Twee verskillende eindgebeure? – Hermie van Zyl

Rudolph vra:

 Lukas 21:23: Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog in daardie dae; want daar sal ‘n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk.

Hierdie vers kom voor waar daar gepraat word oor die verwoesting van Jerusalem (reeds gebeur in 70AD)

Markus 13:17: Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae!

Markus 13:18: En bid dat julle vlug nie in die winter mag plaasvind nie.

Matteus 24:19: Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae.

Matteus 24:20: En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie

Hierdie verse kom voor waar daar gepraat word oor die eindtyd.

Moet dit gesien word as twee verskillende gebeurtenisse?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ons vraagsteller maak ’n baie skerp waarneming deur raak te sien dat daar ’n verskil tussen Lukas, enersyds, en andersyds Matteus en Markus se weergawes van Jesus se profetiese rede is. Dit gaan naamlik daaroor of die gebeure wat in Lukas 21:23 beskryf word ’n ander gebeure veronderstel as wat in Markus 13:17-18 en Matteus 24:19-20 beskryf word, hoewel die bewoording van al drie Evangelies min of meer ooreenstem. Die kort antwoord is “nee”, al drie Evangelies handel oor dieselfde gebeure, die eindtyd. Maar hierdie kort antwoord benodig ’n langer verduideliking om beter verstaanbaar te wees.

Matteus, Markus en Lukas staan bekend as die sinoptiese Evangelies, omdat hulle die verhaal van Jesus breedweg “saam sien” (betekenis van “sinopties”). Dit beteken dat daar, ten spyte van verskille, groot ooreenkomste tussen hierdie drie Evangelies is, tot in die detail-bewoording toe. Die teorie wat vandag deur die meeste kenners van die Nuwe Testament aanvaar word, is dat hierdie ooreenkomste en verskille die beste verklaar word deur te aanvaar dat dié drie van mekaar gebruik gemaak het. Dit staan bekend as die onderlinge afhanklikheidsteorie. Dit behels dat Markus die eerste geskryf is en as bron vir Matteus en Lukas gedien het, maar dat laasgenoemde twee nie van mekaar geweet of gebruik gemaak het nie. Verder, daar is dele waar Matteus en Lukas woordeliks met mekaar ooreenstem maar wat glad nie in Markus voorkom nie. Hier is die teorie dat Matteus en Lukas vir hierdie materiaal van ’n tweede bron, genaamd Q, gebruik gemaak het, weer eens onafhanklik van mekaar. Dan is daar ook nog materiaal wat net by Matteus voorkom en net by Lukas voorkom; dit staan bekend as die “eie materiaal” van hierdie twee Evangelies. Saamgevat: die teorie vir die ontstaan van die sinoptiese Evangelies lui dat Markus en Q as die twee bronne gedien vir Matteus en Lukas, en dat laasgenoemde twee ook hulle eie materiaal bygevoeg het.

As ons nou hierdie teorie toepas op die tekste waaroor ons vraagsteller dit het, dan sien ons dat dit een van daardie dele is wat by al drie Evangelies voorkom. Volgens ons teorie is Markus dan die oorspronklike bron, met hier en daar ook eie materiaal van Matteus en Lukas. Die inhoud van hierdie gedeelte is die sogenaamde profetiese rede van Jesus oor die eindtyd. Markus het dit eerste opgeteken, en Matteus en Lukas het dit oorgeneem in hulle onderskeie Evangelies, maar dit terselfdertyd “geredigeer”, dit wil sê aangepas sodat dit die doel kon dien wat elke evangelis daarmee gehad het. Ons moet dus die drie weergawes van Jesus se een profetiese rede  – te wete Markus 13:1-37, Matteus 24:1-51, en Lukas 21:1-38 – eintlik langs mekaar plaas en woordeliks met mekaar vergelyk om die verskillende “redaksionele aksente” van elke Evangelie te identifiseer. Die belangrike punt is: elke Evangelie berig oor dieselfde uitsprake van Jesus oor die eindtyd, maar elkeen plaas sy eie aksente daarop wat dit uniek maak in elke Evangelie. Dit gaan dus nie oor verskillende eindgebeure nie, maar elke Evangelie handel oor dieselfde eindgebeure en dieselfde oorgelewerde tradisie, elkeen net vanuit verskillende vertellersoogpunte of -hoeke.

Om die prentjie te voltooi, kan ons veral let op hoe Lukas die gedeelte hanteer wat deur ons vraagsteller aan die orde gestel is, want dis by Lukas waar in hierdie geval die grootste “afwykings” teenoor Markus voorkom. Tereg noem ons vraagsteller dat by Lukas dit veral oor die verwoesting van Jerusalem gaan. Let byvoorbeeld op die volgende beskrywings, wat nie by Markus en Matteus voorkom nie: Luk 21:20 praat van die leërs wat Jerusalem omring; 21:21 sê dat die mense wat in Judea en in die stad (Jerusalem) woon, daaruit moet padgee; en 21:24 berig oor oorlogvoering (die swaard), krygsgevangenes wat weggevoer sal word en Jerusalem wat deur die heidene vertrap sal word. Wat egter belangrik is om te onthou, soos reeds bo genoem, is dat Lukas nie van ’n ander eindtyd as Markus en Matteus vertel nie, maar dat hy die verwoesting van Jerusalem as deel van die eindgebeure teken. Ons vermoed dit hang saam met die besondere klem wat Lukas deurgaans in sy Evangelie en in sy ander boek, Handelinge, plaas op Jerusalem. Vir Lukas is Jerusalem die sentrum van die heilsgebeure: hier begin en eindig alles (Luk 2:25-52; 24:50-52); hier word die Heilige Gees uitgestort (Hand 1:4; 2:1-13); hier versamel die eerste kerk; en hiervandaan vind die verspreiding van die evangelie plaas na die hele destydse bekende wêreld (Hand 1:8). Geen wonder nie dat Lukas die verwoesting van Jerusalem laat saamval met die einde van die wêreld, en daarom die lotgevalle van Jerusalem inwerk as deel van die eindtyd. Vir hom is Jerusalem se einde so katastrofies dat dit as aanloop tot en simbool van die eindgebeure dien en daarom saam met die ander eindgebeure beskryf en beklemtoon moet word. Die klem op Jerusalem se lot het ook veral daarmee te make dat Lukas dit sien as die straf van God omdat hulle nie die heilsaanbod van God in Christus aanvaar het nie, vandaar die toespeling op Ou-Testamentiese tekste soos Hosea 9:7 in Lukas 21:22 wat verwys na die straf van God wat volg op volhardende ongehoorsaamheid. Wat met Jerusalem gebeur, dien as voorteken van die wêreldeinde, wat Lukas dan in navolging van Markus 13:24-27 in Luk 21:25-28 beskryf waar dit handel oor die koms van die Seun van die Mens. Wat met Jerusalem gebeur, sal met almal gebeur wat nie God se heil in Jesus Christus aanvaar nie. Dit is dus duidelik dat Lukas – soos Matteus – Markus se beskrywing van die eindtyd oorneem maar dit aanpas by sy eie oogmerke met sy Evangelie.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Eindkommer

Why do Christians demand so much from God and so little from themselves? – Jim West

 

Eindkommer

Ons hoef nie godsdienstig te wees om ‘n eindkommer te hê nie. Sommige mense se eindkommer is geld; vir anders is dit seks, dwelms, hulle gesin of werk. Vir ander is dit God soos in die Bybel geopenbaar. Mense se liefde vir hierdie dinge beteken dat hulle dinge van aanbidding is.

 

 

Wat is jou eindkommer en hoe weet jy dit? Dit is dit wat vir ons die meeste beteken – dit waarop ons die hoogste prys plaas. Jakobus se gehoor was nie gehoorsaam aan God nie. Hulle het aan die rykes voorkeurbehandeling gegee en die armes verag (Jakobus 2). Die ryk jongman hom na Jesus, want hy weet dat Jesus ‘n goeie leermeester is – Hy sou vir hom insig kon gee oor hoe om die ewige lewe te verkry. Hy onderhou die wet, maar kort een ding: hy moes sy besittings gaan verkoop en die opbrengs vir die armes gee en Jesus volg om die ewige lewe te kry. Sy belangstelling in die ewige lewe het net daar opgehou. Wat vir hom belangriker was, was sy rykdom (Matteus 19).

 

Johannes Calvyn was passievol vir die waarheid en kennis van God soos geopenbaar in Jesus Christus. In sy Institutes of the Christian Religion bespreek hy die kennis van God. Hy sê onder andere: “Die gevolg van ons kennis … moet wees om ons eerbied en vrees te leer; tweedens om Hom vir alle goeie dinge te vra en as ons dit kry te sê dat dit van Hom  af kom. Hoe kan die idee van God nie onmiddellik aanleiding gee tot die gedagte dat, aangesien Hy jou gemaak het, jy jou aan sy gesag moet onderwerp nie.”

 

Ongelukkig is ons lewens nie een van gehoorsaamheid aan Hom wat ons gemaak het nie.

 

Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig (Spreuke 9:10).