Wat is die evangelie? (4)

. —C.H. Spurgeon

Wat is die evangelie? (4)

In die vorige blog het ons gesien dat Paul argumenteer in 1 Korintiërs dat Christus se dood en opstanding op die derde dag die basiese inhoud van die evangelie is. Hy sê ook dat alles wat met Christus gebeur het het volgens die Skrifte gebeur.

 

Maar waar in die Ou Testament lees ons van Christus se opstanding – spesifiek op die derde dag? Die eerste plek om te kyk, is Jesaja 53:9 – 11: 9Hy het ’n graf gekry by goddeloses, hy was by sondaars in sy dood al het hy geen misdaad gepleeg nie en al was hy nooit vals nie.  10Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel. om hom die pyn te laat ly. As hy sy lewe as skuldoffer gee, sal hy ’n nageslag hê en nog lank lewe, deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik.

11Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien en hy sal die Here ken. My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra.

Hierdie laaste vers is interessant: 11Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien en hy sal die Here ken. In vers 9 het ons gelees dat die lyding van die dienaar tot die dood gelei het, maar hier in vers 11 sien hy lig. Baie mense sien dit as ‘n profesie van Christus se opstanding.

Maar 1 Korintiërs 15:4 sê nie net dat Jesus Christus opgewek is nie, maar dat Hy op die derde dag opgewek is – volgens die Skrifte.  Hierdie is waarskynlik ‘n verwysing na Hosea 6:1 – 2: “Kom ons gaan terug na die Here, want Hý het ons verskeur maar sal ons weer gesond maak, Hý het ons geslaan maar sal weer ons wonde verbind. 2Hy sal ons na twee dae ’n nuwe lewe laat begin. Hy sal ons op die derde dag weer krag gee sodat ons in sy teenwoordigheid kan leef.

‘n Ander moontlikheid is die verwysing na Jona – ‘n parallel wat Jesus self gemaak het. Hulle sien dit as ‘n voorafskadu van Jesus. Jesus is dié profeet; sy lewe is deur sy eie mense ingesluk, maar deur sy opstanding op die derde dag het Hy die dood oorwin.

Maar 1 Korintiërs 15 gaan verder. Die evangelie is nie een of ander  beginsel nie, maar ‘n gebeurtenis. Daarna kyk ons volgende keer.

 




Wat is die evangelie? (3)

. —Thomas Brooks

Wat is die evangelie? (3)

Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte (1 Korintiërs 15:3 – 4).

 

N. T Wright voel dat Paulus hier  uit ‘n baie vroeë Christelike geloofsbelydenis aanhaal. Wat baie opvallend is, is dat Paulus baie spesifiek oor die goeie nuus is. Die goeie nuus gaan nie oor God in die algemeen of hoe ons ‘n verhouding met Hom kan bou nie. Dit gaan spesifiek oor Christus. Christus word nie hier voorgestel as ‘n uitstaande leermeester  of Iemand wat morele duidelikheid bring nie; Hy word nie voorgestel as ‘n gids wat ons deur probleemtye kan lei nie. Hy is nie, soos populêre boeke sê, chicken soup fot the soul  nie.

Nee: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte.  Dit is wat die evangelie is – gesentreer op Christus en die kruis. Die goeie nuus gaan oor ‘n gebeurtenis wat te doen het met die persoon van Christus. Hierdie gebeurtenis sluit ‘n woord in die verlede tyd in: gesterf. Hier het ons nie met ‘n beginsel of ‘n spreuk te doen nie – dit is ‘n geskiedkundige aanspraak. Maar Paulus gaan verder: Christus het vir ons sondes gesterf. Hier ontdek ons dat die evangelie soos gesien deur die vroeë Christene, nie ‘n vorm van terapie of ‘n plan vir sosiale geregtigheid was nie; dit is nie ‘n versameling van gesegdes van ‘n wyse leermeester nie. Nee, die evangelie was ‘n spesifieke geskiedkundige aanspraak wat verband hou met die dood van Christus plus ‘n verduideliking van hierdie gebeurtenis se geweldige betekenis.

Die evangelie sentreer ook op die Skrif: volgens die Skrifte. Watter Skrifte? Daar is baie Ou Testamentiese tekste wat hier ter sprake mag wees. (Dink aan Daniël 9:24 – 27; Jesaja 53; Sagaria 12.) Dit mag ook verwys na die skaduwees van Christus wat ons in die tora kry. (Jesus is die paaslam as voorbeeld.)

Maar die evangelie gaan verder: Hy is begrawe en op die derde dag opgewek. Ook Christus se opwekking  geskied volgens die Skrifte. Na watter Skifte verwys Paulus as hy praat van Christus se opstanding op die derde dag. Hierna kyk ons volgende keer.




Wat is die evangelie? (2)

. —Matthew Henry

Wat is die evangelie? (2)

Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het, en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan (1 Korintiërs 15:1)

Paulus herinner sy dissipels in Korinte aan die basiese boustene van die evangelie. Omdat hy hulle herinner aan iets wat hulle reeds ontvang het, moet ons vra: Wanneer het Paulus die evangelie aan hulle verkondig? Hierdie brief is geskryf terwyl Paulus iewers tussen 53 en 55  in Efese was. Hy het hierdie evangelieboodskap in 51 aan hulle verkondig.

 

Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het (15:3). Let op die woorde: die belangrikste. Die Bybel is God se woord, maar daar is tog dinge in die Bybel wat belangriker is as ander dinge. Jesus self het by geleentheid vir die Fariseërs gesê dat hulle so behep is met dinge soos tiendes dat hulle belangriker dinge soos geregtigheid, genade en trou vergeet het. Wat is hierdie belangrikste ding wat Paulus aan hulle oorgelewer het? Hy het dit reeds in vers 1 gesê: die evangelie?

Paulus sê ook dat hierdie belangrikste ding wat hy aan hulle oorgelewer het, het hy ontvang. Dit is nie iets wat hy opgemaak het nie. Wat het hy ontvang? Wat was die essensie van Paulus se evangelieboodskap? Daarna kyk ons volgende keer.




Wat is die evangelie? (1)

. —George Swinnock

Daar word vandag baie boeke oor die evangelie geskryf. Die algemene tema is dat die kerk en gelowiges weer na die evangelie as dié brondokument moet terugkeer. Ongelukkig is daar verskillende menings oor wat die evangelie is.

 

Priests in the Middle Ages spoke of nothing but the other life; they hardly took any trouble to prove that a sincere Christian might be happy here below. But preachers in America are continually coming down to earth. Indeed they find it difficult to take their eyes off it. The better to touch their hearers, they are forever pointing out how religious beliefs favor freedom and public order, and it is often difficult to be sure when listening to them whether the main object of religion is to procure eternal felicity in the next world or prosperity in this.

Hierdie beklemtoning is steeds by ons. Kerke moet relevant en prakties wees; hulle moet mense ontmoet net daar waar hulle is. Maar waar is ons? In ‘n wêreld waar almal verbruikers is en waar vermaak belangrik is. ‘n Evangelie oor my – ek –  en voorspoed sal altyd  in sulke omgewings relevant wees. Maar kerke wat op iets buite myself fokus – en veral kerke wat groot woorde gebruik – lyk dan asof hulle nie relevant is nie.

Paulus help ons baie, want in 1 Korintiërs 15 gee hy vir ons ‘n baie goeie definisie van wat die evangelie is. Ons moet onthou dat voor Paulus tot bekering gekom het, was hy ‘n uitgesproke teenstander van hierdie vreemde Joodse “sekte.” Hy het die Christene vervolg en doodgemaak. Paulus was ‘n streng Fariseër; hulle het vas geglo dat daar net een God is.  Hoe kan hy dan die Goddelikheid van Jesus aanvaar het?

Gelukkig hoef ons nie te spekuleer nie – ons het sy geskrifte. Ons moet net weer sy geskrifte lees. Hiervoor is 1 Korintiërs 15 een van die belangrikste bronne. In die volgende blog gaan ons na Paulus se argumente kyk om beter te verstaan wat die evangelie is en hoekom ons dit moet glo.