se kerk gaan gesels om te hoor wat hy of sy voorstel. (Dit is per slot van sake die ouerpaar se kerkgenootskap wat hier die deurslag behoort te gee, want dit is waar die kind gaan opgroei.) Al is die leraar van die gemeente waaraan die ouerpaar behoort, oorlede, kan mens steeds met ’n ander leraar uit daardie kerkgenootskap gaan praat sodat hy/sy kan leiding en raad gee. En weer eens, daar is geen haas nie, want wat met ’n inseëning of doop gebeur, is in ’n sekere sin slegs ’n de jure (amptelike) voltrekking van ’n de facto (feitelike) situasie. Daarmee bedoel ek: die feit dat daar bietjie gewag word om duidelikheid oor alles te kry, gaan niks verander aan die dogtertjie se “sielestatus” voor God nie. As kind van gelowige ouers is sy in elk geval opgeneem in God se genade en veilig in sy hoede.

Voortvloeiend uit bostaande gedagtes gaan ek ’n paar algemeen teologiese opmerkings maak wat dalk ’n breër perspektief kan gee op die kwessie van wie mag inseën of doop.

Ons moet onthou dat die doop of inseëning van ’n kind ’n amptelike kerklike handeling is, nie ’n privaat aangeleentheid nie. Daarom is dit nie aan te beveel dat die pa of oupa dit waarneem nie. Die reël wat die meeste kerke volg – hetsy Gereformeerd of Pinkster – is dat die inseëning of doop deur ’n geordende leraar van die kerk uitgevoer word. Want so word die kind amptelik lid van die kerk. In die Gereformeerde tradisie praat ons byvoorbeeld van so ’n kind as ’n dooplidmaat, met ander woorde hy/sy, hoe klein ook al, is reeds lidmaat van die gemeente, al het hy/sy nog nie belydenis van geloof afgelê nie. Dooplidmate se name word ook amptelik in die kerklike rekords opgeneem, en die gemeente neem dus – saam met die ouers – verantwoordelikheid vir hulle geloofsopvoeding.

Die rede waarom die doop of inseëning deur ’n geordende leraar waargeneem moet word, is die noue verband tussen Woord en sakrament. Die sakrament van die doop is nie ’n magiese, selfstandige handeling op sy eie, los van die Woordverkondiging nie, maar kry juis sy betekenis vanuit die bediening van die Woord. Dis dan ook een van die redes waarom in kerke wat net groot doop, daar eers ’n belydenis van geloof moet wees voordat die doop bedien word. Die Woord moes eers ingang gevind het by die dopeling voordat gedoop word. En dit kan net gebeur as iemand die Woord verkondig het. En daardie iemand – afgesien van die ouers – is die leraar; dis by uitstek die taak van die leraar om amptelik die lewende Woord van God te verkondig. Daarom is hy/sy ook die een wat die sakrament moet bedien, die sakrament wat sy “krag” uit die Woord kry. Natuurlik, in die Pinksterkerke is die inseëning nie ’n sakrament (soos die doop en nagmaal) nie, maar dis tog ’n amptelike handeling. En gewoonlik is dit so dat as die leraar dit nie kan waarneem nie, dit amptelik aan ’n ouderling of ander ampsdraer in die kerk opgedra word. Verder, die doop/inseëning is nie net ’n amptelike handeling nie, maar vind ook in die openbaar plaas, voor die oë van die hele gemeente. Almal neem kennis dat kind so-en-so nou opgeneem word in die gemeente en deel daarvan is. Soveel te meer rede dus dat die inseëning deur ’n geordende leraar gedoen word.

Met hierdie beredenering het ek net ’n teologiese konteks probeer skets waarbinne my raad verstaan moet word, naamlik dat dit beter is om die amptelike weg te loop, veral as die selgroep waaraan die ouerpaar behoort deel is van ’n groter gemeente of kerkgenootskap. Dan is dit altyd beter om eers te wag dat daar ’n nuwe leraar kom of dat ’n ander leraar die inseëning doen. Ook ter wille van die dogtertjie soos sy groter word. Dan weet sy presies waar sy tuishoort. Ek is oortuig daarvan dat die kerk waaraan die ouerpaar behoort ’n spesiale reëling sal tref met die inseënings terwyl die gemeente tans sonder leraar is.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Groot Doop – Francois Malan

‘n Leser vra:

My verloofde is groot gedoop, ek as baba in n NGK. Mag ons in n NGK trou?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Julle mag in die NG Kerk trou. Die huwelik is, wat die staat betref  ’n wettige kontrak tussen twee mense, en die predikante van die NG kerk word deur die regering aangestel om huwelike wettig te bevestig. Die kerk het ook sy eie formulier vir die huwelik wat by so ’n geleentheid ook aan die paartjie voorgehou word, wat die Bybelse deel van die huwelik verduidelik, want die kerk beskou die huwelik as ’n verbintenis deur die Here van die man en die vrou.

Genesis 1:27 sê reeds by die Skepping: God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.

Jesus het Genesis 1:27 en Genesis 2:24 aangehaal in Mattheus 19:4-6 en gesê: Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af ‘man en vrou gemaak het nie? Daarom sal ’n man sy vader en sy moeder verlaat en aan sy vrou verbind word, en die twee sal een vlees wees’ sodat hulle nie meer twee is nie, maar een. Daarom sê Jesus: wat God saamgevoeg het, moet ’n mens nie skei nie.

In 1 Korinthiërs 7 antwoord Paulus die gemeente se vrae oor die huwelik. Gaan lees 7:1-8 oor die eenheid tussen man en vrou in die huwelik.

In Efesiërs 5:21-33 bespreek Paulus die huwelik as ’n verhouding waarin man en vrou aan mekaar onderdanig moet wees uit ontsag vir Christus. 

Die doop is die Here se teken en seël wat bevestig dat jy aan Hom behoort.

Groot mense wat tot bekering kom word gedoop omdat hulle in die Here Jesus glo as die Seun van God wat vir hulle sondes gesterf het en van hulle kinders van God maak wie se sondes vergewe is en wie se verhouding met God reggemaak is deur Jesus se sterwe aan die kruis.

Vir babas van gelowige ouers is die doop dieselfde teken en seël van God, op grond van God se verbond met die gelowiges dat Hy hulle God sal wees en ook die God van hulle nageslag. Vir Abraham het die Here gesê sy kinders en hulle nageslag moet hulle seuntjies op die agste dag besny as die teken dat hulle aan die Here behoort (Genesis 17:7-13). Jesus het die genadeverbond van God gemaak met almal wat in Hom glo en hulle kinders. Daarvan is die doop van seuns en dogters die uiterlike teken en seël dat die Here ons aangeneem het as sy kinders en dat ons moet lewe volgens sy woord. Jesus het gesê: ‘..moet die kinders nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemele behoort aan mense soos hulle (Matt 19:14; Markus 10:13-16; Lukas 18:15-17). Met die uitstorting van die Heilige Gees het Petrus gesê: ‘Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte geld vir julle, en ook vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, almal wat die Here God na Hom toe roep (Handelinge 2:38-40).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die waarde van die doop – Francois Malan

Boodskap Teks

Uit ander antwoorde lei ek af die bediening van die doop deur amsdraers is vir die medewerkers belangrik. Ek kan daarmee saamgaan as dit is terwille van goeie orde en die sigbare handeling ingemeente.Ek is egter bekommerd dat die “doper ” verhef word tot die verbondsluiting tussen God en die mens,amper soos die katolieke kerk. My verstaan by die kinderdoop is dit die gelowige ouers wat hulle kind laat doop.verbondsluiting vind dan plaas tussen God en die kind agv van die geloof van die ouers nie die handeling v d doper nie. Selfde vir volwassens wat hulle laat doop.Kinders v ongelowige ouers of volwassenes wat nie werklik die Here aangeneem het nie tree nie in n verbond met die Here nie !

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Eers ’n opmerking oor die ‘katolieke kerk.’ Die Griekse woord katholikê beteken ‘algemeen, universeel’ en is deel van die Gereformeerde geloofsbelydenis: ‘Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, omdat alle gelowiges aan een Here Jesus Christus verbind is. Daarom word van die Roomse Katolieke Kerk gepraat om hulle van ander kerke te onderskei. 

U afleiding dat die bediening van die doop deur ampsdraers vir die medewerkers belangrik is en die doper verhef tot die verbondsluiting tussen God en die mens:

Eers iets oor die betekenis van die doop as teken en seël van die verbond van God met ons waaroor u skryf:

Volgens Paulus in Romeine 4:3,10  het die Here sy verbond met Abraham gemaak nog voordat hy besny is omdat hy in God geglo het (vgl. die Here se verbond met hom in Genesis 12:1-4 toe hy 75 jaar oud was;  en weer in 15:18-20). Romeine 4:11-12: ‘Abraham het die besnydenis as ’n seël ontvang om te bevestig dat hy op grond van sy geloof geregverdig is terwyl hy nog onbesnede was. So het hy die vader geword van almal wat glo terwyl hulle onbesny is, sodat ook vir hulle die geloof as regverdiging gereken kon word. So het hy die vader geword van hulle wat nie bloot besny is nie, maar wat boonop in die voetspore volg van ons vader Abraham, wat geglo  het toe hy nog onbesnede was’ (volgens Genesis 17:1-13 was Abraham 99 jaar oud toe die Here die besnydenis as verbondsteken tussen die Hom en Abraham ingestel het; vg. Romeine 4:19).

Romeine 4:23-25 lui: ‘Dat dit vir Abraham tot regverdiging gereken is, is nie net ter wille van hom opgeskryf nie, maar ook ter wille van ons vir wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus ons Here uit die dood opgewek het. Hy is ter wille van ons oortredings oorgelewer en ter wlle van ons regverdigmaking opgewek.’

In Kolossense 2:6,11- skryf Paulus: ‘Aangesien julle dus Christus Jesus die Here aangeneem het, bly in Hom leef…In Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis deur mensehande nie, maar deur die besnydenis van Christus, waardeur julle sondige aard weggeneem is, toe julle in die doop saam met Hom begrawe is . In Hom is julle ook saam opgewek deur die geloof in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het .’

Oor die verheffing van die doper asof hy die verbondsluiting waarneem:

Paulus skryf aan die Korinthiërs 1:14-15: ‘Ek dank God dat ek, afgesien van Krispus en Gaius, nie een van julle gedoop het nie, sodat niemand kan sê dat julle in my naam gedoop is nie.’

Orals waar Paulus gekom het, het hy ’n gemeente gestig en ouderlinge aangestel of laat aanstel wat die gemeente moes versorg. Hy beskou hulle as opsieners en bestuurders oor die huishouding van God wat hom moet hou aan die betroubare woord van God in ooreenstemming met die lering (vgl. bv. Titus 1:5,7,9; vgl 1 Tim 5:17). Vir Timotheus het Paulus self  en die ouderlinge die hande opgelê waardeur hy die genadegawe van God ontvang het omdat hy oortuig was van Timotheus se opregte geloof oor wie die gemeentes in Listra en Ikonium goeie getuienis gelewer het(1 Tim 1:5-6, 4:14; Hand 16:2). Timotheus moes hom toelê  op voorlesing, bemoediging en onderrig.

Op die Pinksterdag het Petrus vir die wat gelowig geword het en gevra het wat hulle moet doen, geantwoord: ‘Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte geld vir julle en ook vir julle kinders, en vir almal daar ver, almal wat die die Here ons God na Hom toe roep….diegene wat sy boodskap aangeneem het, is gedoop en op daardie dag is ongeveer drieduisend mense toegevoeg (Hand 2:37-41). Volgens vers 37 sou Petrus en die ander apostels waarskynlik die doop bedien het soos Jesus ook in Mattheus 28:19 opdrag aan die 11 van sy dissipels gegee het.

In Samaria was dit Filippus, een van die apostels se helpers op wie die apostels hulle hande opgelê het (Hand 6:5-6) wat mans en vroue in Samaria gedoop het (Hand 8:2). 

Petrus 5:2 vra die ouderlinge om soos herders die kudde van God in hulle midde te versorg as voorbeeld vir die kudde en oor hulle toesig te hou (1 Petr 5:2-3) en jonges om ondergeskik te wees aan die ouderlinge (5:5).

Nêrens word verder en spesifiek gesê wie die doop moet bedien nie, behalwe Johannes 4:2 wat sê dat Jesus nie self gedoop het nie, maar sy dissipels (die woord dissipels beteken leerlinge, volgelinge) en Mattheus 28:16-20 waar Jesus aan die 11 dissipels die opdrag gee: ‘…Gaan en maak dissipels van al die nasies, doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het…’ 

In die formulier vir die bevestiging van leraars in die NG Kerk is die bediening van die sakramente deel van die leraar se amp met verwysing na Mattheus 28:19, en moet hy saam met die ouderlinge die gemeente van God in goeie tug en orde hou en regeer soos die Here dit voorgeskryf het. In die formulier van die doop word gesê dat die bedienaar van die Woord/die liturg (leier van die erediens) die doop bedien.

Die leraars as bedienaars bly dienaars van Christus wat die doop bedien op grond van die geloof van die volwasse persoon of van die ouers van die kind, geloof in Jesus Christus as die Seun van God wat vir ons sonde gesterf het. Die verbond van God met die persoon of kind word gesluit deur God wat die persoon na Hom toe getrek het (vgl. Johannes 6:29, 37, 39, 44, 65; 10:29). Die geloof kom deur die oortuigingswerk van die Heilige Gees (vgl. Joh 16:7-11, Ef 2:8). Die doop is slegs die bevestiging van die verbond. 

Skrywer: Prof Francois Malan




Kindertjies inseën – Francois Malan

‘n Leser vra:
Goeie more ek vertrou dit gaan goed. Ek het n vraag wat by my opgekom het…As n man en vrou saam bly en n kind het…kan hulle die kind saam inseën by die kerk? Die ouers is nie getroud en leef ook nie vir die Here nie.

ANTWOORD

Prof Francois Malan antwoord:

Die inseëning van ’n kind geskied veral in Baptiste kerke wat hulle lidmate na belydenis van hulle geloof in die Here Jesus groot doop. Ander kerke doop die kindertjies van gelowige ouers as die sigbare teken van die verbond wat God met die ouers en hulle kinders gemaak het. In Handelinge 2:38-39 sê Petrus: ‘Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes gedoop word, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte geld vir julle, en ook vir julle kinders, en vir almal daar ver, almal wat die Here ons God na Hom toe roep.’  

Die inseëning geskied deur ouers wat lidmate van die kerk is en bereid is om voor die Here te belowe dat hulle die kind sal grootmaak om te glo in die Here Jesus as die Seun van God.

Jesus Christus is die Lam van God (God se Offerlam) wat die sonde van die wêreld wegneem (Johannes 1:12). Daarom het Hy aan die kruis gesterf om al ons sonde op Hom te neem en ons daarvan vry te spreek en so ons verhouding met God reg te maak. Aan elkeen wat in Hom glo het Hy die reg gee om kind van God te word (Johannes 1:12).

As ’n kind ingeseën sou word deur ouers wat nie vir die Here leef nie, is die inseëning van geen waarde nie en is dit eintlik ’n bygelowige bespotting. Die doel van die inseëning is om die kind vir sy lewe lank aan die Here toe te wy en uitdrukking te gee aan die ouers se verantwoordelikheid voor die Here om die kind vir die Here groot te maak.  

As die kind groter word en ten spyte van sy ouers se ongeloof in die Here Jesus begin glo en self besluit om vir die Here te leef, kan hy of sy self na enige kerk toe gaan om geleer en gedoop te word as volle lidmaat wat in daardie kerk die Here saam met ander gelowiges wil aanbid.

In Mattheus 28:19-20 het Jesus vir sy dissipels gesê: Gaan en maak dissipels (leerlinge en volgelinge) van al die nasies, doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. 

Is die gawe van ’n kindjie nie juis die Here se oproep aan die ouers om vir die Here te begin lewe, en saam met gelowiges by ’n kerk aan te sluit om die Here gereeld te loof en te dank nie; en hulle kind daar te laat doop of inseën nie?

Moet ouers wat nie getroud is nie, nie dit begin oorweeg om te trou en so meer vastigheid aan die kind en sy ontwikkeling te bied nie? As hulle eers vir die Here begin lewe, sal hulle sien hoe dit moontlik word om in liefde as getroudes saam te lewe.

Efesiërs 5:21 sê: ‘Wees ondergeskik aan mekaar uit ontsag vir Christus.’ Filippense 2:3-5 sê: Moenie iets uit selfsug of ydelheid doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na dié van ander. Julle moet dieselfde gesindheid onder mekaar openbaar as wat in Christus Jesus was.’ So kan ’n hegte liefde tussen man en vrou groei, met wedersydse trou aan mekaar as getroudes.

Skrywer:  Prof Francois Malan