Verdeling van finansies – Hermie van Zyl

Leser vra:

Ek is so huiwerig om hierdie vraag te vra. Ek voel dat ek dalk baie selfsugtig sal voorkom, en miskien is ek selfsugtig.

Ek en my man werk albei. Alhoewel ons dit finansieel kan bekostig dat ek by die huis kan bly, weier my man, omdat hy sê dat ek moet help met die finansies. Ons het ‘n 2 jarige dogtertjie, met nog n babatjie oppad. Ek verdien ‘n goeie salaris. Maar dit kom nie naby wat my man verdien nie. Hy besit sy eie besigheid. Tot dusver was sy geld syne, en my geld myne. Hy dra die grootste gedeelte van die huishoudelike uitgawes, soos die huur, versekering, krag en telefoon. My salaris gaan in die kruideniersware, klere, petrol en al die onvoorsiene uitgawes in. Ek moet my eie kar onderhou. Ek betaal vir ons dogter se studiepolis en ek is die enigste een wat spaar. En ek betaal ook ons mediese fonds.

Alhoewel ek ‘n goeie salaris verdien, voel ek dat elke laaste sent in die huishouding ingaan. Daar is nooit iets oor vir myself of om ‘n stokperdjie te onderhou of vir ‘n fotografie klas te gaan, ens nie. Ek ry ‘n klein, tweedehandse ekonomiese karretjie wat al beter dae gesien het.

My man aan die ander kant, ry ‘n nuwe dubbel kajuit bakkie wat hy opgebou het soos hy wou, het 2 bote vir sy visvang stokperdjie, koop gereeld nuwe goed om sy stokperdjie te onderhou, gaan weg vir visvang naweke, en het net laas week ‘n nuwe bootenjin gekoop vir ‘n belaglike bedrag.

Ek ly nie honger nie, ek het klere, my kind is versorg en ons het n dak oor ons kop. Maar moet ek so voortgaan en niks vir myself kan doen nie, terwyl ek kyk hoe spandabelrig hy is waar sy belange aangaan? Of is ek maar net selfsugtig?

Estelle

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Dit is baie moeilik om in hierdie geval ‘n goeie antwoord te gee sonder dat mens met jou en jou man afsonderlik en gesamentlik ‘n goeie gesprek gevoer het. En bygesê: waar albei gewillige gespreksgenote is en bereid is om na mekaar te luister, én gewillig is om aanpassings te maak waar nodig. Ek gaan dus baie in die algemeen antwoord, maar wil reg aan die begin sê: Julle sal êrens vorentoe die hele saak van die verdeling van julle finansiële verantwoordelikhede eerlik en nugter moet uitpraat – met mekaar, en met ‘n berader, indien nodig.

Met die beginsel van die verdeling van finansiële verantwoordelikhede in die huwelik is daar nie fout te vind nie. Die dae dat die man die alleen-broodwinner is en die vrou die alleen-tuisteskepper, is oënskynlik verby. (Daar ís nog sulke huwelike en gesinne, en as dit goed werk, kan dit selfs in vandag se tye ‘n goeie opsie wees. Maar kom ons laat dié opsie vir doeleindes van hierdie antwoord daar.)

Soos ek die saak verstaan, is jy nie ongelukkig oor die feit dat jy buitenshuis werk nie. Jy is bereid om jou kant te bring. (Hoewel ek die indruk kry dat jy graag net tuisteskepper sou wou wees.) Die ding wat jou eintlik pla, is dat jy voel jou man ‘n baie beter voordeel uit julle finansiële en werksverdeling het as jy. Hy kan homself ten volle uitleef – werk, huwelik, gesin, stokperdjies, ens – terwyl jy aan die agterspeen suig wat jou eie ontspanning en verryking betref. En eersdaags is daar nóg ‘n paar pienk voetjies in die huis. En gaan jy vir hom/haar ook so voorsiening moet maak soos tans die geval is – uit jou salaris?

As julle beide dieselfde inkomste gehad het, sou jy waarskynlik ook genoeg oorgehad het vir jou eie stokperdjies. Maar nou kry jou man baie meer as jy. Dit wil dus lyk of jy te swaar dra aan die finansiële verantwoordelikheide soos dit tans verdeel is tussen julle. En die nuwe baba gaan hierdie situasie nog verder onder druk plaas. Ek dink die feit dat daar ‘n nuwe baba op pad is, skep ‘n goeie geleentheid om ‘n totale herevaluering van die verdeling van julle finansiële verantwoordelikhede te maak.

Daar is ongelukkig nie pasklaar antwoorde vanuit die Bybel oor die tipiese uitdagings wat aan hedendaagse huwelike gestel word nie (soos in julle geval), omdat die sosiale en kulturele opset van Bybelse tye baie verskil van vandag s’n. Maar gaan kyk ‘n mens na die gedeeltes in die Nuwe Testament wat oor die huwelik handel (bv Matt 5:29; 19:3-12; 1 Kor 7; Gal 3:28; Ef 5:21-33 [v21 is belangrik]), is die goue draad wat deurloop dié van eenheid, pariteit (teen die agtergrond van destydse opvattings oor die status van man en vrou in die samelewing en huwelik), wedersydse respek en ondersteuning, liefde, versorging, en veral beskerming van die vrou. Die Bybelse beginsel wat in julle situasie veral ter sprake is, is dat man en vrou mekaar op ‘n manier moet ondersteun wat billik en regverdig is, wat beide gelukkig en versorg laat voel, en waar dit duidelik is dat julle julle huwelik so inklee dat dit tot eer van God en tot voordeel en opbou van mekaar is. Die liefde soek die ander se voordeel en geluk, nie net die beste “deal” vir jouself nie. En dít, lyk my, is die kern van die saak wat in julle huidige finansiële verdeling nie goed werk nie, altans, nie vir jou nie.

My antwoord is dus: Pak die bul by die horings en praat die saak uit. En doen dit op so ‘n manier dat julle agterna beter daaraan toe is as voor die tyd. Jy sal die beste weet hoe om die saak met jou man aan te roer. En, soos reeds gesê, gebruik die koms van die nuwe baba as aanknopingspunt om te praat oor ‘n nuwe finansiële verdeling in julle huwelik.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

 




God se orde in die huwelik – Hermie van Zyl

Christel vra:

Ek het ‘n worsteling met God se Orde in die Huwelik.

Volgens my (as ek dit met ‘n sambreel kan voorstel). Is God die “sambreel” .

Dus God eerste, DAN die man (as “provider & protector”), dan die vrou as “manageres” van die huis en oor die kinders.” Ek voel dus die man is veronderstel om die broodwinner te wees en dat die vrou die veilige tuiste skep en na die kinders omsien.

Die rede hoekom ek nou verward is, is omdat my skoonpa en ander mans met my verskil.

Volgens hulle is die vrou NET SO verantwoordelik vir hulle finansies.

Ek het probeer om in die Bybel te soek vir God se Orde vir die Huwelik, maar kon niks kry nie. Ek glo net, dat as ‘n mens in God se Orde (lees: WIL) leef, jou lewe net beter raak.

Ek voel dinge gaan in vandag se huwelike so, omdat mense uit God se Orde uitbeweeg het. Ek werk en gee glad nie om om te werk nie, maar ek wonder tog, is dit in God se Wil? My man het sy eie besigheid, maar hy maak nie genoeg geld om die “broodwinner” te wees nie. Vier (4) jaar terug het ek oppad werk toe, ewe skielik ‘n gedagte gekry dat ons uit God se Orde leef en dat dit is hoekom dit finansieel so met my gaan.

Asseblief, help my tog net op die regte pad, sodat ek vrede vir my siel kan kry met die wete ek doen wat God wil.

Antwoord:

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Beste Christel

As ek jou reg verstaan, voel jy dat julle op die oomblik nie binne God se orde/wil vir die huwelik beweeg nie, en dat julle daarom nie die seën van God ervaar nie – nie op julle huwelik nie en ook nie op julle finansies nie.

So verstaan lê daar eintlik twee vrae in jou vraag opgesluit: 1. Wat is God se orde/wil vir die huwelik? en 2. Is daar ‘n verband tussen die uitleef van God se wil en hoe dit met my huwelik en finansies gaan? Ek probeer aan altwee kwessies aandag gee.

  1. Wat is God se orde/wil vir die huwelik? Jy gebruik ‘n mooi beeld om die verhouding tussen God, man en vrou uit te druk: God as oorhoofse Ruimteskepper en Beskermer van die huwelik (soos ‘n sambreel oor ons), die man as beskermer en voorsiener (namens God), en die vrou as bestuurder van die huishouding (lg pas goed in by die beskrywing van die “ideale” vrou in Spr 31). Met hierdie “orde” is niks verkeerd nie. In bepaalde omstandighede kan dit goed werk, maar nou is dit ook so dat die struktuur van die huwelik nie net teologies bepaal word nie, maar ook sosiologies en psigologies. Laasgenoemde twee hang saam met die tyd en kultuur waarin die huwelik hom bevind, asook die mense self in die huwelik. Om net een ding te noem: In die antieke tyd het ons ‘n patriargale samelewing gehad waar daar nie veel beweegruimte vir die vrou was nie. Haar hele lewe het gedraai om die man as die enigste een wat werklik regte, mag en gesag gehad het. Vandag het hierdie situasie drasties verander (ten minste in die Weste). En dit het ‘n invloed op die rolverdeling in die huwelik. Hoe man en vrou hulle onderskeie rolle vervul, het baie te make met die tyd en die soort sosiale opset waarbinne hulle leef, hulle persoonlikhede en opleiding, watter geleenthede beskikbaar is, ens. Daar is dus nie net een ideale orde waarby almal moet inval – buig of bars – om binne God se wil te leef en sy seën te ervaar nie.

 

Nadat ek dit gesê het, dink ek tog mens kan steeds van ‘n Goddelike orde vir die huwelik praat. Maar dan moet dit nie vanuit die tipies patriargale stelsel van die antieke tyd gedefinieer word nie, maar mens moet eerder aansluit by ‘n gedeelte soos Efes 5:21-33 waar Paulus vir daardie tyd se mangesentreerde samelewing nogal radikale uitsprake oor die huwelik maak, wat terselfdertyd rigtinggewend is vir ons vandag. Dit uitgangspunt is 5:21: man en vrou is onderdanig aan mekaar omdat hulle respek het vir Christus as die hoof van die huwelik. Of, om dit in die woorde van Gen 2:18 te stel: man en vrou is metgeselle van mekaar; hulle vul mekaar aan omdat hulle by mekaar pas. In Efes 5 word nog verder vir die man gesê – goed, as jy dan hoof (l w: nie “baas” nie) van jou vrou wil wees, moet jy die volgende doen: wees haar “verlosser” (m a w, bevry haar van sleur; maak vir haar die lewe so aangenaam as moontlik); wees lief vir jou vrou soos Christus die gemeente lief het en sy lewe vir haar opgeoffer het; wy jou aan haar en dra haar belange op die hart; versorg haar soos jy jou eie liggaam versorg. Hoofskap het immers niks te make met baasspelerigheid nie, maar alles met diensbaarheid.

Vir die vrou word daar eintlik nie veel gesê nie, behalwe dat sy aan haar man “onderdanig” moet wees (soos die man aan haar “onderdanig” is – 5:21) en hom moet respekteer. Nou, sou ek wou byvoeg, watter vrou sal nie aan haar man “onderdanig” wil wees as sy so deur haar man op die hande gedra word nie? Maar dit gaan eintlik oor ‘n wedersydse onderdanigheid, maats wees vir mekaar, ondersteunend dáár wees vir mekaar.

My punt is: Hierdie liefdesorde is regtig die enigste orde wat God vir die huwelik daarstel. En binne hierdie orde kan man en vrou die verdeling van rolle, pligte en verantwoordelikhede orden soos dit hulle die beste pas, sonder om bang te wees dat hulle buite God se orde leef. Hulle sal God se seën ervaar. Wat my by die tweede kwessie bring.

 

  1. Is daar ‘n verband tussen die uitleef van God se wil en hoe dit met my huwelik en finansies gaan? Daar is nie ‘n direkte verband tussen die nougesette uitleef van God se wil en materiële voorspoed nie. Anders gestel: As dit met iemand voorspoedig gaan op materiële gebied, beteken dit nie noodwendig dat daardie persoon binne die wil van God leef nie. Omgekeerd: as dit met iemand sleg gaan, beteken dit nie noodwendig dat daardie persoon buite die wil van God leef nie. Hier kan mens maar net die verhaal van Job lees, asook Ps 37 en 73. Hier gaan dit juis oor die verskynsel dat die goddelose dikwels voorspoedig is terwyl die regverdige swaar kry. En tog koester die digter hom daarin dat dit na alles die beste is om naby God te leef en sy liefde te ervaar. Om binne die wil van God te leef, bring sy eie beloning (seën). Want dít kan mens met sekerheid sê: as mens binne die wil van God leef, bv in die huwelik (soos hierbo verduidelik), dan sal mens die ryke geestelike seën van God beleef – die kalmte van gees en innerlike vrede dat jy in harmonie met God leef. Maar dit sal nie noodwendig finansieel voorspoedig gaan nie. Mens moet dus nie allerlei afleidings uit jou materiële welstand doen oor hoe gesond jou verhouding met God is nie.

 

Ek vertrou dat bostaande “vrede vir jou siel” sal bring.

 

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

 




Paulus oor gelowiges se bydraes – Waarom gee?

Paulus oor gelowiges se bydraes – Waarom gee?

Wanneer Paulus die fondsinsameling vir die arm gelowiges in Judea motiveer (2 Kor. 8-9), noem hy etlike goeie redes vir die gelowiges om bydraes (vir hierdie saak) te gee.  Die eerste rede is ooglopend: dit sal hulle nood verlig.  Dit gaan oor medemenslikheid.  Maar daar is vir Paulus ook veel belangriker redes waarom die Korintiërs tot die saak behoort by te dra.  Veral laasgenoemde redes is in baie gevalle ook toepaslike motiverings vir gelowiges om vandag nog koninkrykswerk-bydraes te gee.

Wanneer Paulus die fondsinsameling vir die arm gelowiges in Judea motiveer (2 Kor. 8-9), noem hy ‘n hele paar goeie redes vir die gelowiges om bydraes (vir hierdie saak) te gee. 

Eerstens sal dit die gelowiges in Judea se nood verlig.  Dit is die oorspronklike doel waarmee die fondsinsameling tot stand gekom het (Hand. 11:27-30; Gal. 2:10), en is opsigself reeds ‘n goeie rede.  Daar is egter vir Paulus ook belangriker redes as blote medemenslikheid, naamlik die teologiese redes waarom die Korintiërs (finansiële) gawes vir hierdie saak behoort te gee.

Waarskynlik die vernaamste van hierdie teologiese redes, is dat dit genade (charis) sou vergestalt.  Genade is wanneer God se guns onverdiend ontvang word, maar ook wanneer guns (onverdiend) aan andere uitgedeel word.  Dit wat die gelowiges besit, is vanweë God se guns.  Die geleentheid om te gee, sowel as die wil en daadkrag om dit te doen, is vanweë God se genade.  Vir die gelowiges in Judea is die gawes wat hulle op die manier ontvang, te danke aan God se genade, ensovoorts.  Die goue draad regdeur Paulus se motiverings aan die Korintiërs om bydraes vir die saak te gee, is dat dit genade prakties sigbaar sal maak.

Net soos wat alles wat ‘n gelowige kan gee, eintlik van God ontvang is, net so is God ook die einddoel van alles wat gegee word.  Paulus redeneer: om bydraes vir die saak te gee, is diensbetoning aan God (leitourgia), ‘n vorm van danksegging aan God (eulogia), en dit lei tot die verheerliking van God.

Hierbenewens vergestalt die bydraes wat vir die Judese gelowiges gegee is, ook ‘n liefdesdiens aan hulle (diakonia) en is dit ‘n uitdrukking van die gemeenskaplikheid (koinonia) tussen gelowiges.

Die Korintiërs se gesindheid ten opsigte van die gee van bydraes word dan ook ‘n toetssteen van hulle liefde (8:8): hul liefde vir hul medegelowiges, vir Paulus (wie se eer op die spel was as die fondsinsameling sou misluk), en vir God.  Die manier waarop hulle hul bydraes vir die saak sou gee, of nie gee nie, sou dus ‘n bewys wees van die mate waarin Christus se liefde deel geword het van hulle lewens, al dan nie. 

Deur te gee sal hulle die voorbeeld van Christus navolg.  Hy het Homself gegee, selfopofferend, ten bate van die gelowiges.  Netso behoort die gelowiges ook hul bydraes te gee ten bate van hul medegelowiges, al vra dit selfopoffering van hulle.  Dié wat Christus as “Here” bely, sal leef na aanleiding van sy voorbeeld (8:9).

Dan is daar die ewewig-motivering (8:13-15).  Dit kom daarop neer dat die oorvloed van sommige, God se tydige voorsiening is vir die gebrek van andere.  Daarom behoort die Korintiërs, wat deur die guns van God tans (finansiële) oorvloed geniet, vanuit hul oorvloed by te dra tot die verligting van die Judese gelowiges se armoede.  Op hulle beurt kan hulle weer van hulle oorvloed met die Korintiërs deel, op die manier (miskien geestelik?) of tydstip waar die Korintiërs gebrek sou ly. 

Laastens maak Paulus, met die metafoor van saaiery (in 2 Kor. 9:6-15), die punt dat die gewer ook ‘n opbrengs kan verwag vanuit dit wat hy gegee het.  God voorsien die middele om te gee (saad), en Hy bring uiteindelik ‘n opbrengs (oes) daaruit voort.  Vir Hom is die gesindheid waarmee daar gegee word, die belangrikste (9:7).  Die een wat met ‘n gesindheid van terughoudendheid saai op die landerye, kan tog nie ‘n goeie oes verwag nie?  Maar die een wat met ‘n oop hand saai, kan ‘n goeie opbrengs verwag (9:6).  Dus: hy wat uitdeel met die gesindheid om ander mildelik daarmee te seën, kan verwag om ook deur God geseën te word.  Paulus dui dan vier maniere aan waarop God die Korintiërs sal seën, as hulle met hierdie gesindheid gee:

(1) Voorsiening in hul eie materiële behoeftes.  Deur Paulus se verwysing na “brood om te eet” (9:10) en dat die gelowiges genoeg sal hê om weg te gee (9:11), is daar egter duidelik nie hier sprake van ‘n welvaartsteologie, dat God die gewer hierom sal verryk nie.

(2) Hulle geleenthede en middele om ‘n bydrae te kan lewer, sal deur God vermeerder word (9:10). Let hier nie net op die belofte van ‘n vermeerdering van hul middele nie, maar ook op die doel waarvoor dit vermeerder word: sodat hulle nog meer kan weggee (9:11)!  Die moontlikheid om die eerste maal vrygewig te gee, met die doel om die seën wat daaruit voortkom dan selfsugtig op te gaar, is dus uitgesluit. 

(3) Deur te gee kry hulle deel aan die genadige werking van God (9:10-12).  Wat ‘n seën, om God se mede-genadewerker te kan wees!

(4) God sal vanweë hulle gedank en verheerlik word deur die Judese gelowiges (9:11-13).

(5) Die Judese gelowiges sal vir hulle bid en met verlange aan hulle dink (9:14). 

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 




Paulus oor gelowiges se bydraes – Dit gaan nie oor die geld nie, dit gaan oor God

Paulus oor gelowiges se bydraes – Dit gaan nie oor die geld nie, dit gaan oor God

Wanneer Paulus oor gelowiges se bydraes praat, is sy taalgebruik buitengewoon.  Hy vermy die alledaagse begrippe wat met “geld” vereenselwig word en verkies om die saak in teologiese begrippe te verduidelik en te motiveer.  Sy doel daarmee is om die Korintiërs te laat opkyk van hulle beursies in hulle hande af, sodat hulle vir God kan raaksien (wat vir hulle iets oor hul beursies wil sê).  Vir Paulus gaan dit nie oor die geld nie, dit gaan oor God 

Die belangrikste teksgedeeltes waar Paulus gelowiges se bydraes bespreek, word in sy briewe aan die Korintiërs aangetref (1 Kor. 9, 16:1-4; 2 Kor. 8-9, 11:1-15, 20-21, 12:11-18).  In hierdie teksgedeeltes gaan dit veral om twee sake: bydraes vir die hulpfonds vir die arm gelowiges in Judea (bv. 1 Kor. 16:1-4, 2 Kor. 8-9), en bydraes vir ‘n apostel (Paulus) se persoonlike lewensonderhoud (bv. 1 Kor. 9, ens).

Die manier waarop Paulus hierdie onderwerpe aan die orde stel, is baie insiggewend.  In 2 Korintiërs gebruik Paulus byvoorbeeld nie een keer in die Griekse teks enige woord uit die “geld en geldeenhede”-woordfamilie nie.  Dit is opvallend, aangesien die tema van finansiële bydraes dadelik bespeur kan word wanneer die brief gelees word.  Trouens, hoewel Paulus die terme (juis) nie gebruik het nie, gebruik die Nuwe Afrikaanse Vertaling sewe keer sinonieme vir “geld” om Paulus se bedoeling in Afrikaans weer te gee, sowel as ander woorde wat na finansies heenwys, aangesien dit moeilik vermy kon word in die vertalingsproses.  Die tema is dus duidelik aanwesig, maar Paulus se (oorspronklike) taalgebruik buitengewoon.  Hoekom spandeer Paulus byvoorbeeld twee hele hoofstukke (2 Kor. 8-9) daaraan om oor geld te praat sonder om een keer (in Grieks) ‘n sinoniem vir “geld” te gebruik?

Dit is opmerklik dat daar deurlopend, wanneer Paulus oor finansiële bydraes praat, begrippe gebruik word wat teologies gelaai is, in plek van die alledaagse woorde vir bydraes, geld of donasies.  Begrippe soos dank aan God, diens aan God, diens aan medegelowiges, genadebetoning ens. word ruim deur Paulus ingespan in sy besprekings van die onderwerp.  Dit moenie as blote eufemismes beskou word nie, met ander woorde ‘n strategie om die onderwerp op dié manier te versag of te verskans nie.  Bewus van die krag van taal om persepsies te vorm, te bevorder of af te breek (vgl. 2 Kor. 10:4-5), het Paulus op ‘n meesterlike wyse ‘n teologiese verstaan van die saak van finansiële bydraes onder die Korintiërs probeer kweek.  Hy het immers geweet dat die gemeente geneig is om nog wêreldse waardes en gesindhede jeens die saak te handhaaf.  Hulle het byvoorbeeld, tipies aan die kultuur waarbinne hulle hulself bevind het, aan die gewers en ontvangers van bydraes as “weldoeners” en “kliënte” gedink, met die wedersydse verpligtinge, eerbetonings en magspel wat daarmee gepaard gegaan het.  Paulus probeer hierdie gebruiklike manier-van-dink oor die saak van bydraes (“geskenke”) oorkom, deur by die Korintiërs ‘n nuwe, Christus-gesentreerde verstaan van die saak te kweek.  Ten einde hierdie doel te verwesenlik, gebruik hy meestal nie die gewone terme wanneer hy die saak motiveer nie, maar beskryf en motiveer hy die saak deurlopend met teologies gelade taal.  Hierdie soort taal wat hy gebruik, word dus doelbewus deur hom ingespan om ‘n ander, nuwe “manier van kyk na die saak” te bevorder, wat diep beïnvloed is deur die evangelie van Jesus Christus.  Deur sy taalgebruik wys Paulus eintlik daarop dat die saak van bydraes of dankoffers gee, nie gaan oor die geld nie, maar oor God!

Indien die Korintiërs (en ons!) sou inval by hierdie Christus-gesentreerde manier van kyk na die saak, het dit implikasies vir die manier waarop bydraes gegee, ontvang en bestuur word.  Die evangelie maak ‘n appél op ‘n gelowige se motiewe en gesindhede rondom die gawes wat hy/sy gee.  Netsoveel maak die evangelie ook ‘n appél op diegene wat, in een of ander hoedanigheid, die verantwoordelikheid het om hierdie gawes te bestuur.  En waar iemand in die posisie sou wees om as evangeliedienaar begunstig te word deur die gawes van die gelowiges, het die evangelie van Jesus Christus ook implikasies en voorwaardes vir die wyse waarop dit kan en moet geskied.  Hoofsaak is dat God in gelowiges se hantering van (hul) bydraes, sigbaar en verheerlik sal word.  

 

Skrywer: Ds Dirk Venter