Eenheid en Verskeidenheid in die Bybel(4) – Slotperspektief: Het die Bybel ÉÉN Boodskap?

Eenheid en Verskeidenheid in die Bybel(4) – Slotperspektief: Het die Bybel ÉÉN Boodskap? – Hermie van Zyl

Ten slotte moet mens die vraag probeer beantwoord of die Bybel één boodskap het. Hierdie vraag moet met ‘n “nee” én “ja” beantwoord word. Die “ja” dra die grootste gewig, maar dan moet dit reg verstaan word. 

Ten slotte moet gevra word: Het die Bybel slegs een boodskap?

  • Dis ‘n “ja” én “nee” antwoord. Kom ons begin by die “nee”. Die oorsig oor die verskillende stemme in die Bybel het duidelik aangetoon dat daar verskeidenheid in die eenheid is. Daar is ‘n verskeidenheid van geldige maniere waarop mens oor God en sy heil kan praat. Want God bly na alles ‘n misterie. In die woorde van Romeine 11:33: “Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë“. Ons het inderdaad verskillende woorde nodig om oor die misterie van God te praat. God laat Hom nie met een woord vasvat nie. Daarom moet ons ook ruimte maak vir mekaar se belewing van en denke oor God.
  • Maar daar is ook ‘n “ja”-antwoord. Verskeidenheid in die Bybel is nie ‘n vrypas vir dese en gene om met vreemde en idiosinkratiese sieninge te smous nie. Want ongelukkig is die ou spreekwoord waar: “Elke ketter het sy letter”. Elkeen probeer sy standpunt uit die Bybel bewys. Nee, daar is ‘n outentieke tradisiestroom in die Bybel wat alles bymekaarhou. Elke siening moet deur die kerk aan hierdie stroom getoets word. Dus, ja, die Bybel het een boodskap. Maar dis nie so maklik om dit te verwoord nie. Karl Barth, seker die grootste teoloog van die 20e eeu, het by geleentheid, toe hy gevra is wat hy beskou as die kernboodskap van die Bybel, geantwoord met die woorde van die bekende Engelse lied: Jesus loves me / this I know / ’cause the Bible tells me so. Mens sou hierdie een boodskap selfs kon saamvat met ‘n enkele Bybelteks, byvoorbeeld Johannes 3:16: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe kan hê”.
  • Maar as mens meer omvattend probeer wees, in terme van die hele gang van die Bybel, sou mens die boodskap van die Bybel so kon saamvat:

God is liefde, en Hy wil sy koninkryk van liefde en geregtigheid op aarde vestig. Met die oog hierop het Hy begin om sy hart en wil aan Israel deur Moses en die profete bekend te maak. Dit het uitgeloop op die vestiging van sy koninkryk in Jesus Christus. Deur Christus se dood, opstanding en hemelvaart wil God alle mense van die wêreld van sonde verlos en in gemeenskap met Hom en met mekaar inlyf. Daarvoor sorg sy Gees. Uiteindelik sal God sy koninkryk finaal vestig wanneer Christus met krag en heerlikheid verskyn en die nuwe hemel en nuwe aarde tot stand kom.

 

Dus, om terug te kom tot die vraag of die Bybel ‘n boek met een boodskap of ‘n biblioteek met uiteenlopende waarhede is, moet mens sê:

 Die Bybel het baie stemme en waarhede, ja, maar hierdie baie stemme vind hulle krag en betekenis binne een boodskap. Laasgenoemde is die konteks waarbinne die baie stemme verstaan moet word. In daardie sin van die woord is die Bybel ‘n pakket. Jy kan nie sommer enigiets glo nie, met enige teks en interpretasie oploop sit nie. Om “Bybels” te glo en te leef, moet jy dit wat jy glo in verband kan bring met hierdie een boodskap. En dis hoekom die kerk daar is. Die kerk se enigste taak is om die een boodskap van die Bybel in alle tye en omstandighede te bewaar, uit te dra en nuut te maak. 

 

Outeur: Prof Hermie van Zyl

 




Eenheid en Verskeidenheid in die Bybel(3) – Die Nuwe Testament

Eenheid en Verskeidenheid in die Bybel(3) – Die Nuwe Testament – Hermie van Zyl

Voorbeelde word gegee van die verskeidenheid van stemme wat in die Nuwe Testament opklink, en redes word gegee waarom hierdie verskeidenheid tog in een bundel tereg gekom het.

In die Nuwe Testament, hoewel ‘n veel korter tyd as in die Ou Testament (slegs ongeveer 50-70 jaar), het ons eweneens met verskillende stemme te make. Voorbeelde:

  • Die eerste drie Evangelies (Matteus, Markus, Lukas) teken Jesus as gebore uit die menslike geslag (vergelyk die geslagsregisters van Matteus 1 en Lukas 3). Natuurlik is daar allerlei aanduidings dat sy oorsprong Goddelik is. Maar basies het ons met ‘n “lae” Christologie te doen, dit wil sê, die klem val daarop dat Jesus as egte mens voortspruit uit die menslike geslag. Maar die Johannesevangelie teken Jesus se herkoms uitdruklik as Iemand wat een met God is en dan mens word (vergelyk Johannes 1:1: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was self God“; 1:14: “Die Woord word het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid aanskou.” Hierdie soort eksplisiete formulerings omtrent Jesus se goddelike herkoms kry ons nie by die eerste drie Evangelies nie, en is wat ons noem ‘n “hoë” Christologie.
  • Ander verskille tussen die Evangelies. Die blote feit van vier Evangelies is in ‘n stadium deur vyande van die kerk gebruik om die (historiese) ongeloofwaardigheid van die kerk se boodskap te probeer uitwys: Hoe kan iemand in Christus glo as daar nie eens ‘n eenstemmige verhaal oor sy aardse lewe is nie? As antwoord hierop probeer die kerk die probleem “oplos” deur die vier verhale tot een te maak. Hieruit ontstaan allerlei Evangelieharmonieë (die Diatessaron, betekenis: “een deur vier”, uit die tweede eeu is ‘n voorbeeld). Maar dit het nooit die “vierstemmige” evangelie vervang nie. Ander verskille ten opsigte van hoe Jesus uitgebeeld word: Die eerste drie Evangelies beklemtoon die lydende Seun van God (veral Markus) (dink aan die lydensworsteling in Getsemane). Maar Johannes beskryf ‘n soort “professionele” Jesus: In die Tuin van Getsemane tree Jesus Goddelik op. Hy moet die mense wat Hom gevange neem, help: As Jesus Homself aan sy arresteerders identifiseer: “Dit is Ek”, deins hulle terug, asof hulle bang is om Hom te arresteer. Jesus se kruisiging word ook deur Johannes as sy verhoging beskryf.
  • By Paulus vind ons die klem dat “geloof alleen” voldoende is om iemand te red. Maar die Jakobusbrief sê: “geloof alleen” is nie genoeg nie, die dade moet bykom. Oppervlakkig bekyk, lyk dit of hulle twee verskillende maniere van redding verkondig: geloof (Paulus) en werke (Jakobus).
  • Romeine 13 het ‘n ander siening van die staat as Openbaring 13. In Romeine is Paulus baie positief teenoor die Romeinse staat. Hy sien dit as die dienskneg van God in die handhawing van wet en orde. Christene moet dit daarom gehoorsaam. In Openbaring egter is die Romeinse staat nie ‘n dienskneg van God nie maar van Satan (die draak). Dit verteenwoordig vervolging en verdrukking van Christene, en sal uiteindelik deur God vernietig word.
  • Vergelyk verder Paulus se siening van slawerny. In 1 Korintiërs 7:14-24 sê hy: slawe moet bly soos hulle is, hulle moenie vrylating soek nie. Efesiërs 6:5-8 en Kolossense 3:22-25 bevestig dit: Slawe, wees gehoorsaam aan julle base. Maar in Filemon is Paulus se raad aan Filemon, die slawe-eienaar: Ontvang jou verloopte slaaf, Onesimus, terug soos ‘n broer. (Die veronderstelling is dat Filemon vir Onesimus sou vrylaat omdat daar ‘n ander verhouding tussen hulle tot stand gekom het.)

 

Die vraag is vervolgens: Wat hou die Nuwe-Testamentiese boeke bymekaar?

  • Dis slegs moedswilligheid en kwaadwilligheid wat ‘n wig probeer indryf tussen die boeke van die Nuwe Testament. Van die vroegste tyd is die kerk gelei om hierdie boeke as verskillende, maar almal geldige perspektiewe op die een God en Vader en een Here Jesus Christus te bely.
  • Alle boeke fokus op die persoon van Jesus Christus, en het te make met redding in Christus. Die verskillende perspektiewe word daarom nie as opponerend en uitsluitend beleef nie, maar as aanvullend en verrykend ten opsigte van mekaar.
  • Verder is die Nuwe Testament ook een met die Ou Testament. Die Ou Testament vorm die konteks van en bron waaruit die koms van Christus verstaan en geïnterpreteer word. Dis die rede waarom die Ou Testament deel is van die Christelike Bybel. Die kerk het van die begin af gesê: Die God van die Ou Testament is dieselfde Een wat Hom ook in Christus geopenbaar het. Die God van Abraham, Isak en Jakob is ook die God en Vader van Jesus Christus. Daarom dat Ou en Nuwe Testament sáám in een boek gebind is.

Outeur: Prof Hermie Van Zyl




Eenheid en Verskeidenheid in die Bybel(2) – Die Ou Testament

Eenheid en Verskeidenheid in die Bybel(2) – Die Ou Testament – Fanie Snyman

Voorbeelde word gegee van die verskeidenheid van stemme wat in die Ou Testament opklink, en redes word gegee waarom hierdie verskeidenheid tog in een bundel tereg gekom het. 

Eerstens word gelet op voorbeelde van verskillende stemme wat in die Ou Testament gehoor kan word.

  • Genesis 1 en 2 beskryf dieselfde skeppingsgebeure, maar met twee verskillende verhale daaroor. In Genesis 1 word gesê dat die wêreld in ses dae geskape is en dat God op die sewende dag gerus het. Daar word ook gesê dat die mens op die sesde dag as die beeld van God geskep is. In Genesis 2 kry ‘n mens ‘n ander prentjie. Hier word niks van die ses-plus-een-dag skeppingspatroon vermeld nie. Verder kry mens die indruk dat die mens aan die begin geskape is, dat hy eintlik die middelpunt van die skepping is, en dat God die tuin as ‘t ware rondom die mens aanlê sodat dit kan dien tot sy versorging en genieting.
  • Die tien gebooie vind mens opgeteken in Eksodus 20 en Deuteronomium 5. In Eksodus 20 word die vierde gebod (om die Sabbatdag te onderhou) gemotiveer uit die skepping: ‘n mens moet op die sewende dag rus van jou arbeid omdat God op die sewende dag gerus het van al sy arbeid. Maar in Deuteronomium 5 word dit gemotiveer vanuit die uittog uit Egipte – omdat God Israel verlos het uit Egipte, moet Israel die Sabbat onderhou. Dus, een en dieselfde gebod, met twee verskillende motiverings.
  • Daar is ook ‘n verskeidenheid van maniere waarop gelowige Israel deur die eeue aan hulleself gedink het as God se volk. Aan die begin is daar ‘n enkele gesin (Abraham, Sara en Isak). Latere geslagte identifiseer hulle met Abraham as die vader van alle gelowiges. Hierdie familie groei uit tot ‘n stam of clan, wat uiteindelik uitmond in die twaalf stamme van Israel wat losweg as ‘n teokratiese stammefederasie bekend kan staan. Die gedagte hier is dat God die alleenheerser is. Uiteindelik word Israel ‘n volskaalse monargie met konings aan bewind. Israel is nou ‘n nasie soos ander nasies. Maar die konings regeer by die grasie van God en word steeds deur God tot verantwoording geroep. Die klem val sterk op die nasionalistiese. In die ballingskapsperiode dink Israel aan hulleself as slegs ‘n gelowige oorblyfsel. En ná die ballingskap het die sterk nasionalistiese motief op die agtergrond getree en dink Israel meer aan hulleself as ‘n godsdienstige gemeenskap. Dus, mense met dieselfde geskiedenis, maar met verskillende godsdienstige selfidentifikasies oor tyd heen.
  • Die verskillende korpusse van boeke in die Ou Testament belig ook verskillende aspekte van die verhouding met God. In die Pentateug (Genesis-Deuteronomium) is dit gehoorsaamheid aan die tora (wet van God) wat vooropstaan. In die profetiese boeke is dit weer geregtigheid en liefde. In die Psalmbundel is gebed baie belangrik. En in die Wysheidsliteratuur (byvoorbeeld Spreuke, Job, Prediker) is dit weer ‘n suksesvolle en bevredigende lewe wat beklemtoon word. Iets soos Bybelse spiritualiteit is dus ‘n ryk geskakeerde saak, en dui nie net op een aspek nie.

Die vraag is nou verder wat die rede is waarom hierdie verskillende stemme van die Ou Testament in een boek saamgebind word?

Die openbaring in die Ou Testament is nie staties, monolities, en in graniet gegiet nie, maar is dinamies op spesifieke tye afgestem. Oor ongeveer ‘n duisend jaar het daar ‘n ryke verskeidenheid van gebeure en godsdienstige belewenisse gemanifesteer, maar dit is telkens die Een God wat daardie gebeure en belewenisse lei.

As God Homself aan Moses bekendstel in Eksodus 3:15, doen Hy dit as die God van Israel se voorgeslagte: die God van Abraham, Isak en Jakob. Dit is dus nie ‘n ander God wat Israel uit Egipte lei as die Een wat Abraham in Ur van die Galdeërs geroep het nie.

Daarom kan ons sê dit is hierdie Een God wat die ryke verskeidenheid van boeke en temas in die Ou Testament bymekaar hou, wat gemaak het dat latere geslagte die stem van een en dieselfde God in die verskillende stemme gehoor het en hierdie boeke tot een bundel saamgebind het. 

 

Outeur:  Prof Fanie Snyman




Eenheid en Verskeidenheid in die Bybel(1) – Die Probleem

Eenheid en Verskeidenheid in die Bybel(1) – Die Probleem – Hermie van Zyl

Ons word groot met die gedagte dat die Bybel een boek is. Ons praat soms ook van die “Groot Boek”. Maar ons vergeet die Bybel is eintlik ‘n biblioteek van 66 boeke: 39 in die Ou Testament en 27 in die Nuwe Testament.

Trouens, die woord “Bybel” is afgelei van die Griekse woord biblia wat “boeke” beteken. Nog meer: die Bybel het, konserwatief bereken, oor ‘n periode van ongeveer 1 000 jaar ontstaan – deur verskillende tye en omstandighede heen, geskryf deur ‘n groot getal skrywers, die meeste onbekend aan ons. En verder bestaan die Bybel uit verskillende genres of literatuursoorte.

Die vraag ontstaan nou tereg: Is dit nie aanmatigend van ons om te sê dat die Bybel een sentrale boodskap het nie? Die bekende Afrikaanse literator, Lina Spies, trek byvoorbeeld te velde teen predikers wat voorgee dat hulle die Bybel kan reduseer tot een enkele boodskap en mense boonop oproep om dit maar net kinderlik te glo. Sy sê:

Die Bybel sê baie dinge op verskillende maniere; die Bybel vra om nie vereng te word deur die verabsolutering van enkele verse (en hulle dan) buite konteks aan te haal nie. Om te lees, beteken om begrypend te lees, en wie verstaan ‘n boek waarvan hy net enkele bladsye of paragrawe gelees het?”

DIE BURGER, 20/9/08

VOLKSBLAD, 27/9/08

 

Die vraag ontstaan nou: Praat die Bybel met een stem, of met baie? Het die Bybel net een waarheid, of baie? Nog meer: Is daar vir almal net een waarheid, of bied die Bybel baie waarhede waaruit ons kan kies wat ons pas?

Hierdie vrae het te make met die ou probleem van eenheid en verskeidenheid in die Bybel. Want ons kan twee feite nie wegredeneer nie:

(a) Ons het met ‘n verskeidenheid van 66 boeke te doen, maar

(b) hierdie 66 boeke is nie sonder rede in een boek saamgebind nie.

Beide feite moet hanteer word as ons reg wil laat geskied aan die probleem van eenheid en verskeidenheid in die Bybel. 

 

Outeur: Prof Hermie van Zyl