Evangelisasie

Evangelisasie

 (die Samaritaanse vrou), die gelowiges en God. Watter rol speel elkeen?

 

. Dit is jou vriende, familie, medewerkers – diegene met wie jy die evangelie wil deel. Hoe beskryf die Skrif hulle?

  • Dood: Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes (Efesiërs 2:1)
  • Blind: As die evangelie wat ons verkondig, tog nog met ‘n sluier bedek is, is dit bedek net vir dié wat verlore gaan. Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die God van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie (2 Korintiërs 4:3 – 4).
  • Geestelik dwaas: Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vit hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word (1 Korintiërs 2:14).
  • Verlore: Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie ‘n wagter het nie (Markus 6:34).
  • In evangelisasie gaan God voor ons, met ons en na ons. Wat sê die Skrif van Hom?

    • Hy trek ons na Homself: Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie (Johannes 6:44).
    • Hy gee nuwe lewe: Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het (1 Korintiërs 3:6).
    • Hy stuur dissipels: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels (Matteus 28:18 – 19).
    • Bereid om te oordeel: En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het (Johannes 16:8).

    Evangelisasie werk, want God is betrokke – Hy oortuig, Hy trek mense na Hom, Hy stuur en Hy gee. Hy is vol deernis en tree op vir sy skepping.

    God het aan ons die voorreg gegee om saam met Hom te werk Wat sê die Skrif van die gelowiges?

    • Ons behoort aan God: Aan almal in Kolosse wat aan God behoort, getroue broers in Christus (Kolossense 1:2).
    • Dienaars: Sy het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu: “Hierdie mense is dienaars van God, die Allerhoogste” (Handelinge 16:17).
    • Planters: Ek het (die saad) geplant (1 Korintiërs 3:6).
    • Natgooiers: Apollos het natgegooi (1 Korintiërs 3:6)
    • Arbeiders: Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes (Lukas 10:2).
    • Getuie: Maar julle sal krag ontvang wanneer die heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld (Handelinge 1:8).
    • Onderskeiding: Tree met wysheid op teenoor die mense wat nog buite die gemeente is (Kolossense 4:5).
    • Afhanklik: Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie (Johannes 6:44)

    Ons bring Christus na die ongelowiges. Die groot vraag is: Is ons gewillig om gebruik te word?

     

    Geloofsvrae: Sending en Evangelisasie

    Geloofsvrae: Sending en Evangelisasie – Adro König

    Sending en evangelisasie

    Dit is beskamend maar tipies dat sending as een enkele paragraaf  in die hoofstuk oor die kerk behandel word. Dit moes eintlik andersom gewees het. Maar dit is presies die posisie in die historiese kerke: sending is ‘n aanhangsel, nog ‘n item op die agenda van die kerk, nie eens altyd die eerste een nie, want daar is belangriker sake soos die kerkbouprogram, die jeug, die bejaardes, die tuin om die kerkgebou.

    Die Christelike waarheid is egter dat van alle punte op die kerk se agenda, net sending nie beter hierna as hiernou gedoen kan word nie. Ons sal dáár beter na ons jeug kan kyk, ons bejaardes sal beter versorg wees, ons tuine sal vol pragtige bome en blomme langs ‘n groot rivier wees. Ons is net om één rede nou nog hier op die ou aarde, vóór die wederkoms van Christus: sending. Dít kan nie dáár beter gedoen word nie, trouens dáár en dán glad nie meer nie.

    Die feit dat Christus nog nie weer gekom het nie, is ‘n probleem vir enigeen wat die NT verstaan, veral die betekenis van sy opstanding. Na 20 eeue het ons steeds nie ‘n sinvoller antwoord as dié in 2Pet 3:9: `Die Here stel nie die vervulling van sy beloftes uit nie … Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle bekeer.’  ‘n Logiese antwoord is dit nie, want intussen gaan al meer mense verlore, maar dit is natuurlik ons skuld, nie syne nie.

    Die doel van God met die skepping is om in liefdesgemeenskap met mense op aarde te leef. Dit beteken dat dit hoog op sy agenda moet wees om alle mense hierby te betrek. Dit is sending. Dit is die rede waarom die kerk nog op die ou aarde is.

    Dit beteken dat alles wat die kerk nou beplan en onderneem, hierop gerig moet wees. Nóg die jeug, nóg die bejaardes, nóg die kerkbouprogram het op sigself waarde. Die waarde van elkeen van hierdie programme word gemeet aan die bydrae wat hulle tot die sending lewer, en dié beoordeling geskied nie noodwendig deur die kerkraad nie, maar deur Iemand Anders. Ons moet probeer om deur sy bril te kyk na ons gemeenteprogram.

    Sending is nie meer net daar ver nie, en nie meer net onder mense van kleur nie. Sending is ver én naby, onder alle mense wat nie in gemeenskap met God leef nie. Meestal is die naby-sending die moeilikste. Dit is baie makliker om ‘n paar rand (hopelik liewer ‘n paar honderd rand) vir die sending te gee en daarmee jou verpligting na te kom. Só dink baie mense, maar wat hulle vergeet, is dat Christene sendelinge is. Jou doop is jou ordening as sendeling. Jy kan ‘n goeie sendeling wees, of dalk ‘n nie so goeie een nie, maar ‘n sendeling is jy as jy ‘n Christen is.

    Vir ‘n lang tyd is daar ‘n baie interessante onderskeiding gemaak tussen sending en evangelisasie: sending was die werk onder swartmense, en evangelisasie onder witmense. Dit is `teologies’ gesteun deur die onderskeiding: nog-nie Christene, en nie-meer Christene. Vandag is seker omtrent almal oortuig dat dit nie houdbaar is nie, dat ons anders moet onderskei tussen sending en evangelisasie. Daar is verskillende moontlikhede. Die beste een is miskien om evangelisasie as die meer toegespitste werk, en sending as die meer omvattende werk te sien. Evangelisasie is om mense uit te nooi om die evangelie te glo: hulle is deur Christus met God versoen, hulle moet hulle bekeer, dissipels word (Mat 28:19) en in gemeenskap met Hom en met mekaar regin leef. Sending is die omvattende opdrag om hulle dan alles te leer wat Christus ons beveel het (Mat 28:20).

    Daar is baie nuwe vorme van sendingbetrokkenheid, en die nadruk lê dikwels op ander terreine as waaraan die ou `sendingvriende’ gewoond was. Dit is volkome sinvol om ‘n plaaslike persoon op te lei en terug te stuur na sy of haar eie land/gebied/kultuur en dáár te ondersteun. Deurgaande, aktiewe betrokkenheid by so ‘n persoon is onontbeerlik.

    Die situasie in die sg historiese kerke verdien heroorweging. Daar is minstens twee groepe kerke. Die een groep hou aan om alle mense wat eenmaal lidmate geword het, as lidmate te beskou ongeag of hulle meelewend is of nie. Lidmate wat verhuis, word outomaties lidmate in die nuwe gemeente waar hulle woon. Selfs mense wat vir dekades lank nie meelewend was nie, word nog steeds as lidmate en bedien deur die besondere ampte en die ander kerklike dienste.

    Daar is ‘n ander groep kerke wat net meelewende lidmate as lidmate beskou. Op verskillende maniere word die lidmaatskap van lidmate wat oor ‘n geruime tyd nie meeleef nie, beëindig. En lidmate wat verhuis, moet aktief in die nuwe gemeente inskakel, hulle word weer lidmate.

    Beide modelle het voor- en nadele. Die tweede model se nadeel (of is dit sy voordeel?) is dat dit gaan soos in ‘n gesin waarin alle kinders wat ernstig siek is, doodgemaak word. Daar is dus nooit siek kinders nie!

    Dit moet ter ere van die eerste model gesê word dat hierdie kerke hulle verantwoordelikheid teenoor hulle lidmate baie ernstig opneem – al is dit in sommige gevalle meer formeel en teoreties. Hulle bevestig ouderlinge en diakens om die onbetrokke lidmate te bedien, en hulle beroep selfs predikante vir `die hele gemeente’, nie net vir die betrokkenes nie. Dit beteken dat ‘n gemeente waarin net ‘n derde van die lidmate regtig betrokke is, twee derdes van die kostes om predikante te onderhou, bestee aan mense wat nie regtig betrokke is nie en vir alle praktiese doeleindes voorwerpe van sending is.

    Beteken dit dat hierdie kerke baie meer aan sending bestee as wat hulle besef, maar dalk met ewe min (of selfs baie minder?) resultate as hulle tradisionele sendingwerk? Moet ‘n mens nie die kerkmodel van die `gesonde’ gesin oorweeg nie? Dit sal baie geld en mensekrag vir sending in ander situasies vrystel. Of is die `gesonde’ kerkmodel na alles tog maar die weg van die minste weerstand omdat sending tuis altyd moeiliker is?

    Dit mag alles ‘n enigsins deurmekaar indruk gee – dan is die doel bereik: sending is die wesenstaak van die kerk, en ‘n klomp innoverende denke is nodig om nuwe weë te vind om die wêreld vir Christus te wen. Die historiese kerke moet hul sendingbetrokkenheid absoluut ernstig oorweeg: kerke beantwoord aan die doel wat God met hulle het in die mate waarin hulle vir Christus ‘n `wins’ maak op die wêreld.

    In ons huidige situasie in Suid-Afrika gaan sending in ons middestede slaag of sending gaan in die geheel nie slaag nie.

     

    Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

    Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning

     

    Skrywer: Prof Adro König




Die Groot Geloofswoordeboek: Sending/Evangelisasie

Die Groot Geloofswoordeboek: Sending/Evangelisasie

Sending • Evangelisasie

Sending is die doel van die kerk se bestaan. Die tyd is verby om daarvan te verskil. Maar daarmee het ons nog nie by die wor­tel van die saak gekom nie. Die sending is die doel wat die Vader gehad het toe Hy sy Seun gestuur het.

Die sending is God se sending, nie in die eerste plek ‘n paar sendingvriende, sending­organisasies, of selfs die kerk se saak nie. Jesus Christus was die groot sendeling. En ons is in sy Naam met sy werk besig. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle” (Joh 20:21).

 

Dit beteken dat ‘n Christen ‘n sendeling is. Jou doop is jou ordening as sendeling. ‘n Christen kan ‘n ywerige sen­deling of ‘n trae sendeling wees. Hy of sy kan alles insit of niks insit nie, maar is in beide gevalle sendelinge.

‘n Gemeente bestaan op aarde ter wille van die sending. (*Kerk) As God se doel met ‘n gemeente nie sending was nie, sou Hy die ge­meente dadelik weggeneem het hemel toe omdat al die ander dinge wat ‘n gemeente ook moet doen, almal beter in die hemel as op hierdie sondige aarde gedoen kan word. Die jeug sal daar baie beter bearbei kan word, of dalk glad nie meer bear­beiding nodig hê nie omdat daar geen versoekings meer sal wees nie. En die bejaardes sal baie makliker daar versorg kan word, of dalk glad nie meer versorg hoef te word nie omdat siek­te en trane en dood verby sal wees. En die gemeentebou sal daar die maklikste van alles wees, of weereens dalk nie meer no­dig wees nie omdat daar geen sonde sal wees nie.

Sending is ‘n omvattende saak. Dit is meer as evangelisasie. Evan­gelisasie is die taak om die evangelie aan alle nie-gelowiges te bring. Sending is om die kerk te vestig, wat ‘n hele aantal belangrike dinge insluit. Die nuwe kerk moet gelei word om self sy sendingtaak te aanvaar. Maar die nuwe kerk moet ook al die ander nodige be­dienings ontwikkel en uitbou. Dit sluit in dat die nuwe kerk so­siaal bewus gemaak sal word indien dit nog nie sosiaal bewus is nie. Die evangelie moet ook in die samelewing gestalte kry.

Die negentiende eeu is bekend as die groot sendingeeu. Veral Afrika het baie aandag gekry. Ongelukkig was die sendingwerk dikwels met ‘n meerderwaardige motief gedoen, wat teen die laaste helf­te van die vorige eeu ‘n slegte smaak nagelaat het in die mond van die lande wat onafhanklik geword het. (*Godsdiensgelyk­heid, *Godsdiensvryheid) Maar desondanks het die evangelie sterk in­gang in Afrika gevind en brei die kerk tot vandag vinniger in Afrika uit as in enige ander gebied ter wêreld.

Sending is egter lankal nie meer beperk tot die “heidenlande” nie. Sedert die begin van die vorige eeu is ons al daarvan bewus dat sending in al ses kontinente nodig is. Dikwels is dit juis swaarder om mense wat vroeër al op verskillende maniere met die evangelie in aanraking was en later belang verloor het, terug te wen. Sending in baie Europese lande is uiters moeilik en lewer relatief min vrug.

Daar is ook huiwering oor sending en selfs weerstand teen sen­ding. Die huiwering kom al meer as ‘n halfeeu sedert teoloë begin aanvaar het dat God alle mense in en deur hul eie gods­dien­s­te wil red en dat almal net toegewyd aan hul eie godsdiens moet leef. Die weerstande kom uit die onlangse oortuiging dat daar nie so iets is soos absolute waarheid nie (*Postmodernisme), en dat dit beteken dat elke mens of groep hulle eie waarheid het en dat Christene vermetel is om hulle waarheid aan ander op te dring.

Daar sou wel nog ruimte wees vir dialoog tus­sen mense van ver­skillende godsdienste om mekaar beter te ver­staan en van mekaar te leer.

Al hierdie sienings kan ‘n mens inderdaad versigtiger en be­ter ingelig maak in jou sendingroeping, maar dit neem nie die roeping weg wat die Here ons gegee het om Hom aan alle mense te verkon­dig nie. Wie Hom ken, weet ook Hy is oor en oor die moeite werd om te ken en te dien. Wie in Hom glo, kan nie anders as om te wens en te bid en te werk dat Hy deur alle mense as Verlosser aanvaar moet word nie.

Skrywer: Prof Adrio König