Geloofsvrae: Evolusie

Geloofsvrae: Evolusie – Adrio König

Evolusie

‘n Mens kan minstens drie standpunte onder Christene onderskei: die een is skerp teen die gedagte van evolusie gekant, die tweede meen skepping en evolusie dek twee terreine wat geen verband met mekaar het nie, en die derde meen dat daar maniere is om skepping en evolusie sinvol met mekaar in verband te bring. Voordat ons na hierdie drie standpunte kyk, is ‘n paar onderskeidinge nodig.

As ons praat oor skepping en evolusie, moet ons besef daar is verskillende sieninge oor beide. Daar is nie net een opvatting onder Christene oor wat ons in die Bybel leer oor die skeppingswerk van God nie , en daar is ook nie net een evolusieteorie nie.

Wat evolusie betref, moet ons onthou dat daar eintlik drie groot terreine is wat gedek moet word: die ontstaan van lewelose materie, die ontstaan van lewe, en die ontwikkeling van lewe tot die gevorderde vorme wat ons vandag ken. In die ontwikkeling van lewe moet ‘n mens ook onderskei tussen mikro- en makro-evolusie, dit is tussen kleiner veranderinge binne ‘n spesie, en groot veranderinge veral van een spesie na ‘n ander.

Wat die ontwikkeling van lewe betref, is daar ‘n hele aantal teorieë. Daar is die bekende teorie van Darwin dat alles ontwikkel het deur tallose klein toevallige veranderinge oor baie lang tydperke heen, en dat spesies wat die beste by die omgewing aangepas het, oorleef het (the survival of the fittest). Daar is egter ook die teorie van Lamarck waarvolgens veranderinge nie toevallig is nie maar sinvolle reaksies op behoeftes. Die kameelperde se nekke het oor ‘n lang tydperk geleidelik langer geword omdat hulle hoë blare moes bykom.

Hierdie twee teorieë oor geleidelike veranderinge bied redelike verklarings vir mikro-evolusie, dit is die kleiner veranderinge binne ‘n spesie, maar nie vir makro-evolusie nie. Dit bied veral nie verklarings vir die ontwikkeling van ingewikkelde organe soos die vlerk en die oog nie, organe wat nie geleidelik kan ontwikkel nie, maar van die eerste oomblik af sou moes gewerk het of anders weer sou uitgesterf het.

Verder is daar die saltasieteorieë waarvolgens evolusie sprongsgewys plaasvind, dus in groot eenmalige veranderinge, en nie in klein veranderinge oor ‘n lang tydperk nie. Een vorm van hierdie teorie is dat sekere stowwe uit die ruimte van tyd tot tyd op die aarde neergekom het en groot veranderinge bewerk het. ‘n Algemene indruk wat fossiele skep wat opgegrawe word, is dat spesies baie lank bestaan met slegs geringe veranderinge, en dan skielik verdwyn en deur ander vervang word. Hierdie waarneming bied steun aan die saltasieteorieë en bevraagteken die eerste twee van geleidelike ontwikkeling deur tallose klein veranderinge.

Maar as daar verskillende evolusieteorieë is, is daar ook verskillende oortuigings oor wat die Bybel ons oor die skepping leer. Die algemeenste en eenvoudigste is dat God alle dinge in ses dae net deur die woord uit niks geskep het. So ‘n beskouing sal natuurlik ernstige beswaar hê teen enige teorie oor makro-evolusie. Omdat dit egter so opsigtelik is dat daar fossiele is wat ouer is as die veronderstelde Bybelse ouderdom van die skepping (wat deur sommige op omtrent 6000 jaar gestel word), soek sommige Christene gronde in die Bybel dat die skepping baie ouer is. Die dae van Gen 1 sou dan lang tydperke wees, wat ruimte bied vir die hoë ouderdom van die fossiele. Of daar sou ‘n oorspronklike skepping gewees het wat tussen Gen 1:1 en Gen 1:2 verwoes is, en die fossiele wat miljoene jare oud is, sou dan deel van daardie oorspronklike skepping gewees het. Ná Gen 1:2 sou God dan net met ‘n herskepping of ‘n tweede skepping begin het.

Dit is alles taamlik ongeloofwaardige pogings om ‘n bepaalde interpretasie van die Bybelse skeppingsboodskap met sterk natuurwetenskaplike getuienis te probeer rym. Die groot probleem is dat hierdie interpretasie van die Bybelse skeppingsboodskap baie arm en oorvereenvoudig is en nie naastenby die rykdom gegewens oor die skepping in ag neem wat oor baie dele van die Bybel versprei is nie.

As ons ‘n paar dinge in ag neem wat ons in die Bybel teengekom het, kan dit ons help om ‘n Christelike posisie teenoor die gedagte van evolusie te formuleer. Maar voor ons daarby kom, moet ons eers onthou dat dit nie die taak van teoloë is om oor die geldigheid van bepaalde evolusieteorieë te besluit nie. Natuurwetenskaplikes moet onder mekaar uitmaak watter teorieë die beste verklaring vir bepaalde verskynsels bied. Soos alle ander mense het Christene dan die verantwoordelikheid om algemene oortuigings wat uit die natuurwetenskappe kom, te respekteer. Onder hierdie oortuigings tel die hoë ouderdom van die aarde en van baie fossiele (nie duisende jare nie, maar miljoene der miljoene jare), en die feit dat alles nie op dieselfde stadium ontstaan het nie, maar dat daar oor baie lang tydperke opeenvolging van spesies is. Daar is verder opvallende ooreenkomste tussen alle vorme van lewe en selfs nog meer tussen sekere spesies, soos mense en soogdiere.

Uit die Bybel moet ons onthou dat die groot saak nie is hoe of wanneer alles geskep is nie, maar Wie dit gedoen het. Wat die hoe betref, deel die Bybelskrywers die meeste van sy omgewing se skeppingsvoorstellings. Die Bybelskrywers integreer dié voorstellings in hulle geloof in die Here deur sekere voorstellings aan te pas (soos stryd by die skepping) en ander eenvoudig glad nie te gebruik nie (soos dat die mense uit die gode gebore is).

As ons die Bybelskrywers hierin wil navolg, sou ons die verskillende evolusieteorieë ook op hul aanpasbaarheid by ons geloof in die Here kon toets. Daar is tog skynbaar nie rede waarom die Here nie alles oor lang tydperke heen kon geskep het deur dit geleidelik of sprongsgewys te laat ontwikkel nie. Christene sou dan net huiwering hê oor teorieë wat ontken dat God betrokke was by die skepping. En natuurwetenskaplikes sal natuurlik nie maklik sulke teorieë verdedig nie omdat daar nie op natuurwetenskaplike wyse vasgestel kan word of God by die skepping betrokke was nie.

Daar is natuurlik wel vrae oor God se betrokkenheid by die skepping. Dink maar aan die wreedheid van natuurlike seleksie. Maar daarteenoor moet ‘n mens onthou dat Christene twee stelle begrippe, positiewes en negatiewes, nodig het om oor die skepping te praat. Dink maar aan die voorstellings van stryd en skeiding by die skepping. Dit suggereer dat daar meer as net God by die skepping betrokke was.

Ook die gedagte dat die veranderinge wat tot die evolusie lei, toevallig is en nie planmatig nie, sou teen die betrokkenheid van God geopper kon word. Maar dit sou op ‘n misverstand dui, want wat natuurwetenskaplikes onder `toevallig’ verstaan, beteken maar net dat daar nie bekende oorsake vir sekere veranderinge aangetoon kan word nie. Maar dit sê nie dat God nie onbekende oogmerke daarmee kon gehad het nie.

Daar is dus nie noodwendig ‘n spanning tussen skepping en evolusie in die algemeen nie. Daar kan wel spanning wees tussen sekere evolusieteorieë en sekere interpretasies van die Bybelse gegewens oor die skepping. Maar daar is genoeg ruimte vir onderlinge gesprek en begrip as daar welwillendheid van beide kante is. Daar is in elk geval baie natuurwetenskaplikes wat ook Christene is en bydra tot ‘n verstaan van evolusie wat in terme van die Christelike geloof aanvaarbaar is.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Skepping; Skepping uit niks; Adam en Eva; Evolusie

Die Groot Geloofswoordeboek: Skepping; Skepping uit niks; Adam en Eva; Evolusie

Skepping Skepping uit niks Adam en Eva Evolusie

Baie Christene is oortuig dat hulle eenvoudig moet kies tussen skepping of evolusie. As hulle getrou wil wees aan die Bybel, aanvaar hulle dat God alles in ses dae uit niks gemaak het, en verwerp evo­lusie. Dit is egter ‘n oorvereenvoudiging van die probleem. Ons sal eers duidelikheid moet kry oor wat ons met skepping bedoel, en wat met evolusie.

Vorme van evolusie

Evolusie gaan oor die wyse waarop die werklikheid tot stand ge­kom en ontwikkel het. Daar is eintlik drie groot terreine: die ont­staan van die werklikheid, die ont­staan van lewe, en die ontwikkeling van lewe van eenvoudiger na in­gewikkelder vorme. Die teorie van Charles Darwin raak net die derde saak, die ontwikkeling van een­voudige na ingewikkelde vorme van lewe. Oor hierdie saak is daar meer as een teorie. Darwin aanvaar dat lewe ontwikkel deur klein, willekeurige veranderings in ‘n spesie wat die spesie in staat stel om beter aan te pas by die om­ge­wing – “the survival of the fittest”. Lamarck het gemeen die veranderings is sinvolle reaksies op die omgewing, soos ‘n ka­meelperd waarvan die nek geleidelik langer geword het om die hoë boomblare by te kom. Hoyle aanvaar dat die ontwikkelings sprongsgewys plaasvind (die Saltasieteorie). Daar is skynbaar sterk getuienis dat ‘n spesie baie lank onveranderd voortbestaan en dan skielik dramaties verander.

 

Reaksies van Christene

Christene gaan op drie verskillende maniere met hierdie teorieë om. Daar is die kreasioniste (*Kreasionisme) wat in beginsel enige vorm van evolusie verwerp behalwe kleiner ont­wikkelings bin­ne ‘n spesie. Hulle sal aanvaar dat perde ge­leidelik groter kon ge­word het, of die kameelperd se nek langer, maar nie dat een spesie uit ‘n ander kon ontwikkel het nie. God het die ver­skil­lende soorte lewe ge­skep, en daar is geen oor­gange van een spesie na ‘n ander moontlik nie. Daar is ook pro­gressiewe krea­sioniste wat net die ingryping van God op bepaalde be­slis­sende punte aanvaar soos die skepping van lewe en die skep­ping van die siel, en verder oop is vir teorieë oor hoe lewe ontwikkel het van eenvoudige na saamgestelde vorme.

Maar daar is ook Christene wat aanvaar dat enige evolusie­teorie geldig kan wees solank dit nie lui dat God nie by die proses betrokke was nie. Hulle meen dat natuurwetenskaplike teorieë nie ‘n uitspraak kan maak oor God se betrokkenheid nie om­dat hulle met waarnemings en gevolgtrekkings en met ek­spe­rimente werk, en die betrokkenheid van God by die skep­ping nie waargeneem of eksperimenteel as geldig of ongeldig uitge­maak kan word nie.

 

Hoe het God geskep?

Terwyl daar dus onder Christene ook verskillende sienings oor evolusie is, is dit goed om ‘n oom­blik te vra presies wat ons onder skepping verstaan. Daar is ‘n oorvereenvoudigde siening, en dit is dat God in ses dae net deur bevele (“deur die woord”) alles uit niks geskep het. Dit is oor­vereenvoudig omdat daar verskillende voorstellings in die Bybel oor die skeppingswerk van God is. Men­se maak die fout om net aan Genesis 1 te dink, en ook dan nog selfs nie mooi te lees wat regtig alles daarin staan nie. Kom ons kyk ‘n oomblik in meer besonderhede na Genesis 1, en daarna ook na ander skeppingsverhale in die Bybel.

 

Genesis 1 – Skepping uit niks?

Daar staan byvoorbeeld nie dat God alles uit niks geskep het nie. Dit staan ook nêrens in die Bybel nie. Die Hebreeuse woord vir “skep” (bara) beteken nie skepping uit niks nie (vgl Jes 43:7 waar dit van die Israeliete lui dat elkeen deur die Here geskep is – tog nie uit niks nie), en die een teks wat gewoonlik gebruik word vir skepping uit niks sê nie dat God alles uit niks geskep het nie. Dit sê net dat Hy die sigbare dinge uit onsigbare dinge geskep het (Heb 11:3). Onsigbare dinge is nie niks nie.

 

Skepping net deur ‘n bevel?

Verder staan daar nie in Genesis 1 dat God alles net deur die woord (‘n bevel) geskep het nie. Hy beveel nie dat daar plante moet wees soos Hy beveel het dat daar lig moet wees nie. Hy beveel die aarde om plante voort te bring, en dan doen die aarde dit (1:11-12). Dis nie meer skepping net deur die woord nie. Hy sê nie net en dan is die ding daar soos in die geval van lig nie. Dis ‘n bevel aan iets om iets anders voort te bring. Later beveel Hy weer die aarde om diere voort te bring, maar dan maak Hy hulle tog self (1:24-25). Dis ‘n derde vorm van skepping deur ‘n bevel. Een keer beveel Hy net en die lig is daar, die volgende keer beveel Hy die aarde om plante voort te bring en die aarde doen dit, en die derde keer beveel Hy die aarde om diere voort te bring, maar dan doen Hy dit self. Genesis 1 het ‘n baie ingewikkelder en interessanter struktuur as wat ons so maklik raaksien.

Genesis 1 vertoon ook telkens ‘n dubbelheid in die skep­pings­werk van God. Ons lees dat Hy beveel dat daar ligte moet wees, maar ook dat Hy die ligte maak (1:14-16). Dieselfde gebeur by die skepping van die “gewelf” (1:6-7). Dit is natuurlik heeltemal anders as by die skepping van lig, waar Hy net beveel en nie daarna ook nog iets doen nie.

 

Skepping deur skeiding

Verder is daar ook ‘n interessante beskermingsverhaal in Ge­nesis 1 opgeneem. Ons kry telkens die woord “skei” (1:4, 6, 7, 14, 18, verder ook in v 9 geïmpliseer) en dis belangrik om op te let wat van wat geskei word. Die duisternis word afgeskei van die lig, die waters bo die gewelf word afgeskei van die waters onder die gewelf, die waters op aarde word in die vorm van die see afgeskei van die land (v 9), en die nag word afgeskei van die dag. Wat is hier aan die gang?

Uit die res van die Bybel weet ons dat die donker of duisternis, die water daarbo, en die *see negatief beleef word en gevaarlik is. Die lig, die dag en die land is positief en veilig. Dit beteken dat ons alreeds in die skeppingsverhaal lees dat God sy skepping teen gevare beskerm. Dit beteken ook dat daar van die begin af bedreigings vir die skepping en in besonder vir die mens is. Immers, ons lees el­ders van die *chaosmagte wat alreeds by die skepping deur God verslaan is.

Genesis 1 is ‘n merkwaardig ryk hoofstuk!

 

Ander skeppingsverhale

Ons kan verder gaan en Genesis 1 en 2 met mekaar vergelyk. Die hele patroon en ook die volgorde in die skeppingswerk van God is heeltemal verskillend. In Genesis 1 word man en vrou saam ge­skep as die laaste skeppingswerk, maar in Genesis 2 maak God die man aan die begin, en die vrou aan die einde. Die struktuur van ses agtereenvolgende dae kom glad nie in Genesis 2 voor nie. Hier is ook geen voorbeeld van skepping deur die woord (‘n bevel) nie. Hier is eenvoudig ‘n ander voorstelling van God se skeppingswerk as in Genesis 1. En as ons na die ander groot weer­gawes van God se skeppingswerk kyk, soos Psalm 104, kom ons tot dieselfde ge­volgtrekking: daar is nie net een manier om die skeppingswerk van God voor te stel nie. Die verskillende skrywers het dit op ver­skillende maniere gedoen.

Dit hoef niemand te ontstel nie. Nie een van hulle het ‘n nou­keurige voorstelling probeer gee van presies hoe alles gebeur het nie. Elkeen het ‘n boodskap gebring wat betekenis gehad het in die bepaalde situasie waarin die volk op daardie stadium was. Dink maar net aan Job 38 waar die hele voorstelling die grootheid van God beklemtoon om vir Job te sê dat hy ‘n bietjie nederiger moet wees.

 

Son en maan

In hierdie sin het Genesis 1 self besondere boodskappe. Dit er­ken glad nie die goddelikheid van twee belangrike Babilonie­se go­de “son” en “maan” nie, maar noem hulle sommer twee “lig­­gies” waar­sonder God aanvanklik maklik kon klaarkom selfs na­dat die plante geskep is, wat tog duidelik sonlig nodig ge­had het. God voorsien self die lig, en maak eers later die “twee ligte” en dra die funksie om lig te gee dan aan hulle oor. Dit is ‘n ver­nederende manier om oor twee uiters belangrike Babiloniese gode te praat. Die skrywer wil eintlik daarmee sê dat hulle nie gode is nie, maar ‘n deel van God se skepping wat Hy gebruik soos Hy wil. As hierdie hoofstuk tydens die ballingskap sy fi­nale vorm gekry het, kan ‘n mens aanvaar dit is bedoel as ‘n be­moedigingsboodskap toe die volk in Babilon in ballingskap was: die gode van Babel is nie regtig gode nie.

 

Die ouderdom van die aarde/skepping

Omdat daar verskil­lende voorstellings oor God se skeppings­­werk is, is dit nie duide­lik presies hoe alles geskep is nie. Daar­mee saam moet ons onthou dat natuurwetenskaplikes met waar­nemings en eksperimente werk. Dink maar aan die pro­bleem wat sommige Chris­tene aan hierdie wetenskaplikes opdring as hulle kategories beweer dat die Bybel leer dat die aarde net ‘n paar duisend jaar oud kan wees (miskien so 6 000 of 7 000) terwyl natuurwetenskaplikes met biljoene jare werk en een­vou­dige waarnemings dit bevestig. Dink maar net aan sterre wat derduisende ligjare van ons af is. Hoe is dit moontlik dat hulle lig al tot by ons skyn as hulle maar net 6 000 of 7 000 jaar gelede geskape is? Kreasioniste (die Christene wat oortuig is alles is omtrent 6 000 jaar gelede geskep) maak hulleself onge­loof­waardig met allerlei teorieë hieroor, byvoorbeeld dat God hierdie sterre ‘n paar duisend jaar gelede so geskep het dat hulle lig toe al ver op pad was en ons al amper bereik het.

 

‘n Veranderde wêreldbeeld

Miskien moet Christene eerlik erken dat ons nie uit die Bybel presies weet wanneer en hoe alles ontstaan het nie. En miskien moet ons ook erken dat die skrywers van die Bybel ‘n ander *wêreld­beeld as ons gehad het. En hier moet ons nie te gou halt roep nie. Hulle het vas geglo dat die blou lug daarbo ‘n harde koe­pel is met vensters in waardeur die reën val. Die sterre is klein liggies wat in hierdie koepel vas is. Die aarde staan op pi­la­re of fondamente wat diep ingeplant is in die water onder die aarde. In hierdie watermassa is die doderyk waarheen die dooies gaan. Ons weet vandag dat dit alles baie anders lyk en werk. Maar dit het geen verskil aan ons geloof gemaak nie. In die Middel­eeue het die kerk wel gemeen hierdie beeld van die heelal is on­ver­anderlik, en hulle het natuurwetenskaplikes vervolg wat deur waarnemings en eksperimente ander insigte gekry het, by­voorbeeld dat die aarde rond is en dat die aarde om die son draai, en nie die son om die aarde nie. Later moes die kerk maar net sy kop in skaamte laat sak.

 

Adam en Eva

Vandag staan ons voor die uitdaging om nie dieselfde fout te herhaal en weer later in skaamte te erken ons was verkeerd nie. Deel van hierdie ou wêreldbeeld was Adam en Eva. As dit deel van die wêreldbeeld van die Bybelskrywers was dat die aarde plat is en op pilare in die oseaan staan, was dit ook deel van hulle wêreldbeeld dat die eerste twee mense omtrent 6 000 jaar gelede geskep is toe die heelal en die aarde geskep is, dat hulle name Adam en Eva was, en dat alle mense van hulle afstam.

Ons kan nie hierdie wêreldbeeld opsny en sekere dele aanvaar en ander nie meer nie. Die bestaan van Adam en Eva as die eerste twee mense wat 6 000 jaar gelede geskape is, is onafskeidelik deel van hierdie Ou-Testamentiese wêreldbeeld. As ‘n mens ‘n hondjie se stert wil afkap, is dit nie beter om dit stukkie vir stukkie te doen nie, dis eintlik erger. Ons moet die moed bymekaarskraap om te erken dat die mensdom baie ouer as 6 000 jaar moet wees en dat almal nie noodwendig van een mensepaar afstam nie, al sou dit ook so kon wees.

Dit plaas ons voor ernstige vrae, maar dit het die kerk in vroeër eeue ook voor ernstige vrae geplaas toe hulle moes erken dat die duidelike uitsprake in die Bybel van fondamente en pilare en ‘n koepel en vensters nie letterlik waar kan wees nie, maar wel pragti­ge simboliese waarhede kan bevat. Die pilare of fondamente is die simbool van vastheid en sekerheid, en die vensters in die koepel die oortuiging dat die Here sy hand oor sy skepping hou en reën kan gee of terughou. Die aarde as die middelpunt met die son wat om die aarde draai, het die simboliese betekenis dat dit vir God om die aarde en die mense gaan, dat ons vir Hom belangrik is. Dit sien ons nog duideliker in Jesus, sy groot gawe aan ons.

Al moet ons aanvaar dat Adam en Eva nie regtig 6 000 jaar gelede as die eerste mense bestaan het nie, kan ons nog altyd hulle simboliese waarde behou dat alle mense onder die oordeel van God staan en net deur Christus gered kan word.

Ons weet wel een ding: God, dit is Israel se God, is die Skepper van alles. Ons kan die teorieë oor hoe dit gebeur het aan die na­tuurwetenskaplikes oorlaat, solank hulle nie hul eie grense oor­skry en ons probeer oortuig dat die dinge sommer vanself ont­staan en ontwikkel het nie.

 

Alles kon nie vanself ontstaan het nie

Daar is oor­genoeg rede om te aanvaar dat daar minstens ‘n vorm van intelligensie by die ontstaan en ontwikkeling van alles betrokke moes ge­wees het (Intelligent design). Omstandighede moes so de­likaat presies wees soos wat dit in werklikheid was om lewe te laat ontstaan dat die moontlik­heid van toeval uitgesluit kan word. Dit geld ook van die omstandighede vir die voortbestaan van lewe op aarde. Verder kan die oog nie geleidelik ontwikkel tot dit op ‘n goeie dag kan sien nie, en ook nie die vlerk nie. Darwin se eie teorie van die oorlewing van die bes aangepaste vorme van ver­andering bete­ken dat as die oog nie dadelik kon sien of die vlerk dadelik sou kon vlieg nie, dit ‘n verandering was wat sou uitsterf.

Maar nou beweeg ons op die vlak van die natuurwetenskap­pe. Dis onnodig vir gewone Christene. Laat die voorstanders van die verskillende teorieë mekaar maar krities begelei totdat daar meer duidelikheid kom oor hoe die dinge ontstaan en ontwikkel het. Intussen kan gelowiges vashou aan die boodskap van die By­bel dat God alles geskape het, al sê die Bybel nie regtig hoe nie. Na­tuur­wetenskaplikes kan dit dalk eendag vir ons duideliker sê as van­dag.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Darwinisme en Sosiale Darwinisme

Darwinisme en Sosiale Darwinisme – Coen Slabber

[Hierdie is beslis nie ʼn poging om evolusie te verdedig nie. As wetenskaplike glo ek egter dat ons noukeurig in ons woordgebruik moet wees. Hierdie is ʼn poging om twee begrippe wat dikwels (verkeerdelik) bymekaar gegooi word, te onderskei. Hoekom juis nou? Richard Dawkins se nuwe boek The Greatest Show on Earth – The Evidence for Evolution het pas verskyn en is vinnig besig om op die topverkoperlyste te klim.]

In 1859 – 150 jaar gelede – publiseer Charles Darwin sy bekende boek The Origen of Species. In hierdie 150-jarige herdenking word daar baie oor evolusie geskryf. Die probleem is dat mense nie altyd seker is waaroor hulle skryf nie. Die vraag wat ek op die tafel sit, is: Is Darwinisme en sosiale Darwinisme dieselfde ding?

Darwinisme

Met sy boek het Darwin wetenskaplikes se verstaan van biologie radikaal verander. Wat hy gedoen het, is om ʼn voorstel te maak waarin hy ʼn meganisme beskryf vir die geleidelike verandering van spesies – natuurlike seleksie. Hierdie teorie van natuurlike seleksie staan as Darwinisme bekend. Deur hierdie teorie so sterk aan die naam van ʼn enkele wetenskaplike te koppel, mag mense laat glo dat ons  hier te doen het met ʼn kultus van ʼn enkele wetenskaplike wat slaafs deur ander nagevolg word. Dit is nie waar nie, want honderde wetenskaplikes het onafhanklik bydraes gemaak tot die moderne teorie van evolusie.

Toe Darwin die meganisme van natuurlike seleksie daargestel het, het hy nie die besonderhede van oorerwing verstaan nie. Gregor Mendel, ʼn priester, se eksperimente met ertjies was reeds aan die gang. Hy ontrafel die presiese manier waarop eienskappe oorgeërf word. Die sintese van hierdie twee teorieë – Mendel se genetika en Darwin se natuurlike seleksie – staan as Neo-Darwinisme bekend.

Darwinisme is ʼn wetenskaplike teorie wat geen melding van godsdiens maak nie. Dit mag egter onverenigbaar met sekere godsdienstige sienings wees. Darwinisme is onverenigbaar met enige godsdiens wat sê dat die wêreld 10 000 jaar oud is. Darwinisme mag godsdienstige implikasie hê alhoewel dit nie melding maak van geloof in God nie.

Voorstanders van Kreasionisme, Intelligente Ontwerp en die nuwe ateïste sê dat die aanvaarding van Darwinisme sinoniem met ateïsme is. Hulle glo dat Darwinisme onverenigbaar met enige godsdienstige wêreldsiening is.

Daar is egter baie wetenskaplikes wat glo dat Darwinisme ʼn korrekte wetenskap is – dit beskryf die metode wat God gekies het om die wêreld te skep. Volgens hulle is Darwinisme nie onverenigbaar met geloof in God nie.

Die einde van hierdie debat is lank nog nie in sig nie.

Sosiale Darwinisme

Hierdie is ʼn totaal ander konsep. Sosiale Darwinisme is die siening wat ontstaan as sekere evolusionêre konsepte op groepe in ʼn sosiale konteks toegepas word. Dit is die idee dat Darwin se teorie uitgebrei en op sosiale gebied toegepas kan word. In uiterste gevalle beteken dit diskriminasie teen mense wat nie in ʼn magsposisie is nie.

Een voorbeeld van sosiale Darwinisme is eugenetika (rasverbetering). Daar is ook beheerde voortplanting met die doel om die menseras te verander volgens een of ander visie. Die hele doel is om die menseras te verbeter. So word verpligte sterilisasie van mense wat as “onbevoeg” vir die samelewing beskou word, aanbeveel.

Regter Oliver Wendell Holmes, Jr, stel dit soos volg:

“It is better for all the world, if instead of waiting to execute degenerate offspring for crime, or to let them starve for their imbecility, society can prevent those who are manifestly unfit from continuing their kind.”

Die beredenering is: As mense deur natuurlike seleksie ontstaan het, is dit reg om teen mense wat “minder fiks” is, te diskrimineer.

Mense redeneer dat aanvaarding van Darwin se wetenskap ook aanvaarding van sosiale Darwinisme beteken. Hulle glo dan ook dat Darwin se idees  Adolf Hitler beïnvloed het. Daarmee ignoreer hulle dat die geskiedenis van die mens dikwels praat van uitwissing van rasse – reeds  lank voor Darwin.

Gevolgtrekking

Daar is ʼn duidelike verskil tussen Darwinisme en sosiale Darwinisme. Darwinisme is die wetenskaplike teorie van evolusie deur natuurlike seleksie wat later gekombineer is met Mendel se insette oor genetika. Wetenskaplikes wat evolusie ondersteun, sê dat evolusie die antwoord is op die vraag “Hoe”? God bly die antwoord op die vraag “Waarom”? Hulle glo dat God steeds die outeur van die proses is. Sosiale Darwinisme, daarenteen, is ʼn misleiding wat ontstaan het deur evolusionêre beginsels op die sosiale gebied toe te pas. Dit word deur geen Christen-wetenskaplike aanvaar nie.

 

Outeur: Dr coen Slabber